Die onwaarskynlike huwelik van Boas en Rut
DIT is lente en die dorsvloer naby Betlehem is die ene bedrywigheid. Dit was ’n lang dag. Die geur van geroosterde graan laat die werkers besef dat dit tyd is om te eet. Elkeen sal die vrug van sy arbeid geniet.
Boas, ’n ryk landeienaar, eet en drink tot hy versadig is en ontspan by ’n groot hoop graan. Wanneer die einde van die oesdag aanbreek, soek elkeen ’n gemaklike rusplek. Tevrede maak Boas hom toe, en hy sluimer in.
’n Geheime ontmoeting
Teen middernag skrik Boas wakker, bewend van die koue. Dan sien hy dat sy voete doelbewus oopgemaak is en dat iemand daar lê! Omdat hy nie in die donker kan sien wie dit is nie, vra hy: “Wie is jy?” ’n Vrou se stem antwoord: “Ek is Rut, u slavin, en u moet die slip van u kleed oor u slavin uitsprei, want u is ’n terugkoper.”—Rut 3:1-9.
Hulle gesels alleen in die donker. Vroue word nie gewoonlik by ’n dorsvloer gevind nie (Rut 3:14). Nietemin bly Rut op aandrang van Boas by sy voete lê tot net voor sonsopkoms, waarna sy opstaan en gaan om enige ongegronde kritiek te vermy.
Was dit ’n romantiese ontmoeting? Het Rut—’n arm, jong weduwee uit ’n heidense land—hierdie ryk, ouer man op slinkse wyse verlei? Of het Boas daardie aand misbruik gemaak van Rut se omstandighede en eensaamheid? Die antwoord op hierdie vrae het alles te doen met lojaliteit teenoor God en liefde vir hom. En die verhaal is ook baie roerend.
Maar wie is Rut? Wat is haar beweegrede? En wie is hierdie ryk man, Boas?
“’n Voortreflike vrou”
Jare voor hierdie episode het hongersnood in Juda uitgebreek. ’n Israelitiese gesin van vier—Elimeleg; sy vrou, Naomi, en hulle twee seuns, Maglon en Giljon—het na die vrugbare land Moab getrek. Die seuns het met twee Moabitiese vroue, Rut en Orpa, getrou. Ná die dood van die drie mans in Moab, het die drie vroue gehoor dat die toestande in Israel verbeter het. Daarom het Naomi—wat nou ’n weduwee, verbitter en sonder kinders of kleinkinders was—besluit om na haar vaderland terug te keer.—Rut 1:1-14.
Op pad na Israel het Naomi Orpa oortuig om na haar volk terug te keer. Naomi het toe vir Rut gesê: “Kyk! Jou weduwee-skoonsuster het na haar volk en haar gode toe teruggekeer. Keer saam met jou weduwee-skoonsuster terug.” Maar Rut het gesê: “Moenie by my pleit om u te verlaat nie, . . . want waar u gaan, sal ek gaan . . . U volk sal my volk wees, en u God my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word” (Rut 1:15-17). Daarop het die twee arm weduwees na Betlehem teruggekeer. Daar het Rut se liefde vir en besorgdheid oor haar skoonmoeder die bure so beïndruk dat hulle gesê het dat sy vir Naomi “beter is as sewe seuns”. Ander het haar as “’n voortreflike vrou” beskryf.—Rut 3:11; 4:15.
Aan die begin van die garsoes in Betlehem het Rut vir Naomi gesê: “Laat my asseblief na die land gaan en are tussen die graanare optel agter enigiemand aan in wie se oë ek guns sal vind.”—Rut 2:2.
Sy kom heel toevallig uit by die stuk land wat aan Boas, ’n familielid van haar skoonvader, Elimeleg, behoort. Sy vra die opsiener toestemming om are op te tel. Sy werk so hard dat die opsiener haar by Boas prys.—Rut 1:22–2:7.
’n Beskermer en weldoener
Boas is ’n toegewyde aanbidder van Jehovah. Elke oggend groet Boas sy snyers met die woorde: “Mag Jehovah met julle wees”, en hulle antwoord: “Mag Jehovah u seën” (Rut 2:4). Nadat Boas gesien het hoe hard Rut werk en gehoor het van haar lojaliteit teenoor Naomi, maak hy spesiale voorsienings vir haar. Kortom, hy sê vir haar: ‘Bly op my land; jy hoef nie na ander te gaan nie. Bly naby my jong vroue; jy sal veilig saam met hulle wees. Ek het die jong manne beveel om jou nie aan te raak nie. Wanneer jy dors is, sal hulle vir jou vars water skep.’—Rut 2:8, 9.
