Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die Vyfde Boek van Psalms
DIE rykes sê moontlik: “Ons seuns is soos plantjies, volgroeid in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, gebeeldhou in paleisstyl, ons skure is vol . . . , ons kleinvee vermeerder by duisende.” Verder roep die welgesteldes moontlik uit: “Gelukkig is die volk met wie dit so gaan!” Maar in teenstelling hiermee sê die psalmis: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” (Psalm 144:12-15). Hoe dan anders? Jehovah is die gelukkige God, en diegene wat hom aanbid, is gelukkig (1 Timoteus 1:11). Hierdie waarheid word duidelik gemaak in die laaste versameling goddelik geïnspireerde liedere wat uit Psalm 107 tot 150 bestaan.
Die Vyfde Boek van Psalms beklemtoon ook Jehovah se voortreflike eienskappe, waaronder sy liefderyke goedhartigheid, waaragtigheid en goedheid. Hoe meer insig ons in God se persoonlikheid kry, hoe meer sal dit ons beweeg om hom lief te hê en te vrees. Dit dra dan weer by tot ons geluk. Wat ’n waardevolle boodskap vind ons tog in die Vyfde Boek van Psalms!—Hebreërs 4:12.
GELUKKIG WEENS JEHOVAH SE LIEFDERYKE GOEDHARTIGHEID
“Laat mense Jehovah dank vir sy liefderyke goedhartigheid en vir sy wonderlike werke teenoor die mensekinders”, sing die Jode wat uit Babiloniese ballingskap terugkeer (Psalm 107:8, 15, 21, 31). Dawid loof God en sing: “U waaragtigheid [is] tot aan die hemelruim” (Psalm 108:4). In die volgende melodie bid hy: “Help my, o Jehovah my God; red my ooreenkomstig u liefderyke goedhartigheid” (Psalm 109:18, 19, 26). Psalm 110 is profeties van die Messias se heerskappy. “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid”, sê Psalm 111:10. Die volgende psalm toon dat “die man wat Jehovah vrees, [gelukkig is]”.—Psalm 112:1.
Psalm 113 tot 118 word die Hallel-Psalms genoem omdat die uitdrukking “Halleluja”, of “Loof Jah!” herhaaldelik daarin voorkom. Volgens die Misjna—’n derde-eeuse werk waarin vroeë mondelinge tradisies op skrif gestel is—is hierdie liedere tydens die Pasga en die drie jaarlikse feeste van die Jode gesing. Psalm 119, die langste van al die psalms en hoofstukke in die Bybel, verheerlik Jehovah se geopenbaarde woord, of boodskap.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
109:23—Wat het Dawid bedoel toe hy gesê het: “Soos ’n skaduwee wanneer dit lank word, moet ek heengaan”? Dawid het in digterlike taal gesê dat dit vir hom voel of sy dood baie naby is.—Psalm 102:11.
110:1, 2—Wat het “[Dawid se] Here”, Jesus Christus, gedoen terwyl hy aan die regterhand van God gesit het? Ná sy opstanding het Jesus na die hemel opgevaar en tot 1914 aan die regterhand van God gewag om as Koning te begin heers. Gedurende daardie tyd het Jesus oor sy gesalfde volgelinge geheers, hulle in hulle predikings- en dissipelmaakwerk gerig en hulle voorberei om saam met hom in sy Koninkryk te heers.—Matteus 24:14; 28:18-20; Lukas 22:28-30.
110:4—Wat het Jehovah ‘gesweer sonder om spyt te wees’? Hierdie eed is die verbond wat Jehovah met Jesus Christus gemaak het om as Koning en Hoëpriester te dien.—Lukas 22:29.
113:3—In watter sin moet Jehovah se naam geloof word “van die opgang van die son tot sy ondergang”? Dit behels meer as ’n groep mense wat God elke dag aanbid. Vandat die son in die ooste opkom totdat dit in die weste ondergaan, verlig die strale van die son die ganse planeet. Jehovah moet eweneens aardwyd geloof word. Dit kan nie gedoen word sonder ’n georganiseerde poging nie. As Jehovah se Getuies het ons die kosbare voorreg om God te loof en ywerig aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem.
116:15—Hoe “kosbaar in die oë van Jehovah is die dood van sy lojales”? Jehovah se aanbidders is vir hom so kosbaar dat hy hulle dood as ’n liggaam, of groep, eenvoudig nie kan toelaat nie. As Jehovah sou toelaat dat dit gebeur, sou dit wees asof sy vyande magtiger is as hy. Wat meer is, dan sou daar niemand op die aarde oorgebly het om as ’n grondslag vir die nuwe wêreld te dien nie.
119:71—Hoe kan dit goed wees om teistering te verduur? Ontberinge kan ons leer om in groter mate op Jehovah te vertrou, om ernstiger tot hom te bid en met groter ywer die Bybel te bestudeer en toe te pas wat dit sê. Verder kan ons reaksie op beproewinge persoonlikheidsgebreke na vore bring wat reggestel kan word. Lyding sal ons nie verbitterd maak as ons toelaat dat dit ons louter nie.
119:96—Wat word bedoel met ‘’n einde aan alle volmaaktheid’? Die psalmis praat van volmaaktheid uit ’n menslike oogpunt. Hy het waarskynlik in gedagte gehad dat die mens se idee van volmaaktheid beperk is. Daarenteen het God se gebooie nie hierdie beperking nie. Die leiding wat dit bied, is van toepassing op alle aspekte van die lewe. “Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het”, lui die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, “net u gebod het geen begrensing nie.”
119:164—Wat beteken dit om God “sewe keer per dag” te loof? Die getal sewe dui dikwels op volkomenheid. Die psalmis sê dus dat Jehovah al die lof verdien.
Lesse vir ons:
107:27-31. Die wysheid van die wêreld sal “verward” wees wanneer Armageddon aanbreek (Openbaring 16:14, 16). Dit kan niemand van vernietiging red nie. Slegs diegene wat op Jehovah vertrou vir redding, sal lewe om hom te “dank vir sy liefderyke goedhartigheid”.
109:30, 31; 110:5. ’n Soldaat se regterhand wat die swaard hanteer, word gewoonlik nie beskerm deur die skild, wat met die linkerhand vasgehou word nie. Jehovah is, figuurlik gesproke, “aan die regterhand” van sy knegte, om vir hulle te veg. So bied hy hulle beskerming en hulp—’n goeie rede vir ons om ‘hom grootliks te prys’!
113:4-9. Jehovah is so hoog verhewe dat hy hom selfs moet neerbuig om “na die hemel . . . te kyk”. En tog is hy medelydend teenoor die geringe, die arme en die onvrugbare vrou. Die Soewereine Heer Jehovah is nederig en wil hê dat sy aanbidders ook so moet wees.—Jakobus 4:6.
114:3-7. Wanneer ons leer van die wonderlike werke wat Jehovah ten behoewe van sy volk verrig het by die Rooi See, die Jordaanrivier en die berg Sinai, behoort dit ons diep te tref. Dit behoort die mensdom, wat deur die “aarde” afgebeeld word, met ontsag te vervul—hulle in figuurlike sin te laat “[ineenkrimp] van pyn”—weens die Here.
119:97-101. As ons wysheid, insig en verstand uit God se Woord verkry, beskerm dit ons teen geestelike skade.
119:105. God se Woord is ’n lamp vir ons voet in die sin dat dit ons kan help om die probleme van vandag te hanteer. Dit verlig ook ons pad in figuurlike sin, aangesien dit God se voorneme vir die toekoms bekend maak.
GELUKKIG ONDANKS TEËSPOED
Hoe kan ons moeilike omstandighede die hoof bied en teëspoed verduur? Psalm 120 tot 134 gee ’n duidelike antwoord op hierdie vraag. Ons kan ontberinge te bowe kom en ons vreugde behou deur op Jehovah te vertrou vir hulp. Hierdie psalms, wat Liedere van die Opgange genoem word, is waarskynlik gesing terwyl die Israeliete na Jerusalem gereis het vir die viering van hulle jaarlikse feeste.
Psalm 135 en 136 beeld Jehovah uit as die Een wat alles doen wat hom behaag, in skerp teenstelling met hulpelose afgode. Die 136ste Psalm is gekomponeer vir wisselsang—die laaste deel van elke vers is gesing in antwoord op die eerste deel. Die volgende psalm vertel van die bedroefde toestand van die Jode in Babilon wat Jehovah in Sion wou aanbid. Psalm 138 tot 145 is deur Dawid geskryf. Hy wil ‘Jehovah met sy hele hart prys’. Waarom? “Omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is”, sê hy (Psalm 138:1; 139:14). In die volgende vyf psalms bid Dawid vir beskerming teen slegte mense, vir regverdige teregwysing, vir verlossing van vervolgers en vir leiding in verband met gedrag. Hy vestig die aandag op die geluk van Jehovah se volk (Psalm 144:15). Nadat Dawid God se grootheid en goedheid hersien het, verklaar hy: “My mond sal die lof van Jehovah uitspreek; en laat alle vlees sy heilige naam loof tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”—Psalm 145:21.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
122:3—Hoe was Jerusalem ’n stad “wat in eenheid saamgevoeg is”? Soos gewoonlik die geval was met stede in die ou tyd, is die huise in Jerusalem naby mekaar gebou. Dit was ’n dig beboude stad en dus maklik om te verdedig. En omdat die huise so naby mekaar was, kon stadsbewoners op mekaar staat maak vir hulp en beskerming. Dit dui op die geestelike eenheid van die 12 stamme van Israel wanneer hulle vir aanbidding bymekaargekom het.
123:2—Wat word toegelig deur die illustrasie omtrent die oë van knegte? Knegte en diensmeisies kyk na die hand van ’n heer of ’n meesteres om twee redes: om sy of haar wense te bepaal en om beskerming en lewensbenodigdhede te ontvang. Ons oë is eweneens op Jehovah om te onderskei wat sy wil is en sy guns te verkry.
131:1-3—Hoe het Dawid ‘sy siel tot bedaring gebring en stilgemaak, soos ’n gespeende kind by sy moeder’? Soos ’n gespeende kind leer om troos en tevredenheid in sy moeder se arms te vind, het Dawid geleer om sy siel tot bedaring te bring en te kalmeer “soos ’n gespeende kind by sy moeder”. Hoe? Deur nie ’n hoogmoedige hart en trotse oë te hê en agter dinge aan te gaan wat vir hom te groot was nie. Dawid het nie vernaamheid nagestreef nie, maar hy het gewoonlik eerder sy beperkings erken en nederigheid geopenbaar. Ons is wys as ons sy gesindheid navolg, veral wanneer ons na voorregte in die gemeente streef.
Lesse vir ons:
120:1, 2, 6, 7. Lasterlike en venynige woorde kan onbeskryflike benoudheid vir ander veroorsaak. Om ons tong in toom te hou, is een manier om te toon dat ons ‘vrede voorstaan’.
120:3, 4. As ons iemand moet verdra wat ’n “bedrieglike tong” het, kan ons vertroosting put uit die wete dat Jehovah sake op sy bestemde tyd sal regstel. Lasteraars sal deur die toedoen van “’n sterk man” rampspoed ervaar. Hulle sal gewis Jehovah se vurige oordeel ontvang wat deur die “brandende kole van die besemstruike” gesimboliseer word.
127:1, 2. In al ons strewes moet ons op Jehovah vertrou vir leiding.
133:1-3. Die eenheid van Jehovah se volk is strelend, heilsaam en verkwikkend. Ons moet dit nie versteur deur foutvinderig, twisgierig of klaerig te wees nie.
137:1, 5, 6. Aanbidders van Jehovah wat in ballingskap was, het geheg gevoel aan Sion, wat God se organisasie verteenwoordig het. Wat van ons? Het ons ’n lojale gehegtheid aan die organisasie wat Jehovah vandag gebruik?
138:2. Jehovah ‘maak sy woord groot selfs bo sy ganse naam’, in die sin dat die vervulling van alles wat hy in sy naam belowe het, al ons verwagtinge ver sal oortref. Ons het waarlik wonderlike vooruitsigte.
139:1-6, 15, 16. Jehovah ken ons bedrywighede, ons gedagtes en ons woorde, selfs nog voordat ons dit uitspreek. Hy ken ons vandat die embrio gevorm is, voordat elke liggaamsdeel onderskei kon word. God se kennis van ons as individue is “te wonderbaar” om te begryp. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah nie net sien wanneer ons voor ’n beproewende situasie te staan kom nie, maak ook verstaan watter uitwerking dit op ons het!
139:7-12. Daar is nie ’n plek waarheen ons kan gaan wat te afgeleë is vir God om ons te versterk nie.
139:17, 18. Het kennis van Jehovah vir ons aangenaam geword? (Spreuke 2:10). Indien wel, het ons ’n onuitputlike fontein van genot gevind. Jehovah se gedagtes is “meer as selfs die sandkorrels”. Daar sal altyd nog wees om van hom te leer.
139:23, 24. Dit moet ons begeerte wees dat Jehovah die innerlike mens ondersoek vir ‘pynlike weë’—verkeerde gedagtes, begeertes en neigings—en ons help om daarvan ontslae te raak.
143:4-7. Hoe kan ons selfs groot ontberinge verduur? Die psalmis gee ons die sleutel: Peins oor Jehovah se dade, oordink sy werke en bid tot hom vir hulp.
“Loof Jah!”
Elk van die eerste vier versamelings van die psalms eindig met ’n lofbetuiging aan Jehovah (Psalm 41:13; 72:19, 20; 89:52; 106:48). Die laaste versameling is geen uitsondering nie. Psalm 150:6 sê: “Ja, laat alles wat asemhaal, Jah loof. Loof Jah!” Dit sal beslis ’n werklikheid word in God se nuwe wêreld.
Terwyl ons uitsien na daardie geseënde tyd, het ons oorgenoeg rede om die ware God te verheerlik en sy naam te loof. Beweeg dit ons nie om Jehovah met ’n dankbare hart te loof wanneer ons dink aan die geluk wat ons ervaar omdat ons hom ken en ’n goeie verhouding met hom geniet nie?
[Prent op bladsy 15]
Jehovah se wonderlike werke is ontsagwekkend
[Prent op bladsy 16]
Jehovah se gedagtes is “meer as selfs die sandkorrels”