Jehovah doen altyd wat reg is
“Jehovah is regverdig in al sy weë.”—PSALM 145:17.
1. Hoe reageer jy wanneer iemand ’n verkeerde gevolgtrekking omtrent jou maak, en watter les kan ons uit so ’n ondervinding leer?
HET iemand al ooit die verkeerde gevolgtrekking omtrent jou gemaak, dalk jou optrede of beweegredes bevraagteken sonder dat hy al die feite tot sy beskikking gehad het? Indien wel, het dit jou waarskynlik seergemaak—en dit is te verstane. Ons kan ’n belangrike les hieruit leer: Dit is onverstandig om gevolgtrekkings te maak wanneer ons nie die volle prentjie het nie.
2, 3. Hoe reageer sommige op Bybelverslae wat nie genoeg besonderhede bevat om elke vraag te beantwoord nie, maar wat sê die Bybel vir ons oor Jehovah?
2 Dit sal goed wees as ons hierdie les in gedagte hou wanneer ons gevolgtrekkings omtrent Jehovah God maak. Waarom? Omdat daar sekere Bybelverslae is wat aanvanklik vir ons verwarrend kan wees. Hierdie verslae—moontlik oor die optrede van party van God se aanbidders of God se oordele in die verlede—bevat miskien nie genoeg besonderhede om al ons vrae te beantwoord nie. Ongelukkig kritiseer sommige mense sulke verslae en bevraagteken hulle selfs God se regverdigheid en geregtigheid. Maar die Bybel sê vir ons: “Jehovah is regverdig in al sy weë” (Psalm 145:17). Sy Woord verseker ons ook dat hy ‘nie goddeloos handel nie’ (Job 34:12; Psalm 37:28). Dink dan net hoe hy moet voel wanneer ander verkeerde gevolgtrekkings omtrent hom maak!
3 Kom ons kyk na vyf redes waarom ons Jehovah se oordele moet aanvaar. Dan sal ons, met hierdie redes in gedagte, twee Bybelverslae ondersoek wat vir party dalk moeilik is om te verstaan.
Waarom moet ons Jehovah se oordele aanvaar?
4. Waarom moet ons beskeie wees wanneer ons God se handelinge ondersoek? Lig toe.
4 Eerstens, omdat Jehovah bewus is van al die feite wat met ’n saak verband hou en ons nie, moet ons beskeie wees wanneer ons God se handelinge ondersoek. Ter toeligting: Gestel ’n regter met ’n uitstekende rekord van onpartydige beslissings het in ’n hofsaak uitspraak gelewer. Wat sal jy dink van iemand wat die regter se besluit kritiseer sonder dat hy kennis dra van al die feite of ’n goeie begrip het van die betrokke wette? Dit sal dwaas wees van iemand om sy mening uit te spreek oor ’n saak sonder dat hy ten volle daaroor ingelig is (Spreuke 18:13). Hoeveel dwaser sal dit tog wees van blote mense om “die Regter van die hele aarde” te kritiseer!—Genesis 18:25.
5. Wat moet ons nie vergeet wanneer ons Bybelverslae lees oor die voltrekking van God se oordele aan sekere persone nie?
5 ’n Tweede rede waarom ons God se oordele moet aanvaar, is omdat God, in teenstelling met mense, harte kan lees (1 Samuel 16:7). Sy Woord sê: “Ek, Jehovah, deursoek die hart, ondersoek die niere, ja, om aan elkeen te gee volgens sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jeremia 17:10). Wanneer ons derhalwe Bybelverslae lees oor die voltrekking van God se oordele aan sekere persone, moet ons nie vergeet dat sy alsiende oë verborge gedagtes, beweegredes en bedoelings in aanmerking geneem het wat nie in sy Woord opgeteken is nie.—1 Kronieke 28:9.
6, 7. (a) Hoe het Jehovah getoon dat hy by sy standaarde van geregtigheid en regverdigheid bly selfs as dit groot opoffering van hom verg? (b) Wat moet ons onthou as ons iets in die Bybel lees wat ons laat wonder of God regverdig of reg opgetree het?
