Die apologete—Christenverdedigers of eintlik filosowe?
BLOEDSKANDE, kindermoord, kannibalisme—hierdie is van die belaglike aanklagte wat in die tweede eeu HJ teen Christene ingebring is. Dit het tot so ’n vlaag van vervolging gelei dat skrywers wat verklaarde Christene was, verplig gevoel het om hulle geloof te verdedig. Hierdie skrywers, wat later as die apologete, of verdedigers van hulle oortuigings, bekend gestaan het, wou bewys dat hulle godsdiens onskadelik is sodat die Romeinse owerheid en die publiek hulle gunstiggesind sou wees. Dit was ’n gevaarlike onderneming, aangesien die ryk en die publiek gewoonlik net tevrede gestel kon word deur aan hulle toe te gee. Daar het ook ’n wesenlike gevaar bestaan dat dit nog vervolging sou uitlok of dat dit die Christelike geloof deur middel van ongeregverdigde kompromisse sou afwater. Presies hoe het die apologete hulle geloof verdedig? Watter redenasies het hulle gebruik? En wat was die resultate van hulle pogings?
Die apologete en die Romeinse Ryk
Die apologete was geleerde manne van die tweede en vroeë derde eeu. Die bekendstes onder hulle was Justinus die Martelaar, Klemens van Aleksandrië en Tertullianus.a Hulle geskrifte was hoofsaaklik gerig aan heidene en die Romeinse owerheid, met die doel om die Christelike geloof te verduidelik, en dit het heelwat verwysings na die Bybel bevat. Bowenal het die apologete teen die vervolgers standpunt ingeneem, hulle beskuldigings ontken en die Christene in ’n goeie lig gestel.
Een van die apologete se grootste oogmerke was om die politieke owerheid te oortuig dat Christene nie vyande van die keiser of van die ryk is nie. Tertullianus het van die keiser gesê: “Ons God het hom aangestel”, en Atenagoras het die erflikheid van die keiserlike troon verdedig en het dus by die politiek van die dag betrokke geraak. Deur dit te doen, het hulle die woorde van Jesus Christus geïgnoreer, toe hy gesê het: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.”—Johannes 18:36.
Die apologete het ook te kenne gegee dat daar ’n verbintenis tussen Rome en die Christelike godsdiens is. Volgens Melito het die twee entiteite saamgewerk en tot die welstand van die ryk bygedra. Die anonieme skrywer van The Epistle to Diognetus het Christene vergelyk met die siel ‘wat die wêreld bymekaarhou’. En Tertullianus het geskryf dat Christene gebid het vir die welvaart van die ryk en dat die einde van die stelsel van dinge tot later uitgestel moet word. Gevolglik het dit gelyk asof die koms van God se Koninkryk nie werklik so nodig is nie.—Matteus 6:9, 10.
“Die Christelike geloof” word ’n filosofie
Die filosoof Celsus het Christene spottend beskryf as “arbeiders, skoenmakers, boere, die mees oningeligte en belaglikste mense”. Hierdie bespotting was een te veel vir die apologete. Hulle het besluit om die publiek oor te haal deur ’n nuwe taktiek te gebruik. Wêreldse wysheid, wat eens verwerp is, is nou gebruik om die “Christelike” saak te bevorder. Byvoorbeeld, Klemens van Aleksandrië het filosofie as “ware teologie” beskou. Justinus het beweer dat hy heidense filosofie verwerp, maar was die eerste om filosofiese taal en begrippe te gebruik om “Christelike” idees te verduidelik, aangesien hy hierdie soort filosofie as “veilig en voordelig” beskou het.
Van toe af was die strategie, nie om filosofie teë te staan nie, maar om die veronderstelde Christelike denke ’n hoër filosofie te maak as dié van die heidene. “Wat sommige dinge betref, stem ons leer ooreen met dié van die digters en filosowe wat julle eer, en wat ander dinge betref, is ons vollediger en meer goddelik in ons leer”, het Justinus geskryf. “Christelike” denke, opgetooi in ’n nuwe filosofiese kleed, het nou op die waardigheid van ouderdom aanspraak gemaak. Die apologete het daarop gewys dat Christelike boeke baie ouer is as dié van die Grieke en dat die profete van die Bybel voor die Griekse filosowe gelewe het. Sekere apologete het selfs tot die slotsom gekom dat die filosowe die profete nageboots het. Hulle het tot beweer dat Plato ’n dissipel van Moses was!
Die Christelike geloof word verdraai
Hierdie nuwe strategie het ’n vermenging van die Christelike geloof en heidense filosofie tot gevolg gehad. Vergelykings is getref tussen Griekse gode en Bybelkarakters. Jesus is vergelyk met Perseus; en Maria se bevrugting met dié van Perseus se moeder, Danaë, wat glo ook ’n maagd was.
Sekere leringe is grootliks aangepas. In die Bybel word Jesus byvoorbeeld “die Logos” genoem, wat God se “Woord”, of Woordvoerder, beteken (Johannes 1:1-3, 14-18; Openbaring 19:11-13). Hierdie lering is vroeg al deur Justinus verdraai, wat soos ’n filosoof gespeel het met die twee moontlike betekenisse van die Griekse woord logos: “woord” en “rede”. Christene, het hy gesê, het die woord in die persoon van Christus self ontvang. Maar logos in die betekenis van rede word in elke mens gevind, insluitende heidene. Hy het dus die gevolgtrekking gemaak dat diegene wat in ooreenstemming met rede lewe, Christene is, selfs dié wat gesê het dat hulle ateïste is of as sodanig beskou is, soos Sokrates en ander.
