Gelukkig is die saggeaardes!
“Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërwe.”—MATTHEÜS 5:5, NW.
1. Wat is die sagmoedigheid waarvan Jesus in sy Bergpredikasie gepraat het?
IN SY Bergpredikasie het Jesus Christus gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5, NW). Hierdie sagte geaardheid, of sagmoedigheid, is nie ’n dun lagie geveinsde teerheid nie, en dit is ook nie ’n natuurlike persoonlikheidseienskap nie. Dit is eerder ’n opregte innerlike sagmoedigheid en vredeliewendheid wat hoofsaaklik in antwoord op Jehovah God se wil en leiding aan die dag gelê word. Mense wat waarlik saggeaard is, het ’n skerp sin van afhanklikheid van God wat in sagmoedige gedrag teenoor hulle medemens weerspieël word.—Romeine 12:17-19; Titus 3:1, 2.
2. Waarom het Jesus die saggeaardes gelukkig genoem?
2 Jesus het die saggeaardes gelukkig genoem omdat hulle die aarde gaan beërwe. Jesus, as die volmaak sagmoedige Seun van God, is die Hooferfgenaam van die aarde (Psalm 2:8; Mattheüs 11:29; Hebreërs 1:1, 2; 2:5-9). Maar as die Messiaanse “Seun van die mens” sou hy medeheersers in sy hemelse Koninkryk hê (Daniël 7:13, 14, 22, 27). As “mede-erfgename” van Christus sal hierdie gesalfde saggeaardes saam met hom die aarde beërwe (Romeine 8:17). Ander sagmoedige, skaapgeaarde mense sal die ewige lewe in die Paradys in die aardse gebied van die Koninkryk geniet (Mattheüs 25:33, 34, 46; Lukas 23:43, NW). Daardie vooruitsig maak hulle voorwaar gelukkig.
3. Watter voorbeeld stel God en Christus met betrekking tot sagmoedigheid?
3 Die saggeaarde Hooferfgenaam ontvang die aarde van sy Vader, Jehovah, die vernaamste voorbeeld van sagaardigheid. Hoe dikwels sê die Skrif tog dat God “lankmoedig en groot van goedertierenheid” is! (Exodus 34:6; Nehemia 9:17; Psalm 86:15). Hy het groot mag, maar hy lê sulke groot sagmoedigheid aan die dag dat sy aanbidders hom onbevrees kan nader (Hebreërs 4:16; 10:19-22). God se Seun, wat “sagmoedig en nederig van hart” was, het sy dissipels geleer om sagmoedig te wees (Mattheüs 11:29; Lukas 6:27-29). Hierdie saggeaarde slawe van God en sy Seun het op hulle beurt “die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus” nagevolg en daaroor geskryf.—2 Korinthiërs 10:1; Romeine 1:1; Jakobus 1:1, 2; 2 Petrus 1:1.
4. (a) Wat het diegene wat werklik saggeaard is volgens Kolossense 3:12 gedoen? (b) Watter vrae verdien ons aandag?
4 Vandag moet gesalfde Christene sowel as hulle aardse metgeselle saggeaard wees. Omdat hulle alle boosheid, bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadsprekery afgelê het, het God se heilige gees hulle gehelp om vernuwe te word in ‘die krag wat hulle denke aandryf’ (Efesiërs 4:22-24, NW; 1 Petrus 2:1, 2). Hulle word aangespoor om hulle met ‘innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid’ te beklee (Kolossense 3:12). Maar presies wat behels sagmoedigheid? Waarom is dit goed om saggeaard te wees? En hoe kan hierdie eienskap tot ons geluk bydra?
Sagmoedigheid van nader beskou
5. Hoe kan sagmoedigheid gedefinieer word?
5 Iemand wat saggeaard is, is goedhartig van geaardheid en gedrag. In party Bybelvertalings word die byvoeglike naamwoord pra·usʹ met “sagmoedig”, “ootmoedig” en “vriendelik” vertaal. In die klassieke Grieks kan die byvoeglike naamwoord pra·usʹ betrekking hê op ’n sagte windjie of stem. Dit kan ook op ’n welwillende persoon dui. Die geleerde W. E. Vine sê: “Die beoefening van [die selfstandige naamwoord pra·uʹtes] geskied in die eerste plek en hoofsaaklik teenoor God. Dit is daardie geestesgesteldheid waarin ons Sy optrede teenoor ons as goed aanvaar, en gevolglik nie daaraan twyfel of dit weerstaan nie; dit hou ten nouste verband met die woord tapeinofrosunē [nederigheid].”