6 Let op ’n derde rede waarom ons Jehovah se oordele moet aanvaar: Hy bly by sy regverdige standaarde selfs as dit groot opoffering van hom verg. Kyk na ’n voorbeeld. Toe hy sy Seun as ’n losprys voorsien het om gehoorsame mense van sonde en die dood te bevry, het Jehovah voldoen aan Sy standaarde van geregtigheid en regverdigheid (Romeine 5:18, 19). Tog het dit ongetwyfeld vir Jehovah die grootste pyn denkbaar besorg om te sien hoe sy geliefde Seun aan ’n folterpaal ly en sterf. Wat vertel dit ons van God? Aangaande “die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”, sê die Bybel: “Dit was om [God se] eie regverdigheid te toon” (Romeine 3:24-26). ’n Ander vertaling van Romeine 3:25 sê: “Dit het getoon dat God altyd doen wat reg en regverdig is” (New Century Version). Ja, die feit dat Jehovah bereid was om so ver te gaan om die losprys te voorsien, toon dat hy die hoogste agting het vir “wat reg en regverdig is”.
7 Wanneer ons dus iets in die Bybel lees wat party laat wonder of God regverdig of reg opgetree het, moet ons die volgende onthou: Weens sy lojaliteit aan sy standaarde van regverdigheid en geregtigheid het Jehovah nie sy eie Seun teen ’n pynlike dood gevrywaar nie. Sal hy daardie standaarde in ander sake prysgee? Die waarheid is dat Jehovah nooit sy standaarde van regverdigheid en geregtigheid skend nie. Ons het dus genoegsame rede om oortuig te wees dat hy altyd doen wat reg en regverdig is.—Job 37:23.
8. Waarom is dit inkonsekwent vir mense om te dink dat Jehovah op die een of ander manier kan te kort skiet in geregtigheid en regverdigheid?
8 Kyk na ’n vierde rede waarom ons Jehovah se oordele moet aanvaar: Jehovah het die mens na Sy beeld gemaak (Genesis 1:27). Mense is dus begaaf met eienskappe soos dié van God, waaronder ’n sin van geregtigheid en regverdigheid. Dit sou inkonsekwent wees as ons sin van geregtigheid en regverdigheid ons laat dink dat Jehovah op die een of ander manier kan te kort skiet in daardie selfde eienskappe. As ’n sekere Bybelverslag ons verontrus, moet ons onthou dat ons sin van geregtigheid en regverdigheid onvolmaak is as gevolg van ons oorgeërfde sonde. Jehovah God, na wie se beeld ons gemaak is, is volmaak in geregtigheid en regverdigheid (Deuteronomium 32:4). Dit sal onsinnig wees om selfs net te dink dat mense regverdiger as God is!—Romeine 3:4, 5; 9:14.
9, 10. Waarom is Jehovah onder geen verpligting om sy handelinge aan mense te verduidelik of teenoor hulle te regverdig nie?
9 ’n Vyfde rede waarom ons Jehovah se oordele moet aanvaar, is omdat hy “die Allerhoogste oor die hele aarde is” (Psalm 83:18). As sodanig is hy onder geen verpligting om sy handelinge aan mense te verduidelik of teenoor hulle te regverdig nie. Hy is die Groot Pottebakker, en ons is soos klei wat in voorwerpe gevorm is, waarmee hy kan handel soos hy goeddink (Romeine 9:19-21). Wie is ons—die werk van sy hande—om sy besluite of handelinge te bevraagteken? Toe die aartsvader Job God se handelinge met die mensdom verkeerd verstaan het, het Jehovah hom tereggewys deur te vra: “Sal jy werklik my geregtigheid kragteloos maak? Sal jy my goddeloos verklaar sodat jy reg kan wees?” Job het later berou getoon toe hy besef het dat hy sonder begrip gepraat het (Job 40:8; 42:6). Mag ons nooit die fout maak om met God fout te vind nie!
10 Dit is duidelik dat ons goeie redes het om te glo dat Jehovah altyd doen wat reg is. Noudat ons hierdie grondslag het wat ons help om Jehovah se weë te begryp, kan ons twee Bybelverslae ondersoek wat vir party moontlik verwarrend is. Die eerste een behels die optrede van een van God se aanbidders en die ander een ’n oordeel wat God self voltrek het.
