Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 2/1 bl. 9-14
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie is “die diensknegte van onse God”?
  • Die “ander skape”—Is hulle nie-Joodse Christene?
  • Eerbied vir Koninkryksgesag
  • Die “groot menigte”—Waar gaan hulle heen?
  • Watter toekoms vir die skape en die bokke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die onlangse kraal vir “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die “goeie herder” en sy “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Gee lojale ondersteuning aan Christus se broers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 2/1 bl. 9-14

’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?

“Kyk, daar was ’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam.”—OPENBARING 7:9.

1. Waarom is die profetiese visioene in Openbaring vandag vir ons van groot belang?

TEEN die einde van die eerste eeu G.J. het die apostel Johannes visioene van wonderlike gebeurtenisse in verband met Jehovah se voorneme gesien. Van die dinge wat hy in die visioene gesien het, word op hierdie oomblik vervul. Ander moet in die nabye toekoms vervul word. Die dramatiese klimaks van Jehovah se grootse voorneme om sy naam voor die hele skepping te heilig, vorm die middelpunt van al hierdie dinge (Esegiël 38:23; Openbaring 4:11; 5:13). Bowendien is die lewensvooruitsigte van elkeen van ons daarby betrokke. Hoe so?

2. (a) Wat het die apostel Johannes in sy vierde visioen gesien? (b) Watter vrae in verband met hierdie visioen gaan ons bespreek?

2 In die vierde visioen in die reeks visioene van Openbaring het Johannes engele gesien wat die winde van vernietiging terughou totdat “die diensknegte van onse God” op hulle voorhoofde verseël is. Toe het hy iets baie opwindends gesien—“’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”, verenig in die aanbidding van Jehovah en die verering van sy Seun. Daar is vir Johannes gesê dat hierdie mense uit die groot verdrukking sou kom (Openbaring 7:1-17). Wie is die mense wat as “diensknegte van onse God” beskryf word? En uit wie sal die “groot menigte” verdrukkingoorlewendes bestaan? Sal jy een van hulle wees?

Wie is “die diensknegte van onse God”?

3. (a) Hoe het Jesus sy verhouding tot sy volgelinge in Johannes 10:1-18 geïllustreer? (b) Wat het Jesus deur sy offerdood vir sy skape moontlik gemaak?

3 Sowat vier maande voor sy dood het Jesus van homself as “die goeie herder” gepraat en van sy volgelinge as “skape” vir wie hy sy lewe sou aflê. Hy het spesifiek melding gemaak van skape wat hy in ’n sinnebeeldige skaapstal gevind en daarna spesiale versorging gegee het (Johannes 10:1-18).a Jesus hét liefdevol sy lewe vir sy skape afgelê en sodoende die losprys voorsien wat nodig was sodat hulle van sonde en die dood bevry kon word.

4. Wie was die eerstes wat as skape bymekaargemaak is in ooreenstemming met wat Jesus hier gesê het?

4 Maar voordat Jesus dit gedoen het, het hy as die Goeie Herder persoonlik dissipels bymekaargemaak. Die eerstes is deur Johannes die Doper, die “deurwagter” van Jesus se illustrasie, aan hom bekend gestel. Jesus het mense gesoek wat die geleentheid sou aangryp om ’n deel van die saamgestelde ‘saad van Abraham’ te word (Genesis 22:18, vgl. NW; Galasiërs 3:16, 29, vgl. NW). Hy het waardering vir die Koninkryk van die hemele in hulle harte gekweek, en hy het hulle verseker dat hy vir hulle in die huis van sy hemelse Vader plek gaan berei (Mattheüs 13:44-46; Johannes 14:2, 3). Hy het gepas gesê: “Van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe is die koninkryk van die hemele die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit” (Mattheüs 11:12, NW). Dié wat hom gevolg het sodat hulle daardie doel kon bereik, was in die skaapstal waarvan Jesus gepraat het.

