130ste Gileadgraduering
’n Dag van hoë verwagtinge en blye vooruitsigte
DIE graduering van die 130ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het ongetwyfeld hoë verwagtinge gewek. Saterdag 12 Maart 2011 het ’n gehoor van meer as 8 500 vir die graduering bymekaargekom, onder meer die studente en hulle familie en vriende. Daar was opgewondenheid in die lug—nie net oor die dag nie maar ook oor die toekoms van die goed opgeleide sendelinge, wat kort voor lank regoor die wêreld gestuur sou word om mense Bybelwaarhede te leer.
“Gelukkig is almal wat in afwagting van” Jehovah bly
Hierdie vertroostende gedagte, geneem uit Jesaja 30:18, was die tema van die toespraak deur Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en die voorsitter van die program. Hy het die studente met hartlikheid en ’n tikkie humor gelukgewens omdat hulle die strawwe Gileadkursus oorleef het en hulle verseker dat hulle hierdie opwindende dag waarskynlik ook sou oorleef. Watter realistiese verwagtinge kon die studente vir die toekoms koester? Hy het drie praktiese gedagtes uit Jesaja 30:18-21 ontwikkel.
Broer Jackson het eerstens gesê: “Julle kan verwag dat Jehovah julle gebede sal verhoor.” Hy het verwys na die versekering in vers 19: “[God] sal vir seker aan jou guns betoon by die geluid van jou geroep.” Broer Jackson het genoem dat die voornaamwoord “jou” in hierdie sin in die oorspronklike Hebreeus in die enkelvoud is, nie in die meervoud nie, wat toon dat Jehovah ons gebede individueel aandag gee. “As ’n Vader vra Jehovah nie: ‘Waarom kan jy nie so sterk wees soos daardie persoon nie?’ Hy luister eerder aandagtig na elkeen. En hy verhoor jou gebede.”
Die spreker het tweedens gesê dat ons probleme kan verwag. “Jehovah belowe nie dat die lewe maklik sal wees nie, maar hy sal ons help.” Soos vers 20 toon, het God voorspel dat wanneer Israel beleër sou word, benoudheid en onderdrukking so alledaags soos brood en water sou word. Jehovah sou nogtans altyd gereed wees om tot die volk se redding te kom. Die Gileadstudente sal ook voor probleme en uitdagings te staan kom, hoewel nie noodwendig dié wat hulle verwag nie! Broer Jackson het bygevoeg: “Maar julle kan verwag dat Jehovah daar sal wees vir julle om julle te help om elke uitdaging te bowe te kom.”
Derdens het broer Jackson die studente na aanleiding van verse 20 en 21 aan die volgende herinner: “Julle kan verwag om leiding te ontvang—soek dus daarna!” Vandag, het hy gesê, moet elke Christen aandagtig luister terwyl Jehovah deur middel van die Bybel en Bybelpublikasies praat. Die spreker het die studente hartlik aangespoor om hulle voortdurend op daaglikse Bybellees toe te lê, want dit beteken die lewe.
“Laat die vrees vir Jehovah oor julle kom”
Anthony Morris van die Bestuursliggaam het die betekenis van die skriftuurlike frase “die vrees vir Jehovah” verduidelik (2 Kronieke 19:7). Hierdie woorde verwys nie na ’n morbiede vrees nie, maar eerder na ’n intense begeerte om te doen wat reg is, ’n respek wat so hartgrondig en opreg is dat dit ’n mens senuweeagtig laat bewe. “Neem hierdie soort vrees saam met julle na julle sendingtoewysing”, het broer Morris die studente aangespoor. Hoe kan hulle hierdie soort ontsag vir Jehovah toon? Die spreker het die aandag gevestig op twee praktiese maniere.
Broer Morris het die studente eerstens aangespoor om die raad in Jakobus 1:19 toe te pas: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat.” Hy het gesê dat die studente baie geleer het gedurende die vyf maande lange kursus, maar dat hulle versigtig moet wees om nie na hulle toewysing te gaan en ’n vertoon te maak van alles wat hulle geleer het nie. “Julle moet eers luister”, het hy gesê. “Luister na die plaaslike gemeente en na diegene wat die leiding neem in die land waar julle dien; luister na wat hulle sê oor die land en sy kultuur. Moenie huiwer om te sê: ‘Ek weet nie.’ As julle opleiding doeltreffend was, sal julle, hoe meer julle leer, besef hoe min julle eintlik weet.”
