Jongmense—Jehovah sal nie julle werk vergeet nie!
“God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—HEBREËRS 6:10.
1. Hoe toon die Bybelboeke Hebreërs en Maleagi dat Jehovah jou diens waardeer?
HET jy al ooit iets goeds vir ’n vriend gedoen en dan geen dank daarvoor ontvang nie? Dit kan ’n mens diep seermaak wanneer ’n goedhartige daad as vanselfsprekend aangeneem word of, nog erger, heeltemal vergeet word. Maar hoe anders is dit tog wanneer ons heelhartige diens aan Jehovah verrig! Die Bybel sê: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie” (Hebreërs 6:10). Dink aan wat dit beteken. In Jehovah se oë sal dit in werklikheid ’n onregverdige daad—’n sonde—wees as hy sou vergeet wat jy in sy diens gedoen het en nog steeds doen. Wat ’n waarderende God is hy tog!—Maleagi 3:10.
2. Wat maak die feit dat jy Jehovah dien, werklik spesiaal?
2 Jy het ’n spesiale geleentheid om hierdie dankbare God te aanbid en te dien. Aangesien daar net omtrent sesmiljoen van jou medeaanbidders in vergelyking met nagenoeg sesmiljard mense wêreldwyd is, het jy inderdaad ’n uitsonderlike voorreg. Daarbenewens is die feit dat jy na die boodskap van die goeie nuus luister en daarop ag slaan, bewys dat Jehovah persoonlik in jou belangstel. Jesus het immers gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Ja, Jehovah help mense individueel om baat te vind by Christus se offerande.
Waardeer jou wonderlike voorreg
3. Hoe het die kinders van Korag waardering uitgespreek vir die voorreg om Jehovah te dien?
3 Soos ons in die vorige artikel bespreek het, is jy in die unieke posisie om Jehovah se hart bly te maak (Spreuke 27:11). Dit is iets wat jy nooit as vanselfsprekend moet aanneem nie. In een van hulle geïnspireerde psalms het die kinders van Korag waardering uitgespreek vir die voorreg om Jehovah te dien. Ons lees: “’n Dag in u voorhowe is beter as duisend elders. Ek het verkies om liewer by die drumpel in die huis van my God te staan as om in die tente van goddeloosheid rond te gaan.”—Psalm 84:10.
4. (a) Wat kan party laat dink dat aanbidding van Jehovah beperkend is? (b) Hoe toon Jehovah dat hy graag let op wat sy knegte doen en hulle wil beloon?
4 Is dit hoe jy voel oor jou voorreg om jou hemelse Vader te dien? Dit kan miskien soms lyk of aanbidding van Jehovah jou vryheid beperk. Dit is waar dat dit ’n mate van selfopoffering vereis om volgens Bybelbeginsels te lewe. Maar wat Jehovah ook al van jou vra, is op die ou end tot jou voordeel (Psalm 1:1-3). Daarbenewens sien Jehovah jou pogings en toon hy sy waardering vir jou getrouheid. Ja, Paulus het geskryf dat Jehovah “die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Jehovah soek na geleenthede om dit te doen. ’n Regverdige profeet in eertydse Israel het gesê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.”—2 Kronieke 16:9.
5. (a) Wat is een van die beste maniere waarop jy kan toon dat jou hart volkome is teenoor Jehovah? (b) Waarom lyk dit dalk moeilik om met ander oor jou geloof te praat?
5 Een van die beste maniere waarop jy kan toon dat jou hart volkome teenoor Jehovah is, is deur met ander oor hom te praat. Het jy al die geleentheid gehad om met party van jou skoolmaats oor jou geloof te praat? Dit kan aanvanklik oorweldigend lyk, en die blote gedagte maak jou dalk benoud. ‘Sê nou hulle lag my uit?’ vra jy moontlik. ‘Sê nou hulle dink my godsdiens is vreemd?’ Jesus het besef dat nie almal na die Koninkryksboodskap sou luister nie (Johannes 15:20). Maar dit beteken nie dat jy altyd deur almal bespot en verwerp sal word nie. Inteendeel, talle jong Getuies het al ’n horende oor gevind en het selfs groter respek by hulle portuurs afgedwing omdat hulle by hulle oortuigings gebly het.
“Jehovah sal jou help”
6, 7. (a) Hoe kon ’n 17-jarige meisie vir haar klasmaats getuig? (b) Wat het jy uit Jennifer se ondervinding geleer?