Waarom het Lot sy dogters vir ’n woedende skare aangebied?
11, 12. (a) Vertel wat gebeur het toe God twee gematerialiseerde engele na Sodom gestuur het. (b) Watter vrae het hierdie verslag by party laat ontstaan?
11 Genesis hoofstuk 19 vertel ons wat gebeur het toe God twee gematerialiseerde engele na Sodom gestuur het. Lot het daarop aangedring dat die besoekers by hom moet tuisgaan. Maar daardie nag het ’n skare oproerige manne van die stad die huis omsingel en geëis dat die besoekers vir onsedelike doeleindes na hulle toe uitgebring word. Lot het met die oproerige skare probeer redeneer, maar dit was tevergeefs. In ’n poging om sy gaste te beskerm, het Lot gesê: “Asseblief, my broers, moenie sleg optree nie. Asseblief tog, kyk, ek het twee dogters wat nog nooit met ’n man gemeenskap gehad het nie. Laat ek hulle asseblief na julle toe uitbring. Doen dan met hulle wat goed is in julle oë. Moet net nie iets aan hierdie manne doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak gekom.” Die oproerige skare het nie geluister nie en het amper die deur afgebreek. Uiteindelik het die besoekende engele daardie rasende skare met blindheid getref.—Genesis 19:1-11.
12 Dit is te verstane dat hierdie verslag vrae by party laat ontstaan het. Hulle wonder: ‘Hoe kon Lot sy gaste probeer beskerm deur sy dogters vir ’n wellustige skare aan te bied? Was dit nie verkeerd van hom, selfs lafhartig nie?’ In die lig van hierdie verslag kan ons vra: Waarom het God Petrus geïnspireer om Lot ’n “regverdige man” te noem? Het God Lot se optrede goedgekeur? (2 Petrus 2:7, 8). Kom ons redeneer oor hierdie saak sodat ons nie die verkeerde gevolgtrekking maak nie.
13, 14. (a) Waarop moet ons let aangaande die Bybelverslag oor Lot se optrede? (b) Wat toon dat Lot nie lafhartig opgetree het nie?
13 In die eerste plek moet ons daarop let dat die Bybel Lot se optrede nie goedpraat of veroordeel nie, maar bloot vertel wat gebeur het. Die Bybel sê ook nie vir ons wat in Lot se gedagtes omgegaan het of wat hom beweeg het om so op te tree nie. Wanneer hy in die “opstanding van die regverdiges” terugkom, sal hy dalk die besonderhede bekend maak.—Handelinge 24:15.
14 Lot was beslis nie ’n lafaard nie. Hy het hom in ’n moeilike situasie bevind. Deur te sê dat die besoekers “onder die skaduwee” van sy dak gekom het, het Lot aangedui dat hy verplig gevoel het om beskerming en skuiling aan hulle te bied. Maar dit sou nie maklik wees nie. Die Joodse geskiedskrywer Josefus berig dat die Sodomiete “onregverdig teenoor mense en oneerbiedig teenoor God [was] . . . Hulle het vreemdelinge gehaat en hulleself met Sodomitiese gebruike verontreining.” Tog het Lot nie vir die boosaardige skare teruggedeins nie. Inteendeel, hy het uitgegaan en met daardie woedende manne geredeneer. Hy het selfs “die deur agter hom gesluit”.—Genesis 19:6.
15. Waarom kan daar gesê word dat Lot heel moontlik in geloof opgetree het?
15 ‘Maar’, vra party dalk, ‘waarom het Lot sy dogters vir die oproerige skare aangebied?’ Voordat ons aanvaar dat hy slegte beweegredes gehad het, kan ons gerus eerder ’n paar moontlikhede beskou. In die eerste plek het Lot heel moontlik in geloof opgetree. Hoe so? Lot was ongetwyfeld bewus van hoe Jehovah Sara, die vrou van Abraham, Lot se oom, beskerm het. Onthou, omdat Sara baie mooi was, het Abraham haar gevra om te sê dat hy haar broer is, uit vrees dat ander hom sou doodmaak om haar te kry.a Later is Sara na die huis van Farao geneem. Jehovah het egter ingegryp en voorkom dat Farao Sara onteer (Genesis 12:11-20). Dit is moontlik dat Lot geloof gehad het dat sy dogters ook so beskerm kon word. Interessant genoeg, Jehovah het wel deur sy engele ingegryp, en die jong vroue is beskerm.
16, 17. (a) Op watter manier het Lot die manne van Sodom dalk probeer skok of verwar? (b) Waarvan kan ons seker wees, ongeag hoe Lot geredeneer het?
16 Beskou nog ’n moontlikheid. Lot het dalk ook die manne probeer skok of verwar. Hy het miskien geglo dat die skare nie sy dogters sou wou hê nie weens die homoseksuele wellus van die Sodomiete (Judas 7). Verder was die jong vroue verloof aan manne van die stad, en gevolglik was daar heel moontlik familielede, vriende of sakekennisse van sy aanstaande skoonseuns in die skare (Genesis 19:14). Lot het dalk gehoop dat hierdie bande party manne in daardie oproerige skare sou beweeg om vir sy dogters op te kom. So ’n verdeelde skare sou nie naastenby so gevaarlik wees nie.b
17 Ongeag hoe Lot geredeneer het en wat sy beweegredes was, ons kan hiervan seker wees: Aangesien Jehovah altyd doen wat reg is, het hy Lot ongetwyfeld met goeie rede as ’n “regverdige man” beskou. En kan daar, te oordeel aan die optrede van die oproerige skare Sodomiete, enige twyfel bestaan dat Jehovah heeltemal geregverdig was om oordeel aan die inwoners van daardie goddelose stad te voltrek?—Genesis 19:23-25.
Waarom het Jehovah Ussa doodgemaak?
18. (a) Wat het gebeur toe Dawid die Ark na Jerusalem probeer bring het? (b) Watter vraag laat hierdie verslag ontstaan?
18 ’n Ander verslag wat party verwarrend kan vind, handel oor Dawid se poging om die verbondsark na Jerusalem te bring. Die Ark is op ’n wa gelaai, wat deur Ussa en sy broer gelei is. Die Bybel sê: “Hulle het geleidelik tot by die dorsvloer van Nagon gekom, en Ussa het toe sy hand na die ark van die ware God uitgesteek en dit gegryp, want die beeste het dit byna laat omkantel. Daarop het Jehovah se toorn teen Ussa ontvlam, en die ware God het hom daar getref weens die oneerbiedige daad, sodat hy daar naby die ark van die ware God gesterf het.” ’n Paar maande later het ’n tweede poging geslaag toe die Ark vervoer is op die manier wat God voorgeskryf het, naamlik op die skouers van die Kehatitiese Leviete (2 Samuel 6:6, 7; Numeri 4:15; 7:9; 1 Kronieke 15:1-14). Party vra miskien: ‘Waarom het Jehovah so streng opgetree? Ussa het maar net die Ark probeer beskerm.’ Ons kan gerus let op ’n paar nuttige besonderhede sodat ons nie die verkeerde gevolgtrekking maak nie.
19. Waarom is dit vir Jehovah onmoontlik om onregverdig te handel?
19 Ons moet onthou dat dit vir Jehovah onmoontlik is om onregverdig te handel (Job 34:10). Dit sal liefdeloos wees as hy dit doen, en ons weet uit ons studie van die Bybel in sy geheel dat ‘God liefde is’ (1 Johannes 4:8). Daarbenewens sê die Skrif vir ons: “Regverdigheid en reg is die vaste plek van [God se] troon” (Psalm 89:14). Hoe sal Jehovah dan ooit onregverdig kan optree? As hy dit doen, sal hy die grondslag van sy soewereiniteit ondermyn.
