Moeg maar nie vermoeid nie
“Jehovah, die Skepper van die eindes van die aarde, . . . gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed.”—Jesaja 40:28, 29.
1, 2. (a) Watter hartlike uitnodiging word aan almal gerig wat ware aanbidding wil beoefen? (b) Wat kan ’n ernstige gevaar vir ons geestelikheid inhou?
AS Jesus se dissipels is ons goed bekend met sy hartlike uitnodiging: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. . . . Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Christene kan ook “tye van verkwikking van die aangesig van Jehovah” geniet (Handelinge 3:19). Jy het sekerlik al self ondervind hoe verkwikkend dit is om Bybelwaarhede te leer, ’n helder toekomshoop te hê en Jehovah se beginsels in jou lewe toe te pas.
2 Nietemin voel party van Jehovah se aanbidders soms emosioneel uitgeput. In sommige gevalle duur die ontmoediging nie lank nie. Ander kere kan die vermoeidheid ’n geruime tyd duur. Met verloop van tyd kan party begin voel dat hulle Christelike verantwoordelikhede ’n las geword het in plaas van ’n verkwikkende vrag soos Jesus beloof het. Sulke negatiewe gevoelens kan ’n ernstige gevaar vir ’n Christen se verhouding met Jehovah inhou.
3. Waarom het Jesus die raad in Johannes 14:1 gegee?
3 Kort voor sy inhegtenisname en teregstelling het Jesus vir sy dissipels gesê: “Moenie dat julle hart verontrus word nie. Beoefen geloof in God, beoefen geloof ook in my” (Johannes 14:1). Jesus het daardie woorde geuiter omdat die apostels weldra voor tragiese gebeure te staan sou kom. Dit sou gevolg word deur ’n vlaag van vervolging. Jesus het geweet dat algehele ontmoediging sy apostels kon laat struikel (Johannes 16:1). As niks omtrent hulle bedroefdheid gedoen sou word nie, sou dit hulle geestelik aftakel en veroorsaak dat hulle hulle vertroue in Jehovah verloor. Dit is ook waar van Christene van vandag. Langdurige ontmoediging kan baie angstigheid veroorsaak, en ons harte kan beswaar word (Jeremia 8:18). Die mens wat ons innerlik is, kan swak word. Onder hierdie druk kan ons emosioneel en geestelik uitgeput raak, en selfs ons begeerte verloor om Jehovah te dien.
4. Wat kan keer dat ons figuurlike hart vermoeid raak?
4 Hoe gepas is hierdie Bybelraad tog: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Die Bybel bied praktiese raad wat ons help om ons figuurlike hart teen ontmoediging en geestelike moegheid te beskerm. Eerstens moet ons egter identifiseer wat die oorsaak van ons moegheid is.
Die Christelike godsdiens is nie onderdrukkend nie
5. Watter stelling aangaande Christendissipelskap lyk dalk na ’n weerspreking?
5 Dit is waar dat dit kragtige inspanning verg om ’n Christen te wees (Lukas 13:24). Jesus het selfs gesê: “Elkeen wat nie sy folterpaal dra en agter my aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie” (Lukas 14:27). Op die oog af lyk dit dalk of hierdie woorde Jesus se stelling weerspreek dat sy vrag lig en verkwikkend is, maar in werklikheid is daar geen weerspreking nie.
6, 7. Waarom kan daar gesê word dat ons vorm van aanbidding nie vermoeiend is nie?
6 Hoewel kragtige inspanning en harde werk ’n mens fisies uitput, kan dit bevredigend en verkwikkend wees wanneer dit vir ’n goeie doel gedoen word (Prediker 3:13, 22). En watter beter doel kan daar wees as om wonderlike Bybelwaarhede aan ons medemens bekend te maak? Ook kan ons stryd om volgens God se hoë sedelike standaarde te lewe, hoegenaamd nie vergelyk word met die voordele wat ons as gevolg daarvan geniet nie (Spreuke 2:10-20). Selfs wanneer ons vervolg word, beskou ons dit as ’n eer om ter wille van God se Koninkryk te ly.—1 Petrus 4:14.
