Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Eerste Konings
“WANNEER die regverdiges baie word, is die volk bly; maar wanneer ’n goddelose heers, sug die volk” (Spreuke 29:2). Die Bybelboek Eerste Konings lig die waarheid van hierdie spreuk duidelik toe. Dit bevat die lewensverhaal van Salomo, onder wie se koningskap eertydse Israel ’n tydperk van veiligheid en groot voorspoed geniet het. Eerste Konings sluit ook ’n verslag in van die verdeling van die nasie ná Salomo se dood en van 14 konings wat ná hom regeer het, sommige in Israel en sommige in Juda. Net twee van hierdie konings was altyd aan Jehovah getrou. Daarbenewens vertel die boek van die bedrywighede van ses profete, onder andere Elia.
Die verslag is in Jerusalem en Juda deur die profeet Jeremia geskryf en dek ’n tydperk van ongeveer 129 jaar—van 1040 v.G.J. tot 911 v.G.J. Terwyl Jeremia die boek geskryf het, het hy blykbaar ou geskrifte soos “die kroniekboek van Salomo” geraadpleeg. Daardie afsonderlike geskrifte bestaan nie meer nie.—1 Konings 11:41; 14:19; 15:7.
’N WYSE KONING BEVORDER VREDE EN VOORSPOED
Eerste Konings begin met ’n boeiende verslag van ’n poging deur koning Dawid se seun Adonia om hom sy vader se koningskap wederregtelik toe te eien. Die vinnige optrede van die profeet Natan ry die plan in die wiele, en Dawid se seun Salomo word koning gemaak. Die versoek van die pas gekroonde koning behaag Jehovah en hy gee hom “’n wyse hart met begrip” tesame met “rykdom sowel as heerlikheid” (1 Konings 3:12, 13). Die koning se wysheid is ongeëwenaard en sy rykdom onvergelyklik. Israel geniet ’n tydperk van vrede en voorspoed.
Jehovah se tempel en verskeie regeringsgeboue is van die bouprojekte wat Salomo voltooi. Jehovah verseker Salomo: “Ek [sal] inderdaad die troon van jou koninkryk oor Israel tot onbepaalde tyd vestig”, mits die koning gehoorsaam bly (1 Konings 9:4, 5). Die ware God waarsku hom ook oor die gevolge van ongehoorsaamheid. Salomo neem egter vir hom baie vrouens. Onder hulle invloed, wend hy hom op sy oudag tot valse godsdiens. Jehovah voorspel dat sy koninkryk verdeel sal word. In 997 v.G.J. sterf Salomo, en so eindig sy 40 jaar lange heerskappy. Sy seun Rehabeam bestyg die troon.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:5—Waarom het Adonia die troon wederregtelik in besit probeer neem terwyl Dawid nog gelewe het? Die Bybel sê nie. Maar dit is redelik om tot die slotsom te kom dat Adonia gedink het dat hy as die oudste van Dawid se oorblywende seuns die reg gehad het op die troon, aangesien Adonia se ouer broers Amnon, Absalom en waarskynlik ook Dawid se seun Kileab reeds dood was (2 Samuel 3:2-4; 13:28, 29; 18:14-17). Adonia het die ondersteuning van die magtige leërhoof Joab en die invloedryke hoëpriester Abjatar verkry en was waarskynlik daarvan oortuig dat sy poging sou slaag. Die Bybel sê nie of hy geweet het van Dawid se voorneme om Salomo die troon te laat erf nie. Maar Adonia het nie vir Salomo en ander wat aan Dawid lojaal was, na “’n offerande” genooi nie (1 Konings 1:9, 10). Dit gee te kenne dat hy Salomo as ’n mededinger beskou het.
1:49-53; 2:13-25—Waarom het Salomo Adonia laat doodmaak nadat hy hom begenadig het? Hoewel Batseba dit nie raakgesien het nie, het Salomo die ware beweegrede onderskei agter Adonia se versoek dat sy die koning vra om vir hom Abisag as vrou te gee. Hoewel Dawid nie omgang met pragtige Abisag gehad het nie, is sy as Dawid se byvrou beskou. Volgens die gebruik van die tyd sou sy alleenlik die eiendom word van Dawid se wettige erfgenaam. Adonia het moontlik gedink dat hy weer op die troon aanspraak sou kon maak as hy Abisag as vrou neem. Salomo het Adonia se versoek as ’n begeerte na die koningskap beskou en die begenadiging herroep.
