Jehovah is groot in lojale liefde
“Jehovah is . . . groot in liefderyke goedhartigheid.”—PSALM 145:8.
1. Hoe verreikend is God se liefde?
“GOD is liefde” (1 Johannes 4:8). Daardie treffende uitdrukking bewys dat Jehovah se heerskappy op liefde gegrond is. Trouens, selfs mense wat hom nie gehoorsaam nie, vind baat by die son en reën wat hy liefdevol voorsien! (Matteus 5:44, 45). Weens God se liefde vir die mensdom kan selfs sy vyande berou toon, hulle tot hom wend en die lewe verkry (Johannes 3:16). Maar Jehovah gaan verstokte goddeloses binnekort vernietig sodat diegene wat hom liefhet, die ewige lewe in ’n regverdige nuwe wêreld kan geniet.—Psalm 37:9-11, 29; 2 Petrus 3:13.
2. Watter spesiale aspek van liefde betoon Jehovah teenoor diegene wat in ’n toegewyde verhouding met hom is?
2 Jehovah betoon liefde teenoor sy ware aanbidders op ’n kosbare, blywende manier. Hierdie liefde word beskryf deur ’n Hebreeuse woord wat vertaal word met “liefderyke goedhartigheid”, of “lojale liefde”. Koning Dawid van eertydse Israel het diepe waardering gehad vir God se liefderyke goedhartigheid. Weens Dawid se persoonlike ondervindinge en bepeinsing oor God se handelinge met ander, kon hy vol vertroue sing: “Jehovah is . . . groot in liefderyke goedhartigheid [of, “lojale liefde”].”—Psalm 145:8.
Hoe God se lojale knegte geïdentifiseer kan word
3, 4. (a) Hoe help Psalm 145 ons om Jehovah se lojales te identifiseer? (b) Hoe “loof” God se lojales hom?
3 Die profeet Samuel se moeder, Hanna, het aangaande Jehovah God gesê: “Hy bewaar die voete van sy lojales” (1 Samuel 2:9). Wie is hierdie “lojales”? Koning Dawid gee die antwoord. Nadat hy Jehovah vir Sy wonderlike eienskappe geprys het, sê hy: “U lojales sal u loof” (Psalm 145:10). Hoe loof mense God? Hoofsaaklik deur eer en heerlikheid aan hom toe te skryf.
4 Jehovah se lojales is dus diegene wat hulle tong gebruik om hom te prys. Waaroor handel hulle gesprekke gewoonlik tydens gesellighede en by Christelike vergaderinge? Natuurlik oor Jehovah se Koninkryk! God se lojale knegte voel net soos Dawid, wat gesing het: “Oor die heerlikheid van u [Jehovah se] koningskap sal hulle praat, en oor u mag sal hulle spreek.”—Psalm 145:11.
5. Hoe weet ons dat Jehovah luister wanneer sy lojales hom prys?
5 Luister Jehovah wanneer sy lojales hom loof? Ja, hy skenk aandag aan wat hulle sê. In ’n profesie wat betrekking het op ware aanbidding in ons dag, het Maleagi geskryf: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink” (Maleagi 3:16). Dit behaag Jehovah werklik wanneer sy lojale knegte hom prys, en hy onthou hulle.
6. Watter bedrywigheid help ons om God se lojales te identifiseer?
6 Jehovah se lojale knegte kan ook geïdentifiseer word aan die moed en inisiatief wat hulle aan die dag lê om met mense te praat wat nie aanbidders van die ware God is nie. Ja, God se lojales maak “aan die mensekinders sy magtige dade bekend . . . en die heerlikheid van die prag van sy koningskap” (Psalm 145:12). Soek jy na en maak jy ten volle gebruik van geleenthede om met vreemdelinge oor Jehovah se koningskap te praat? Anders as menseregerings, wat binnekort tot die verlede sal behoort, is sy koningskap ewigdurend (1 Timoteus 1:17). Dit is dringend dat mense hoor van Jehovah se ewige koningskap en hulle standpunt as ondersteuners daarvan inneem. “U koningskap is ’n koningskap vir alle onbepaalde tye”, het Dawid gesing, “en u heerskappy duur deur alle opeenvolgende geslagte.”—Psalm 145:13.
7, 8. Wat het in 1914 gebeur, en watter bewyse is daar dat God nou deur middel van die Koninkryk van sy Seun heers?
7 Sedert 1914 is daar bykomende rede om oor Jehovah se koningskap te praat. In daardie jaar het God die hemelse Messiaanse Koninkryk opgerig met Jesus Christus, die Seun van Dawid, as Koning. Sodoende het Jehovah sy belofte vervul dat Dawid se koningskap tot onbepaalde tyd stewig gevestig sal wees.—2 Samuel 7:12, 13; Lukas 1:32, 33.