7 Jesus se vrag is inderdaad verkwikkend, veral wanneer dit vergelyk word met die geestelike duisternis waarin diegene verkeer wat onder die juk van valse godsdiens bly. God het tere liefde vir ons en stel nie onredelike eise aan ons nie. Jehovah se “gebooie [is] nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Die ware Christelike godsdiens, soos dit in die Skrif uiteengesit word, is nie onderdrukkend nie. Dit is duidelik dat ons vorm van aanbidding nie vermoeidheid en ontmoediging veroorsaak nie.
‘Lê elke gewig af’
8. Wat is dikwels die oorsaak van geestelike moegheid?
8 Enige geestelike moegheid wat ons ondervind, is dikwels as gevolg van die ekstra laste wat hierdie verdorwe stelsel van dinge op ons plaas. Omdat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’, is ons omring deur negatiewe invloede wat ons kan afmat en ons Christelike ewewig kan versteur (1 Johannes 5:19). Onbelangrike strewes kan inbreuk maak op ons Christelike roetine en dit ontwrig. Hierdie bykomende laste kan swaar op ons druk en selfs ons gees heeltemal blus. Die Bybel vermaan ons gepas om ‘elke gewig af te lê’.—Hebreërs 12:1-3.
9. Hoe kan materiële strewes ’n swaar las wees?
9 Die wêreld se beheptheid met aansien, geld, vermaak, plesierreise en ander materiële strewes kan byvoorbeeld ons denke beïnvloed (1 Johannes 2:15-17). Party eerste-eeuse Christene wat rykdom nagejaag het, het hulle lewe grootliks gekompliseer. Die apostel Paulus verduidelik: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.
10. Wat kan ons oor rykdom leer uit Jesus se illustrasie van die saaier?
10 Wanneer ons moeg en ontmoedig in ons diens aan God voel, moet ons ons afvra of dit nie dalk die najaging van materiële dinge is wat ons geestelikheid versmoor nie. Dit is ’n besliste moontlikheid, soos Jesus se illustrasie van die saaier toon. Jesus het “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom en die begeertes na die res van die dinge” vergelyk met dorings wat ‘indring’ en die saad van God se woord in ons hart “verstik” (Markus 4:18, 19). Gevolglik vermaan die Bybel ons: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.’”—Hebreërs 13:5.
11. Hoe kan ons dinge uitskakel wat vir ons ’n swaar las kan wees?
11 Soms is dit nie die najaging van meer dinge wat ons lewe kompliseer nie, maar wat ons doen met die dinge wat ons reeds het. Party raak dalk emosioneel uitgeput weens ernstige gesondheidsprobleme, die dood van geliefdes of ander sorgwekkende probleme. Hulle het besef dat hulle van tyd tot tyd aanpassings moet maak. Een egpaar het besluit om van hulle stokperdjies en onbelangrike persoonlike projekte uit te skakel. Hulle het deur hulle goed gegaan en alles wat met hierdie projekte verband hou, ingepak en weggebêre. Dit sal vir ons almal nuttig wees om nou en dan ons gewoontes te ondersoek en deur ons besittings te gaan en elke onnodige gewig af te lê sodat ons nie moeg word en in ons siel beswyk nie.
Redelikheid en beskeidenheid noodsaaklik
12. Wat moet ons erken aangaande ons eie foute?
12 Ons eie foute, selfs in geringe sake, kan ons lewe geleidelik kompliseer. Hoe waar is die woorde van Dawid tog: “My eie oortredings het oor my hoof gegaan; soos ’n swaar vrag is hulle vir my te swaar” (Psalm 38:4). Dikwels sal ’n paar praktiese veranderinge ons van swaar laste bevry.
13. Hoe kan redelikheid ons help om ’n gebalanseerde beskouing van ons bediening te hê?
13 Die Bybel spoor ons aan om “praktiese wysheid en denkvermoë” te ontwikkel (Spreuke 3:21, 22). “Die wysheid van bo is . . . redelik”, sê die Bybel (Jakobus 3:17). Sommige het verplig gevoel om by te hou met wat ander in die Christelike bediening doen. Maar die Bybel gee ons hierdie raad: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie. Want elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:4, 5). Die goeie voorbeeld van mede-Christene kan ons weliswaar aanmoedig om Jehovah heelhartig te dien, maar praktiese wysheid en redelikheid sal ons help om realistiese doelwitte volgens ons eie omstandighede te stel.