Verder, deur aan te dring op ’n verband tussen Jesus en die logos van die Griekse filosofie, wat ten nouste met die persoon van God verband gehou het, het die apologete, insluitende Tertullianus, ’n weg ingeslaan wat die Christelike geloof uiteindelik gelei het na die dogma van die Drie-eenheid.b
Die woord “siel” verskyn meer as 850 keer in die Bybel en meer as 100 keer in sy Griekse vorm. Dit verwys basies na sterflike, lewende skepsele, wat óf mense óf diere is (1 Korintiërs 15:45; Jakobus 5:20; Openbaring 16:3). Maar die apologete het hierdie Bybellering verdraai deur dit te verbind met Plato se filosofie dat die siel iets afsonderliks van die liggaam, onsigbaar en onsterflik is. Minucius Feliks het selfs beweer dat die geloof in die opstanding sy oorsprong gehad het by Pitagoras se lering van sielsverhuising. Hoe ver het Griekse invloed hulle tog van die leringe van die Bybel af weggelei!
Die verkeerde keuse
Sommige apologete het besef watter gevaar filosofie vir die Christelike geloof kon inhou. Maar al het hulle die filosowe gekritiseer, het hulle nog steeds baie gehou van die intellektuele benadering van filosofie. Byvoorbeeld, Tatianus het die filosowe daarvan beskuldig dat hulle niks goeds uitrig nie, maar hy het die Christelike godsdiens terselfdertyd “ons filosofie” genoem en by filosofiese bespiegelings betrokke geraak. Aan die een kant het Tertullianus die invloed van heidense filosofie op Christelike denke openlik afgekeur. Aan die ander kant het hy gesê dat hy in die voetstappe wou volg van “Justinus, filosoof en martelaar; Miltiades, die sofis van die kerke” en ander. Atenagoras het homself “’n Christenfilosoof van Atene” genoem. Wat Klemens betref, hy het glo gevoel dat “filosofie oordeelkundig deur die Christen gebruik kan word om wysheid te verkry en om die geloof te verdedig”.
Ongeag watter sukses hierdie apologete ook al in die verdediging van hulle geloof gehad het, hulle het ’n ernstige fout in hulle verdediging begaan. Hoe so? Die apostel Paulus het Christene herinner dat daar onder die geestelike wapens wat tot hulle beskikking is, niks kragtiger is as “die woord van God” wat ‘lewend is en krag uitoefen’ nie. Daarmee, het Paulus gesê, “werp [ons] redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word”.—Hebreërs 4:12; 2 Korintiërs 10:4, 5; Efesiërs 6:17.
Op die aand voordat Jesus doodgemaak is, het hy vir sy dissipels gesê: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Die beproewinge en verdrukkinge wat hy in die wêreld deurgemaak het, het hom nie sy geloof en sy lojaliteit aan sy Vader laat prysgee nie. Die laaste oorlewende apostel, Johannes, het eweneens geskryf: “Dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het: ons geloof” (1 Johannes 5:4). Hoewel die apologete die Christelike geloof wou verdedig, het hulle die verkeerde keuse gemaak toe hulle die idees en die benadering van wêreldse filosofie aangeneem het. Deur dit te doen, het die apologete hulle deur hierdie filosofieë laat verlei en het hulle as ’t ware toegelaat dat die wêreld hulle en hulle weergawe van die Christelike geloof oorwin. In plaas daarvan om voorstanders en verdedigers van die ware Christelike geloof te wees, het die apologete van die vroeë kerk, dalk onwetend, in die strik van Satan getrap, wat ‘aanhou om hom in ’n engel van lig te verander’.—2 Korintiërs 11:14.
Die geestelikes en die teoloë van vandag se kerke volg grotendeels dieselfde weg. In plaas daarvan om die ware Christelike geloof met behulp van God se Woord te verdedig, skuif hulle die Bybel dikwels op die agtergrond en gebruik hulle wêreldse filosofieë in hulle leer sodat hulle die goedkeuring van die publiek en die gevestigde orde kan verkry. Pleks van mense te waarsku teen die gevare wat dit inhou om die onskriftuurlike tendense van die wêreld te volg, het hulle onderrigters geword wat hulle bes doen om hulle toehoorders se ‘ore te streel’ sodat hulle aanhangers kan win (2 Timoteus 4:3). Soos die vroeë apologete het hierdie onderrigters ongelukkig die apostoliese waarskuwing geïgnoreer wat sê: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.” En ons word herinner dat “hulle einde . . . volgens hulle werke [sal] wees”.—Kolossense 2:8; 2 Korintiërs 11:15.
[Voetnote]
a Daar was ook Quadratus, Aristides, Tatianus, Apollinaris, Atenagoras, Teofilus, Melito, Minucius Felix en ander minder bekende skrywers. Sien Die Wagtoring van 15 Mei 2003, bladsye 27-29, en 15 Maart 1996, bladsye 28-30.
b Vir verdere inligting oor Tertullianus se opvattings, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2002, bladsye 29-31.
[Lokteks op bladsy 31]
“Ons werp redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word.”—2 KORINTIËRS 10:5
[Prent op bladsy 28]
Vir Justinus was dit “veilig en voordelig” om filosofie na te boots
[Prent op bladsy 29]
Klemens het filosofie as “ware teologie” beskou
[Prent op bladsy 29]
Tertullianus se filosofieë het gehelp om die weg te baan vir die leerstelling van die Drie-eenheid
[Prent op bladsy 29]
Tatianus het die Christelike geloof “ons filosofie” genoem
[Prent op bladsy 30]
Hedendaagse geestelikes en teoloë volg die weg van die apologete
[Prent op bladsy 31]
Die apostel Paulus het gewaarsku teen die filosofieë en bedrog van mense
[Foto-erkennings op bladsy 29]
Klemens: Historical Pictures Service; Tertullianus: © Bibliothèque nationale de France