Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 8/1 bl. 24-26
  • Is die pous “sint Petrus se opvolger”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die pous “sint Petrus se opvolger”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Was Petrus die eerste pous?
  • Wat leer die geskiedenis oor die oorsprong van die pousdom?
  • Staaf die gedrag en leringe van die pouse hulle bewering?
  • Die pousdom—Is dit deur Christus gestig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Was Petrus die eerste pous?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 8/1 bl. 24-26

Is die pous “sint Petrus se opvolger”?

IN 2002 het pous Johannes Paulus II ’n brief geskryf aan die biskop van Limburg, Duitsland, waarin hy ’n besluit deur die biskop in verband met aborsie ter syde gestel het. Die pous het sy brief ingelei deur te sê dat hy verantwoordelik is vir “die welsyn en eenheid van al die individuele kerke, ooreenkomstig die wil van Jesus Christus”. Hy het beweer dat hy die gesag het om die biskop se besluit ter syde te stel, aangesien hy as pous na bewering “sint Petrus se opvolger” is.

Volgens ’n Rooms-Katolieke definisie het “Christus st. Petrus as hoof van al die apostels aangestel”. Die Katolieke Kerk voer verder aan dat “Christus bepaal het dat Petrus tot in ewigheid opvolgers in hierdie aartsbiskoplike amp moet hê; en dat die Roomse biskoppe hierdie opvolgers is”.—New Catholic Encyclopedia (2003), Deel 11, bladsye 495-496.

Dit is belangrike bewerings. Het jy al die geldigheid daarvan self ondersoek? Kyk na die antwoorde op drie vrae: (1) Staaf die Bybel die bewering dat Petrus die eerste pous was? (2) Wat leer die geskiedenis oor die oorsprong van die opvolging van pouse? (3) Staaf die gedrag en leringe van die pouse hulle bewering dat hulle Petrus se opvolgers is?

Was Petrus die eerste pous?

Om te bewys dat die kerk op Petrus gebou is, verwys Katolieke al lank na Jesus se woorde in Matteus 16:18: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my gemeente bou.” Trouens, hierdie woorde is in Latyn gegraveer onder die koepel van die St. Pietersbasilika in Rome.

Augustinus, ’n hooggeagte kerkvader, het eens geglo dat die gemeente op Petrus gebou is. Maar teen die einde van sy lewe het hy sy beskouing verander oor wat Jesus se woorde beteken. In ’n werk wat as Retractations bekend staan, het Augustinus aangevoer dat die kerk, dit wil sê die Christengemeente, op Jesus gebou is, nie op Petrus nie.*

Die apostel Petrus is weliswaar ’n prominente figuur in die Evangelieverslae. Jesus het drie van sy apostels—Johannes, Jakobus en Petrus—uitgekies om by ’n paar spesiale geleenthede teenwoordig te wees (Markus 5:37, 38; 9:2; 14:33). Jesus het “die sleutels van die koninkryk van die hemele” aan Petrus toevertrou, en Petrus het dit gebruik om die weg na die Koninkryk te open—eers vir die Jode en die proseliete, toe vir die Samaritane en laastens vir die nie-Jode (Matteus 16:19; Handelinge 2:5, 41; 8:14-17; 10:45). In ooreenstemming met sy ekstroverte persoonlikheid het Petrus soms as woordvoerder vir al die apostels opgetree (Handelinge 1:15; 2:14). Maar beteken dit dat Petrus die hoof van die vroeë gemeente was?

Die apostel Paulus het weliswaar geskryf dat ’n “apostelskap onder die besnedenes” aan Petrus toevertrou is (Galasiërs 2:8). Maar die konteks van Paulus se woorde toon dat hy nie bedoel het dat Petrus die gemeente rig nie. Paulus se kommentare was in verband met die rol wat Petrus gespeel het om vir die Jode te getuig.