8 Die bewyse dat Jehovah nou heers deur middel van die Koninkryk van sy Seun, Jesus Christus, blyk duidelik uit die progressiewe vervulling van die teken van Jesus se teenwoordigheid. Die uitsonderlikste deel van daardie teken behels die werk wat Jesus voorspel het al God se lojales sou doen, naamlik: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:3-14). Omdat God se lojale knegte hierdie profesie ywerig vervul, neem daar nou meer as sesmiljoen mans, vroue en kinders deel aan hierdie grootse werk wat nooit weer gedoen sal word nie. Binnekort sal die einde aanbreek vir alle teenstanders van Jehovah se Koninkryk.—Openbaring 11:15, 18.
Vind baat by Jehovah se soewereiniteit
9, 10. Watter teenstelling is daar tussen Jehovah en menseheersers?
9 As ons toegewyde Christene is, bring ons verhouding met die Soewereine Heer Jehovah vir ons baie voordele mee (Psalm 71:5; 116:12). Omdat ons God vrees en regverdigheid beoefen, geniet ons byvoorbeeld sy goedkeuring en is ons in geestelike sin na aan hom (Handelinge 10:34, 35; Jakobus 4:8). In teenstelling hiermee soek menseheersers dikwels die geselskap op van vooraanstaande mense, soos militêre leiers, welgestelde sakemanne of sport- en vermaaklikheidsterre. Volgens die Sowetan, ’n koerant in Afrika, het ’n vername regeringsamptenaar die volgende oor armoedige gebiede in sy land gesê: “Ek verstaan waarom die meeste van ons nie na sulke gebiede wil gaan nie. Dit is eenvoudig omdat ons wil vergeet dat sulke situasies bestaan. Dit kwel ons gewete en ons voel verleë omdat ons sulke duur [motors] ry.”
10 Daar is natuurlik menseheersers wat opreg besorg is oor die welsyn van hulle onderdane. Maar selfs die edelstes onder hulle ken nie hulle onderdane intiem nie. Ons kan beslis vra: Is daar enige heerser wat soveel omgee vir al sy onderdane dat hy elkeen van hulle vinnig te hulp snel in moeilike tye? Ja, daar is. Dawid het geskryf: “Jehovah ondersteun almal wat val en rig almal op wat neergeboë is.”—Psalm 145:14.
11. Watter beproewinge ondervind God se lojales, en watter hulp is tot hulle beskikking?
11 Jehovah God se lojales kom voor baie beproewinge en teëspoed te staan as gevolg van hulle eie onvolmaaktheid en omdat hulle in ’n wêreld lewe wat in die mag lê van “die bose”, Satan (1 Johannes 5:19; Psalm 34:19). Christene ondervind vervolging. Party ly weens chroniese siektes of die dood van ’n geliefde. Soms maak Jehovah se lojales foute wat hulle kan ontmoedig sodat hulle “neergeboë” voel. Maar ongeag watter beproewing oor hulle kom, Jehovah is altyd gereed om elkeen van hulle te vertroos en geestelik te versterk. Die koning Jesus Christus toon dieselfde liefdevolle belangstelling in sy lojale onderdane.—Psalm 72:12-14.
Bevredigende voedsel op die regte tyd
12, 13. Hoe goed voorsien Jehovah in die behoeftes van “alles wat lewe”?
12 Weens sy groot liefderyke goedhartigheid voorsien Jehovah in al die behoeftes van sy knegte. Dit sluit in dat hy hulle van fisiese voedsel voorsien. Koning Dawid het geskryf: “Op u [Jehovah] is almal se oë hoopvol gerig, en u gee hulle hulle voedsel op die regte tyd. U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe” (Psalm 145:15, 16). Selfs gedurende moeilike tye kan Jehovah sake so bewerk dat sy lojales “brood vir die dag” het.—Lukas 11:3; 12:29, 30.
13 Dawid het gemeld dat “alles wat lewe”, bevredig word. Dit sluit die diere in. Sonder die aarde se oorvloedige plantegroei op land en in die see, sou waterdiere, voëls en landdiere geen suurstof hê om in te asem of voedsel om te eet nie (Psalm 104:14). Maar Jehovah sorg dat al hulle behoeftes bevredig word.
14, 15. Hoe word geestelike voedsel vandag voorsien?