Rut buig haar na die aarde neer en sê: ‘Hoe is dit dat ek guns in u oë gevind het terwyl ek ’n uitlander is?’ Boas antwoord: ‘Daar is breedvoerig aan my vertel wat jy alles ná die dood van jou man vir jou skoonmoeder gedoen het—hoe jy jou vader, moeder, familielede en jou land verlaat het om onder ’n volk te woon wat jy voorheen nie geken het nie. Mag Jehovah jou handelswyse beloon. Mag hy jou ’n volmaakte loon gee.’—Rut 2:10-12.
Boas probeer nie toenadering soek nie. Sy lof is opreg. Rut aanvaar dit op nederige wyse en bedank hom vir sy gerusstellende woorde. Sy meen dat sy dit nie verdien nie en werk selfs harder. Later, met etenstyd, roep Boas vir Rut: ‘Kom, eet van die brood en doop jou stukkie in die asyn.’ Sy eet totdat sy versadig is en hou ’n bietjie oor om huis toe te neem vir Naomi.—Rut 2:14.
Teen die einde van die dag het Rut omtrent 22 liter graan. Sy neem dít asook die kos wat sy oorgehou het, huis toe vir Naomi (Rut 2:15-18). Verheug oor die oorvloed, vra Naomi: “Waar het jy vandag are opgetel? . . . Mag die een wat belangstelling in jou getoon het, geseënd wees.” Toe Naomi hoor dat dit Boas was, sê sy: “Mag hy geseënd wees deur Jehovah, wat sy liefderyke goedhartigheid teenoor die lewendes en die dooies nie nagelaat het nie. . . . Die man is aan ons verwant. Hy is een van ons terugkopers.”—Rut 2:19, 20.
Sy vind “’n rusplek”
Weens haar begeerte om “’n rusplek”, of huis, vir haar skoondogter te vind, gryp Naomi die geleentheid aan om te reël dat hulle vra om teruggekoop te word, in ooreenstemming met God se Wet (Levitikus 25:25; Deuteronomium 25:5, 6). Naomi sit vir Rut ’n uiters doeltreffende, selfs ietwat dramatiese, plan van aksie uiteen—’n manier om Boas se aandag te kry. Voorbereid en met definitiewe instruksies gaan Rut, toe dit donker is, na die dorsvloer wat aan Boas behoort. Sy vind hom aan die slaap. Sy maak sy voete oop en wag dat hy wakker word.—Rut 3:1-7.
Wanneer Boas wakker word, help Rut se simboliese optrede hom ongetwyfeld om die erns te besef van haar versoek dat hy ‘die slip van sy kleed oor sy slavin uitsprei’. Rut se handeling maak die bejaarde Judeër bewus van sy verpligting as ’n terugkoper, aangesien hy ’n bloedverwant van Rut se oorlede man, Maglon, is.—Rut 3:9.
Rut se nagtelike besoek was onverwags. Tog gee Boas se reaksie te kenne dat Rut se versoek om teruggekoop te word, nie heeltemal onverwags was nie. Boas was gewillig om aan Rut se versoek te voldoen.
Rut se stemtoon moes ’n mate van kommer verraai het, sodat Boas haar gerusstel: “En nou, my dogter, moenie bang wees nie. Alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want almal in die poort van my volk weet dat jy ’n voortreflike vrou is.”—Rut 3:11.
Dat Boas Rut se handelinge as volkome deugsaam beskou het, is duidelik uit sy woorde: “Mag jy geseënd wees deur Jehovah, my dogter. Jy het jou liefderyke goedhartigheid in die laaste geval nog beter getoon as in die eerste geval” (Rut 3:10). In die eerste geval het Rut liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, teenoor Naomi geopenbaar. In die laaste geval het sy op onselfsugtige wyse bekend gemaak dat sy bereid was om deur Boas, ’n man wat baie ouer as sy was, teruggekoop te word. Sy was gewillig om kinders in die naam van Maglon, haar oorlede man, en vir Naomi groot te maak.