6 Maar hoe kan jy die moed bymekaarskraap om oor jou geloof te praat? Waarom neem jy jou nie voor om eerlik en openhartig te wees wanneer mense jou oor jou godsdiens uitvra nie? Beskou die ondervinding van die 17-jarige Jennifer. “Dit was pouse by die skool. Die meisies aan my tafel het oor godsdiens gepraat, en een van hulle het my gevra aan watter godsdiens ek behoort”, sê sy. Was Jennifer senuweeagtig om ’n antwoord te gee? “Ja”, erken sy, “want ek het nie geweet hoe hulle sou reageer nie.” Wat het Jennifer toe gedoen? “Ek het vir die meisies gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is”, vertel sy verder. “Hulle het eers ’n bietjie verbaas gelyk. Hulle het blykbaar gedink dat Jehovah se Getuies eienaardige mense is. Dit het daartoe gelei dat hulle my vrae gevra het, en ek kon van hulle wanopvattings regstel. Selfs ná daardie dag het party van die meisies my van tyd tot tyd ’n vraag kom vra.”
7 Was Jennifer spyt dat sy die geleentheid aangegryp het om oor haar geloof te praat? Glad nie! “Ek het baie goed daaroor gevoel toe die pouse verby was”, sê sy. “Nou het daardie meisies ’n beter idee van wie Jehovah se Getuies werklik is.” Jennifer se raad is eenvoudig: “Sê ’n kort gebed as dit vir jou moeilik is om vir klasmaats of onderwysers te getuig. Jehovah sal jou help. Jy sal bly wees dat jy die geleentheid benut het om ’n getuienis te gee.”—1 Petrus 3:15.
8. (a) Hoe het gebed Nehemia gehelp toe hy voor ’n onverwagte situasie te staan gekom het? (b) In watter situasies by die skool sal ’n kort, stille gebed aan Jehovah jou help?
8 Volgens Jennifer help ‘’n kort gebed’ aan Jehovah ’n mens om oor jou geloof te getuig wanneer die geleentheid hom voordoen. Dit is presies wat Nehemia, die skinker van Persiese koning Artasasta, gedoen het toe hy voor ’n onverwagte situasie te staan gekom het. Nehemia was sigbaar ontsteld nadat hy omtrent die benarde toestand van die Jode ingelig is en verneem het dat Jerusalem se muur en poorte in puin lê. Die koning het opgemerk dat iets Nehemia blykbaar kwel, en daarom het hy hom gevra wat skort. Voordat Nehemia geantwoord het, het hy vir leiding gebid. Toe het hy moedig toestemming gevra om na Jerusalem terug te keer en die verwoeste stad te help herbou. Artasasta het Nehemia toestemming gegee om te gaan (Nehemia 2:1-8). Die les? As jy senuweeagtig is wanneer daar ’n geleentheid is om oor jou geloof te getuig, moet jy nie versuim om ’n stille gebed in jou hart te sê nie. “[Werp] al julle sorge op [Jehovah]”, het Petrus geskryf, “want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:7; Psalm 55:22.
‘Gereed om jou te verdedig’
9. Wat het die 13-jarige Leah in staat gestel om 23 eksemplare van die Jongmense vra-boek te versprei?
9 Kyk na nog ’n ondervinding. Die 13-jarige Leah het gedurende haar middagpouse by die skool die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werka gelees. “Ander het my dopgehou”, sê sy, “en kort voor lank het ’n hele klomp oor my skouer gekyk. Hulle het begin uitvra oor die boek.” Teen die einde van die dag het vier meisies Leah gevra om vir hulle ook ’n Jongmense vra-boek te bring. Hierdie meisies het op hulle beurt weer die boek vir ander gewys, en hulle wou toe ook ’n eksemplaar hê. Gedurende die daaropvolgende paar weke het Leah 23 Jongmense vra-boeke onder haar skoolmaats en hulle vriende versprei. Was dit vir Leah maklik om ’n verduideliking te gee toe ander haar die eerste keer uitgevra het oor die boek wat sy lees? Glad nie! “Ek was eers senuweeagtig”, erken sy. “Maar ek het gebid en ek het geweet dat Jehovah met my is.”
10, 11. Hoe kon ’n jong Israelitiese meisie ’n Siriese leërhoof help om van Jehovah te leer, en watter veranderinge het hy daarna gemaak?
10 Leah se ondervinding laat jou miskien dink aan ’n soortgelyke situasie waarin ’n jong Israelitiese meisie, wat as ’n gevangene na Sirië weggevoer is, haar bevind het. Naäman, ’n Siriese leërhoof, was melaats. Sy vrou het moontlik die gesprek begin wat hierdie meisietjie beweeg het om oor haar geloof te praat. “Was my heer tog maar voor die profeet wat in Samaria is!” het sy gesê. “Dan sou hy hom van sy melaatsheid genees.”—2 Konings 5:1-3.
11 As gevolg van hierdie jong meisie se vrymoedigheid het Naäman uitgevind dat “daar op die hele aarde geen God is nie, behalwe in Israel”. Hy het hom selfs voorgeneem dat hy “nie meer ’n brandoffer of ’n offerande aan enige ander god as aan Jehovah [sou] bring nie” (2 Konings 5:15, 17). Jehovah het beslis die moed van daardie meisietjie geseën. Hy kan en sal vandag dieselfde vir jongmense doen. Leah het gevind dat dit so is. Na ’n ruk het party van haar skoolmaats na haar toe gekom en gesê dat die Jongmense vra-boek hulle met hulle gedrag help. “Ek was bly”, sê Leah, “want ek het geweet dat ek ander help om meer van Jehovah te leer en hulle lewe te verander.”
12. Wat kan jou die krag gee om jou geloof te verdedig?
12 Jy kan ook ondervindinge soos dié van Jennifer en Leah hê. Volg die vermaning van Petrus, wat geskryf het dat jy as ’n Christen ‘altyd gereed moet wees om jou te verdedig voor elkeen wat van jou ’n rede vir die hoop in jou eis, maar dat jy dit met sagmoedigheid en diep respek moet doen’ (1 Petrus 3:15). Hoe kan jy dit doen? Volg die handelswyse na van die eerste-eeuse Christene wat Jehovah in gebed gevra het om hulle te help om “met alle vrymoedigheid” te preek (Handelinge 4:29). Praat dan moedig met ander oor jou geloof. Jy sal dalk verbaas wees oor die resultate. Bowenal sal jy Jehovah se hart bly maak.
Video’s en spesiale skooltake
13. Watter geleenthede het party jongmense aangegryp om ’n getuienis te gee? (Sien vensters op bladsye 20 en 21.)
13 Baie jongmense het video’s gebruik om hulle oortuigings aan skoolmaats of onderwysers te verduidelik. Soms het skooltake hulle ook die geleentheid gegee om Jehovah te loof. Twee 15-jarige seuns, albei Getuies van Jehovah, moes byvoorbeeld vir hulle wêreldgeskiedenisklas ’n taak oor een van die wêreld se godsdienste doen. Hierdie twee het saamgewerk aan ’n verslag oor Jehovah se Getuies en het die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk as hulle bron gebruik.b Hulle moes ook ’n mondelinge verslag van vyf minute gee. Agterna het die onderwyser en leerlinge soveel vrae gehad dat die seuns nog 20 minute voor die klas moes deurbring. Hulle klasmaats het nog weke daarna vrae oor Jehovah se Getuies gevra!
14, 15. (a) Waarom is mensevrees ’n strik? (b) Waarom moet jy jou opvattings met vrymoedigheid aan ander bekend maak?
14 Soos die voorgaande ondervindinge toon, kan groot seëninge geniet word as jy ander van jou opvattings en oortuigings as een van Jehovah se Getuies vertel. Moenie dat mensevrees jou die voorreg en vreugde ontneem om ander te help om Jehovah te leer ken nie. Die Bybel sê: “Om vir mense te bewe, span ’n strik, maar hy wat op Jehovah vertrou, sal beskerm word.”—Spreuke 29:25.
15 Onthou, as ’n jong Christen het jy iets wat jou portuurs baie nodig het—die beste lewenswyse nou en die belofte van ewige lewe in die toekoms (1 Timoteus 4:8). Interessant genoeg, in die Verenigde State—waar jy sou dink dat mense oor die algemeen onverskillig of wêreldsgesind is—het ’n studie getoon dat ten minste die helfte van die jongmense godsdiens baie ernstig opneem, en ’n derde sê dat godsdiens “die belangrikste invloed” in hulle lewe is. Die situasie is waarskynlik dieselfde in baie ander wêrelddele. Jou skoolmaats sal dus heel moontlik met graagte luister na wat jy oor die Bybel sê.
Jongmense, kom nader aan Jehovah
16. Wat anders moet ’n mens doen om Jehovah te behaag, behalwe om net oor hom te praat?
16 Om Jehovah se hart bly te maak, behels natuurlik meer as om net oor hom te praat. Jy moet ook jou gedrag in ooreenstemming bring met sy standaarde. Die apostel Johannes het geskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Jy sal vind dat dit waar is as jy nader aan Jehovah kom. Hoe kan jy dit doen?