20. Om watter redes moes Ussa bewus gewees het van die voorskrifte aangaande die Ark?
20 Hou in gedagte dat Ussa van beter moes geweet het. Die Ark het Jehovah se teenwoordigheid voorgestel. Die Wet het bepaal dat dit nie deur ongemagtigde persone aangeraak mag word nie en het uitdruklik gewaarsku dat oortreders met die dood gestraf sou word (Numeri 4:18-20; 7:89). Die taak om daardie heilige kis te vervoer, moes dus nie lig opgeneem word nie. Ussa was blykbaar ’n Leviet (maar nie ’n priester nie) en was dus veronderstel om die Wet te ken. Wat meer is, jare vroeër is die Ark na die huis van sy vader verskuif sodat dit veilig bewaar kon word (1 Samuel 6:20–7:1). Dit het sowat 70 jaar daar gebly, totdat Dawid besluit het om dit te verskuif. Ussa was dus van kleintyd af waarskynlik bekend met die wette aangaande die Ark.
21. Waarom is dit in die geval van Ussa belangrik om te onthou dat Jehovah die beweegredes van die hart sien?
21 Soos vroeër genoem is: Jehovah kan harte lees. Aangesien sy Woord Ussa se handeling ’n “oneerbiedige daad” noem, het Jehovah moontlik ’n selfsugtige beweegrede gesien wat nie spesifiek in die verslag gemeld word nie. Was Ussa miskien ’n vermetele man, wat geneig was om vasgestelde perke te oorskry? (Spreuke 11:2). Het hy ’n oordrewe gevoel van belangrikheid gehad omdat hy die Ark, wat deur sy familie alleen bewaar is, in die openbaar kon lei? (Spreuke 8:13). Het Ussa so min geloof gehad dat hy gedink het Jehovah se hand is te kort om te keer dat die heilige kis, wat Sy teenwoordigheid gesimboliseer het, kantel? Wat die geval ook al was, ons kan seker wees dat Jehovah gedoen het wat reg is. Hy het waarskynlik iets in Ussa se hart gesien wat Hom beweeg het om vinnig oordeel te voltrek.—Spreuke 21:2.
’n Vaste grondslag vir vertroue
22. Hoe word Jehovah se wysheid gesien in die feit dat sy Woord soms sekere besonderhede weglaat?
22 Jehovah se onvergelyklike wysheid word gesien in die feit dat sy Woord soms sekere besonderhede weglaat. Jehovah gee ons daardeur ’n geleentheid om te toon dat ons hom vertrou. Is dit nie duidelik, na aanleiding van wat ons bespreek het, dat ons goeie redes het om Jehovah se oordele te aanvaar nie? Ja, wanneer ons God se Woord met ’n opregte hart en ’n oop gemoed bestudeer, leer ons meer as genoeg van Jehovah om ons te oortuig dat hy altyd doen wat regverdig en reg is. As ’n Bybelverslag dus vrae laat ontstaan waarop ons nie dadelik duidelike antwoorde kan kry nie, moet ons die volle vertroue hê dat Jehovah gedoen het wat reg is.
23. Watter vertroue kan ons hê aangaande Jehovah se toekomstige handelinge?
23 Ons kan dieselfde vertroue hê aangaande Jehovah se toekomstige handelinge. Ons kan derhalwe daarvan seker wees dat hy nie “die regverdige saam met die goddelose [sal] wegvee” wanneer hy kom om tydens die naderende groot verdrukking oordeel te voltrek nie (Genesis 18:23). Sy liefde vir regverdigheid en geregtigheid sal hom nooit toelaat om dit te doen nie. Ons kan ook die volle vertroue hê dat hy in die komende nuwe wêreld op die bes moontlike manier in al ons behoeftes sal voorsien.—Psalm 145:16.
[Voetnote]
a Abraham se vrese was gegrond, want ’n antieke papirus vertel van ’n Farao wat gewapende manne beveel het om ’n pragtige vrou te ontvoer en haar man dood te maak.
b Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1980, bladsy 31, vir bykomende inligting.
Onthou jy?
• Om watter redes moet ons Jehovah se oordele aanvaar?
• Wat kan ons help om nie die verkeerde gevolgtrekking te maak oor die feit dat Lot sy dogters vir die woedende skare aangebied het nie?
• Watter faktore kan ons help om te verstaan waarom Jehovah Ussa doodgemaak het?
• Watter vertroue kan ons hê aangaande Jehovah se toekomstige handelinge?