6. Waarom kan daar gesê word dat sagmoedigheid nie swakheid is nie?
6 Sagmoedigheid is nie swakheid nie. “Daar is sagtheid in praus”, het die geleerde William Barclay geskryf, “maar agter die sagtheid skuil daar die krag van staal.” Dit verg krag om saggeaard te wees. Krag is byvoorbeeld nodig om sagmoedig te wees wanneer ons uitgetart of vervolg word. God se saggeaarde Seun, Jesus Christus, het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel. “[Hy het], toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel . . . nie; toe Hy gely het, nie gedreig . . . nie, maar dit oorgegee . . . aan Hom [Jehovah God] wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). Soos die saggeaarde Jesus kan ons ook vas vertrou dat God sal afreken met diegene wat ons uitskel en vervolg (1 Korinthiërs 4:12, 13). Ons kan kalm wees, soos Stefanus was toe hy vervolg is, en besef dat Jehovah ons sal onderskraag as ons getrou is en nie sal toelaat dat enigiets ons blywende skade berokken nie.—Psalm 145:14; Handelinge 6:15; Filippense 4:6, 7, 13.
7. Wat toon Spreuke 25:28 oor iemand wat sagmoedigheid kortkom?
7 Jesus was saggeaard, en tog het hy krag getoon deurdat hy vas gestaan het vir wat reg is (Mattheüs 21:5; 23:13-39). Enigiemand wat “die sin van Christus” het, sal in hierdie opsig soos hy wees (1 Korinthiërs 2:16). As iemand nie sagmoedig is nie, is hy nie soos Christus nie. Hy word eerder met hierdie woorde beskryf: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28). So iemand wat sagmoedigheid kortkom, is vatbaar vir verkeerde gedagtes wat hom onbetaamlik kan laat optree. Hoewel ’n saggeaarde Christen nie ’n swakkeling is nie, weet hy tog “’n sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom”.—Spreuke 15:1.
8. Waarom is dit nie maklik om saggeaard te wees nie?
8 Dit is nie maklik om saggeaard te wees nie, want ons het onvolmaaktheid en sonde geërf (Romeine 5:12). As ons Jehovah se knegte is, voer ons ook ’n stryd teen bose geesmagte wat dalk ons sagmoedigheid deur vervolging sal toets (Efesiërs 6:12). En die meeste van ons werk tussen mense wat die ongevoelige gees van die wêreld het, ’n wêreld wat in die Duiwel se mag lê (1 Johannes 5:19). Hoe kan ons dan sagmoedigheid aankweek?
Hoe om sagmoedigheid aan te kweek
9. Watter beskouing sal ons help om sagmoedigheid aan te kweek?
9 ’n Bybelse oortuiging dat ons sagmoedig moet wees, sal ons help om hierdie eienskap aan te kweek. Ons moet dag na dag daarna streef om sagmoedigheid aan te kweek. Andersins sal ons wees soos mense wat sagmoedigheid as swakheid beskou en wat dink dat ’n mens suksesvol sal wees as jy aanmatigend, hard, selfs wreed, is. Maar God se Woord veroordeel trotsheid, en ’n wyse spreuk sê: “’n Man wat ’n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar ’n wreedaard pynig sy eie vlees” (Spreuke 11:17; 16:18). Mense vermy ’n ongevoelige, liefdelose mens, al doen hulle dit hoofsaaklik om nie deur sy wreedheid en gebrek aan sagmoedigheid seergemaak te word nie.
10. Waaraan moet ons ons onderwerp as ons saggeaard wil wees?
10 Om saggeaard te wees, moet ons ons aan die invloed van God se heilige gees, of werkende krag, onderwerp. Op dieselfde manier as wat Jehovah dit vir die aarde moontlik gemaak het om oeste voort te bring, stel hy sy knegte ook in staat om die vrugte van sy gees voort te bring, waarvan sagmoedigheid een is. Paulus het geskryf: “Die vrug van die gees is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet nie” (Galasiërs 5:22, 23, NW). Ja, sagmoedigheid is een van die vrugte van God se gees wat aan die dag gelê word deur diegene wat hom behaag (Psalm 51:11, 12). En watter veranderinge veroorsaak sagmoedigheid tog! Ter toeligting: Daar was ’n skurk met die naam Tony wat baklei het, mense beroof het, met dwelms gesmokkel het, die leier van ’n motorfietsbende was en tronkstraf uitgedien het. Maar deurdat hy Bybelkennis opgedoen het en met behulp van God se gees, het hy in ’n sagmoedige kneg van Jehovah verander. Tony se verhaal is nie ongewoon nie. Wat kan ’n mens dan doen as ’n gebrek aan sagmoedigheid tot dusver jou persoonlikheid oorheers het?
