“Ek sal hom opwek in die laaste dag”
1. Jesus se woorde: “Ek sal hom opwek in die laaste dag” geld nie vir watter klas persone wat vandag lewe nie?
DAARDIE merkwaardige woorde is in Johannes 6:54 deur Jesus gebesig. Dit kan nie van toepassing wees op die “groot menigte” wat die naderende “groot verdrukking” oorlewe nie (Openb. 7:9-17). Wel, wie het Jesus dan in gedagte gehad toe hy daardie woorde 19 eeue gelede gebesig het?
2. Tot wie het Jesus daardie woorde oor die opstanding gerig, en kort voor watter fees van die Jode waarby hy betrokke was?
2 Die Bybelverse voor en na Johannes 6:54 toon dat Jesus daardie woorde nie net aan blote Jode as sodanig gerig het nie, maar ook aan talle van sy Israelitiese dissipels, onder andere sy 12 apostels. Hulle Pasga van die jaar 32 G.J., “die fees van die Jode”, was naby (Joh. 6:4). Ter voorbereiding van daardie fees sou die Jode die paaslam by die tempel in Jerusalem slag en sou die priesters die bloed in bakke opvang en dit teen die voet van die altaar gooi. (Kyk M’Clintock en Strong se “Cyclopædia”, Deel 7, onder “Passover”, bl. 738, kolom 1, paragraaf 4, reëls 1-34; ook “The Temple—Its Ministry and Services As They Were at the Time of Jesus Christ”, deur Alfred Edersheim, 1874 G.J., ble. 190, 191). Dit was Jesus se voorneme om daardie fees by te woon om die eerste Pasga in 1513 v.G.J. in Egipte te herdenk. Hy was inderdaad self die teenbeeldige Paaslam, “die Lam van God”.—Joh. 1:29, 36.
3. Waarom het die Jode Jesus opgespoor na sy wonderwerk van die vorige dag, en watter verskoning hiervoor het hulle vir hom aangevoer?
3 Die Jode, sy dissipels inkluis, het gesien hoe hy ’n merkwaardige wonderwerk verrig op die dag voor sy aangetekende gesprek met hulle in Kapernaüm. Hy het vyf brode en twee visse vermeerder om sy duisende toehoorders te voed. Die patriotiese Jode wou hom dus koning maak as hulle Messiaanse Leier. Aangesien Jesus ’n hemelse Messiaanse Koning moes wees, het hy gesorg dat hy van hierdie voornemende koningmakers af wegkom. Later het hy by sy 12 apostels in ’n boot op die See van Galilea aangesluit deur op die water te loop (Joh. 6:14-21). Maar die Jode sou nie so maklik uitoorlê word in hulle voorneme om ’n aardse, menslike Messias te volg nie. Hulle het hom dus opgespoor, gedagtig aan die wonderwerk van die vorige dag. Hulle wou ’n Messiaanse Koning hê wat hulle van materiële voedsel kon voorsien soos Jesus getoon het dat hy kon doen. Hulle het hulself verskoon deur Jesus daaraan te herinner dat God vir hulle voorvaders in die woestyn van die Sinai-skiereiland “brood uit die hemel” gegee het om te eet in die vorm van wonderdadige manna.—Joh. 6:22-31.
4. Hoe het Jesus verduidelik of Moses die ware “brood uit die hemel” aan hulle voorvaders gegee het?
4 In antwoord hierop het Jesus vir hulle gesê dat Moses nie vir hulle voorvaders die ware brood uit die hemel gegee het nie. “Die brood van God”, het hy gesê, “is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.”—Joh. 6:32, 33.
5. Wat het die Jode toe vir Jesus gevra, en wat het hy daarop gesê om vir hulle te verduidelik hoe hulle ewige lewe kon verkry?
5 Hierop het die Jode gesê: “Here, gee ons altyd hierdie brood.” Jesus het homself as daardie brood geïdentifiseer deur te sê: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. . . . En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”—Joh. 6:34-40.
6. Waarom is diegene wat gedurende hierdie stelsel van dinge na Jesus kom en in hom as die Messias glo van ’n opstanding verseker?
