Die eerste boek van Konings
2 Toe Dawid op sterwe gelê het, het hy vir sy seun Salomo die volgende instruksies gegee: 2 “Ek het nie meer lank om te lewe nie. Daarom moet jy sterk wees+ en wys dat jy ’n man is.+ 3 Jy moet jou verpligting teenoor Jehovah jou God nakom deur sy weë te volg en deur sy wetsbepalings, sy gebooie, sy oordele en sy herinneringe te gehoorsaam soos dit in die Wet van Moses geskryf is.+ Dan sal jy suksesvol wees* oral waar jy gaan en in alles wat jy doen. 4 En Jehovah sal sy belofte hou wat hy aan my gemaak het: ‘As jou seuns seker maak dat hulle my weg getrou volg met hulle hele hart en siel,*+ sal daar altyd ’n man van jou geslagslyn wees wat op die troon van Israel sit.’+
5 “Jy weet ook goed wat Joab, die seun van Seruʹja, aan my gedoen het deur wat hy met twee hoofde van die leërmag van Israel gedoen het – Abner,+ die seun van Ner, en Amaʹsa,+ die seun van Jeter. Hy het hulle doodgemaak en oorlogsbloed in ’n tyd van vrede laat vloei.+ En hy het die lyfband om sy heupe en die sandale aan sy voete met oorlogsbloed bevlek. 6 Doen wat jy dink wys is, en moenie toelaat dat sy grys hare in vrede na die Graf* afgaan nie.+
7 “Maar betoon lojale liefde aan die seuns van Barsilʹlai,+ die Gileadiet. Gee vir hulle ’n plek by dié wat aan jou tafel eet, want hulle het my bygestaan+ toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.+
8 “Dan is daar Siʹmeï, die seun van Gera, die Benjaminiet uit Bahuʹrim. Hy het ’n vreeslike vloek oor my uitgespreek+ op die dag toe ek na Mahanaʹim+ gegaan het, maar toe hy my by die Jordaanrivier kom ontmoet het, het ek vir hom by Jehovah gesweer en gesê: ‘Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.’+ 9 Moet hom nie ongestraf laat bly nie,+ want jy is ’n wyse man en jy weet wat jy met hom moet doen. Jy moet sy grys hare met bloed na die Graf* laat afgaan.”+
10 Dawid het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid+ begrawe. 11 Dawid het 40 jaar lank oor Israel regeer. Hy het 7 jaar lank in Heʹbron+ regeer, en hy het 33 jaar lank in Jerusalem regeer.+
12 Salomo het toe op die troon van sy pa, Dawid, gaan sit, en sy koningskap het geleidelik stewig gevestig geword.+
13 Ná verloop van tyd het Adoʹnia, die seun van Haggit, na Batseʹba, Salomo se ma, toe gegaan. Sy het gevra: “Kom jy in vrede?” Hy het geantwoord: “Ja, ek kom in vrede.” 14 Hy het toe gesê: “Ek wil iets met u bespreek.” En sy het gesê: “Praat gerus.” 15 Hy het gesê: “U weet goed dat die koningskap myne moes word, en die hele Israel het verwag dat ek koning sou word.+ Maar ek het nie die koningskap gekry nie. Dit het my broer s’n geword, want dit was Jehovah se wil dat dit syne moes word.+ 16 Maar nou is daar net een ding wat ek van u wil vra. Moet asseblief nie nee sê nie.” Toe het sy vir hom gesê: “Vra gerus.” 17 Hy het gesê: “Vra asseblief vir koning Salomo om Abiʹsag,+ die Sunammiet, aan my as vrou te gee, want hy sal nie vir u nee sê nie.” 18 Toe het Batseʹba gesê: “Goed! Ek sal vir die koning gaan vra.”
19 Batseʹba het na koning Salomo gegaan om met hom te praat oor Adoʹnia se versoek. Die koning het dadelik opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar neergebuig. Toe het hy op sy troon gaan sit en vir sy ma ’n troon laat haal, sodat sy aan sy regterkant kon sit. 20 Sy het toe gesê: “Daar is iets kleins wat ek van jou wil vra. Moet asseblief nie nee sê nie.” En die koning het vir haar gesê: “Vra gerus, Ma, want ek sal nie nee sê nie.” 21 Sy het gesê: “Laat Abiʹsag, die Sunammiet, aan jou broer Adoʹnia as vrou gegee word.” 22 Toe het koning Salomo haar geantwoord: “Hoekom vra Ma dat Abiʹsag, die Sunammiet, aan Adoʹnia gegee word? Ma kan net sowel vra dat die koningskap aan hom gegee word,+ want hy is my ouer broer,+ en die priester Abjaʹtar en Joab,+ die seun van Seruʹja,+ ondersteun hom.”
23 Toe het koning Salomo by Jehovah gesweer en gesê: “Mag God my swaar straf* as Adoʹnia nie sy lewe verloor omdat hy my dit gevra het nie. 24 En nou, so waar as wat Jehovah lewe, wat my op die troon van my pa, Dawid, laat sit het en wat my koningskap stewig gevestig het+ en ’n koningshuis aan my gegee het,+ soos hy belowe het, vandag sal Adoʹnia doodgemaak word.”+ 25 Koning Salomo het Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, onmiddellik gestuur, en Benaʹja het Adoʹnia doodgemaak.*
26 Die koning het vir die priester Abjaʹtar+ gesê: “Gaan na jou grond in Aʹnatot!+ Jy verdien die dood, maar ek sal jou nie vandag doodmaak nie omdat jy die Ark van die Soewereine Heer Jehovah voor my pa, Dawid, gedra het+ en omdat jy al my pa se moeilike tye saam met hom deurgemaak het.”+ 27 So het Salomo Abjaʹtar uitgedryf en sy diens as ’n priester van Jehovah beëindig, om Jehovah se woord te vervul teen die huis van Eli+ in Silo.+
28 Toe Joab die nuus hoor, het hy na die tent van Jehovah gevlug+ en die horings van die altaar vasgegryp (want Joab het Adoʹnia ondersteun,+ hoewel hy Absalom nie ondersteun het nie).+ 29 Daar is toe vir koning Salomo gesê: “Joab het na die tent van Jehovah gevlug, en hy staan langs die altaar.” Daarna het Salomo Benaʹja, die seun van Jojaʹda, gestuur en gesê: “Gaan, maak hom dood!” 30 Benaʹja het na die tent van Jehovah gegaan en vir Joab gesê: “Dít is wat die koning sê: ‘Kom uit!’” Maar hy het gesê: “Nee! Ek sal hier sterf.” Benaʹja het toe vir die koning gaan sê wat Joab gesê het. 31 En die koning het vir hom gesê: “Doen net soos hy gesê het. Maak hom dood en begrawe hom en verwyder van my en van die huis van my vader die bloed van die mense wat Joab sonder rede doodgemaak het.+ 32 Jehovah sal hom terugbetaal* omdat hy twee manne wat regverdiger en beter as hy was, aangeval en met die swaard doodgemaak het sonder dat my pa, Dawid, daarvan geweet het, naamlik: Abner,+ die seun van Ner, die hoof van die leërmag van Israel,+ en Amaʹsa,+ die seun van Jeter, die hoof van die leërmag van Juda.+ 33 Joab en sy nageslag sal vir ewig vir hulle dood* verantwoordelik gehou word.+ Maar mag daar vir Dawid, sy nageslag, sy huis en sy troon vir ewig vrede van Jehovah af wees.” 34 Toe het Benaʹja, die seun van Jojaʹda, vir Joab gaan doodmaak, en hy is by sy huis in die wildernis begrawe. 35 Toe het die koning Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, in sy plek oor die leërmag aangestel, en die koning het die priester Sadok+ in die plek van Abjaʹtar aangestel.
36 Daarna het die koning Siʹmeï+ laat roep en vir hom gesê: “Bou vir jou ’n huis in Jerusalem, en gaan woon daar. Moenie die stad verlaat om na enige ander plek te gaan nie. 37 Die dag dat jy uitgaan en deur die Kidron-vallei+ gaan, sal jy sekerlik sterf. Jy sal vir jou eie dood verantwoordelik wees.”* 38 Siʹmeï het vir die koning gesê: “Wat u gesê het, is redelik. U kneg sal doen net soos my heer die koning gesê het.” Siʹmeï het toe ’n hele tyd lank in Jerusalem gebly.
39 Maar drie jaar later het twee van Siʹmeï se slawe weggeloop na Agis,+ die seun van Maʹäga, die koning van Gat. Toe Siʹmeï hoor dat sy slawe in Gat is, 40 het hy sy donkie dadelik opgesaal en na Agis in Gat gegaan om na sy slawe te gaan soek. Toe Siʹmeï met sy slawe van Gat af terugkeer, 41 is daar vir Salomo gesê: “Siʹmeï het uit Jerusalem na Gat gegaan, en hy is nou weer terug.” 42 Toe het die koning Siʹmeï laat roep en vir hom gesê: “Ek het jou voor Jehovah onder ’n eed geplaas en jou gewaarsku deur te sê: ‘Jy moet weet dat jy sal sterf as jy hier uitgaan en na enige ander plek gaan.’ En jy het vir my gesê: ‘Wat u gesê het, is redelik. Ek sal dit doen.’+ 43 Hoekom het jy dan nie die eed van Jehovah gehou en my bevel gehoorsaam nie?” 44 Die koning het toe vir Siʹmeï gesê: “Jy weet in jou hart wat jy alles aan my pa, Dawid, gedoen het,+ en Jehovah sal jou daarvoor terugbetaal.+ 45 Maar koning Salomo sal geseënd wees,+ en die troon van Dawid sal vir ewig stewig gevestig wees voor Jehovah.” 46 Die koning het toe vir Benaʹja, die seun van Jojaʹda, ’n bevel gegee, en hy het Siʹmeï gaan doodmaak.+
So is die koninkryk stewig gevestig in die hand van Salomo.+