14 Anders as diere het mense ’n geestelike behoefte (Matteus 5:3). En Jehovah bevredig die geestelike behoeftes van sy lojales op ’n wonderlike wyse! Jesus het voor sy dood belowe dat “die getroue en verstandige slaaf” sy volgelinge van geestelike “voedsel op die regte tyd” sou voorsien (Matteus 24:45). Vandag bestaan daardie slaafklas uit die oorblyfsel van die 144 000 gesalfdes. Deur hulle het Jehovah inderdaad ’n oorvloed geestelike voedsel voorsien.
15 Die meeste van Jehovah se knegte vind byvoorbeeld nou baat by ’n moderne en akkurate vertaling van die Bybel in hulle eie taal. Wat ’n wonderlike seën is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif tog! Ook word daar voortdurend miljoene Bybelstudiehulpe in meer as 300 tale gedruk. Al hierdie geestelike voedsel is ’n seën vir ware aanbidders oor die hele aarde. Wie verdien die lof hiervoor? Jehovah God. Deur sy groot liefderyke goedhartigheid het hy dit vir die slaafklas moontlik gemaak om “voedsel op die regte tyd” te voorsien. “Die begeerte van alles wat lewe” in die hedendaagse geestelike paradys, word deur middel van hierdie voorsienings bevredig. En hoe verheug is Jehovah se knegte tog dat hulle die hoop het om binnekort te sien hoe die aarde in ’n fisiese paradys omskep word!—Lukas 23:42, 43.
16, 17. (a) Watter voorbeelde is daar van geestelike voedsel wat op die regte tyd voorsien is? (b) Hoe druk Psalm 145 die gevoelens uit van God se lojales oor die vernaamste geskil wat deur Satan geopper is?
16 Kyk na ’n treffende voorbeeld van geestelike voedsel wat op die regte tyd ontvang is. Gedurende 1939 het die Tweede Wêreldoorlog in Europa begin. In daardie selfde jaar het The Watchtower van 1 November ’n artikel bevat met die titel “Neutraliteit”. As gevolg van die duidelike inligting daarin het Jehovah se Getuies oor die hele wêreld heen besef dat hulle streng neutraliteit moet handhaaf wat die aangeleenthede van die strydende nasies betref. Dit het hulle die woede van regerings aan albei kante van daardie ses jaar lange konflik op die hals gehaal. Maar al is hulle werk verbied en is hulle vervolg, het God se lojale knegte aangehou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Van 1939 tot 1946 is hulle geseën met ’n verbasende groei van 157 persent. Wat meer is, hulle merkwaardige rekord van onkreukbaarheid tydens daardie oorlog help mense nog steeds om die ware geloof te identifiseer.—Jesaja 2:2-4.
17 Jehovah voorsien nie net tydige nie, maar ook uiters bevredigende geestelike voedsel. Terwyl die nasies gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die stryd gewikkel was, is Jehovah se volk gehelp om hulle aandag toe te spits op iets baie belangrikers as hulle eie redding. Jehovah het hulle gehelp om te verstaan dat die vernaamste geskil, waarby die ganse heelal betrokke is, met Jehovah se regmatige soewereiniteit verband hou. Hoe hartverblydend is dit tog om te weet dat elke Getuie van Jehovah deur sy lojaliteit ’n klein aandeel daaraan gehad het om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en die Duiwel ’n leuenaar te bewys! (Spreuke 27:11). Anders as Satan, wat laster teen Jehovah en die manier waarop hy heers, gaan Jehovah se lojales voort om in die openbaar te verkondig: “Jehovah is regverdig in al sy weë.”—Psalm 145:17.
18. Watter onlangse voorbeeld is daar van geestelike voedsel wat tydig sowel as uiters bevredigend is?
18 Nog ’n voorbeeld van tydige, bevredigende geestelike voedsel is die boek Kom nader aan Jehovah, wat vrygestel is by honderde “Ywerige Koninkryksverkondigers”-streekbyeenkomste wat in 2002/03 oor die hele wêreld gehou is. Hierdie boek, wat deur “die getroue en verstandige slaaf” saamgestel is en deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vestig die aandag op Jehovah God se wonderlike eienskappe, waaronder dié wat in Psalm 145 gemeld word. Hierdie uitstekende boek sal sekerlik ’n belangrike rol daarin speel om God se lojales te help om selfs nader aan hom te kom.
’n Tyd om nader aan Jehovah te kom
19. Watter kritieke tyd kom nader, en hoe kan ons daarteen opgewasse wees?
19 Die beslegting van die geskil oor Jehovah se soewereiniteit nader nou ’n kritieke stadium. Soos in Esegiël hoofstuk 38 voorspel is, sal Satan binnekort sy rol as “Gog van die land Magog” voltooi. Dit sal ’n wêreldwye aanval op Jehovah se volk beteken. Satan sal ’n verwoede poging aanwend om die onkreukbaarheid van God se lojales te ondermyn. Soos nog nooit tevore nie sal aanbidders van Jehovah hom ernstig moet aanroep, selfs met hulpgeroep. Sal hulle eerbiedige vrees vir God en hulle liefde vir hom dan tevergeefs wees? Beslis nie, want Psalm 145 sê: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in waaragtigheid aanroep. Aan die begeerte van dié wat hom vrees, sal hy voldoen, en hulle hulpgeroep sal hy hoor, en hy sal hulle red. Jehovah bewaar almal wat hom liefhet, maar al die goddeloses sal hy verdelg.”—Psalm 145:18-20.
20. Hoe sal die woorde van Psalm 145:18-20 in die nabye toekoms bewaarheid word?
20 Hoe opwindend sal dit tog wees om Jehovah se nabyheid en reddingskrag te ondervind wanneer hy al die goddeloses vernietig! Gedurende daardie kritieke tyd wat nou so naby is, sal Jehovah net dié verhoor “wat hom in waaragtigheid aanroep”. Hy sal huigelaars beslis nie verhoor nie. God se Woord toon duidelik dat dit nog altyd tevergeefs was vir die goddeloses om sy naam op die laaste nippertjie te gebruik.—Spreuke 1:28, 29; Miga 3:4; Lukas 13:24, 25.
21. Hoe toon Jehovah se lojales dat hulle behae daarin skep om die goddelike naam te gebruik?
21 Dit is nou belangriker as ooit tevore dat diegene wat Jehovah vrees, “hom in waaragtigheid aanroep”. Sy lojales skep behae daarin om sy naam in hulle gebede te gebruik, asook in hulle kommentare by hulle vergaderinge. Hulle gebruik die goddelike naam in hulle gesprekke. En hulle verkondig Jehovah se naam moedig in hulle openbare bediening.—Romeine 10:10, 13-15.
22. Waarom is dit noodsaaklik om wêreldse gesindhede en begeertes te bly weerstaan?
22 As ons voortdurend die voordele wil geniet wat ons hegte verhouding met Jehovah God meebring, is dit ook noodsaaklik dat ons aanhou stry teen dinge wat ons geestelikheid kan ondermyn, soos materialisme, onheilsame vermaak, ’n onvergewensgesinde gees of onverskilligheid teenoor behoeftiges (1 Johannes 2:15-17; 3:15-17). As hierdie strewes en neigings nie reggestel word nie, kan dit tot die beoefening van ernstige sonde lei en uiteindelik veroorsaak dat ons Jehovah se goedkeuring verloor (1 Johannes 2:1, 2; 3:6). Dit is wys om in gedagte te hou dat Jehovah alleenlik sal voortgaan om liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, teenoor ons te betoon as ons aan hom getrou bly.—2 Samuel 22:26.
23. Watter wonderlike toekoms wag op al God se lojales?
23 Laat ons dus ons gedagtes gerig hou op die wonderlike toekoms wat op al Jehovah se lojales wag. Sodoende sal ons die wonderlike vooruitsig hê om onder diegene te wees wat Jehovah “die hele dag” en selfs “vir ewig” sal verhef en loof (Psalm 145:1, 2). Mag ons ons derhalwe ‘in God se liefde hou met die ewige lewe in die vooruitsig’ (Judas 20, 21). En mag ons, terwyl ons voortgaan om baat te vind by ons hemelse Vader se wonderlike eienskappe, waaronder die groot liefderyke goedhartigheid wat hy betoon aan dié wat hom liefhet, Dawid se woorde in die slotvers van Psalm 145 ons eie maak: “My mond sal die lof van Jehovah uitspreek; en laat alle vlees sy heilige naam loof tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”
Hoe sou jy antwoord?
• Hoe help Psalm 145 ons om God se lojales te identifiseer?
• Hoe ‘bevredig Jehovah die begeerte van alles wat lewe’?
• Waarom moet ons nader aan Jehovah kom?
[Prent op bladsy 16]
God se lojale knegte verlustig hulle daarin om oor sy magtige dade te praat
[Prent op bladsy 17]
Jehovah se knegte help vreemdelinge moedig om te leer van die heerlikheid van sy koningskap
[Prente op bladsy 18]
Jehovah voorsien voedsel aan “alles wat lewe”
[Erkenning op bladsy 18]
Diere: Parque de la Naturaleza de Cabárceno
[Prent op bladsy 19]
Jehovah gee krag en leiding aan sy lojale knegte, wat sy hulp in gebed vra