Ons kinders—’n Kosbare erfenis
“Kyk! Seuns is ’n erfdeel van Jehovah; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.”—PSALM 127:3.
1. Hoe het dit gebeur dat die eerste mensebaba gebore is?
DINK aan die wonderdadige gebeure wat Jehovah God moontlik gemaak het weens die manier waarop hy die eerste man en vrou geskep het. Die vader, Adam, en die moeder, Eva, het albei iets van hulleself bygedra wat in Eva se baarmoeder tot ’n ten volle gevormde, nuwe mens ontwikkel het—die eerste mensebaba (Genesis 4:1). Tot vandag toe vervul bevrugting en die geboorte van ’n kind ons met verwondering en word dit deur baie beskryf as niks minder as ’n wonderwerk nie.
2. Waarom sou jy sê dat dit wat in die baarmoeder van ’n swanger vrou gebeur, ’n wonderwerk is?
2 Die oorspronklike sel wat in die moeder voortgebring word as gevolg van gemeenskap met die vader, groei binne sowat 270 dae tot ’n baba wat uit biljoene selle bestaan. Daardie oorspronklike sel bevat die instruksies wat nodig is om meer as 200 soorte selle voort te bring. Dié wonderbare instruksies, wat die mens se verstand te bowe gaan, laat hierdie uiters komplekse selle in presies die regte volgorde en op presies die regte manier ontwikkel om ’n nuwe, lewende mens voort te bring!
3. Waarom is talle denkende mense dit eens dat God verantwoordelik moet wees vir die geboorte van ’n nuwe, lewende mens?
3 Wie sou jy sê is die eintlike maker van die baba? Dit is sekerlik die Een wat lewe in die eerste plek geskep het. Die Bybelpsalmis het gesing: “Weet dat Jehovah God is. Ons is deur hom gemaak, nie deur onsself nie” (Psalm 100:3). Ouers, julle weet goed dat dit nie danksy júlle briljantheid is dat julle so ’n kosbare bondeltjie lewe voortgebring het nie. Net ’n God van onmeetlike wysheid kan verantwoordelik wees vir die wonderdadige vorming van ’n nuwe, lewende mens. Denkende mense gee al duisende jare lank aan die Grootse Skepper die eer vir die vorming van ’n kind in die baarmoeder. Doen jy dit?—Psalm 139:13-16.
4. Watter menslike tekortkoming kan nooit aan Jehovah toegeskryf word nie?
4 Maar is Jehovah ’n gevoellose Skepper wat bloot ’n biologiese proses in werking gestel het waardeur mans en vrouens kinders kan voortbring? Party mense is gevoelloos, maar Jehovah is nooit so nie (Psalm 78:38-40). Die Bybel sê in Psalm 127:3: “Kyk! Seuns [en ook dogters] is ’n erfdeel van Jehovah; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.” Kom ons bespreek nou wat ’n erfdeel, of erfenis, is en waarvan dit bewys lewer.
’n Erfenis en ’n beloning
5. Waarom is kinders ’n erfenis?
5 ’n Erfenis is soos ’n gawe. Ouers werk dikwels lank en hard om vir hulle kinders ’n erfenis na te laat. Dit kan uit geld, eiendom of miskien ’n baie kosbare besitting bestaan. Hoe dit ook al sy, dit lewer bewys van ’n ouer se liefde. Die Bybel sê dat God kinders as ’n erfenis vir hulle ouers gegee het. Hulle is ’n liefdevolle gawe van hom af. As jy ’n ouer is, wat sou jy sê: Bewys jou dade dat jy jou kinders beskou as ’n gawe wat die Skepper van die heelal aan jou toevertrou het?
6. Waarom het God dit vir die mens moontlik gemaak om kinders te hê?
6 Jehovah het hierdie gawe gegee sodat die aarde bevolk kon word met die nakomelinge van Adam en Eva (Genesis 1:27, 28; Jesaja 45:18). Jehovah het nie elke mens afsonderlik geskep soos hy in die geval van die miljoene engele gedoen het nie (Psalm 104:4; Openbaring 4:11). God het eerder verkies om die mens te skep met die vermoë om kinders voort te bring wat duidelike ooreenkomste met hulle ouers toon. Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog vir ’n moeder en vader om so ’n nuwe mens voort te bring en te versorg! Ouers, dank julle Jehovah omdat hy dit vir julle moontlik gemaak het om hierdie kosbare erfenis te geniet?
Leer uit Jesus se voorbeeld
7. Hoe het Jesus, in teenstelling met wat party ouers doen, getoon dat hy in “die mensekinders” belangstel en medelye met hulle het?
7 Ongelukkig beskou nie alle ouers hulle kinders as ’n beloning nie. Baie het min medelye met hulle kinders. Sulke ouers weerspieël nie die gesindheid van Jehovah of van sy Seun nie (Psalm 27:10; Jesaja 49:15). Dink daarenteen aan die belangstelling wat Jesus in kinders getoon het. Nog voordat Jesus as ’n mens na die aarde toe gekom het—toe hy ’n magtige geespersoon in die hemel was—sê die Bybel dat sy “volle behae by die mensekinders” was (Spreuke 8:31, Rotherham). Sy liefde vir mense was so groot dat hy bereid was om sy lewe as ’n losprys te gee sodat ons die ewige lewe kan ontvang.—Matteus 20:28; Johannes 10:18.
8. Hoe het Jesus ’n goeie voorbeeld vir ouers gestel?
8 Terwyl Jesus op die aarde was, het hy ’n uitstekende voorbeeld vir ouers gestel. Dink aan wat hy gedoen het. Hy het tyd gemaak vir kinders, selfs wanneer hy baie besig en onder druk was. Hy het gekyk hoe hulle op die markplein speel en het aspekte van hulle gedrag in sy onderrigting gebruik (Matteus 11:16, 17). Gedurende sy laaste reis na Jerusalem het Jesus geweet dat hy sou ly en doodgemaak sou word. Toe mense dus kinders na Jesus toe gebring het, het sy dissipels die kinders probeer wegstuur, miskien in ’n poging om Jesus teen verdere druk te beskerm. Maar Jesus het sy dissipels berispe. Hy het sy “volle behae” in kinders getoon deur te sê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.”—Markus 10:13, 14.
9. Waarom kan wat ons doen, selfs belangriker wees as wat ons sê?
9 Ons kan uit Jesus se voorbeeld leer. Hoe reageer ons wanneer kinders na ons toe kom—selfs wanneer ons besig is? Soos Jesus? Wat kinders nodig het, veral van hulle ouers, is wat Jesus bereid was om hulle te gee—sy tyd en aandag. Dit is waar dat woorde soos “Ek is lief vir jou” belangrik is. Maar dade is belangriker as woorde. Jou liefde sal nie net blyk uit wat jy sê nie, maar nog meer uit wat jy doen. Dit sal gesien kan word aan die tyd, aandag en versorging wat jy jou kinders gee. Maar al doen jy al hierdie dinge, sal dit miskien nie sigbare resultate oplewer nie, altans nie so gou as wat jy hoop nie. Geduld is nodig. Ons kan leer om geduldig te wees as ons die manier navolg waarop Jesus met sy dissipels gehandel het.
Jesus se geduld en liefde
10. Hoe het Jesus sy dissipels ’n les oor nederigheid geleer, en het dit aanvanklik resultate opgelewer?
10 Jesus was bewus van die voortdurende wedywering onder sy dissipels om die vernaamste te wees. Eendag, nadat hy met sy dissipels in Kapernaum aangekom het, het hy hulle gevra: “‘Waaroor het julle op die pad geargumenteer?’ Hulle het stilgebly, want hulle het op die pad onder mekaar geargumenteer oor wie die grootste is.” Jesus het hulle nie streng bestraf nie, maar hy was geduldig en het hulle met behulp van ’n aanskouingsles nederigheid probeer leer (Markus 9:33-37). Het dit die verlangde resultate opgelewer? Nie dadelik nie. Sowat ses maande later het Jakobus en Johannes hulle moeder opgesteek om vir Jesus te vra of hulle vername posisies in die Koninkryk kan beklee. Jesus het hulle denke weer eens geduldig reggestel.—Matteus 20:20-28.
11. (a) Watter gebruiklike taak het Jesus se apostels nie verrig nadat hulle saam met Jesus in die bovertrek gekom het nie? (b) Wat het Jesus gedoen, en het sy pogings op daardie stadium welslae behaal?
11 Kort voor lank het die Pasga van 33 G.J. aangebreek, en Jesus en sy apostels het alleen byeengekom om dit te vier. Toe hulle in die bovertrek kom, het nie een van die 12 apostels die inisiatief geneem en die gebruiklike diens verrig om die stowwerige voete van die ander te was nie—die nederige taak van ’n dienskneg of ’n vrou in die huishouding (1 Samuel 25:41; 1 Timoteus 5:10). Hoe het dit Jesus tog nie bedroef om te sien dat sy dissipels nog steeds rang en posisie nagestreef het nie! Daarom het Jesus die voete van elkeen gewas en toe ’n ernstige beroep op hulle gedoen om sy voorbeeld te volg en ander te dien (Johannes 13:4-17). Het hulle dit gedoen? Die Bybel sê dat daar later dié aand “ook ’n driftige woordewisseling onder hulle ontstaan [het] oor wie van hulle blykbaar die grootste was”.—Lukas 22:24.
12. Hoe kan ouers Jesus navolg in hulle pogings om hulle kinders op te lei?
12 Besef julle as ouers, wanneer julle kinders nie op julle raad ag gee nie, hoe Jesus gevoel het? Onthou dat Jesus nie moed opgegee het met sy apostels nie, al was hulle traag om hulle tekortkominge reg te stel. Sy geduld het uiteindelik vrugte afgewerp (1 Johannes 3:14, 18). Ouers, dit sal goed wees as julle Jesus se liefde en geduld navolg en volhard in julle pogings om julle kinders op te lei.
13. Waarom moet ’n ouer nie ’n kind wat ’n vraag vra, met ’n kortaf antwoord wegstuur nie?
13 Kinders moet voel dat hulle ouers hulle liefhet en in hulle belangstel. Jesus wou weet wat sy dissipels dink, en daarom het hy geluister wanneer hulle vrae gevra het. Hy het hulle mening oor sekere sake gevra (Matteus 17:25-27). Ja, goeie onderrigting sluit in dat ’n mens aandagtig luister en opregte belangstelling toon. ’n Ouer moet enige neiging weerstaan om ’n kind wat met ’n vraag kom, weg te stuur met ’n kortaf: “Nie nou nie! Kan jy nie sien ek is besig nie?” As ’n ouer werklik besig is, moet hy vir die kind sê dat hulle later kan gesels. Ouers moet dan seker maak dat hulle dit wel doen. Dan sal die kind besef dat die ouer werklik in hom belangstel, en hy sal die ouer geredeliker in sy vertroue neem.
14. Wat kan ouers by Jesus leer oor die betoning van geneentheid aan hulle kinders?
14 Is dit gepas dat ouers geneentheid toon deur hulle arms om hulle kinders te sit en hulle ’n drukkie te gee? Ouers kan weer eens by Jesus leer. Die Bybel sê: “Hy het die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy hulle die hande opgelê het” (Markus 10:16). Hoe dink jy het die kinders gevoel? Dit het ongetwyfeld hulle harte bly gemaak en hulle tot Jesus aangetrokke laat voel! Ouers, as daar opregte geneentheid en liefde tussen julle en julle kinders is, sal hulle geredeliker reageer op julle pogings om hulle te dissiplineer en te onderrig.
Die kwessie van hoeveel tyd
15, 16. Watter konsep oor die grootmaak van kinders het gewild geword, en waaruit het dit blykbaar voortgespruit?
15 Party het dit bevraagteken of kinders werklik baie tyd en liefdevolle aandag van hulle ouers nodig het. ’n Konsep oor die grootmaak van kinders wat op vindingryke maniere bevorder is, word kwaliteitstyd genoem. Volgens voorstanders van die konsep het kinders nie baie van hulle ouers se tyd nodig nie, solank die beperkte tyd wat saam met hulle deurgebring word, betekenisvol, weldeurdag en beplan is. Is hierdie konsep van kwaliteitstyd goed en is dit gevorm met die welsyn van kinders in gedagte?
16 ’n Skrywer wat met baie kinders gesels het, het gesê dat hulle “grootste begeerte is dat hulle ouers meer tyd saam met hulle deurbring” en “onverdeelde aandag” aan hulle gee. ’n Universiteitsprofessor het hierdie betekenisvolle opmerking gemaak: “Die term [kwaliteitstyd] het voortgespruit uit ouers se skuldgevoelens. Mense het hulleself die reg gegee om minder tyd saam met hulle kinders deur te bring.” Hoeveel tyd moet ouers saam met hulle kinders deurbring?
17. Wat het kinders van hulle ouers nodig?
17 Die Bybel sê nie. Maar Israelitiese ouers is aangespoor om met hulle kinders te praat wanneer hulle in hulle huis is, wanneer hulle op die pad loop, wanneer hulle gaan lê en wanneer hulle opstaan (Deuteronomium 6:7). Dit toon duidelik dat ouers elke dag met hulle kinders moet kommunikeer en hulle voortdurend moet onderrig.