’n Terugkoper weier
Die volgende oggend laat Boas ’n bloedverwant roep, na wie daar as “So-en-so” verwys word, wat nader aan Naomi verwant is as Boas. Voor die inwoners en die ouer manne van die stad sê Boas: ‘Ek dink ek moet aan jou jou reg onthul om van Naomi die stuk grond terug te koop wat aan haar man Elimeleg behoort het, want sy moet dit verkoop.’ Boas gaan verder: ‘Sal jy dit terugkoop? So nie, sal ek dit terugkoop.’ Daarop sê So-en-so dat hy dit sal terugkoop.—Rut 4:1-4.
Maar daar wag ’n verrassing op So-en-so! Boas sê nou voor al die getuies: “Die dag dat jy die grond uit Naomi se hand koop, moet jy dit ook by Rut, die Moabitiese vrou, die vrou van die man wat dood is, koop om die naam van die man wat dood is, oor sy erfdeel te laat verrys.” Uit vrees dat hy sy eie erfdeel sal bederf, gee die naverwant sy terugkoopreg prys en sê: “Ek kan dit nie . . . terugkoop nie.”—Rut 4:5, 6.
Volgens gebruik moes die man wat weier om ’n terugkoper te wees, sy sandaal uittrek en dit vir sy naaste gee. Wanneer die terugkoper dus vir Boas sê: “Koop dit vir jou”, trek hy sy sandaal uit. Daarna sê Boas vir die ouer manne en al die mense: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimeleg behoort het en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naomi koop. En ook Rut, die Moabitiese vrou, die vrou van Maglon, koop ek vir my as vrou om die naam van die man wat dood is, oor sy erfdeel te laat verrys . . . Julle is vandag getuies.”—Rut 4:7-10.
Al die mense in die poort sê vir Boas: “Mag Jehovah gee dat die vrou wat in jou huis inkom, soos Ragel en soos Lea sal wees, wat al twee die huis van Israel gebou het; en bewys jy jou waarde in Efrata en maak naam in Betlehem.”—Rut 4:11, 12.
Met die seën van die mense neem Boas Rut as sy vrou. Sy gee geboorte aan ’n seun met die naam Obed, en so word Rut en Boas voorouers van koning Dawid en gevolglik van Jesus Christus.—Rut 4:13-17; Matteus 1:5, 6, 16.
“’n Volmaakte loon”
Regdeur die verslag, van waar hy die werkers die eerste keer vriendelik groet tot waar hy die verantwoordelikheid aanvaar om die familienaam van Elimeleg te bewaar, is dit duidelik dat Boas ’n uitsonderlike man is—’n man van aksie en gesag. Terselfdertyd was hy ’n man van selfbeheersing, geloof en onkreukbaarheid. Boas was ook vrygewig, goedhartig, sedelik rein en volkome gehoorsaam aan Jehovah se gebooie.
Rut staan uit weens haar liefde vir Jehovah, haar lojale liefde teenoor Naomi en haar vlytigheid en nederigheid. Dit is geen wonder dat mense haar as “’n voortreflike vrou” beskou het nie. Sy het nie “die brood van luiheid” geëet nie, en omdat sy hard gewerk het, het sy iets gehad om met haar behoeftige skoonmoeder te deel (Spreuke 31:27, 31). Deur verantwoordelikheid vir Naomi te aanvaar, het Rut ongetwyfeld die geluk gesmaak wat dit verskaf om te gee.—Handelinge 20:35; 1 Timoteus 5:4, 8.
Watter uitstekende voorbeelde vind ons tog in die boek Rut! Naomi word deur Jehovah onthou. Rut ontvang “’n volmaakte loon” as ’n voorouer van Jesus Christus. Boas word geseën met “’n voortreflike vrou”. En vir ons is hierdie persone voorbeelde van geloof.
[Venster op bladsy 26]
’n Straal van hoop
As jy ooit voel dat jy in ongelukkige tye lewe, kan die verhaal van Rut ’n straal van hoop wees. Dit vorm ’n uitstekende en belangrike slot tot die boek Rigters. Die boek Rut vertel hoe Jehovah ’n nederige weduwee uit ’n vreemde nasie, die Moabiete, gebruik het om ’n koning vir sy volk voort te bring. Teen die agtergrond van die boek Rigters skyn Rut se geloof soos ’n lig in daardie tyd.
Rut se verhaal bied ons die versekering dat God altyd vir sy volk sorg en sy voornemens vervul, ongeag hoe moeilik die tye mag wees.