Tweedens het broer Morris Spreuke 27:21 gelees: “Die smeltkroes is vir silwer en die smeltoond is vir goud; en ’n mens word getoets volgens sy lof.” Hy het verduidelik dat soos goud en silwer gelouter, of gesuiwer, moet word, ons dalk deur lof gelouter sal word. Hoe so? Lof kan ’n mens se karakter toets. Dit kan tot trots en geestelike ondergang lei of dit kan ons beweeg om te erken dat ons alles aan Jehovah verskuldig is en ons meer vasbeslote maak om altyd aan sy standaarde te voldoen. Broer Morris het die studente dus aangemoedig om die regte beskouing te hê van enige lof wat hulle ontvang—om dit te beskou as ’n geleentheid om te toon dat hulle die gepaste “vrees vir Jehovah” het.
“Beskou julle sending as iets kosbaars”
Guy Pierce van die Bestuursliggaam het die hooftoespraak van die program gelewer. Hy het die tema hierbo bespreek en verduidelik die woord “sendeling” verwys na “iemand wat op ’n sending gestuur word”. Dit is te verstane, het hy gesê, dat daar etlike soorte sendelinge met ’n groot verskeidenheid sendings is. Baie spits hulle toe op fisiese genesing en soek politieke oplossings vir die wêreld se probleme. “Julle is anders”, het hy gesê. Hoe so?
In hulle studie van die Bybel het die studente baie geleer oor fisiese genesing. Toe Jesus ’n jong meisie opgewek het, was haar ouers “buite hulleself van groot ekstase” (Markus 5:42). Toe blindes wonderdadig genees is, was hulle ook oorstelp van vreugde. Een van die redes vir sulke wonderwerke is om vandag vir ons te toon wat Christus in die komende nuwe wêreld sal doen. Die “groot menigte” regverdige mense, wat die einde van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge sal oorleef, sal dan van alle fisiese kwale genees word (Openbaring 7:9, 14). Hulle geliefdes, wat deur hulle in die opstanding terugverwelkom sal word, sal eweneens fisies gesond wees. Stel jou hulle vreugde voor!
Broer Pierce het egter verduidelik dat fisiese genesing nooit die belangrikste soort genesing sal wees nie. Die siekes wat deur Jesus genees is, het uiteindelik weer siek geword. Die dooies wat hy opgewek het, het weer gesterf. Selfs die blindes wat hy genees het, het uiteindelik weer blind geword, op die laatste toe hulle gesterf het. Van baie groter belang was die geestelike genesing wat Jesus verrig het. Gileadsendelinge se sending is ook om mense geestelik te genees. Hulle help mense om met ons hemelse Vader versoen te raak sodat hulle geestelik lewendig word. Slegs diegene wat geestelik genees is, sal die doel van ewige lewe bereik. “Dit is hierdie geestelike genesing”, het broer Pierce gesê, “wat God heerlikheid bring. Dit maak jou suksesvol in jou bediening.”
Nog drie hoogtepunte van die dag
“Sal dit ’n goeie dag wees?” Robert Rains van die Verenigde State se Takkomitee het hierdie tydige vraag bespreek. Hy het die studente aangemoedig om seker te maak dat elke dag in hulle sendingtoewysing ’n goeie dag is deur hulle tyd wyslik te gebruik, deur hulle tot God se Woord te wend wanneer hulle hulle oor iets kwel en deur op Jehovah staat te maak deur gebed.
“Sal jy dit wat oud is, nuut maak?” Die Gileadinstrukteur Mark Noumair het hierdie vraag in sy toespraak geopper. Hy het 1 Johannes 2:7, 8 bespreek, waar die apostel Johannes van “’n ou gebod” praat wat ook “’n nuwe gebod” was. Albei het na dieselfde gebod verwys—dat Christus se volgelinge mekaar onselfsugtig, met ’n selfopofferende gees, moet liefhê (Johannes 13:34, 35). Die gebod was oud in die sin dat Christus self dit dekades vroeër aan sy volgelinge gegee het; maar dit was ook nuut in die sin dat Christene voor nuwe uitdagings te staan gekom het en liefde op nuwe maniere en in voller mate moes betoon. Sendelinge bevind hulle ook in nuwe omstandighede en moet leer om liefde op nuwe maniere te betoon. Wat sal hulle in staat stel om dit te doen?
“Moenie word wat jy haat nie”, het broer Noumair die studente vermaan. As ons gedrag sien wat ons haat en met gelyke munt terugbetaal, het hy gewaarsku, word ons wat ons haat, en dit is ’n selfvernietigende weg. Aan die ander kant, as ons op sulke uitdagings reageer deur nuwe maniere te vind om liefde te betoon, laat ons “die ware lig” skyn en verdryf ons geestelike duisternis.
“Dra die vrag.” Nog ’n Gileadinstrukteur, Michael Burnett, het hierdie praktiese tema ontwikkel. Hy het vertel van mense in Afrikalande wat swaar vragte op hulle kop dra. Hulle gebruik ’n kata, ’n klein, opgerolde stuk lap wat op die kop gesit word om hulle te help om die vrag gemakliker te dra en dit te balanseer, wat daartoe lei dat hulle op ’n grasieuse manier loop. Die Gileadsendelinge sal ’n swaar vrag van verantwoordelikhede in hulle buitelandse toewysings dra, maar hulle het iets ontvang wat met die kata vergelyk kan word: intensiewe Bybelopleiding. As hulle toepas wat hulle geleer het, sal hulle hulle vrag kan balanseer en dit op ’n doeltreffende wyse kan dra.