14, 15. Hoe kan ons praktiese wysheid aan die dag lê terwyl ons na ons fisiese en emosionele behoeftes omsien?
14 Ons redelikheid, selfs op gebiede wat nie so belangrik lyk nie, kan help om gevoelens van moegheid te voorkom. Kweek ons byvoorbeeld gebalanseerde gewoontes aan wat tot goeie fisiese gesondheid bydra? Beskou die voorbeeld van ’n egpaar wat by een van die takkantore van Jehovah se Getuies dien. Hulle het gesien hoe praktiese wysheid kan help om uitputting te voorkom. Die vrou sê: “Ongeag hoeveel werk ons het, ons probeer om elke aand min of meer dieselfde tyd in die bed te kom. Ons doen ook gereeld oefening. Dit het ons werklik gehelp. Ons het geleer wat ons beperkings is, en ons doen dinge daarvolgens. Ons probeer om ons nie met diegene te vergelyk wat skynbaar eindelose energie het nie.” Eet ons gereeld gesonde maaltye en kry ons genoeg rus? As ons oor die algemeen redelike aandag aan ons gesondheid skenk, kan dit gevoelens van emosionele en geestelike uitputting laat afneem.
15 Party van ons het unieke behoeftes. Een Christensuster het byvoorbeeld al ’n paar moeilike toewysings in die voltydse bediening gehad. Sy het ernstige gesondheidsprobleme, waaronder kanker, gehad. Wat help haar om stresvolle situasies te hanteer? Sy sê: “Dit is vir my belangrik om tyd te hê wanneer ek alleen kan wees en algehele stilte kan geniet. Hoe meer ek die spanning en moegheid in my voel opbou, hoe dringender het ek rustige oomblikke van stilte nodig wanneer ek kan lees en rus.” Praktiese wysheid en denkvermoë help ons om te besef wat ons persoonlike behoeftes is en dit te bevredig sodat ons geestelike moegheid kan vermy.
Jehovah God gee ons krag
16, 17. (a) Waarom is dit uiters belangrik om na ons geestelike gesondheid om te sien? (b) Wat moet ons in ons daaglikse roetine insluit?
16 Dit is natuurlik uiters belangrik om na ons geestelike gesondheid om te sien. Wanneer ons ’n hegte verhouding met Jehovah God het, sal ons miskien fisies moeg raak, maar ons sal nooit moeg daarvan word om hom te dien nie. Jehovah “gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed” (Jesaja 40:28, 29). Die apostel Paulus, wat self die waarheid van hierdie woorde ondervind het, het geskryf: “Ons [gee] nie moed op nie, maar selfs al teer die mens wat ons uiterlik is weg, word die mens wat ons innerlik is, beslis van dag tot dag vernuwe.”—2 Korintiërs 4:16.
17 Let op die uitdrukking “van dag tot dag”. Dit impliseer dat ons daagliks van Jehovah se voorsienings gebruik moet maak. ’n Sendeling wat al 43 jaar lank getrou dien, het soms te kampe gehad met tye van fisiese moegheid en ontmoediging. Maar sy het nie vermoeid geraak nie. Sy sê: “Dit is my gewoonte om vroeg op te staan sodat ek, voordat ek met enige werk begin, tyd in gebed tot Jehovah kan deurbring en sy Woord kan lees. Hierdie daaglikse roetine het my gehelp om tot nou toe te volhard.” Ons kan inderdaad staatmaak op Jehovah se onderskragende krag as ons gereeld, ja “van dag tot dag”, tot hom bid en peins oor sy voortreflike eienskappe en sy beloftes.
18. Watter vertroosting voorsien die Bybel vir getroues wat bejaard of siek is?
18 Dit is veral nuttig vir diegene wat ontmoedig voel weens bejaardheid en swak gesondheid. Sulke persone kan neerslagtig raak, nie omdat hulle hulle met ander vergelyk nie, maar omdat hulle dink aan wat hulle vroeër kon doen. Hoe vertroostend is die wete tog dat Jehovah die bejaardes eer! Die Bybel sê: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spreuke 16:31). Jehovah ken ons beperkings en stel ons heelhartige aanbidding hoog op prys al is ons fisies swak. En die goeie werke wat ons reeds gedoen het, is onuitwisbaar in God se geheue opgeteken. Die Skrif verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie” (Hebreërs 6:10). Hoe bly is ons almal tog om diegene onder ons te hê wat al dekades lank lojaal is aan Jehovah!
Moenie moed opgee nie
19. Hoe vind ons daarby baat as ons altyd besig is om goed te doen?
19 Baie glo dat gereelde, intense fisiese bedrywighede moegheid kan teëwerk. Net so kan gereelde geestelike bedrywighede help om enige gevoelens van emosionele of geestelike uitputting te verlig. Die Bybel sê: “Laat ons derhalwe nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie. Ja, solank ons die geleentheid het, laat ons dan aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:9, 10). Let op die uitdrukkings “om te doen wat goed is” en “goed doen”. Dit impliseer daadwerklike optrede. As ons goeie dinge vir ander doen, kan dit ons beslis help om nie vermoeid te raak in ons diens aan Jehovah nie.
20. Wie se geselskap moet ons vermy as ons teen ontmoediging wil stry?
20 In teenstelling hiermee kan assosiasie en bedrywighede met mense wat God se wette verontagsaam, ’n vermoeiende las word. Die Bybel waarsku ons: “’n Klip en ’n vrag sand is swaar—maar die ergernis wat deur ’n dwaas veroorsaak word, is swaarder as al twee” (Spreuke 27:3). As ons teen gevoelens van ontmoediging en moegheid wil stry, sal dit raadsaam wees om die geselskap te vermy van diegene wat ’n negatiewe gesindheid het en geneig is om fout te vind en ander te kritiseer.
21. Hoe kan ons ander by Christelike vergaderinge aanmoedig?
21 Christelike vergaderinge is ’n voorsiening van Jehovah wat ons met geestelike krag kan vervul. Dit bied ons ’n uitstekende geleentheid om mekaar aan te moedig met verkwikkende onderrigting en assosiasie (Hebreërs 10:25). Almal in die gemeente moet daarna streef om opbouend te wees wanneer hulle by die vergaderinge kommentaar lewer of wanneer hulle ’n deel op die program het. Veral diegene wat as onderrigters die leiding neem, het die verantwoordelikheid om ander aan te moedig (Jesaja 32:1, 2). Selfs wanneer vermaning of teregwysing nodig is, moet die raad so gegee word dat dit verkwikkend sal wees (Galasiërs 6:1, 2). Ons liefde vir ander sal ons gewis help om Jehovah te dien sonder om vermoeid te raak.—Psalm 133:1; Johannes 13:35.
22. Waarom kan ons ten spyte van ons onvolmaakte menslike natuur goeie moed hou?
22 Dit behels inspanning om Jehovah in hierdie tyd van die einde te aanbid. En Christene is nie immuun teen die uitwerking van verstandelike moegheid, emosionele pyn en stresvolle omstandighede nie. Ons onvolmaakte menslike natuur is broos, soos erdewerk. Maar die Bybel sê: “Ons het . . . hierdie skat in erdehouers, sodat die krag wat bo die normale is, God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Ja, ons sal moeg word, maar ons moet nooit vermoeid raak of moed opgee nie. Laat ons eerder “goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper.’”—Hebreërs 13:6.
’n Kort hersiening
• Van watter swaar laste kan ons moontlik ontslae raak?
• Hoe kan ons “goed doen” aan mede-Christene?
• Hoe onderskraag Jehovah ons wanneer ons moeg of ontmoedig voel?
[Prent op bladsy 23]
Jesus het geweet dat langdurige ontmoediging die apostels kon aftakel
[Prent op bladsy 24]
Party het sekere stokperdjies en onbelangrike persoonlike projekte uitgeskakel
[Prent op bladsy 26]
Ten spyte van ons beperkings stel Jehovah ons heelhartige aanbidding hoog op prys