17. Hoe kan jy nader aan Jehovah kom?
17 Sit tyd opsy om die Bybel en Bybelpublikasies te lees. Hoe meer jy van Jehovah leer, hoe makliker sal dit wees om hom te gehoorsaam en met ander oor hom te praat. “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is”, het Jesus gesê, “want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Vul dus jou hart met goeie dinge. Stel gerus vir jou doelwitte in hierdie verband. Miskien kan jy hierdie komende week beter voorberei vir die gemeentelike vergaderinge. Jou volgende doelwit kan wees om deel te neem deur ’n kort maar opregte antwoord te gee. Dit is natuurlik noodsaaklik dat jy ook die dinge toepas wat jy leer.—Filippense 4:9.
18. Waarvan kan jy seker wees al word jy soms teëgestaan?
18 Die seëninge wat jy ontvang wanneer jy Jehovah dien, is blywend—ja, ewig. Jy sal miskien nog van tyd tot tyd teëgestaan of bespot word omdat jy een van Jehovah se Getuies is. Maar dink aan Moses. Die Bybel sê dat ‘hy sy blik stip op die beloning gerig gehou het’ (Hebreërs 11:24-26). Jy kan ook seker wees dat Jehovah jou sal beloon vir die pogings wat jy aanwend om van hom te leer en oor hom te praat. Ja, hy sal nooit ‘jou werk vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het nie’.—Hebreërs 6:10.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Waarom kan jy seker wees dat Jehovah jou diens waardeer?
• Watter metodes om by die skool te getuig, het vir party gewerk?
• Wat kan jou die krag gee om vir klasmaats te getuig?
• Hoe kan jy nader aan Jehovah kom?
[Venster/Prente op bladsy 20]
Selfs jong kinders loof Jehovah!
Selfs jong kinders het al by die skool getuig. Kyk na hierdie ondervindinge.
Die tienjarige Amber se graadvyfklas het ’n boek gelees oor die Nazi-aanval op Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Amber het besluit om die video Purple Triangles vir haar onderwyseres te neem. Die onderwyseres was verbaas om uit te vind dat Jehovah se Getuies ook onder die Nazi-regime vervolg is. Die onderwyseres het die video vir die hele klas gewys.
Toe Alexa agt was, het sy ’n briefie aan haar klas geskryf waarin sy verduidelik het waarom sy nie aan hulle Kersfeesviering kon deelneem nie. Haar onderwyseres was so beïndruk dat sy Alexa die brief vir haar klas sowel as twee ander klasse laat voorlees het! “Ek is geleer om ander te respekteer wat nie soos ek glo nie”, het sy aan die einde gesê, “en dankie dat julle my besluit respekteer om nie Kersfees te vier nie.”
Kort nadat Eric met graad een begin het, het hy My boek met Bybelverhale skool toe geneem en toestemming gevra om dit vir sy klasmaats te wys. “Ek het ’n beter idee”, het sy onderwyseres gesê. “Waarom lees jy nie een van die verhale vir die klas nie?” Eric het dit gedoen. Agterna het hy gevra dat almal wat ’n eksemplaar wil hê, hulle hand moet opsteek. Agtien—insluitende die onderwyseres—wou een hê! Eric voel nou dat hy sy eie spesiale getuienisgebied het.
Die negejarige Whitney is dankbaar vir die brosjure Jehovah se Getuies en opvoeding.c “My ma gee gewoonlik elke jaar hierdie brosjure vir my onderwysers”, sê sy, “maar dié jaar het ek dit self gedoen. Nadat ek haar hierdie brosjure gegee het, het my onderwyseres my ‘leerling van die week’ gemaak.”
[Voetnoot]
c Al die bogenoemde publikasies word deur Jehovah se Getuies uitgegee.
[Venster/Prente op bladsy 21]
Situasies wat party gebruik het om oor hulle oortuigings te praat
Wanneer hulle ’n skoolverslag of -taak moes doen, het party ’n onderwerp gekies wat hulle in staat gestel het om ’n getuienis te gee
Baie jongmense het hulle onderwyser ’n video of ’n publikasie gegee wat handel oor ’n onderwerp wat in die klas bespreek is
Wanneer party jongmense die Bybel of ’n Bybelpublikasie tydens pouse gelees het, het ander jongmense hulle genader en vrae gevra
[Prent op bladsy 18]
Ervare persone kan help om jongmense op te lei om Jehovah te dien