Hoewel Petrus groot verantwoordelikheid gegee is, vind ons nêrens in die Bybel dat hy daarop aanspraak maak dat hy die hoof van die gemeente is en as sodanig namens die dissipels as ’n groep besluite neem nie. In sy brief het hy homself “’n apostel” en “’n ouer man” genoem, niks meer nie.—1 Petrus 1:1; 5:1.

Wat leer die geskiedenis oor die oorsprong van die pousdom?

Wanneer en hoe het die idee van ’n pousdom dan ontstaan? Die idee dat dit aanvaarbaar is dat een man hom bo sy medegelowiges probeer verhef, het begin posvat toe die apostels nog gelewe het. Hoe het die apostels sulke denke beskou?

Die apostel Petrus self het vir die manne wat die leiding in die gemeente geneem het, gesê om nie ‘baas te speel oor dié wat God se erfenis is nie’; hulle moes hulle met ootmoed teenoor mekaar omgord (1 Petrus 5:1-5). Die apostel Paulus het gewaarsku dat manne van binne die gemeente sou opstaan wat “verdraaide dinge [sou] spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:30). Teen die einde van die eerste eeu HJ het die apostel Johannes ’n brief geskryf waarin hy ’n dissipel met die naam Diotrefes sterk veroordeel het. Waarom het hy hom tereggewys? Een rede is dat hierdie man ‘daarvan gehou het om die eerste plek’ in die gemeente te beklee (3 Johannes 9). Sulke raad van die apostels het die ambisies van diegene wat vernaamheid wou hê, ’n tyd lank teëgehou.—2 Tessalonisense 2:3-8.

Kort ná die dood van die laaste apostel het individue groter vernaamheid begin verwerf. The Cambridge History of Christianity sê: “Daar was waarskynlik geen enkele ‘monargale’ biskop in Rome voor die middel van die tweede eeu nie.” Teen die derde eeu het die biskop van Rome homself as die hoogste gesag gevestig, ten minste wat dele van die kerk betref.* Om groter gewig te gee aan die bewering dat die biskop van Rome hoër gesag het, het party ’n lys van Petrus se opvolgers saamgestel.

Maar hierdie lys staaf nie werklik daardie bewering nie. Waarom nie? Eerstens, party name op die lys kan nie bevestig word nie. Selfs belangriker, die lys berus op ’n foutiewe grondslag. Hoe so? Al was dit so dat Petrus in Rome gepreek het, soos party sekulêre werke van die eerste en tweede eeu impliseer, is daar geen bewys dat hy die hoof van daardie gemeente was nie.

Een bewys dat Petrus nie die hoof van die gemeente in Rome was nie, is die feit dat die apostel Paulus, toe hy sy brief aan die Romeine geskryf het, ’n lang lys name van Christene in daardie gemeente ingesluit het. Maar hy het glad nie van Petrus melding gemaak nie (Romeine 16:1-23). Kan ons ons voorstel dat Paulus Petrus oor die hoof sou sien of hom eenvoudig sou ignoreer as Petrus wel die hoof van die gemeente was?

Let ook op dat Paulus, omstreeks die tyd toe Petrus sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, ’n tweede brief aan Timoteus geskryf het. In daardie brief het Paulus nie gehuiwer om Rome te meld nie. Trouens, Paulus het ses briewe geskryf terwyl hy in Rome was, sonder om een keer van Petrus melding te maak.

Ongeveer 30 jaar nadat Paulus sy briewe geskryf het, het die apostel Johannes drie briewe en die boek Openbaring geskryf. Nêrens in hierdie geskrifte het Johannes gesê dat die gemeente in Rome die vernaamste een is nie, en hy het ook nie van ’n leier van die kerk gepraat wat die hoogste amp beklee as ’n sogenaamde opvolger van Petrus nie. Nóg die Bybel nóg die bewyse uit die geskiedenis staaf die bewering dat Petrus hom die eerste biskop van die gemeente in Rome gemaak het.

Staaf die gedrag en leringe van die pouse hulle bewering?