11. Watter rol speel gebed as ons sagmoedigheid aankweek?
11 Opregte gebed om God se gees en om die vrug van sagmoedigheid sal ons help om hierdie eienskap aan te kweek. Ons moet dalk aanhou “bid”, soos Jesus gesê het, en Jehovah God sal ons versoek toestaan. Nadat Jesus getoon het hoe mensevaders goeie dinge vir hulle kinders gee, het hy gesê: “As julle dan wat [sondig en dus betreklik] sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:9-13). Gebed kan ons help om sagmoedigheid ’n permanente kenmerk van ons geaardheid te maak—’n eienskap wat bydra tot ons geluk en dié van ons metgeselle.
12. Waarom kan dit ons help om saggeaard te wees as ons onthou dat mense onvolmaak is?
12 Dit kan ons help om saggeaard te wees as ons onthou dat mense onvolmaak is (Psalm 51:7). Ons kan net so min as enigiemand anders volmaak dink of optree, en daarom moet ons beslis empatie teenoor ander hê en hulle behandel soos ons behandel wil word (Mattheüs 7:12). As ons onthou dat ons almal foute maak, sal dit ons vergewensgesind en saggeaard in ons optrede teenoor ander maak (Mattheüs 6:12-15; 18:21, 22). Is ons, per slot van rekening, nie dankbaar dat God liefde en sagmoedigheid teenoor ons betoon nie?—Psalm 103:10-14.
13. Hoe kan dit ons help om sagmoedigheid aan te kweek as ons erken dat God mense wilsvryheid gegee het?
13 Dit kan ons ook help om sagmoedigheid aan te kweek as ons erken dat God mense wilsvryheid gegee het. Dit beteken nie dat enigiemand Jehovah se wette kan ignoreer en ongestraf sal bly nie, maar dit hou rekening met die feit dat die smaak en voorkeure onder lede van sy volk sal verskil. Daarom moet ons erken dat niemand verplig is om te wees soos ons dink hulle moet wees nie. Hierdie gees sal ons help om saggeaard te wees.
14. Wat moet ons vaste voorneme met betrekking tot sagmoedigheid wees?
14 As ons vasbeslote is om nie sagmoedigheid te laat vaar nie, sal dit ons help om aan te hou om hierdie eienskap aan te kweek. Ons denke is verander omdat ons ons aan die invloed van Jehovah se gees onderwerp het (Romeine 12:2). ’n Sagmoedige, Christelike gees help ons nou om ons te weerhou van “ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye”. Ons moet sagmoedigheid nooit prysgee ter wille van finansiële, sosiale of ander redes of omdat mense lasterlike aanmerkings maak oor ons godvresendheid nie (1 Petrus 4:3-5). Ons moenie toelaat dat enigiets ons “die werke van die vlees” laat beoefen sodat ons ons sagmoedigheid verloor en nie God se Koninkryk beërwe of sy seëninge geniet nie (Galasiërs 5:19-21). Laat ons altyd die voorreg waardeer om God se saggeaardes te wees, hetsy ons vir die hemelse lewe gesalf is of ’n aardse hoop het. Laat ons, met dié doel voor oë, na ’n paar voordele van sagmoedigheid kyk.
Voordele van sagmoedigheid
15. Waarom is dit volgens Spreuke 14:30 verstandig om sagmoedig te wees?
15 ’n Sagmoedige mens het kalmte van hart, verstand en liggaam. Dit is so omdat hy nie by tweedrag betrokke raak, hom oor ander mense se dade ontstel of homself met voortdurende kwelling pynig nie. Sagmoedigheid help hom om sy emosies onder beheer te hou, en dit hou verstandelike en fisiese voordele in. ’n Spreuk sê: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees” (Spreuke 14:30). ’n Gebrek aan sagmoedigheid kan tot woede lei wat die bloeddruk kan laat styg of spysverteringsprobleme, asma, oogkwale en ander probleme kan veroorsaak. ’n Saggeaarde Christen geniet etlike voordele, onder andere “die vrede van God” wat sy hart en sy sinne bewaar (Filippense 4:6, 7). Hoe verstandig is dit tog om saggeaard te wees!
16-18. Watter uitwerking het sagmoedigheid op ons verhouding met ander?
16 Die eienskap sagmoedigheid verbeter ons verhouding met ander. Ons het dalk voorheen die gewoonte gehad om op dinge aan te dring totdat ons ons sin kry. Mense het moontlik vir ons kwaad geword omdat ons nederigheid en sagmoedigheid kortgekom het. Onder sulke omstandighede moes dit ons nie verbaas het as ons in die een geskil na die ander betrokke geraak het nie. Maar ’n spreuk sê: “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ’n twisgierige man om ’n twis aan te hits” (Spreuke 26:20, 21). As ons saggeaard is, en nie ‘hout op die vuur gooi’ sodat ons ander mense vertoorn nie, sal ons ’n goeie verhouding met hulle hê.
17 ’n Saggeaarde mens sal waarskynlik goeie vriende hê. Mense geniet dit om met hom om te gaan omdat hy ’n positiewe gesindheid het en omdat sy woorde verkwikkend en soet soos heuning is (Spreuke 16:24). Dit was die geval met Jesus, wat kon sê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mattheüs 11:29, 30). Jesus was nie onsimpatiek nie, en sy juk was nie onderdrukkend nie. Diegene wat na hom gekom het, is goed behandel en geestelik verkwik. Die situasie is soortgelyk wanneer ons met ’n saggeaarde Christenvriend omgaan.
18 Sagmoedigheid maak ons bemind by medegelowiges. Die meeste Christene in Korinthe was aangetrokke tot Paulus omdat hy hulle “by die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus” versoek het (2 Korinthiërs 10:1). Die Thessalonicense moes beslis na die apostel geluister het, want hy was ’n sagmoedige, liefdevolle onderrigter (1 Thessalonicense 2:5-8). Die ouere manne in Efese het ongetwyfeld baie by Paulus geleer en het hom innig liefgehad (Handelinge 20:20, 21, 37, 38). Betoon jy sagmoedigheid wat jou bemind maak by ander?
19. Hoe help sagmoedigheid Jehovah se volk om hulle plek in sy organisasie te ken?
19 ’n Sagmoedige gees help Jehovah se volk om onderdanig te wees en hulle plek in sy organisasie te ken (Filippense 2:5-8, 12-14; Hebreërs 13:17). Sagmoedigheid sal ons daarvan weerhou om weens trots ons eie eer te soek, iets wat vir God aanstootlik is (Spreuke 16:5). ’n Sagmoedige mens dink nie hy is beter as sy medegelowiges nie, en hy probeer nie om ten koste van hulle uit te blink nie (Mattheüs 23:11, 12). Pleks daarvan erken hy dat hy sondig is en dat hy God se voorsiening van die losprys nodig het.
Sagmoedigheid maak ons gelukkig
20. Watter uitwerking het sagmoedigheid op die gesinslewe?
20 Al God se knegte moet onthou dat sagmoedigheid ’n vrug van sy gees is wat geluk in die hand werk. Omdat Jehovah se volk byvoorbeeld eienskappe soos liefde en sagmoedigheid aan die dag lê, is gelukkige gesinne iets algemeens onder hulle. Wanneer man en vrou sagmoedig teenoor mekaar optree, word hulle kinders in ’n kalm atmosfeer grootgemaak, nie in ’n gesin waar ongevoelige woorde en dade iets alledaags is nie. Wanneer ’n vader sy kinders sagmoedig raad gee, het dit ’n goeie uitwerking op hulle jong verstande, en hulle sal waarskynlik ’n sagmoedige gees as deel van hulle persoonlikheid ontwikkel (Efesiërs 6:1-4). ’n Sagmoedige geaardheid help mans ook om hulle vrouens te bly liefhê. Dit help vrouens om onderdanig aan hulle mans te wees en dit laat kinders gehoorsaam wees aan hulle ouers. Sagmoedigheid laat gesinslede ook vergewensgesind wees, wat tot geluk bydra.—Kolossense 3:13, 18-21.
21. Wat is die kern van die raad wat die apostel Paulus in Efesiërs 4:1-3 gegee het?
21 Saggeaarde gesinne en individue bevorder geluk in die gemeentes waarmee hulle omgaan. Daarom moet Jehovah se volk ’n opregte poging aanwend om saggeaard te wees. Wend jy so ’n poging aan? Die apostel Paulus het mede- gesalfde Christene aangespoor om so te wandel dat hulle hulle hemelse roeping waardig is, “met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl [hulle] mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Efesiërs 4:1-3). Christene met ’n aardse hoop moet ook sagmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe aan die dag lê. Dit is die weg wat ons ware geluk sal bring. Ja, gelukkig is die saggeaardes!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is saggeaarde mense gelukkig?
◻ Wat beteken dit om saggeaard te wees?
◻ Hoe kan sagmoedigheid aangekweek word?
◻ Wat is party voordele van sagmoedigheid?