6:37–8:2—Wanneer is die tempel ingewy? Die tempel is voltooi in die agtste maand van 1027 v.G.J., die 11de jaar van Salomo se heerskappy. Dit lyk of dit 11 maande geneem het om die toebehore in te bring en ander voorbereidings te tref. Die inwyding het blykbaar in die sewende maand van die jaar 1026 v.G.J. plaasgevind. Die verslag beskryf ander bouprojekte ná die voltooiing van die tempel en voordat dit die inwyding daarvan noem, blykbaar om die bespreking oor die bouprogram aan te vul.—2 Kronieke 5:1-3.
9:10-13—Was Salomo se geskenk van 20 stede in die land Galilea aan koning Hiram van Tirus in ooreenstemming met die Mosaïese Wet? Die Wet in Levitikus 25:23, 24 kon beskou word as net van toepassing op ’n gebied wat deur die Israeliete beset is. Dit is moontlik dat die stede wat Salomo aan Hiram gegee het, deur nie-Israeliete bewoon is, hoewel dit binne die grense van die Beloofde Land was (Eksodus 23:31). Salomo se optrede kon ook ’n aanduiding gewees het van sy versuim om die Wet ten volle na te kom, soos toe hy “vir hom perde vermeerder” en baie vrouens geneem het (Deuteronomium 17:16, 17). Hoe dit ook al sy, Hiram was ontevrede met die geskenk. Dalk was die stede nie goed deur hulle heidense inwoners in stand gehou nie, of moontlik was hulle nie ideaal geleë nie.
11:4—Het seniliteit veroorsaak dat Salomo op sy oudag ontrou geword het? Dit lyk nie of dit die geval was nie. Salomo was redelik jonk toe hy begin regeer het, en hoewel hy 40 jaar lank geheers het, het hy nie ’n gevorderde ouderdom bereik nie. Bowendien het hy nie heeltemal opgehou om Jehovah te aanbid nie. Hy het waarskynlik ’n vorm van geloofsvermenging probeer beoefen.
Lesse vir ons:
2:26, 27, 35. Wat Jehovah voorspel, word altyd bewaarheid. Die verwydering van Abjatar, ’n afstammeling van Eli, het ‘Jehovah se woord vervul wat hy teen die huis van Eli gespreek het’. In vervulling van Numeri 25:10-13 is Abjatar vervang deur Sadok, ’n afstammeling van Pinehas.—Eksodus 6:25; 1 Samuel 2:31; 3:12; 1 Kronieke 24:3.
2:37, 41-46. Hoe gevaarlik is dit tog om te dink dat ’n mens kan oortree en ongestraf sal bly! Diegene wat opsetlik afwyk van ‘die smal pad wat na die lewe lei’, sal die gevolge van daardie dwase besluit dra.—Matteus 7:14.
3:9, 12-14. Jehovah verhoor sy knegte se opregte gebede vir wysheid, begrip en leiding in die uitvoering van sy diens.—Jakobus 1:5.
8:22-53. Watter hartgrondige waardering het Salomo tog uitgespreek vir Jehovah—’n God van liefderyke goedhartigheid, die Vervuller van beloftes en die Hoorder van gebed! As ons peins oor die woorde van Salomo se inwydingsgebed, sal dit ons waardering vir hierdie en ander aspekte van God se persoonlikheid vergroot.
11:9-14, 23, 26. Toe Salomo in sy latere jare ongehoorsaam geword het, het Jehovah teenstanders verwek. “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges”, sê die apostel Petrus.—1 Petrus 5:5.
11:30-40. Koning Salomo het Jerobeam probeer doodmaak as gevolg van wat Ahia aangaande Jerobeam voorspel het. Hoe anders was die koning se reaksie tog sowat 40 jaar vroeër toe hy geweier het om op Adonia en ander samesweerders wraak te neem! (1 Konings 1:50-53). Sy gesindheid het verander omdat hy hom van Jehovah teruggetrek het.
’N VERENIGDE KONINKRYK WORD UITMEKAARGESKEUR
Jerobeam en die volk kom na koning Rehabeam en vra hom om die las te verlig wat sy vader, Salomo, hulle opgelê het. In plaas daarvan om hulle versoek toe te staan, dreig Rehabeam om selfs ’n swaarder las op hulle te plaas. Tien stamme kom in opstand en maak Jerobeam koning oor hulle. Die koninkryk is verdeeld. Rehabeam heers oor die suidelike koninkryk, wat uit die stamme Juda en Benjamin bestaan, en Jerobeam heers oor die noordelike tienstammeryk van Israel.