Ons kan tereg verwag dat iemand wat beweer dat hy “sint Petrus se opvolger” en “die Stedehouer van Christus” is, die gedrag en leringe van Petrus sowel as Christus navolg. Byvoorbeeld, het Petrus toegelaat dat sy medegelowiges hom op ’n spesiale manier behandel? Nee. Hy het geweier om enige spesiale eerbetoning te aanvaar (Handelinge 10:25, 26). Wat van Jesus? Hy het gesê dat hy gekom het om ander te dien, nie om gedien te word nie (Matteus 20:28). In teenstelling hiermee, watter reputasie het die pouse? Verwerp hulle vernaamheid, weier hulle om spesiale titels te aanvaar en vermy hulle die spoggerige vertoon van rykdom en mag?

Petrus sowel as Christus was sedelik regskape persone wat vrede bevorder het. Vergelyk hulle reputasie met wat die Katolieke ensiklopedie Lexikon für Theologie und Kirche (Leksikon vir teologie en die kerk) oor pous Leo X sê: “Leo X het sy dringende geestelike verpligtinge afgeskeep omdat hy hom bemoei het met die politiek en dikwels betrokke was by nepotistiese transaksies en hom oorgegee het aan oordadige wêreldse genietinge.” Karl Amon, Katolieke priester en professor van kerkgeskiedenis, sê dat bevestigde verslae oor pous Aleksander VI “’n ongelooflike mate van beginselloosheid, misbruik van gesag, simonie en onsedelikheid” aan die lig bring.

Wat van die leringe van die pouse? Hoe vergelyk dit met die leringe van Petrus en Christus? Petrus het nie geglo dat alle goeie mense hemel toe gaan nie. Met verwysing na goeie koning Dawid het hy hierdie duidelike stelling gemaak: “Dawid het . . . nie na die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:34). Petrus het ook nie geleer dat babas gedoop moet word nie. Hy het eerder geleer dat doop ’n stap is wat ’n gelowige in ooreenstemming met sy gewete doen.—1 Petrus 3:21.

Jesus het geleer dat geeneen van sy dissipels hom bo ’n ander moet probeer verhef nie. “As iemand die eerste wil wees”, het Jesus gesê, “moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees” (Markus 9:35). Kort voor sy dood het Jesus hierdie duidelike instruksie aan sy volgelinge gegee: “Moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus” (Matteus 23:1, 8-10). Dink jy dat die pouse getrou was aan die leringe van Petrus en Christus?

Party sê dat die opvolging van pouse gehandhaaf word al lei die ampsbekleër nie ’n Christelike lewe nie. Dink jy dat daardie redenasie redelik is? Jesus het gesê: “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort; ’n goeie boom kan nie waardelose vrugte dra nie, en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte voortbring nie.” In die lig van die bewyse, dink jy dat Petrus of Christus geassosieer sou wou word met die vrugte wat die pouse voortgebring het?—Matteus 7:17, 18, 21-23.

[Voetnote]

Jesus se bespreking met Petrus het gehandel oor die identifisering van die Christus en sy rol, nie oor die rol wat Petrus sou speel nie (Matteus 16:13-17). Petrus het later self gesê dat Jesus die rots is waarop die gemeente gebou is (1 Petrus 2:4-8). Die apostel Paulus het bevestig dat Jesus, nie Petrus nie, “die fondamenthoeksteen” van die Christengemeente is.—Efesiërs 2:20.

Jesus sowel as die apostels het gewaarsku dat daar baie manne in die Christengemeente sou wees wat afvallige leerstellings sou leer (Matteus 13:24-30, 36-43; 2 Timoteus 4:3; 2 Petrus 2:1; 1 Johannes 2:18). Hierdie stellings het waar geword toe die kerk, of gemeente, van die tweede eeu begin het om heidense gebruike aan te neem en Bybelleringe met Griekse filosofie te vermeng.

[Prente op bladsy 25]

Toon die bewyse dat die pouse Petrus se voorbeeld gevolg het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel