Aan Titus
1 Van Paulus, ’n slaaf van God en ’n apostel van Jesus Christus volgens die geloof van dié wat God uitgekies het en die akkurate kennis van die waarheid wat verband hou met toegewydheid aan God. 2 Hierdie dinge is gebaseer op die hoop op ewige lewe+ wat God, wat nie kan lieg nie,+ lank gelede belowe het. 3 Maar op sy eie vasgestelde tyd het hy sy woord bekend gemaak deur die predikingswerk wat aan my gegee is+ volgens die bevel van God, ons Redder. 4 Aan Titus, ’n medegelowige wat werklik soos my kind is:
Mag jy onverdiende goedheid en vrede hê van God, die Vader, en van Christus Jesus, ons Redder.
5 Ek het jou in Kreta agtergelaat om sekere dinge* reg te stel en om in een stad ná die ander ouermanne aan te stel volgens die instruksies wat ek jou gegee het: 6 ’n Ouerman moet vry van beskuldiging wees, die man van een vrou, die pa van gelowige kinders wat nie van wilde* of opstandige gedrag aangekla word nie.+ 7 Want as God se bestuurder moet ’n opsiener vry van beskuldiging wees. Hy moenie hardkoppig wees,+ gou kwaad word+ of ’n dronkaard wees nie. Hy moenie gewelddadig* wees of gierig op soek wees na oneerlike wins nie. 8 Hy moet eerder gasvry wees,+ die goeie liefhê, en hy moet verstandig,*+ regverdig en lojaal+ wees. Hy moet selfbeheersing hê+ 9 en in sy onderrigting* stewig aan die betroubare woord* vashou,+ sodat hy mense deur die gesonde* lering kan opbou*+ en dié wat daarteen praat, kan teregwys.+
10 Want daar is baie opstandiges, mense wat dwase dinge sê en ander bedrieg, veral dié wat nog steeds sê dat dit nodig is om besny te word.+ 11 Dit is nodig om hulle monde stil te maak, want dit is juis hulle wat aanhou om die geloof van hele huisgesinne te verswak deur dinge te leer wat hulle nie behoort te leer nie omdat hulle oneerlike wins wil maak. 12 Een van hulle, hulle eie profeet, het gesê: “Mense van Kreta is altyd leuenaars, gevaarlike wilde diere, lui vrate.”
13 Hierdie getuienis is waar. Hou dus aan om streng met hulle te praat en om hulle tereg te wys, sodat hulle gesond in die geloof kan wees 14 en nie sal luister na valse Joodse stories en gebooie van mense wat van die waarheid wegdraai nie. 15 Alles is rein vir rein mense,+ maar vir dié wat onrein en sonder geloof is, is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is onrein.+ 16 Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle dade toon dat hulle hom nie wil ken nie.+ Hulle is afskuwelik en ongehoorsaam en nie geskik vir enige goeie werk nie.