5. (a) Wie is “die diensknegte van onse God” waarvan Openbaring 7:3-8 praat? (b) Wat toon dat nog baie by die geestelike Israeliete in aanbidding sou aansluit?

5 In Openbaring 7:3-8 word diegene wat met welslae na daardie hemelse doel vooruitbeur ook “die diensknegte van onse God” genoem. (Sien 1 Petrus 2:9, 16.) Is die 144 000 wat daar gemeld word net natuurlike Jode? Is diegene in die sinnebeeldige skaapstal van Jesus se illustrasie net Jode? Beslis nie; hulle is lede van die geestelike Israel van God en is almal deelgenote met Christus in die geestelike saad van Abraham (Galasiërs 3:28, 29, vgl. NW; 6:16; Openbaring 14:1, 3). Uiteindelik sou die tyd natuurlik aanbreek wanneer die vasgestelde getal vol sou wees. Wat dan? Soos die Bybel voorspel het, sou ander—’n groot menigte—by hierdie geestelike Israeliete aansluit in die aanbidding van Jehovah.—Sagaria 8:23.

Die “ander skape”—Is hulle nie-Joodse Christene?

6. Waarop vestig Johannes 10:16 die aandag?

6 Nadat Jesus een skaapstal in Johannes 10:7-15 gemeld het, het hy van ’n ander groep gepraat en gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Johannes 10:16). Wie is daardie “ander skape”?

7, 8. (a) Waarom is die idee dat die ander skape nie-Joodse Christene is op ’n verkeerde veronderstelling gegrond? (b) Watter feite omtrent God se voorneme vir die aarde moet ’n invloed hê op ons begrip van wie die ander skape is?

7 Die Christendom se kommentators meen oor die algemeen dat hierdie ander skape nie-Joodse Christene is en dat dié in die skaapstal wat vroeër genoem is Jode is, diegene wat onder die Wetsverbond was, en dat albei groepe hemel toe gaan. Maar Jesus was ’n Jood van geboorte en is onder die Wetsverbond gebore (Galasiërs 4:4). Diegene wat die ander skape beskou as nie-Joodse Christene wat met hemelse lewe beloon sal word, sien boonop ’n belangrike aspek van God se voorneme oor die hoof. Toe Jehovah die eerste mense geskep en in die tuin van Eden geplaas het, het hy dit duidelik gestel dat dit sy voorneme is dat die aarde bevolk moet word, dat dit in sy geheel ’n paradys moet wees en dat die menslike opsigters daarvan die ewige lewe moet geniet—op voorwaarde dat hulle hulle Skepper eerbiedig en gehoorsaam.—Genesis 1:26-28; 2:15-17; Jesaja 45:18.

8 Toe Adam gesondig het, is Jehovah se voorneme nie verydel nie. God het liefdevol daarvoor voorsiening gemaak dat Adam se nageslag die geleentheid kry om te geniet wat Adam nie waardeer het nie. Jehovah het voorspel dat hy ’n verlosser, ’n saad, sou verwek deur wie alle nasies seëninge sou kon geniet (Genesis 3:15; 22:18, vgl. NW). Daardie belofte het nie beteken dat alle goeie mense op aarde hemel toe geneem sou word nie. Jesus het sy volgelinge leer bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” (Mattheüs 6:9, 10; ons kursiveer.) Kort voor Jesus die illustrasie gegee het wat in Johannes 10:1-16 opgeteken is, het hy vir sy dissipels gesê dat sy Vader ’n welbehae daarin het om die hemelse Koninkryk net aan ’n “klein kuddetjie” te gee (Lukas 12:32, 33). Wanneer ons dus Jesus se illustrasie lees van homself as die Goeie Herder wat sy lewe vir sy skape aflê, sal dit ’n fout wees om die meeste van dié wat Jesus onder sy liefdevolle sorg bring, dié wat aardse onderdane van sy hemelse Koninkryk word, oor die hoof te sien.—Johannes 3:16.

