’n Groot menigte wat heilige diens verrig
“Hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel.”—OPENBARING 7:15, NW.
1. Watter mylpaal wat geestelike begrip betref, is in 1935 bereik?
OP 31 Mei 1935 was daar groot vreugde onder diegene wat ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, bygewoon het. Dáár is die groot menigte van Openbaring 7:9 vir die eerste keer duidelik geïdentifiseer in harmonie met die res van die Bybel en in ooreenstemming met gebeure wat reeds begin plaasvind het.
2. Wat het aangedui dat ’n toenemende aantal besef het dat God hulle nie tot hemelse lewe geroep het nie?
2 Sowat ses weke tevore, by die viering van die Here se Aandmaal in gemeentes van Jehovah se Getuies, het 10 681 van dié wat teenwoordig was (ongeveer 1 uit 6) nie van die embleme, naamlik die brood en wyn, gebruik nie, en 3 688 van hulle was bedrywige verkondigers van God se Koninkryk. Waarom het hulle nie van die embleme gebruik nie? Omdat hulle op grond van wat hulle uit die Bybel geleer het, besef het dat God hulle nie tot hemelse lewe geroep het nie, maar dat hulle op ’n ander manier aan Jehovah se liefdevolle voorsienings deel kon hê. Wat het dus by daardie byeenkoms gebeur toe die spreker gevra het: “Sal almal wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe asseblief staan”? Duisende het opgestaan, waarna die gehoor lank hande geklap het.
3. Waarom het die identifisering van die groot menigte die veldbediening ’n nuwe stoot gegee, en hoe het die Getuies hieroor gevoel?
3 Wat die byeenkomsgangers by daardie byeenkoms geleer het, het hulle bediening ’n nuwe stoot gegee. Hulle het tot die besef gekom dat nie net ’n paar duisend nie, maar ’n groot menigte mense nou, voor die einde van die ou stelsel, die geleentheid gegee sou word om binne Jehovah se reëling vir die behoud van die lewe te kom, met die vooruitsig om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Wat ’n hartverblydende boodskap is tog daar aan liefhebbers van waarheid oorgedra! Jehovah se Getuies het besef dat ’n groot werk gedoen moes word—’n vreugdevolle werk. John Booth, wat ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, het jare daarna gesê: “Daardie byeenkoms het ons baie gegee om oor verheug te wees.”
4. (a) In watter mate is die groot menigte in werklikheid sedert 1935 bymekaargemaak? (b) Hoe bewys die lede van die groot menigte dat hulle geloof lewend is?
4 Gedurende die daaropvolgende jare het die aantal Getuies van Jehovah geweldig toegeneem. Ondanks die dikwels hewige vervolging wat tydens die Tweede Wêreldoorlog oor hulle gebring is, het hulle getalle binne ’n dekade byna verdriedubbel. En die 56 153 verkondigers wat in 1935 ’n openbare getuienis gegee het, het teen 1994 tot meer as 4 900 000 Koninkryksverkondigers in meer as 230 lande toegeneem. Die oorgrote meerderheid van hulle sien gretig daarna uit om onder dié te wees aan wie Jehovah volmaakte lewe op ’n paradysaarde sal gee. In vergelyking met die klein kuddetjie het hulle waarlik ’n groot menigte geword. Hulle is nie mense wat sê dat hulle geloof het, maar dit nie bewys nie (Jakobus 1:22; 2:14-17). Hulle almal verkondig die goeie nuus omtrent God se Koninkryk aan ander. Is jy een van daardie gelukkige menigte? Om ’n bedrywige Getuie te wees, is ’n belangrike kenmerk, maar meer is daarby betrokke.
‘Hulle staan voor die troon’
5. Wat word aangedui deur die feit dat die groot menigte ‘voor die troon staan’?
5 In die visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, het hy gesien dat hulle ‘voor die troon en voor die Lam staan’ (Openbaring 7:9). Die feit dat hulle voor die troon van God staan, soos in hierdie konteks beskryf word, toon dat hulle volle erkenning aan Jehovah se soewereiniteit verleen. Dit behels heelwat. Byvoorbeeld: (1) Hulle erken Jehovah se reg om vir sy knegte te besluit wat goed en wat sleg is (Genesis 2:16, 17; Jesaja 5:20, 21). (2) Hulle luister na Jehovah wanneer hy deur sy Woord met hulle praat (Deuteronomium 6:1-3; 2 Petrus 1:19-21). (3) Hulle besef die belangrikheid van onderdanigheid aan diegene aan wie Jehovah toesig toevertrou het (1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 5:22, 23; 6:1-3; Hebreërs 13:17). (4) Hoewel hulle onvolmaak is, streef hulle in alle erns daarna om teokratiese leiding te volg, nie teësinnig nie, maar geredelik, uit die hart (Spreuke 3:1; Jakobus 3:17, 18). Hulle is voor die troon om heilige diens te verrig aan Jehovah, vir wie hulle diepe respek het en innig lief is. Die feit dat hierdie groot menigte voor die troon ‘staan’, dui op die goedkeuring van Hom wat op die troon sit. (Vergelyk Openbaring 6:16, 17.) Goedkeuring op grond waarvan?
“Bekleed met wit klere”
6. (a) Wat beteken dit dat die groot menigte ‘met wit klere bekleed’ is? (b) Hoe verkry die groot menigte ’n regverdige posisie voor Jehovah? (c) In watter mate beïnvloed geloof in Christus se uitgestorte bloed die lewens van die groot menigte?
6 Volgens die apostel Johannes se beskrywing van wat hy gesien het, is die lede van hierdie groot menigte “bekleed met wit klere”. Daardie wit klere is ’n simbool van hulle rein, regverdige posisie voor Jehovah. Hoe het hulle so ’n posisie verkry? Ons het reeds gesien dat hulle in Johannes se visioen “voor die Lam” staan. Hulle erken Jesus Christus as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). Johannes het een van die ouderlinge wat in die visioen by God se troon was, hoor verduidelik: “Hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God” (Openbaring 7:14, 15). Hulle het hulle klere in figuurlike sin gewas deur geloof in Christus se soenbloed te beoefen. Hulle neem die Bybel se leer oor die losprys nie bloot verstandelik aan nie. Waardering daarvoor raak die soort mens wat hulle innerlik is; dit is derhalwe “met die hart” wat hulle geloof beoefen (Romeine 10:9, 10). Dit het ’n verreikende uitwerking op wat hulle met hulle lewe doen. In geloof wy hulle hulle op grond van Christus se offerande aan Jehovah toe, simboliseer hulle daardie toewyding deur waterdoop, lewe hulle waarlik in ooreenstemming met hulle toewyding en verkry hulle sodoende ’n goedgekeurde verhouding met God. Wat ’n wonderlike voorreg—een wat sorgvuldig bewaar moet word!—2 Korinthiërs 5:14, 15.
7, 8. Hoe het Jehovah se organisasie die groot menigte gehelp om hulle klere onbesmet te hou?
7 Uit liefdevolle besorgdheid oor hulle ewige welsyn het Jehovah se organisasie herhaaldelik op gesindhede en gedrag gewys wat iemand se identifiserende klere kan bevlek, of besmet, sodat hy ondanks uiterlike betuigings nie werklik aan die profetiese beskrywing in Openbaring 7:9, 10 sal beantwoord nie (1 Petrus 1:15, 16). In 1941 en daarna het Die Wagtoring bevestig wat vroeër gepubliseer is en herhaaldelik getoon dat dit heeltemal onvanpas sou wees om vir ander te preek en dan, op ander tye, dinge soos hoerery of egbreuk te pleeg (1 Thessalonicense 4:3; Hebreërs 13:4). In 1947 is daar beklemtoon dat Jehovah se Christelike huwelikstandaarde in alle lande geld; diegene wat steeds veelwywery beoefen het, kon nie Getuies van Jehovah wees nie, ongeag wat moontlik volgens plaaslike gebruik goedgekeur is.—Mattheüs 19:4-6; Titus 1:5, 6.
8 In 1973 is daar aan Jehovah se Getuies oor die hele wêreld getoon dat nie een van hulle iets met onteenseglik besoedelende gebruike soos die misbruik van tabak te doen moet hê nie, ongeag waar hulle hulle mag bevind—nie net in die Koninkryksaal of in die velddiens nie, maar ook by die werk of op die een of ander afgesonderde plek waar ander hulle nie sien nie (2 Korinthiërs 7:1). In 1987 is jong Christene by streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies ernstig gemaan dat hulle daarteen moet waak om ’n dubbele lewe te lei as hulle ’n rein posisie voor God wil behou (Psalm 26:1, 4). Die Wagtoring het keer op keer teen verskeie aspekte van die gees van die wêreld gewaarsku omdat “reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader” insluit dat ’n mens jou ‘vlekkeloos bewaar van die wêreld’.—Jakobus 1:27.
9. Wie sal ná die groot verdrukking goedgekeurd voor God se troon staan?
9 Dit is diegene wie se geloof hulle beweeg om so te lewe dat hulle geestelik en sedelik rein bly wat ná die komende groot verdrukking steeds as goedgekeurde knegte van God ‘voor die troon sal staan’. Hulle is mense wat nie net ’n Christelike lewe begin lei nie, maar wat getrou daarmee volhou.—Efesiërs 4:24.
“Palmtakke in hulle hande”
10. Wat beteken die palmtakke wat Johannes in die groot menigte se hande gesien het?
10 Onder die besondere kenmerke van die groot menigte, soos deur die apostel Johannes gesien, is dat daar “palmtakke in hulle hande” was. Wat beteken dit? Daardie palmtakke het Johannes ongetwyfeld herinner aan die Joodse huttefees, die vreugdevolste fees op die Hebreeuse kalender, wat ná die someroes gehou is. In ooreenstemming met die Wet is palmtakke, tesame met die takke van ander bome, gebruik om hutte te maak om gedurende die fees in te bly (Levitikus 23:39, 40; Nehemia 8:15-19 NW). Tydens die sing van die Hallel (Psalm 113-118) het die aanbidders by die tempel ook met palmtakke gewaai. Die feit dat die groot menigte met palmtakke gewaai het, het Johannes heel waarskynlik ook aan die geleentheid herinner toe Jesus in Jerusalem ingery het terwyl ’n menigte aanbidders vreugdevol met palmtakke gewaai en uitgeroep het: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel” (Johannes 12:12, 13). Die feit dat daar met palmtakke gewaai word, toon dus dat die groot menigte Jehovah se Koninkryk en sy gesalfde Koning vreugdevol begroet.
11. Waarom verskaf dit knegte van God waarlik vreugde om Jehovah te dien?
11 Dit is so ’n vreugdevolle gees wat die groot menigte selfs nou openbaar terwyl hulle Jehovah dien. Dit beteken nie dat hulle geen ontberinge ly of dat hulle nie droefheid of pyn ervaar nie. Maar die tevredenheid wat dit meebring wanneer ’n mens Jehovah dien en behaag, vergoed vir daardie dinge. ’n Sendeling wat 45 jaar lank saam met haar man in Guatemala gedien het, het derhalwe vertel van die primitiewe toestande wat rondom hulle geheers het, die harde werk en gevaarlike reise wat ’n deel van hulle lewe was terwyl hulle probeer het om die Indiaanse dorpies met die Koninkryksboodskap te bereik. Sy het ten slotte gesê: “Dit was die tyd in ons lewe toe ons die grootste geluk gesmaak het.” Hoewel sy onder die gevolge van die ouderdom en siekte gebuk gegaan het, was hierdie woorde onder die laaste inskrywings in haar dagboek: “Dit was ’n goeie lewe, so bevredigend.” Jehovah se Getuies oor die hele wêreld voel dieselfde oor hulle bediening.
“Dag en nag heilige diens”
12. Wat sien Jehovah hier op die aarde, of dit nou gedurende die dag of in die nag is?
12 Hierdie vreugdevolle aanbidders verrig “dag en nag heilige diens aan [Jehovah] in sy tempel” (Openbaring 7:15, NW). Miljoene oor die hele wêreld het ’n aandeel aan hierdie heilige diens. Wanneer dit in party lande nag is en die mense daar slaap, skyn die son in ander lande en is Jehovah se Getuies besig om te getuig. Terwyl die aarde draai, verkondig hulle altyddeur, dag en nag, Jehovah se lof (Psalm 86:9). Maar die dag-en-nag-diens waarvan Openbaring 7:15 praat, is selfs persoonliker.
13. Hoe toon die Skrif wat daarmee bedoel word dat diens “dag en nag” verrig word?
13 Diegene wat die groot menigte uitmaak, verrig dag en nag heilige diens. Beteken dit dat alles wat hulle doen as heilige diens beskou word? Hulle leer weliswaar om wat hulle ook al doen so te doen dat dit Jehovah verheerlik (1 Korinthiërs 10:31; Kolossense 3:23). Maar “heilige diens” het net betrekking op wat regstreeks met ’n mens se aanbidding van God verband hou. Die feit dat iets “dag en nag” gedoen word, dui op gereeldheid of konsekwentheid sowel as ywerige inspanning.—Vergelyk Josua 1:8; Lukas 2:37; Handelinge 20:31; 2 Thessalonicense 3:8.
14. Wat sal maak dat ons persoonlike velddiens sal beantwoord aan die beskrywing van diens wat “dag en nag” verrig word?
14 Diegene wat die groot menigte uitmaak, streef daarna om gereeld en op konsekwente wyse aan die veldbediening deel te neem terwyl hulle in die aardse voorhof van Jehovah se groot geestelike tempel dien. Baie het hulle dit ten doel gestel om elke week die een of ander aandeel aan die veldbediening te hê. Ander span hulle in as gewone pioniers of hulppioniers. Hulle is dikwels soggens vroeg besig om op straat en in winkels te getuig. Party Getuies hou saans laat Bybelstudies om belangstellendes tegemoet te kom. Hulle getuig wanneer hulle inkopies doen, wanneer hulle reis, gedurende etenstye en per telefoon.
15. Wat buiten die veldbediening word by ons heilige diens ingesluit?
15 Deelname aan gemeentelike vergaderinge maak ook deel uit van ons heilige diens; asook die werk wat by die bou en versorging van Christelike vergaderplekke betrokke is. Dit sluit ook pogings in om jou Christenbroers en -susters, op geestelike en materiële gebied, aan te moedig en te help om in Jehovah se diens te volhard. Dit sluit die werk van ons Hospitaalskakelkomitees in. Al die verskillende vorme van Betheldiens, sowel as vrywilligerdiens by ons byeenkomste, is alles heilige diens. Wanneer ons lewe om ons verhouding met Jehovah draai, vul heilige diens inderdaad ons lewe. Soos die teks sê, verrig Jehovah se volk “dag en nag heilige diens”, en hulle put groot vreugde daaruit.—Handelinge 20:35; 1 Timotheüs 1:11, vgl. NW.
‘Uit alle nasies, stamme, volke en tale’
16. Hoe blyk dit waar te wees dat die groot menigte “uit alle nasies” kom?
16 Die lede van die groot menigte kom uit alle nasies. God is onpartydig, en die losprysvoorsiening deur Jesus Christus is meer as genoeg om hulle almal te dek. Toe die groot menigte in 1935 die eerste keer skriftuurlik geïdentifiseer is, was Jehovah se Getuies in 115 lande bedrywig. Teen die negentigerjare het die soeke na skaapgeaardes meer as twee keer soveel lande bereik.—Markus 13:10.
17. Wat word gedoen om mense van alle ‘stamme, volke en tale’ te help om onder die groot menigte te tel?
17 In die soeke na toekomstige lede van die groot menigte skenk Jehovah se Getuies nie net aan nasies aandag nie, maar ook aan die stamme en volke en taalgroepe in daardie nasies. Ten einde hierdie mense te bereik, publiseer die Getuies Bybellektuur in meer as 300 tale. Dit behels dat spanne bekwame vertalers opgelei en onderhou word, dat rekenaartoerusting voorsien word wat al hierdie tale kan verwerk en ook dat die drukwerk gedoen word. Gedurende net die afgelope vyf jaar is 36 tale, wat deur sowat 98 000 000 mense gepraat word, by hierdie lys gevoeg. Boonop probeer die Getuies hierdie mense persoonlik besoek om hulle te help om God se Woord te verstaan.—Mattheüs 28:19.
“Uit die groot verdrukking”
18. (a) Wie sal beskerm word wanneer die groot verdrukking uitbreek? (b) Watter gelukkige uitroepe sal daar dan wees?
18 Wanneer die engele die winde van vernietiging loslaat waarvan Openbaring 7:1 praat, sal nie net die gesalfde “diensknegte van onse God” nie, maar ook die groot menigte wat by hulle in ware aanbidding aangesluit het, Jehovah se liefdevolle beskerming geniet. Soos daar vir die apostel Johannes gesê is, sal die lede van die groot menigte as oorlewendes “uit die groot verdrukking kom”. Wat ’n uitroep van dankbaarheid en lof sal hulle dan tog gee wanneer hulle roep: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” En al God se getroue knegte in die hemel sal hulle stemme byvoeg en sê: “Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.”—Openbaring 7:10-14.
19. Aan watter vreugdevolle werk sal die oorlewendes gretig wees om deel te neem?
19 Wat ’n gelukkige tyd sal dit tog wees! Almal wat lewe, sal knegte van die enigste ware God wees! Hulle diens aan Jehovah sal hulle almal die allergrootste vreugde verskaf. Daar sal baie werk wees om te doen—vreugdevolle werk! Die aarde moet in ’n paradys omskep word. Duisendmiljoene dooies sal opgewek word en dan in Jehovah se weë onderrig word. Wat ’n vreugdevolle voorreg sal dit tog wees om ’n aandeel hieraan te hê!
Wat is jou kommentaar?
◻ Watter uitwerking het gebeure in 1935 op die veldbediening van Jehovah se Getuies gehad?
◻ Wat word aangedui deur die feit dat die groot menigte ‘voor die troon staan’?
◻ Hoe moet waardering vir die bloed van die Lam ons lewens raak?
◻ Waarop dui die feit dat hulle met palmtakke waai?
◻ Hoe verrig die groot menigte dag en nag heilige diens?
[Prente op bladsy 16, 17]
Hulle heilige diens weerspieël gereeldheid, vlyt en ywerige inspanning