Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/15 bl. 8-13
  • Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer ons voor beproewinge te staan kom
  • Die soeke na wysheid
  • Ryk en arm kan hulle verbly
  • Gelukkig is dié wat beproewing verduur
  • God—die Bron van goeie dinge
  • Wees ’n ‘dader van die woord’
  • Veel meer as vormlike aanbidders
  • Hoe om ons vreugde te behou wanneer ons deur moeilike tye gaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Vreugdevolle “daders van die woord”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Waarom ons geloof en wysheid nodig het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hoe moet ons beproewinge beskou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/15 bl. 8-13

Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!

“Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom.”—JAKOBUS 1:2.

 1. Ondanks wat dien Jehovah se volk hom met geloof en “vreugde van hart”?

JEHOVAH se volk dien met geloof in hom en “vreugde van hart” as sy Getuies (Deuteronomium 28:47, NW; Jesaja 43:10). Hulle doen dit al word hulle deur baie beproewinge omring. Ondanks die teëspoed waarmee hulle te kampe het, word hulle vertroos deur die woorde: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk.”—Jakobus 1:2, 3.

 2. Wat weet ons van die skrywer van die brief van Jakobus?

2 Daardie woorde is in ongeveer 62 G.J. deur die dissipel Jakobus, ’n halfbroer van Jesus Christus, neergeskryf (Markus 6:3). Jakobus was ’n ouer man in die gemeente in Jerusalem. Trouens, hy, Sefas (Petrus) en Johannes ‘was blykbaar pilare’—sterk, standvastige ondersteuners van die gemeente (Galasiërs 2:9). Toe die geskil oor die besnydenis in ongeveer 49 G.J. voor “die apostels en die ouer manne” gekom het, het Jakobus ’n voorstel gedoen wat op die Skrif gegrond was en deur daardie eerste-eeuse bestuursliggaam aangeneem is.—Handelinge 15:6-29.

 3. Wat was party van die probleme waarvoor eerste-eeuse Christene te staan gekom het, en hoe kan ons die meeste baat vind by die brief van Jakobus?

3 As ’n besorgde geestelike herder het Jakobus ‘ag gegee op die voorkoms van die skape’ (Spreuke 27:23). Hy het besef dat Christene destyds voor ernstige beproewinge te staan gekom het. Die denkwyse van party moes reggestel word, want hulle het die rykes voorgetrek. Van hulle het aanbidding as ’n blote formaliteit beskou. Party het skade aangerig deur hulle onbedwingbare tong. ’n Wêreldse gees het skadelike gevolge gehad, en baie was ongeduldig en het nie aangehou bid nie. Trouens, sekere Christene het geestelik siek geword. Die brief van Jakobus bespreek sulke sake op ’n opbouende manier, en sy raad is vandag nog net so prakties as wat dit in die eerste eeu G.J. was. Ons sal grootliks daarby baat vind as ons hierdie brief beskou as een wat aan ons persoonlik geskryf is.a

Wanneer ons voor beproewinge te staan kom

 4. Hoe moet ons beproewinge beskou?

4 Jakobus toon hoe ons beproewinge moet beskou (Jakobus 1:1-4). Hy meld nie sy gesinsband met God se Seun nie, maar noem homself nederig “’n slaaf van God en van die Here Jesus Christus”. Jakobus skryf aan “die twaalf stamme” van geestelike Israel “wat oral verstrooi is”, aanvanklik weens vervolging (Handelinge 8:1; 11:19; Galasiërs 6:16; 1 Petrus 1:1). As Christene word ons ook vervolg en ‘kom ons verskillende beproewinge teë’. Maar as ons onthou dat beproewinge wat ons verduur ons geloof versterk, sal ons ‘dit louter vreugde ag’ wanneer hulle oor ons kom. As ons ons onkreukbaarheid teenoor God gedurende beproewinge handhaaf, sal dit vir ons blywende geluk meebring.

 5. Wat sluit ons beproewinge moontlik in, en wat gebeur wanneer ons hulle met welslae deurstaan?

5 Ons beproewinge sluit teëspoed in wat die hele mensdom tref. Ons kan byvoorbeeld deur slegte gesondheid geteister word. God verrig in hierdie tyd nie wonderdadige genesings nie, maar hy verhoor ons gebede vir die wysheid en krag om siekte te verduur (Psalm 41:2-4). Ons ly ook ter wille van regverdigheid as vervolgde Getuies van Jehovah (2 Timoteus 3:12; 1 Petrus 3:14). Wanneer ons sulke beproewinge met welslae deurstaan, lewer ons bewys van ons geloof, wat as gevolg daarvan nou ’n “beproefde” geloof is. En wanneer ons geloof seëvier, ‘bewerk dit volharding’. Geloof wat deur beproewinge versterk word, sal ons help om toekomstige toetse te deurstaan.

 6. Hoe ‘voltooi die volharding sy werk’, en watter praktiese stappe kan gedoen word wanneer ons beproef word?

6 “Maar”, sê Jakobus, “laat die volharding sy werk voltooi.” As ons ’n beproewing sy loop laat neem sonder om dit gou op ’n onskriftuurlike manier te probeer beëindig, sal volharding die “werk” verrig om ons volkome te maak as Christene wat nie ’n gebrek aan geloof het nie. As ’n beproewing die een of ander swakheid openbaar, moet ons natuurlik Jehovah se hulp vra om dit te oorkom. Sê nou die toets is die versoeking om jou aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak? Laat ons oor daardie probleem bid en dan in ooreenstemming met ons gebede optree. Ons moet dalk van werk verander of ander stappe doen om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf.—Genesis 39:7-9; 1 Korintiërs 10:13.

Die soeke na wysheid

 7. Hoe kan ons gehelp word om beproewinge die hoof te bied?

7 Jakobus toon vir ons wat ons moet doen as ons nie weet hoe om ’n beproewing die hoof te bied nie (Jakobus 1:5-8). Jehovah sal ons nie verwyt as ons wysheid kortkom en in geloof daarvoor bid nie. Hy sal ons help om ’n beproewing op die regte manier te beskou en dit te verduur. Tekste kan deur medegelowiges of tydens Bybelstudie onder ons aandag gebring word. Gebeure wat deur God se voorsienigheid bewerk word, kan ons in staat stel om te sien wat ons moet doen. Ons kan deur God se gees gelei word (Lukas 11:13). Ons moet natuurlik na aan God en sy volk bly as ons sulke voordele wil geniet.—Spreuke 18:1.

 8. Waarom sal iemand wat twyfel niks van Jehovah ontvang nie?

8 Jehovah gee ons die wysheid om beproewinge die hoof te bied as ons “aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel”. Iemand wat twyfel, “is soos ’n golf van die see wat [op onvoorspelbare wyse] deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word”. As ons geestelik so onstabiel is, ‘moet ons nie veronderstel dat ons enigiets van Jehovah sal ontvang nie’. Laat ons nie in gebed of in ander opsigte ‘besluiteloos’ en “onbestendig” wees nie. Laat ons eerder geloof in Jehovah, die Bron van wysheid, hê.—Spreuke 3:5, 6.

Ryk en arm kan hulle verbly

 9. Waarom het ons rede om ons as aanbidders van Jehovah te verbly?

9 Al is armoede een van ons beproewinge, kan ons gerus in gedagte hou dat ryk sowel as arm Christene hulle kan verbly (Jakobus 1:9-11). Voor hulle Jesus se volgelinge geword het, het die meeste gesalfdes min materiële besittings gehad en het die wêreld op hulle neergesien (1 Korintiërs 1:26). Maar hulle kon hulle verbly oor hulle “verheffing” tot die rang van Koninkrykserfgename (Romeine 8:16, 17). Daarenteen ervaar rykes wat voorheen geëer is “vernedering” as Christus se volgelinge omdat die wêreld hulle verag (Johannes 7:47-52; 12:42, 43). As Jehovah se knegte kan ons almal ons egter verbly omdat wêreldse rykdom en aansien niks beteken wanneer dit vergelyk word met die geestelike rykdom wat ons het nie. En hoe dankbaar is ons tog dat daar onder ons geen plek is vir trots wat op sosiale stand gegrond is nie!—Spreuke 10:22; Handelinge 10:34, 35.