6 Diegene wat gedurende hierdie teenwoordige stelsel van dinge na Jesus kom en in hom as die Messias glo, het dus die vooruitsig van ewige lewe. Hoe so? Omdat Jesus Christus hulle in die laaste dag uit die dode sal opwek. Dit verseker hulle van ’n opstanding. Ons moet oplet dat Jesus in hierdie betrokke geval nie gesê het dat ’n persoon eers ’n opstanding moet hê en daarna in geloof na hom moet kom en sy vlees eet om die ewige lewe te hê nie. Dit is heeltemal duidelik dat Jesus hier nie praat van diegene wat reeds soos Abraham, Isak, Jakob en Moses, Dawid en Johannes die Doper dood in die grafte is nie. Jesus het hier gepraat met Jode wat destyds gelewe het, onder andere talle van sy dissipels, en wat in die Mosaïese wetsverbond was.
7. Wat het Jesus vir die murmurerende Jode gesê oor die persoon wat na hom getrek word en oor ewige lewe?
7 Die Joodse toehoorders het onder mekaar begin murmureer in ’n twis oor Jesus se oorsprong. Uit Jesus se kommentaar behoort ons die persone wat hy aangespreek het te kan identifiseer. “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader [as Onderrigter] gehoor en geleer het, kom na My toe. . . . Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.”—Joh. 6:41-47.
8. Watter profesie het Jesus aangehaal, en watter geleentheid het hy daar aan sy Joodse toehoorders gebied?
8 Jesus het hier aangehaal uit die profesie in Jesaja 54:13, wat gerig is aan God se “vrou”, die hemelse Sion, en wat sê: “En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” Dit is die geestelike seuns van Jehovah God. Dit is hulle wat hy na Jesus trek deur hulle huidige geloof in hom. Dit is hulle van wie Jesus praat as diegene wat die ewige lewe kry omdat hy hulle in die laaste dag opwek. Hulle sal vir ewig in Jehovah se hemelse geesorganisasie lewe. Jesus het dus die geleentheid om seuns van God se “vrou”, hemelse Sion, te word vir sy Joodse toehoorders, onder andere talle van sy dissipels, aangebied.
“MY VLEES . . . VIR DIE LEWE VAN DIE WÊRELD”
9-11. (a) Watter vraag ontstaan omdat Jesus gesê het dat die “brood” wat hy gee sy “vlees” is en dat dit “vir die lewe van die wêreld” is? (b) Hoe beantwoord Paulus daardie vraag in 1 Korinthiërs 10:2-11?
9 Nadat Jesus herhaaldelik gesê het dat hy “die brood van die lewe” is, het hy voorts gesê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand [van julle, my toehoorders] van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”—Joh. 6:51.
10 Jesus was dus die ware, lewegewende Manna uit die hemel. Hy het gesê dat hierdie simboliese brood sy vlees is. Hierdie vlees, het hy gesê, is “vir die lewe van die wêreld”. Het Jesus, deur hierdie woorde by te voeg, bedoel dat die Jode wat in die dae van Moses die manna in die woestyn geëet het die “wêreld” van die mensdom gedurende die duisendjarige bewind van Christus en sy verheerlikte gemeente afgebeeld het?
11 Paulus antwoord dat “almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys [die manna] geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. . . . En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons [Christene] nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie . . . Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons [geesverwekte Christene] op wie die eindes van die eeue gekom het.”—1 Kor. 10:2-11; Ex. 16:1-35; Num. 11:1-9.
12. Hoe verskil die situasie van die geestelike Israeliete gedurende hierdie stelsel van dinge van dié van die mensdom gedurende die millennium?
12 Daardie Israeliete in die Sinai-woestyn onder Moses het dus die geestelike Israeliete gedurende hierdie stelsel van dinge afgebeeld. Geestelik gesproke is hierdie stelsel dodelik. Die geestelike Israeliete eet nou die teenbeeldige hemelse manna, die geofferde Jesus Christus. Gedurende die duisendjarige bewind van Christus sal die verrese mensdom nie in ’n woestynagtige toestand soos dié van Sinai wees nie. Hulle sal besig wees om die paradys aardwyd te herstel. Jehovah sal dan nie die mensdom na Jesus ‘trek’ soos Hy as die Onderrigter nou die geestelike Israeliete trek nie (Joh. 6:44). Die Soewereine Heer Jehovah stel eerder sy Seun Jesus Christus as koning oor die mensdom aan, en hierdie Koning roep die dode uit die grafte.
13. Watter soort “vlees” moet hierdie vlees wees of hoe moet dit behandel wees om die teenbeeld van die eerstydse manna te wees?
13 Brood wat van graan gemaak is, is ’n bloedlose voedsel, net soos die eertydse manna was. Jesus het gesê dat “die brood van die lewe”, die teenbeeldige manna, sy vlees “vir die lewe van die wêreld” was. Om met die eertydse manna ooreen te kom, moet die uitdrukking “vlees” hier verstaan word as vlees waarvan die bloed uitgeloop het. Dit was water wat Jehovah in die woestyn aan die Israeliete gegee het om te drink, nie bloed nie.
14. Waarom het Jesus se toehoorders begryp dat hy na “vlees” waarvan die bloed uitgeloop het, selfs mense-vlees, verwys het?
14 Die Jode wat na Jesus geluister het, het die saak so verstaan, want in hulle twis oor wat hy bedoel het, het hulle gesê: “Hoe [op watter wyse] kan Hy ons sy vlees gee om te eet?” (Joh. 6:52). Hulle het God se wet in verband met bloed geken. Toe God na die vloed van Noag se dag die mensdom se dieet aangevul het, het hy hulle nie dierebloed gegee om te drink sowel as dierevleis as voedsel om hulle lewens te onderhou nie. Hy het aan hulle water gegee om te drink en vleis, waarvan die bloed uitgeloop het, om te eet. As die Gewer van lewe aan alle skepsele van vlees en bloed het hy die bloed vir homself toegeëien (Gen. 9:1-4). Onder die Mosaïese wet wat aan die nasie Israel gegee is, is die persoon wat God se wet in verband met dierebloed oortree het met die dood gestraf (Lev. 17:10-12; Deut. 12:16, 22-27). Die gedagte om mensevlees te eet, selfs al het die bloed daarvan uitgeloop, het die Jode wat na Jesus geluister het met weersin vervul. Hulle wou nie kannibale word nie.—2 Kon. 6:26-31.a
15, 16. (a) Hoe moes Jesus se vlees geëet word? (b) Hoe het Jesus, volgens Johannes 6:53-59, die gedagte nog sterker laat uitkom?
15 Jesus wou hê dat sy Joodse toehoorders moes begryp dat sy vlees op ’n figuurlike wyse geëet sou word. Om hierdie gedagte nog sterker te stel, het hy dus vervolgens iets gesê wat nog afstootliker sou wees indien dit letterlik opgeneem word. Ons lees:
16 ”En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle [my Joodse toehoorders] nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy [van julle, my toehoorders] wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy [van julle, my toehoorders] wat My eet, ook deur My lewe. Dit is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos julle vaders die manna [in die woestyn] geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge [in ’n openbare vergadering, NW] toe Hy in Kapernaüm onderrig gegee het.”—Joh. 6:53-59.
17. (a) Wat was die uitwerking van daardie woorde van Jesus in die Joodse sinagoge, selfs op talle van sy dissipels? (b) Aan wie is Jesus se woorde in Johannes 6:53 dus hoofsaaklik gerig, en wat het hulle geword?
17 In die oorspronklike Griekse teks beteken die uitdrukking “in ’n openbare vergadering” in die “New World Translation” letterlik “in die sinagoge”. Dit is dieselfde uitdrukking wat Jesus in Johannes 18:20 gebruik het toe hy gesê het: “In die sinagoge . . . . en in die tempel waar die Jode . . . vergader.” Jesus het dus ’n Joodse gehoor wat in die Mosaïese wetsverbond was, toegespreek. Dit het talle dissipels van Jesus ingesluit. Ons kan ons voorstel watter uitwerking Jesus se woorde gehad het toe hy gesê het dat hulle nie alleen sy vlees moet eet nie, maar ook sy bloed moet drink. “En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Joh. 6:60). Hierdie verklaring toon dat nie al Jesus se dissipels deur sy woorde geskok is nie. Benewens die geskoktes was daar nog ander “dissipels”, onder andere die 12 apostels (Joh. 6:61-66). Jesus se woorde in Johannes 6:53 was dus hoofsaaklik gerig aan die dissipels en, by uitbreiding, aan diegene wat voor “die laaste dag” sy dissipels sou word. Hulle het geestelike Jode, geestelike Israeliete, geword.—Rom. 2:28, 29.
18, 19. (a) Aan wie het die bloed van die slagoffer behoort, en wat het dit dus beteken om ’n maaltyd van Jesus se bloed en vlees te maak? (b) Hoe het Jesus (weens die geloof van ’n sekere nie-Joodse hoofman oor honderd) en ook ’n sekere Jood (wat tydens ’n maaltyd oor Jesus se woorde kommentaar gelewer het) na so ’n maaltyd verwys?
18 Die Jode in die Mosaïese wetsverbond het geweet dat die bloed sowel as die vet van die slagoffer aan Jehovah behoort (Lev. 3:16, 17). Toe Jesus opgevaar het hemel toe en in Jehovah se teenwoordigheid verskyn het, het hy Jehovah sy “bloed”, of die waarde daarvan, as ’n losprys aangebied (Hebr. 9:12-14; Joh. 6:61, 62). Aangesien die bloed aan Jehovah behoort het, sou dit daarop dui dat ’n mens ’n maaltyd saam met Jehovah nuttig indien jy dit drink en die vlees van Jesus eet. God sal aldus die bloed van sy Lam, Jesus Christus, met die dissipels van hierdie Lam deel. Jesus het van so ’n maaltyd saam met Jehovah as die Grotere Abraham gepraat toe hy voorspel het dat talle nie-Joodse gelowiges (soos die gelowige nie-Joodse “hoofman oor honderd”) uit alle dele van die aarde sou kom en “saam met Abraham [Jehovah] en Isak [Jesus Christus] en Jakob [die geesverwekte Christengemeente] sal aansit in die koninkryk van die hemele”.—Matt. 8:5-12.
19 Toe hy eenkeer gepraat het van ’n maaltyd wat waarlik verdienstelik was weens diegene wat uitgenooi is om dit by te woon, het Jesus verduidelik waarom dit verdienste gehad het deur te sê: “Dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” Dit het ’n persoon laat dink aan die voorreg om ’n maaltyd saam met Jehovah God te nuttig, want ons lees: “Toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God” (Luk. 14:12-15). In antwoord op hierdie uitroep het Jesus die gelykenis vertel van die “groot maaltyd” wat deur ’n sekere man gegee is. Sodoende het Jesus getoon dat nie almal die geluk sou smaak om saam met God in die koninkryk te eet nie.—Luk. 14:16-24.
“LEWE IN JULLESELF”
20. Hoeveel lewe het diegene wat ‘lewe in hulleself’ verkry deur Christus se vlees te eet en sy bloed te drink, en waar en wanneer sal hulle hierdie hoedanigheid gebruik?
20 In Johannes 6:53 het Jesus gesê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” Omdat ’n soortgelyke uitdrukking hier voorkom as wat in Johannes 5:26 verskyn, gee “An American Translation” Johannes 6:53 soos volg weer: “Ek sê vir julle, indien julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen selfbestaande lewe nie.” Jesus het dus hier “lewe” met ’n spesifieke hoedanigheid bedoel toe sy voorts gesê het: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:54). Daardie ewige lewe sal nie op aarde geniet word deur die een wat dit ontvang nie, maar in die hemelse koninkryk saam met Christus. Hy sal sulke lewe ontvang wanneer hy in “die laaste dag” deur Jesus Christus opgewek word. Diegene wat, saam met Christus in die hemele, sulke ‘lewe in hulleself’ het, sal die voordele van Christus se mense-offer na ander kan bring. Hulle sal dit doen wanneer die vrygekoopte lede van die mensdom in “die laaste dag” uit hulle gedenkgrafte geroep word.—Joh. 5:28, 29.
21, 22. (a) In watter sin was Jesus se vlees en bloed “waarlik spys” vir die wat dit eet? (b) Sulke eters het watter verwantskap met hom en tot watter mate is hulle van hom afhanklik?
21 Wanneer ons nadink oor die gehalte van die “ewige lewe” wat in die hemel verkry gaan word, kan ons besef waarom Jesus gesê het: “My vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank” (Joh. 6:55). Na daardie opmerking het hy die spesiale verwantskap getoon waarin sy gehoorsame dissipels sou kom deur by te voeg: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in [een met] My en Ek in [een met] hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Joh. 6:56, 57, vgl. NW). Jesus het aldus gesê dat sy dissipels een met hom sal bly en dat hy een met hulle sal bly. Met soortgelyke bewoording het hy later in ’n gelykenis gesê:
22 “Bly in [een met] My, soos Ek in [een met] julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in [een met] My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in [een met] My bly, en Ek in [een met] hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”—Joh. 15:4, 5, vgl. NW.
23. Waarom het Judas Iskariot dan in gebreke gebly om ‘lewe in homself’ te verkry?
23 Hoewel Judas Iskariot nog meer as ’n jaar in die geselskap van Jesus Christus gebly het, het hy nie een met sy Heer gebly nie. Hy het dus nie van Pinkster van 33 G.J. af aan Jesus se geofferde liggaam geëet en sy bloed gedrink nie. Hy het in gebreke gebly om ‘lewe in homself’ te kry.—Joh. 6:66-71.
24. (a) Hoe was Jesus die “brood” wat uit die hemel neergedaal het? (b) Hoe het Jesus deur die Vader gelewe, en hoe lewe diegene wat sy vlees eet deur hom?
24 Jesus het egter vir Judas en die res van sy Joodse gehoor daar in daardie vergadering in Kapernaüm herinner aan hoe hulle voorvaders manna in die woestyn geëet het om hulself te onderhou. Toe hy sy toespraak afsluit, het hy gesê: “Dit is die brood wat uit die hemel neergedaal het . . . wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe” (Joh. 6:58). Hy was “die Woord” van God bo in die hemel, maar op God se bestemde tyd het hy “vlees geword” (Joh. 1:14). As die volmaakte, vleeslike Seun van God was hy dus “die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het”, die teenbeeldige manna. Sy vlees, wat vir die geestelike Israelieteb as simboliese manna gedien het, dien ook “vir die lewe van die wêreld” (Joh. 6:51). Vandag lewe Jesus Christus weer in die hemele en is hy onsterflik danksy sy hemelse Vader, want hierdie “lewende Vader” het hom uit die dode opgewek tot geeslewe. Net so sal die dissipel wat die teenbeeldige manna (Christus se “vlees”) voor die koms van “die laaste dag” “eet” “deur My lewe”, soos Jesus gesê het, want die lewende Jesus sal hom “in die laaste dag” opwek.—Joh. 6:54, 57, 58.
25. (a) Sal diegene wat Christus se offerande op aarde eet dit steeds in die hemel doen? (b) In watter heilige amp sal hulle dien, en met watter voordeel vir die mensdom?
25 Wanneer die verrese geestelike Israeliete in die hemel ‘lewe in hulleself’ het, sal hulle nie langer Jesus se vlees hoef te eet en sy bloed hoef te drink nie (Joh. 6:53). Hulle sal die voorreg hê om as “priesters van God en van Christus” te dien en aldus in staat wees om die blywende voordele van Christus se soenoffer aan die mensdom oor te dra (Openb. 20:6). Omdat hulle in die hemel ewige lewe het, sal hulle geen opvolgers in die priesteramp nodig hê nie. Net soos die Hoëpriester, Jesus Christus, sal hulle aaneen dwarsdeur die hele millennium as onderpriesters kan dien. Sodoende sal hulle saam met Christus die mensdom help om menslike volmaaktheid op aarde te bereik.
GODDELIKE VOORSIENINGS VIR VOLMAAKTE MENSELEWE
26. Van wanneer af neem die “groot menigte” vorm aan, en van watter behoefte aan die bloed van die Lam Jesus Christus is hulle bewus?
26 Soos ons weet, het ’n “groot menigte” van Christus se “ander skape” sedert die vierde dekade van ons 20ste eeu begin vorm aanneem (Openb. 7:9, 10; Joh. 10:16). Hulle sal ook baat vind by hierdie priesterskap van ’n duisend jaar. Die apostel Johannes, wat die Openbaring-gesig van die “groot menigte” gehad het, is daaraan herinner dat hulle ook die vergote bloed van die Lam Jesus Christus waardeer. Hulle waardeer dit as ’n middel om hulle te reinig, want Johannes is meegedeel: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openb. 7:14). Hulle weet dat hulle God nie op aanvaarbare wyse by sy heilige tempel sal kan dien indien hulle steeds vuil geklee gaan nie.—Vergelyk Sagaria 3:3-10.
27. Die voordeel van watter dienste sal hulle gedurende die millennium nodig hê, selfs al het hulle nie ’n opstanding nodig nie?
27 Die “groot menigte” skryf nie ’n opstanding uit die gedenkgrafte nie, maar “heil” of redding uit die “groot verdrukking” aan God en die Lam Jesus Christus toe. Hulle word lewend deur daardie “groot verdrukking” bewaar. Hulle hoef dus nie ‘in die laaste dag opgewek te word’ soos diegene waarvan daar in Johannes 6:54 gepraat word nie. Hulle sal nietemin gedurende die millennium die voordeel van die dienste van die Hoëpriester Jesus Christus en sy 144 000 onderpriesters nodig hê.
28. Watter “uur” nader vir die dooie, vrygekoopte mensdom, en watter geleentheid sal hulle gebied word?
28 ’n Wonderlike “uur” nader nou. Dit is die “uur” wanneer Jesus Christus as Jehovah se mederegter “almal wat in die grafte is”, gaan roep om as sy vrygekooptes uit te kom. Hulle gaan almal die aardse onderdane van sy hemelse koninkryk gemaak word, of hulle nou daarvan hou of nie. Hulle gaan die geleentheid gebied word om volmaakte menselewe op ’n paradysaarde te bereik.—Joh. 5:28, 29.
29. Wat sal die “groot menigte” en verrese mensdom dan drink en eet, en watter buitengewone geleentheid sal die “groot menigte” dan hê?
29 Wat sal Christus se onderdane dan hê om te drink? Wat sal hulle eet? Die Openbaring wat aan die apostel Johannes gegee is, toon dat daar dan ’n “rivier van die water van die lewe” onder die troon van Jehovah God en van die Lam Jesus Christus sal uitvloei. Aan weerskante van die “rivier” was die “boom van die lewe” wat elke maand vrugte dra. Die blare daarvan is tot genesing van die nasies. Dit is van daardie goddelike voorsienings wat die “groot menigte” en die verrese dode sal drink en eet (Openb. 22:1-3). Deur al hierdie onverdiende goedheid van Jehovah God deur Jesus Christus ten volle te benut, sal die waarderende en gehoorsame persone hulle opstanding ’n “opstanding van die lewe” maak. Die lede van die “groot menigte” van Christus se “ander skape”, wat nie ’n opstanding kry nie, sal dan die geleentheid hê om voort te lewe sonder om ooit te sterf en na die stof van die aarde terug te keer.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse ekwivalent vir “kannibaal” is okhel’ adam’, wat beteken “menseter”; of okhel’ ben mino’, “eter van die seun van sy soort”. Kyk Josefus se “Wars of the Jews”, hoofstuk 3, boek 6, om te sien met hoeveel afgryse ’n voorval hiervan in Jerusalem in 70 G.J. mense vervul het.
b Let op dat “die verborge manna” volgens Openbaring 2:9, 17 bewaar word vir die geestelike Israeliete wat oorwin.—Vergelyk Hebreërs 9:4.
[Prent op bladsy 13]
Net soos die manna die Israeliete in die woestyn onderhou het, so onderhou Jesus, “die brood van die lewe”, nou die geestelike Israeliete