Rigters
6 Maar die Israeliete het weer begin doen wat sleg is in Jehovah se oë,+ en daarom het Jehovah hulle sewe jaar lank in Miʹdian se hand gegee.+ 2 Miʹdian het Israel oorheers.+ As gevolg van Miʹdian moes die Israeliete vir hulle wegkruipplekke* maak in die berge, in die grotte en op plekke wat moeilik is om te bereik.+ 3 As Israel saad gesaai het, het Miʹdian en Aʹmalek+ en die Oosterlinge+ hulle aangeval. 4 Hulle het teen Israel opgetrek en die opbrengs van die land tot by Gasa verwoes, en hulle het niks vir Israel laat oorbly om te eet nie, en ook geen skape, bulle of donkies nie.+ 5 Hulle het met hulle vee en hulle tente gekom. Hulle was so baie soos sprinkane,+ en hulle en hulle kamele kon nie getel word nie,+ en hulle het in die land ingekom om dit te verwoes. 6 Die Israeliete het dus brandarm geword as gevolg van Miʹdian, en hulle het tot Jehovah om hulp geroep.+
7 Toe die Israeliete tot Jehovah om hulp geroep het as gevolg van Miʹdian,+ 8 het Jehovah ’n profeet na die Israeliete toe gestuur wat vir hulle gesê het: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek het julle uit Egipte uitgelei en julle uit die huis van slawerny bevry.+ 9 So het ek julle uit die hand van Egipte en uit die hand van al julle onderdrukkers gered en hulle voor julle verdryf en hulle land aan julle gegee.+ 10 En ek het vir julle gesê: “Ek is Jehovah julle God.+ Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.”+ Maar julle het my nie gehoorsaam* nie.’”+
11 Later het Jehovah se engel gekom+ en onder die groot boom gesit wat in Ofra was, wat aan Joas, die Abiësriet,+ behoort het. Sy seun Giʹdeon+ het koring in die wynpers uitgeslaan om dit vir Miʹdian weg te steek. 12 Jehovah se engel het aan hom verskyn en gesê: “Jehovah is met jou,+ magtige vegter.” 13 Giʹdeon het toe vir hom gesê: “Verskoon my, my heer, maar as Jehovah met ons is, hoekom het al hierdie dinge met ons gebeur?+ Waar is al sy wonderlike dade waarvan ons vaders ons vertel het?+ Hulle het gesê: ‘Jehovah het ons uit Egipte laat trek.’+ Maar nou het Jehovah ons verlaat+ en ons in Miʹdian se hand gegee.” 14 Jehovah het na hom gekyk en gesê: “Gaan met die krag wat jy het, en jy sal Israel uit Miʹdian se hand red.+ Is dit nie ek wat jou stuur nie?” 15 Giʹdeon het hom geantwoord: “Verskoon my, Jehovah. Hoe kan ek Israel red? My familiegroep* is die onbelangrikste in Manasʹse, en ek is die onbelangrikste in my vader se huis.” 16 Maar Jehovah het vir hom gesê: “Ek sal met jou wees,+ en daarom sal jy Miʹdian verslaan asof hulle een man is.”
17 Toe het Giʹdeon vir hom gesê: “As ek dan nou u goedkeuring het, gee vir my ’n teken dat dit u is wat met my praat. 18 Moet asseblief nie hier weggaan totdat ek met my geskenk terugkeer en dit voor u neersit nie.”+ Toe het hy gesê: “Ek sal hier wag totdat jy terugkom.” 19 Giʹdeon het ingegaan en ’n boklam voorberei en het ongesuurde brood met ’n efa* meel gemaak.+ Hy het die vleis in die mandjie gesit, en die sous in die kookpot. Toe het hy dit na hom toe gebring en hom onder die groot boom bedien.
20 Die engel van die ware God het toe vir hom gesê: “Neem die vleis en die ongesuurde brood en sit dit daar op die groot rots neer, en gooi die sous uit.” Hy het dit toe gedoen. 21 Toe het Jehovah se engel die staf wat in sy hand was, uitgesteek en met die punt daarvan aan die vleis en die ongesuurde brood geraak, en vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die ongesuurde brood verteer.+ Daarna het Jehovah se engel verdwyn. 22 Toe het Giʹdeon besef dat dit Jehovah se engel was.+
Giʹdeon het dadelik gesê: “Ag nee, Soewereine Heer Jehovah, ek het Jehovah se engel persoonlik gesien!”+ 23 Maar Jehovah het vir hom gesê: “Mag jy vrede hê. Moenie bang wees nie.+ Jy sal nie sterf nie.” 24 Toe het Giʹdeon daar vir Jehovah ’n altaar gebou, en dit word tot vandag toe Jehovah-Sjalom*+ genoem. Dit is nog steeds in Ofra van die Abiësriete.
25 Daardie nag het Jehovah vir hom gesê: “Neem die jong bul wat aan jou pa behoort, die tweede jong bul wat sewe jaar oud is. Breek die altaar van Baäl af wat aan jou pa behoort, en kap die heilige paal* af wat langs die altaar is.+ 26 Bou met die ry klippe ’n altaar vir Jehovah jou God, en doen dit bo-op hierdie bergvesting, en neem dan die tweede jong bul en offer dit as ’n brandoffer op die stukke hout van die heilige paal* wat jy gaan afkap.” 27 Giʹdeon het toe tien van sy knegte geneem en gedoen net soos Jehovah vir hom gesê het. Maar hy was te bang vir sy pa se familie en die manne van die stad om dit in die dag te doen, en daarom het hy dit in die nag gedoen.
28 Toe die manne van die stad vroeg die volgende oggend opstaan, het hulle gesien dat die altaar van Baäl afgebreek is en dat die heilige paal* wat langs die altaar was, afgekap is, en dat die tweede jong bul geoffer is op die altaar wat gebou is. 29 Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Nadat hulle ondersoek ingestel het, het hulle gesê: “Giʹdeon, die seun van Joas, het dit gedoen.” 30 Daarom het die manne van die stad vir Joas gesê: “Bring jou seun uit. Hy moet sterf, want hy het die altaar van Baäl afgebreek en het die heilige paal* afgekap wat langs die altaar was.” 31 Joas+ het toe vir die manne wat hom gekonfronteer het, gesê: “Moet julle Baäl verdedig? Moet julle hom kom red? Enigiemand wat hom verdedig, behoort vanoggend doodgemaak te word.+ As hy ’n god is, laat hy homself verdedig,+ want iemand het sy altaar afgebreek.” 32 Op daardie dag het hy Giʹdeon Jerubʹbaäl* genoem en gesê: “Laat Baäl homself verdedig, want iemand het sy altaar afgebreek.”
33 Die hele Miʹdian+ en Aʹmalek+ en die Oosterlinge het saamgespan,+ en hulle het die rivier oorgesteek en na die Jisʹreël-vallei gegaan en kamp opgeslaan. 34 Toe het Jehovah se gees oor Giʹdeon gekom,*+ en hy het op die horing geblaas,+ en die Abiësriete+ het by hom aangesluit. 35 Hy het boodskappers na die hele Manasʹse gestuur, en hulle het ook by hom aangesluit. Hy het ook boodskappers na Aser, Seʹbulon en Nafʹtali gestuur, en hulle het hom kom ontmoet.
36 Toe het Giʹdeon vir die ware God gesê: “As u Israel deur middel van my gaan red, net soos u belowe het,+ 37 gee my dan ’n teken. Ek gaan ’n vlies wol op die dorsvloer neersit. As daar net op die vlies dou is maar die grond om die vlies droog is, dan sal ek weet dat u Israel deur middel van my sal red, net soos u belowe het.” 38 En dit is wat gebeur het. Toe hy vroeg die volgende dag opstaan en die vlies uitwring, het hy genoeg dou uit die vlies gekry om ’n groot feesbak vol water te maak. 39 Maar Giʹdeon het vir die ware God gesê: “Moenie vir my kwaad word nie, maar laat my nog net een ding vra. Laat my asseblief nog net een toets met die vlies doen. Laat die vlies asseblief hierdie keer droog bly, terwyl daar dou oral op die grond is.” 40 En dit is wat God daardie nag gedoen het. Die vlies was droog, maar daar was dou oral op die grond.