18. Hoe het Jesus geleenthede benut om sy dissipels op te lei, en wat kan ouers hieruit leer?
18 Jesus het sy dissipels met welslae opgelei terwyl hy saam met hulle geëet, gereis en selfs saam met hulle ontspan het. Hy het dus elke geleentheid benut om hulle te onderrig (Markus 6:31, 32; Lukas 8:1; 22:14). Net so moet Christenouers wakker wees om elke geleentheid te benut om goeie kommunikasie met hulle kinders op te bou én te behou sowel as om hulle in Jehovah se weë op te lei.
Wat om hulle te leer en hoe om dit te doen
19. (a) Wat is nodig behalwe om tyd saam met kinders deur te bring? (b) Wat moet ouers hulle kinders hoofsaaklik leer?
19 Om bloot tyd saam met kinders deur te bring en selfs om hulle te leer, is nie al wat nodig is om hulle met welslae groot te maak nie. Wat ook belangrik is, is wat hulle geleer word. Let op hoe die Bybel beklemtoon wat dit moet wees. “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel”, sê dit, “moet [jy] by jou kinders inskerp.” Wat is “hierdie woorde” wat kinders geleer moet word? Blykbaar is dit die woorde wat kort tevore genoem is, naamlik: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag” (Deuteronomium 6:5-7). Jesus het gesê dat dit die belangrikste van al God se gebooie is (Markus 12:28-30). Ouers moet hulle kinders hoofsaaklik van Jehovah leer en vir hulle verduidelik waarom slegs hy ons heelhartige liefde en toegewydheid waardig is.
20. Wat het God ouers van die ou tyd beveel om hulle kinders te leer?
20 Maar “hierdie woorde” wat ouers aangespoor word om hulle kinders te leer, sluit meer in as om God bloot met ’n mens se hele wese lief te hê. Julle sal opmerk dat Moses in die vorige hoofstuk van Deuteronomium die wette herhaal wat God op kliptafels geskryf het—die Tien Gebooie. Hierdie wette sluit die gebooie in wat leuens, diefstal, moord en egbreuk verbied (Deuteronomium 5:11-22). Dit het dus vir ouers van die ou tyd baie duidelik getoon hoe belangrik dit is om hulle kinders sedelike waardes te leer. Christenouers van vandag moet hulle kinders ook sulke onderrigting gee om hulle te help om ’n veilige, gelukkige toekoms te geniet.
21. Wat het die opdrag beteken om God se woord by kinders ‘in te skerp’?
21 Let op dat daar vir ouers gesê word hoe hulle hulle kinders “hierdie woorde”, of gebooie, moet leer: “Jy moet dit by jou kinders inskerp.” Die woord “inskerp” beteken “om te onderrig en in te prent deur gereelde herhalings of vermanings: in die verstand te laat insink”. God sê dus in werklikheid vir ouers om ’n vaste program van Bybelonderrig in te stel met die spesifieke doel om geestelike sake in die verstande van hulle kinders in te prent.
22. Wat moes Israelitiese ouers doen om hulle kinders te onderrig, en wat het dit beteken?
22 So ’n vaste program verg inisiatief van ouers. Die Bybel sê: “Jy moet dit [“hierdie woorde”, of gebooie van God] as ’n teken op jou hand bind, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë dien; en jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skryf” (Deuteronomium 6:8, 9). Dit beteken nie dat ouers God se wette letterlik op deurposte en poorte moet skryf, ’n afskrif daarvan aan die hand van hulle kinders moet vasmaak en een tussen hulle oë moet sit nie. Die punt is eerder dat ouers hulle kinders voortdurend aan God se leringe moet herinner. Hulle moet hulle kinders so gereeld en konsekwent onderrig dat God se leringe as ‘t ware die hele tyd reg voor die kinders is.
23. Wat sal in volgende week se les bespreek word?
23 Wat is party van die besonder belangrike dinge wat ouers hulle kinders moet leer? Waarom is dit vandag noodsaaklik dat kinders geleer sowel as opgelei word om hulleself te beskerm? Watter hulp is nou vir ouers beskikbaar om hulle te help om hulle kinders doeltreffend te onderrig? Hierdie en ander vrae waaroor baie ouers besorg is, sal in die volgende artikel bespreek word.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom moet ouers hulle kinders as kosbaar beskou?
• Wat kan ouers en ander by Jesus leer?
• Hoeveel tyd moet ouers aan hulle kinders wy?
• Wat moet kinders geleer word, en hoe moet hulle geleer word?
[Prent op bladsy 10]
Wat kan ouers leer uit die manier waarop Jesus onderrig het?
[Prente op bladsy 11]
Wanneer en hoe moes Israelitiese ouers hulle kinders leer?
[Prente op bladsy 12]
Ouers moet hulle kinders voortdurend aan God se leringe herinner