Ondervindinge en onderhoude
Gileadopleiding sluit in dat die studente saam met die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies in die bediening werk. William Samuelson, opsiener van die Teokratiese Skole-afdeling, het vertel van sommige van die studente se ondervindinge in ’n toespraak met die tema “Laat jou hand nie rus nie” (Prediker 11:6). Die studente se entoesiastiese demonstrasies het getoon hoe vlytig hulle in hulle bediening was en hoe hulle geleenthede benut het om die goeie nuus op vliegtuie, in restaurante en by vulstasies te verkondig. Hulle het van deur tot deur, informeel en deur middel van briewe getuig. Hulle het beslis nie hulle hand laat rus nie, en die resultate was uitstekend.
Die Gileadpersoneellid Kenneth Stovall het daarna onderhoude gevoer met drie manne met baie ondervinding in die sendingdiens—Barry Hill het in Ecuador en die Dominikaanse Republiek gedien, Eddie Mobley in die Ivoorkus en Tab Honsberger in Senegal, Benin en Haïti. Saam het hulle die tema “Stel Jehovah op die proef en maai seëninge” pragtig ontwikkel (Maleagi 3:10). Broer Hill het byvoorbeeld vertel hoe hy en sy vrou moes aanpas by die Ecuadoriaanse klimaat, wat gewissel het van warm en stowwerig tot warm en modderig. Hy het vertel dat hulle twee en ’n half jaar lank emmers moes gebruik om te bad. Maar hulle het dit nooit oorweeg om hulle toewysing te verlaat nie; hulle het gevoel dat dit ’n seëning van Jehovah is. “Dit was ons lewe”, het hy gesê.
Aan die einde van die program het een van die studente ’n hartroerende brief van die graduerende klas gelees waarin hulle hulle hartgrondige dankbaarheid vir die skool uitgespreek het. “Ons geloof het nuwe hoogtes bereik”, het die brief gesê, “tog weet ons dat ons nog baie het om te leer.” Al die studente het hulle diplomas ontvang, en die klas is na baie lande gestuur. Broer Jackson het die program afgesluit deur die studente te verseker dat hulle kan verwag om Jehovah se hand in hulle lewe vorentoe te sien, veral wanneer hulle voor uitdagings te staan kom. Almal wat teenwoordig was, het weggegaan met hoër verwagtinge en helderder vooruitsigte. Jehovah sal hierdie nuwe sendelinge ongetwyfeld grootliks gebruik om goed te doen.
[Tabel/Kaart op bladsy 31]
KLASSTATISTIEK
9 lande verteenwoordig
34,0 gemiddelde ouderdom
18,6 gemiddelde jare gedoop
13,1 gemiddelde jare in die voltydse bediening
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die klas is na die lande hieronder gestuur
SENDINGTOEWYSINGS
ARGENTINIË
ARMENIË
BURKINA FASO
BURUNDI
KONGO (KINSHASA)
TSJEGGIESE REPUBLIEK
HAÏTI
HONGKONG
INDONESIË
KENIË
LITAUE
MALEISIË
MOSAMBIEK
NEPAL
PAPOEA-NIEU-GUINEE
ROEMENIË
SENEGAL
TANZANIË
UGANDA
ZIMBABWE
[Prent op bladsy 31]
130ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer en word die name van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Molina, Z.; Bassolino, S.; Alatsis, C.; Arroyo, A.; Niño, L.; Merkling, S.; Clark, M.
(2) Little, C.; Tibaudo, S.; Jakobsson, S.; Moreno, J.; Rodriguez, A.; Lee, K.; Cárdenas, H.; Aguilar, L.
(3) Clairbush, A.; Polley, A.; Caldwell, S.; Adame, J.; Hildebrandt, S.; Shoemaker, I.; Grohman, N.; Galvez, G.
(4) Clark, J.; Bassolino, A.; Packham, K.; Adame, J.; Knaus, M.; Niño, M.; Moreno, R.; Galvez, J.
(5) Rodriguez, D.; Geynes, M.; Molina, J.; Aguilar, A.; Alatsis, I.; Manno, A.; Grohman, R.; Packham, J.
(6) Geynes, S.; Cárdenas, M.; Arroyo, C.; Manno, C.; Merkling, J.; Lee, H.; Clairbush, X.; Jakobsson, P.
(7) Little, J.; Hildebrandt, B.; Shoemaker, M.; Knaus, K.; Caldwell, J.; Tibaudo, F.; Polley, C.