10. Hoe moet ’n Christen materiële rykdom beskou?

10 Jakobus help ons om te sien dat ons lewe nie van rykdom en wêreldse prestasies afhang nie. Net soos die skoonheid van ’n blom nie kan keer dat dit doodgaan in die “versengende hitte” van die son nie, kan ’n ryk man se rykdom nie sy lewe verleng nie (Psalm 49:7-10; Matteus 6:27). Hy kan sterf terwyl hy sy “weë”, moontlik in sakebelange, nastreef. Daarom is dit van die allergrootste belang om “ryk . . . teenoor God” te wees en om alles in ons vermoë te doen om Koninkryksbelange te bevorder.—Lukas 12:13-21; Matteus 6:33; 1 Timoteus 6:17-19.

Gelukkig is dié wat beproewing verduur

11. Wat is die vooruitsigte vir diegene wat ondanks beproewinge aan hulle geloof vashou?

11 Ryk of arm, ons kan alleenlik gelukkig wees as ons ons beproewinge verduur (Jakobus 1:12-15). As ons sulke beproewinge deurstaan en ons geloof bly ongeskonde, kan ons gelukkig genoem word, want ’n mens ervaar vreugde wanneer jy doen wat reg is in God se oë. Omdat geesverwekte Christene tot die dood aan hulle geloof vashou, ontvang hulle “die kroon van die lewe”, onsterflikheid in die hemele (Openbaring 2:10; 1 Korintiërs 15:50). As ons ’n aardse hoop het en ons behou ons geloof in God, kan ons uitsien na die ewige lewe op ’n paradysaarde (Lukas 23:43; Romeine 6:23). Hoe goed is Jehovah tog vir almal wat geloof in hom beoefen!

12. Waarom moet ons, wanneer ons teëspoed ervaar, nie sê: “Ek word deur God beproef” nie?

12 Is dit moontlik dat Jehovah self ons met teëspoed beproef? Nee, ons moenie sê: “Ek word deur God beproef” nie. Jehovah probeer ons nie uitlok om sonde te pleeg nie, maar sal ons beslis help en ons die krag gee wat nodig is om beproewinge te verduur as ons standvastig in die geloof bly (Filippense 4:13). God is heilig, en gevolglik plaas hy ons nie in omstandighede wat ons weerstand teen oortreding sal verswak nie. As ons onsself in ’n onheilige situasie laat beland en die een of ander sonde begaan, moet ons hom nie daarvoor blameer nie, “want met bose dinge kan God nie beproef word nie en beproef hy self ook niemand nie”. Hoewel Jehovah dalk sal toelaat dat ’n beproewing ons vir ons beswil dissiplineer, beproef hy ons nie met bose bedoelings nie (Hebreërs 12:7-11). Satan sal ons dalk in die versoeking bring om verkeerd te doen, maar God kan ons van die bose verlos.—Matteus 6:13.

13. Wat kan gebeur as ons nie ’n verkeerde begeerte verwerp nie?

13 Ons moet aanhou bid, want ’n sekere situasie kan ’n verkeerde begeerte wek wat ons kan laat sondig. Jakobus sê: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word.” Ons kan God nie vir ons sonde blameer as ons ons hart toegelaat het om sondige begeertes te bedink nie. As ons nie ’n verkeerde begeerte verwerp nie, ‘word dit vrugbaar’, word dit in die hart gekoester en ‘baar dit sonde’. Wanneer sonde volbring is, ‘bring dit die dood voort’. Ons moet baie beslis ons hart bewaar en sondige neigings weerstaan (Spreuke 4:23). Kain is gewaarsku dat sonde op die punt was om hom te oormeester, maar hy het dit nie weerstaan nie (Genesis 4:4-8). Maar sê nou ons slaan ’n onskriftuurlike rigting in? Ons behoort beslis dankbaar te wees as Christen- ouer manne ons probeer reghelp sodat ons nie teen God sondig nie.—Galasiërs 6:1.

God—die Bron van goeie dinge

14. In watter sin kan daar gesê word dat God se gawes “volmaak” is?

14 Ons moet onthou dat Jehovah nie die Bron van beproewinge is nie, maar van goeie dinge (Jakobus 1:16-18). Jakobus noem medegelowiges “geliefde broers” en toon dat God die Gewer van ‘elke goeie gawe en volmaakte geskenk’ is. Jehovah se geestelike en materiële gawes is “volmaak”, of volledig, en kom niks kort nie. Hulle kom “van bo”, van God se woonplek in die hemel af (1 Konings 8:39). Jehovah is “die Vader van die hemelse ligte”—die son, die maan en die sterre. Hy gee ons ook geestelike lig en waarheid (Psalm 43:3; Jeremia 31:35; 2 Korintiërs 4:6). Anders as die son wat skaduwees laat verander terwyl dit beweeg en net in die middel van die dag op sy hoogste punt is, is God altyd gereed om te voorsien wat goed is. Hy sal ons sekerlik toerus om beproewinge die hoof te bied as ons ten volle gebruik maak van sy geestelike voorsienings wat ons deur sy Woord en “die getroue en verstandige slaaf” ontvang.—Matteus 24:45.

15. Wat is een van Jehovah se voortreflikste gawes?

15 Wat is een van God se voortreflikste gawes? Die voortbrenging van geestelike seuns deur heilige gees, in samewerking met die goeie nuus, of “woord van waarheid”. Diegene wat ’n geestelike geboorte beleef, is “sekere eerstelinge”, wat onder die mensdom uitgekies is om ’n hemelse “koninkryk en priesters” te wees (Openbaring 5:10; Efesiërs 1:13, 14). Jakobus het moontlik aan die eerstelinge van die garsoes gedink wat geoffer is op 16 Nisan, die dag toe Jesus opgewek is, en aan die offerande van twee koringbrode op Pinksterdag, toe die heilige gees uitgegiet is (Levitikus 23:4-11, 15-17). In daardie geval sou Jesus die eersteling wees en sy mede-erfgename “sekere eerstelinge”. En as ons ’n aardse hoop het? Wel, as ons hierdie hoop in gedagte hou, sal dit ons help om vas te hou aan ons geloof in die Gewer van “elke goeie gawe”, wat die ewige lewe onder Koninkryksheerskappy moontlik gemaak het.

Wees ’n ‘dader van die woord’

16. Waarom moet ons ‘gou wees om te hoor, maar stadig wees om te praat en ten opsigte van gramskap?’

16 Of ons op die oomblik beproewinge van ons geloof die hoof moet bied of nie, ons moet “daders van die woord” wees (Jakobus 1:19-25). Ons moet “gou wees om [God se woord] te hoor” en gehoorsame daders daarvan te wees (Johannes 8:47). Laat ons, aan die ander kant, “stadig [wees] om te praat”, deur ons woorde sorgvuldig te kies (Spreuke 15:28; 16:23). Jakobus spoor ons moontlik aan om nie te gou te sê dat ons beproewinge van God af kom nie. Ons word ook gemaan om “stadig [te wees] ten opsigte van gramskap; want ’n mens se gramskap bewerk nie God se regverdigheid nie”. As iets wat iemand sê ons kwaad maak, laat ons ‘nie gou wees’ om te reageer nie sodat ons dit kan vermy om ’n wraaksugtige antwoord te gee (Efesiërs 4:26, 27). ’n Gees van gramskap wat vir ons probleme kan veroorsaak en ’n beproewing vir ander kan word, kan nie voortbring wat geloof in ons regverdige God van ons vereis nie. Buitendien, as ons “oorvloedig [is] in onderskeidingsvermoë”, sal ons “stadig tot toorn” wees, en ons broers en susters sal tot ons aangetrokke voel.—Spreuke 14:29, NW.

17. Wat word bereik deur die verwydering van slegtheid uit ons hart en verstand?

17 Ons moet sekerlik vry wees van “alle vuilheid”—alles wat God verafsku en gramskap bevorder. Ons moet daarbenewens ‘daardie oorbodige ding, slegtheid, aflê’. Ons moet almal enige onreinheid van vlees of gees uit ons lewe verwyder (2 Korintiërs 7:1; 1 Petrus 1:14-16; 1 Johannes 1:9). Die verwydering van slegtheid uit ons hart en verstand het ons gehelp om ‘die inplanting van die woord van waarheid met sagmoedigheid te aanvaar’ (Handelinge 17:11, 12). Ongeag hoe lank ons al Christene is, ons moet steeds toelaat dat meer skriftuurlike waarheid in ons ingeplant word. Waarom? Omdat die ingeplante woord deur God se gees “die nuwe persoonlikheid”, wat gered sal word, voortbring.—Efesiërs 4:20-24.

18. Hoe verskil iemand wat bloot ’n hoorder van die woord is van iemand wat ook ’n dader daarvan is?

18 Hoe toon ons dat die woord ons rigsnoer is? Deur gehoorsame ‘daders van die woord te wees en nie net hoorders nie’ (Lukas 11:28). “Daders” het geloof wat werke soos ywerige bedrywigheid in die Christelike bediening en gereelde deelname aan vergaderinge van God se volk voortbring (Romeine 10:14, 15; Hebreërs 10:24, 25). ’n Blote hoorder van die woord is “soos ’n mens wat na sy natuurlike gesig in ’n spieël kyk”. Hy kyk en gaan dan weg en vergeet wat dalk nodig is om sy voorkoms te verbeter. As “daders van die woord” bestudeer en gehoorsaam ons God se “volmaakte wet” noukeurig, wat alles insluit wat God van ons vereis. Die vryheid wat ons daardeur geniet, is presies die teenoorgestelde van slawerny aan sonde en die dood, want dit lei tot die lewe. Laat ons dan ‘by die volmaakte wet bly’ deur dit voortdurend te ondersoek en te gehoorsaam. En dink net! As ‘daders van die werk, en nie vergeetagtige hoorders nie’, sal ons die vreugde hê wat uit God se guns voortspruit.—Psalm 19:8-12.

Veel meer as vormlike aanbidders

19, 20. (a) Wat vereis rein aanbidding volgens Jakobus 1:26, 27 van ons? (b) Wat is ’n paar voorbeelde van onbesmette aanbidding?

19 As ons Goddelike guns wil geniet, moet ons onthou dat ware aanbidding nie ’n blote formaliteit is nie (Jakobus 1:26, 27). Ons dink dalk dat ons aanvaarbare ‘vormlike aanbidders’ van Jehovah is, maar wat werklik van belang is, is hoe hy elkeen van ons beskou (1 Korintiërs 4:4). Een ernstige fout kan wees dat ons nie die “tong in toom hou” nie. Ons sou onsself bedrieg as ons dink dat God tevrede is met ons aanbidding as ons ander belaster, leuens vertel of die tong op ander maniere misbruik (Levitikus 19:16; Efesiërs 4:25). Ons wil beslis nie hê dat ons “vorm van aanbidding” om enige rede “vergeefs” en vir God onaanvaarbaar moet wees nie.

20 Hoewel Jakobus nie elke aspek van rein aanbidding noem nie, sê hy dat dit insluit dat ons ‘na wese en weduwees in hulle verdrukking omsien’ (Galasiërs 2:10; 6:10; 1 Johannes 3:18). Die Christengemeente toon spesiale belangstelling in die versorging van weduwees (Handelinge 6:1-6; 1 Timoteus 5:8-10). Aangesien God die Beskermer van weduwees en vaderlose kinders is, laat ons met Hom saamwerk deur te doen wat ons kan om hulle geestelik en materieel te help (Deuteronomium 10:17, 18). Rein aanbidding beteken ook ‘om jou sonder vlek te bewaar van die wêreld’, die onregverdige mensegemeenskap wat in Satan se mag lê (Johannes 17:16; 1 Johannes 5:19). Laat ons dus vry bly van die wêreld se goddelose gedrag sodat ons Jehovah kan verheerlik en nuttig kan wees in sy diens.—2 Timoteus 2:20-22.

21. Watter verdere vrae met betrekking tot die brief van Jakobus verdien ons aandag?

21 Die raad van Jakobus wat ons tot dusver bespreek het, sal ons help om beproewinge te verduur en aan ons geloof vas te hou. Dit behoort ons waardering vir die liefdevolle Gewer van goeie gawes te vergroot. En die woorde van Jakobus help ons om rein aanbidding te beoefen. Op wat anders vestig hy ons aandag? Watter verdere stappe kan ons doen om te bewys dat ons ware geloof in Jehovah het?

[Voetnoot]

a Gedurende persoonlike of gesinstudie van hierdie artikel en die twee wat daarop volg, sal jy dit besonder nuttig vind as jy elke deel van die geloofversterkende brief van Jakobus waarna verwys word, lees.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat sal ons help om beproewinge te verduur?

◻ Waarom kan Christene hulle ondanks beproewinge verbly?

◻ Hoe kan ons daders van die woord wees?

◻ Wat behels rein aanbidding?

[Prent op bladsy 9]

Beoefen geloof in Jehovah se mag om gebede te beantwoord wanneer jy beproef word

[Prente op bladsy 10]

“Daders van die woord” verkondig God se Koninkryk wêreldwyd

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel