’n Baie belangrike afspraak
EK HET ’n baie belangrike afspraak. Laat ek verduidelik wat daartoe gelei het dat ek, ’n jong Spaanse moeder, daardie afspraak gemaak het.
Daar was nie rus en vrede in my ouerhuis nie. Dit het ons gesin verpletter toe my jonger broer op vierjarige ouderdom in ’n tragiese ongeluk gesterf het. En my pa se slegte gewoontes het dit vir my ma moeilik gemaak om werklik geluk in die huwelik te vind. Maar hierdie uitdaging het haar nie daarvan weerhou om sedelike waardes by my en my ouer broer in te skerp nie.
Met verloop van tyd het ek sowel as my broer getrou. Kort daarna is my ma met kanker gediagnoseer, wat uiteindelik tot haar dood gelei het. Maar voordat sy oorlede is, het sy ons ’n skat nagelaat.
Een van haar kennisse het met haar gepraat oor die skriftuurlike hoop van ’n opstanding, en my ma het die aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Gedurende die laaste deel van haar lewe het die Bybel se boodskap van hoop haar lewe sinvol gemaak en haar gehelp om geluk te vind.
Toe ons sien watter positiewe uitwerking die Bybel se boodskap op haar het, het ek en my broer ook God se Woord begin bestudeer. Ek is ’n maand voor die geboorte van my tweede kind, ’n pragtige dogtertjie wat ons Lucía genoem het, as een van Jehovah se Getuies gedoop.
My doopdag was vir my baie belangrik. Een rede hiervoor was dat ek van toe af aan Jehovah behoort het, aangesien ek my aan hom toegewy het om hom vir ewig te dien. Nog ’n rede was dat ek my geloofsoortuigings by my geliefde seun en dogter kon inskerp.
Maar hierdie tweede rede vir my geluk was van korte duur. Toe Lucía vier was, het sy hewige maagpyn begin kry. Ná verskeie toetse het die radioloog verduidelik dat sy ’n gewas so groot soos ’n lemoen op haar lewer het. Die dokter het verduidelik dat Lucía ’n neuroblastoom het, ’n aggressiewe kankergewas. So het Lucía se sewe jaar lange stryd teen kanker begin, wat lang besoeke aan die hospitaal ingesluit het.
’n Selfopofferende gees
Gedurende hierdie moeilike jare het Lucía my dikwels opgebeur met liefdevolle drukkies en gerusstellende soentjies. Die manier waarop sy met die siekte saamgeleef het, het ook die hospitaalpersoneel beïndruk. Sy was altyd gretig om saam met die verpleegsters te werk en hulle te help om jogurt, sap en ander dinge na kinders in die hospitaal te neem. Die verpleegsters het selfs vir Lucía ’n wit oorjas en ’n lapelkaartjie gegee wat haar as ’n “verpleegassistent” geïdentifiseer het.
“Lucía het in my hart ingekruip”, sê ’n hospitaalwerker. “Sy was ’n lewendige, kreatiewe kind, en sy was lief daarvoor om te verf. Sy het haar goed uitgedruk en was volwasse, baie volwasse.”
Lucía het op God se Woord staatgemaak vir krag en balans (Heb. 4:12). Sy was oortuig dat in die nuwe wêreld ‘die dood nie meer daar sal wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn nie meer daar sal wees nie’, soos God se Woord belowe (Op. 21:4). Sy het in ander belanggestel en elke beskikbare geleentheid benut om met mense oor die Bybel se boodskap te praat. Lucía se vaste hoop in die opstanding het haar gehelp om kalm en opgeruimd te bly ondanks ’n somber prognose (Jes. 25:8). Sy het daardie gesindheid behou tot die dag dat die kanker haar lewe geneem het.
Dit was op daardie dag dat ek die baie belangrike afspraak gemaak het. Lucía kon beswaarlik haar oë oopmaak. Haar pa het haar een hand vasgehou en ek die ander. “Toemaar, ek sal jou nie verlaat nie”, het ek gefluister. “Haal net stadig asem. Wanneer jy wakker word, sal jy baie beter voel. Jy sal nie weer pyn hê nie, en ek sal by jou wees.”
Nou moet ek daardie afspraak nakom. Ek weet dat dit nie maklik gaan wees om te wag nie. Maar ek weet ook dat ek daar sal wees wanneer sy in die opstanding terugkeer as ek geduldig op Jehovah vertrou en my onkreukbaarheid aan hom handhaaf.
Lucía se nalatenskap
Lucía se moedige voorbeeld, sowel as die wonderlike ondersteuning van die gemeente, het ’n diep indruk op my man gemaak, wat nie ’n Getuie was nie. Die dag toe Lucía gesterf het, het hy vir my gesê dat hy sy gedagtes moes uitpluis. ’n Paar weke later het hy ’n ouer man in die gemeente vir ’n Bybelstudie gevra. Kort daarna het my man al die vergaderinge begin bywoon. Met Jehovah se hulp het hy opgehou rook, iets wat hy voorheen nie kon doen nie.
Die droefheid wat ek ervaar weens Lucía se dood het nie heeltemal verdwyn nie, maar ek is so dankbaar teenoor Jehovah vir Lucía se nalatenskap. Ek en my man vertroos mekaar met die wonderlike opstandingshoop, en ons stel ons selfs die tyd voor wanneer ons Lucía weer sal sien—haar sprankelende, ronde oë en haar wangetjies wat kuiltjies kry wanneer sy glimlag.
My dogter se tragiese ondervinding het veral een buurvrou geraak. Op ’n reënerige Saterdagoggend het ’n vrou wie se seun na dieselfde skool as Lucía gegaan het, na ons huis gekom. Een van haar ander seuns, wat toe 11 jaar oud was, het aan dieselfde siekte gesterf. Toe sy hoor wat met Lucía gebeur het, het sy uitgevind waar ons woon en ons kom besoek. Sy wou weet hoe dit met my gaan ná Lucía se dood en het voorgestel dat ons ’n selfhelpgroep vorm om ander moeders te vertroos wat in ’n soortgelyke situasie is.
Ek het verduidelik dat ek ware vertroosting uit een van die Bybel se beloftes put, ’n baie beter belofte as enigiets wat mense ons ooit kan bied. Haar oë het opgehelder toe ek Jesus se woorde in Johannes 5:28, 29 vir haar gelees het. Sy het ’n Bybelstudie aanvaar en het kort voor lank “die vrede van God” ervaar “wat alle denke te bowe gaan” (Fil. 4:7). Wanneer ons die Bybel saam bestudeer, stel ons ons dikwels voor dat ons in die nuwe wêreld is en ons geliefdes uit die dood terugverwelkom.
Lucía se kort lewe het ons inderdaad ’n blywende nalatenskap gegee. Haar geloof het gehelp om ons gesin in die diens van God te verenig, en dit het my meer vasbeslote gemaak om ook sterk in die geloof te bly. Ja, almal van ons wat geliefdes aan die dood afgestaan het wat dalk ’n opstanding sal kry, het ’n baie belangrike afspraak.
[Prent op bladsy 20]
Die Paradys, soos Lucía dit geteken het