Om die volk te ontmoedig om na Jerusalem te gaan vir aanbidding, rig Jerobeam twee goue kalwers op—een by Dan en die ander by Bet-El. Party van die konings wat ná Jerobeam in Israel regeer, is Nadab, Baäsa, Ela, Simri, Tibni, Omri, Agab en Ahasia. Abiam, Asa, Josafat en Joram het Rehabeam in Juda opgevolg. Profete wat in die dae van hierdie konings gedien het, was onder meer Ahia, Semaja en ’n man van God wie se naam nie genoem word nie, sowel as Jehu, Elia en Migaja.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
18:21—Waarom het die volk stilgebly toe Elia hulle gevra het om óf Jehovah óf Baäl te volg? Hulle het moontlik besef dat hulle Jehovah nie die uitsluitlike toegewydheid gegee het wat hy eis nie en het derhalwe skuldig gevoel. Of dalk was hulle gewete so verhard dat hulle niks verkeerds daarin gesien het om Baäl te aanbid terwyl hulle beweer dat hulle aanbidders van Jehovah is nie. Dit was eers nadat Jehovah sy krag getoon het dat hulle gesê het: “Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!”—1 Konings 18:39.
20:34—Waarom het Agab die koning van die Siriërs, Ben-Hadad, gespaar nadat Jehovah Agab ’n oorwinning oor hulle gegee het? Agab het Ben-Hadad nie doodgemaak nie maar ’n verbond met hom gesluit waarvolgens strate in die Siriese hoofstad, Damaskus, aan Agab toegewys sou word, blykbaar om basaars, of markte, op te rig. Ben-Hadad se vader het vroeër eweneens strate in Samaria vir kommersiële doeleindes aan homself toegewys. Ben-Hadad is dus vrygelaat ter wille van Agab se kommersiële belange in Damaskus.
Lesse vir ons:
12:13, 14. Wanneer ons belangrike besluite in die lewe neem, moet ons by wyse en ryp mense raad vra wat die Skrif ken en goddelike beginsels hoogag.
13:11-24. Raad of ’n voorstel wat verdag klink, selfs al kom dit van ’n welmenende medegelowige, moet vergelyk word met die betroubare leiding uit God se Woord.—1 Johannes 4:1.
14:13. Jehovah deursoek ons om die goeie in ons te vind. Ongeag hoe onbeduidend daardie goeie dalk is, hy kan dit laat groei terwyl ons ons bes doen om hom te dien.
15:10-13. Ons moet afvalligheid moedig verwerp en eerder ware aanbidding bevorder.
17:10-16. Die weduwee van Sarfat het Elia as ’n profeet erken en as sodanig ontvang, en Jehovah het haar dade van geloof geseën. Jehovah sien ook vandag ons dade van geloof raak, en hy beloon diegene wat die Koninkrykswerk op verskeie maniere ondersteun.—Matteus 6:33; 10:41, 42; Hebreërs 6:10.
19:1-8. Wanneer ons hewige teenstand ondervind, kan ons seker wees dat Jehovah ons sal ondersteun.—2 Korintiërs 4:7-9.
19:10, 14, 18. Ware aanbidders is nooit alleen nie. Hulle het Jehovah en hulle wêreldwye broederskap.
19:11-13. Jehovah is nie ’n natuurgod of ’n blote verpersoonliking van natuurkragte nie.
20:11. Toe Ben-Hadad gespog het dat hy Samaria sou vernietig, het Israel se koning geantwoord: “Laat die een wat hom omgord [met sy wapenrusting ter voorbereiding van die geveg], nie oor homself roem soos die een wat hom losgord” uit sy wapenrusting nadat hy seëvierend van die geveg terugkeer nie. Wanneer ons voor ’n nuwe taak te staan kom, moet ons die oordrewe selfversekerdheid van ’n grootprater vermy.—Spreuke 27:1; Jakobus 4:13-16.
Van groot waarde vir ons
Toe Moses vertel het hoe die Wet by die berg Sinai gegee is, het hy vir die kinders van Israel gesê: “Kyk, ek hou julle vandag die seën en die vloek voor: die seën, mits julle die gebooie van Jehovah julle God gehoorsaam wat ek julle vandag beveel; en die vloek, as julle die gebooie van Jehovah julle God nie gehoorsaam nie en afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel.”—Deuteronomium 11:26-28.
Hoe duidelik word hierdie lewensbelangrike waarheid tog in die boek Eerste Konings onder ons aandag gebring! Soos ons gesien het, leer hierdie boek ook ander waardevolle lesse. Die boodskap daarin is inderdaad lewend en oefen krag uit.—Hebreërs 4:12.
[Prent op bladsy 29]
Die tempel en ander geboue wat deur Salomo opgerig is
[Prent op bladsy 30, 31]
Nadat Jehovah sy krag getoon het, het die volk uitgeroep: “Jehovah is die ware God!”