9. Wat het die Bybelstudente reeds in 1884 omtrent die identiteit van die ander skape begryp?

9 Reeds in 1884 het die Watch Tower die ander skape geïdentifiseer as mense wat die geleentheid gegee sal word om op hierdie aarde te lewe onder toestande wat God se oorspronklike voorneme sal verwesenlik. Daardie vroeë Bybelstudente het besef dat party van hierdie ander skape mense sou wees wat voor Jesus se aardse bediening geleef en gesterf het. Daar was egter ’n paar besonderhede wat hulle nie reg verstaan het nie. Hulle het byvoorbeeld gedink dat die ander skape bymekaargemaak sou word nadat al die gesalfdes hulle hemelse beloning ontvang het. Tog het hulle beslis besef dat die ander skape nie bloot nie-Joodse Christene is nie. Die geleentheid om een van die ander skape te word, word aan Jode sowel as nie-Jode, aan mense van alle nasies en rasse, gebied.—Vergelyk Handelinge 10:34, 35.

10. Wat moet waar wees van ons as ons mense wil wees wat werklik deur Jesus as sy ander skape beskou word?

10 As die ander skape wil beantwoord aan die beskrywing wat Jesus gegee het, moet hulle mense wees wat, ongeag ras of etniese agtergrond, Jesus Christus as die Goeie Herder erken. Wat behels dit? Hulle moet sagmoedigheid aan die dag lê sowel as bereidwilligheid om gelei te word—eienskappe wat kenmerkend van skape is (Psalm 37:11). Soos met die klein kuddetjie die geval is, moet hulle die goeie herder se “stem ken” en nie toelaat dat hulle weggelei word deur ander wat hulle moontlik wil beïnvloed nie (Johannes 10:4; 2 Johannes 9, 10). Hulle moet die belangrikheid besef van wat Jesus gedoen het toe hy sy lewe vir sy skape afgelê het en moet volle geloof in daardie voorsiening beoefen (Handelinge 4:12). Hulle moet na die stem van die Goeie Herder “luister” wanneer hy hulle aanspoor om slegs aan Jehovah heilige diens te lewer, om voortdurend eers die Koninkryk te soek, om afgeskeie van die wêreld te bly en om selfopofferende liefde teenoor mekaar te betoon (Mattheüs 4:10; 6:31-33; Johannes 15:12, 13, 19). Beantwoord jy aan daardie beskrywing van diegene wat Jesus as sy ander skape beskou? Wil jy? Wat ’n kosbare verhouding kan almal wat waarlik Jesus se ander skape word tog verkry!

Eerbied vir Koninkryksgesag

11. (a) Wat het Jesus in die teken van sy teenwoordigheid oor die skape en die bokke gesê? (b) Wie is die broers van wie Jesus praat?

11 Etlike maande nadat Jesus die bogenoemde illustrasie gegee het, was hy weer in Jerusalem. Terwyl hy op die Olyfberg gesit en oor die tempelgebied uitgekyk het, het hy vir sy dissipels besonderhede van ‘die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge’ gegee (Mattheüs 24:3, NW). Hy het weer van die bymekaarmaak van skape gepraat. Hy het onder andere gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.” In hierdie gelykenis het Jesus getoon dat diegene aan wie die Koning op hierdie manier aandag skenk, geoordeel sou word op grond van hoe hulle sy “broeders” behandel het (Mattheüs 25:31-46). Wie is hierdie broers? Hulle is geesverwekte Christene wat derhalwe “kinders van God” is. Jesus is God se eersgebore Seun. Daarom is hulle Christus se broers. Hulle is “die diensknegte van onse God” wat in Openbaring 7:3 gemeld word, dié wat uit die mensdom gekies is om deelgenote met Christus in sy hemelse Koninkryk te wees.—Romeine 8:14-17.

12. Waarom is die manier waarop mense Christus se broers behandel van groot belang?

12 Die manier waarop ander mense hierdie erfgename van die Koninkryk behandel, is van die allergrootste belang. Beskou jy hulle soos Jesus Christus en soos Jehovah hulle beskou? (Mattheüs 24:45-47; 2 Thessalonicense 2:13). ’n Mens se gesindheid teenoor hierdie gesalfdes weerspieël jou gesindheid teenoor Jesus Christus self en teenoor sy Vader, die Universele Soewerein.—Mattheüs 10:40; 25:34-46.

13. In watter mate het die Bybelstudente in 1884 die gelykenis van die skape en die bokke verstaan?

13 In sy nommer vir Augustus 1884 het die Watch Tower tereg gesê dat die “skape” in hierdie gelykenis mense is vir wie volmaakte lewe op die aarde in die vooruitsig gestel word. Daar is ook verstaan dat die gelykenis van toepassing moet wees wanneer Christus van sy heerlike hemelse troon af regeer. Maar hulle het destyds nie mooi verstaan wanneer hy met die skeidingswerk wat daar beskryf word, sou begin en hoe lank dit sou duur nie.

14. Hoe het ’n byeenkomstoespraak in 1923 die Bybelstudente help besef wanneer Jesus se profetiese gelykenis vervul sou word?

14 Maar in ’n byeenkomstoespraak in 1923 het J. F. Rutherford, wat destyds die president van die Wagtoringgenootskap was, verduidelik wanneer die gelykenis van die skape en die bokke vervul sou word. Waarom? Deels omdat die gelykenis toon dat die Koning se broers—ten minste party van hulle—nog op die aarde sal wees. Onder die mensegeslag kon net sy geesverwekte volgelinge waarlik sy broers genoem word (Hebreërs 2:10-12). Hulle sal nie die hele Millennium deur op die aarde wees om mense die geleentheid te gee om aan hulle goed te doen op die maniere wat Jesus beskryf het nie.—Openbaring 20:6.

15. (a) Watter ontwikkelings het die Bybelstudente gehelp om die skape van Jesus se gelykenis reg te identifiseer? (b) Hoe lewer die skape bewys van hulle waardering vir die Koninkryk?

15 In daardie toespraak in 1923 is ’n poging aangewend om diegene te identifiseer wat aan die Here se beskrywing van die skape en van die bokke beantwoord, maar ander sake moes eers verstaan word voordat die volle betekenis van die gelykenis duidelik sou wees. Gedurende die daaropvolgende jare het Jehovah hierdie belangrike besonderhede progressief onder sy knegte se aandag gebring. Dit het ingesluit dat daar in 1927 duidelik verstaan is dat “die getroue en verstandige dienskneg” die hele liggaam van geesgesalfde Christene op die aarde is; ook dat daar in 1932 besef is dat ’n mens jou onbevrees met Jehovah se gesalfde knegte moet identifiseer, soos Jonadab hom met Jehu geïdentifiseer het (Mattheüs 24:45; 2 Konings 10:15). Destyds is hierdie skaapgeaardes, op grond van Openbaring 22:17, in die besonder aangespoor om ’n deel daaraan te hê om die Koninkryksboodskap na ander te neem. Hulle waardering vir die Messiaanse Koninkryk sou hulle beweeg om nie net mensliewende goedhartigheid teenoor die Here se gesalfdes te betoon nie, maar om hulle lewe deur Christus aan Jehovah toe te wy en om noue omgang met sy gesalfdes te hê en ’n ywerige aandeel te hê aan die werk wat hulle doen. Doen jy dit? Aan diegene wat dit doen, sal die Koning sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Hulle sal die wonderlike vooruitsig hê om vir ewig in volmaaktheid in die aardse ryk van die Koninkryk te lewe.—Mattheüs 25:34, 46.

Die “groot menigte”—Waar gaan hulle heen?

16. (a) Watter wanopvattings het die vroeë Bybelstudente oor die identiteit van die groot menigte van Openbaring 7:9 gehad? (b) Wanneer en op grond waarvan is hulle beskouing reggestel?

16 ’n Tyd lank het Jehovah se knegte geglo dat die groot menigte van Openbaring 7:9, 10 nie dieselfde as die ander skape van Johannes 10:16 en die skape van Mattheüs 25:33 is nie. Omdat die Bybel sê dat hulle ‘voor die troon staan’, is daar gemeen dat hulle in die hemel sal wees, nie op trone om as mede-erfgename saam met Christus te heers nie, maar op ’n ondergeskikte plek voor die troon. Hulle is as minder getroue Christene beskou, mense wat nie ’n waarlik selfopofferende gees aan die dag gelê het nie. In 1935 is daardie beskouing reggestel.b ’n Studie van Openbaring 7:9 in die lig van tekste soos Mattheüs 25:31, 32 het getoon dat mense hier op die aarde “voor die troon” kan wees. Daar is ook getoon dat God nie twee getrouheidstandaarde het nie. Almal wat sy goedkeuring wil wegdra, moet hulle onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf.—Mattheüs 22:37, 38; Lukas 16:10.

17, 18. (a) Wat verklaar die groot toename, sedert 1935, in die aantal mense wat na ewige lewe op die aarde uitsien? (b) Aan watter lewensbelangrike werk neem die lede van die groot menigte ywerig deel?

17 Jehovah se volk het baie jare lank oor God se beloftes met betrekking tot die aarde gepraat. As gevolg van wat hulle verwag het in die twintigerjare sou gebeur, het hulle verkondig: “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.” Maar destyds was daar nie miljoene wat God se voorsienings vir die lewe aangeneem het nie. Die heilige gees het in die meeste van dié wat wel die waarheid aangeneem het die hoop op hemelse lewe gewek. Maar veral ná 1935 het ’n opmerklike verandering plaasgevind. Dit is nie dat The Watchtower die hoop op ewige lewe op die aarde geïgnoreer het nie. Jehovah se knegte het dekades lank hieroor gepraat en diegene gesoek wat aan die Bybel se beskrywing beantwoord. Maar op Jehovah se bestemde tyd het hy gesorg dat hulle na vore kom.

18 Die beskikbare verslae toon dat die embleme baie jare lank deur die meeste Gedenkmaalbywoners gebruik is. Maar binne 25 jaar ná 1935 het die opkoms by die jaarlikse herdenking van Christus se dood toegeneem tot meer as honderd keer soveel as dié wat die embleme gebruik het. Wie was hierdie ander? Toekomstige lede van die groot menigte. Jehovah se tyd het ongetwyfeld aangebreek om hulle bymekaar te maak en hulle voor te berei sodat hulle die groot verdrukking wat ophande is, kan oorleef. Soos voorspel is, kom hulle “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Hulle neem ywerig deel aan die werk wat Jesus voorspel het toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking met die jongste inligting oor die skaapstalle van Johannes hoofstuk 10, sien Die Wagtoring, 1 April 1984, bladsye 18-27 en The Watchtower, 15 Februarie 1984, bladsy 31.

b The Watchtower, 1 en 15 Augustus 1935.

Wat is jou antwoord?

◻ Waarom is die visioen in Openbaring hoofstuk 7 van besondere belang?

◻ Waarom is die ander skape van Johannes 10:16 nie tot nie-Joodse Christene beperk nie?

◻ Wat moet waar wees van diegene wat aan die Bybel se beskrywing van die ander skape beantwoord?

◻ Hoe beklemtoon die gelykenis van die skape en die bokke eerbied vir Koninkryksgesag?

◻ Wat toon wanneer Jehovah se tyd aangebreek het om die groot menigte van Openbaring 7:9 bymekaar te maak?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel