“Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe”
’N SKERPSINNIGE mens is prakties en slim, gebruik gesonde oordeel en het goeie waarnemingsvermoëns, is oordeelkundig en verstandig, besit onderskeidingsvermoë en is wys. Hy is nie slinks of manipulerend nie. “Elke skerpsinnige sal met kennis optree”, sê Spreuke 13:16. Ja, skerpsinnigheid, of verstandigheid, is ’n begeerlike eienskap.
Hoe kan ons skerpsinnigheid in ons daaglikse lewe openbaar? Hoe kan hierdie eienskap gesien word in die keuses wat ons maak, die manier waarop ons ander behandel en die wyse waarop ons op verskeie situasies reageer? Watter belonings geniet die skerpsinniges? Watter rampspoed vermy hulle? Koning Salomo van eertydse Israel gee praktiese antwoorde op hierdie vrae, soos ons in Spreuke 14:12-25 lees.a
Kies jou weg wyslik
Wyse besluite en sukses in die lewe verg beslis die vermoë om te onderskei tussen wat reg is en wat verkeerd is. Die Bybel waarsku egter: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spreuke 14:12). Ons moet dus leer om te onderskei tussen wat werklik reg is en wat reg lyk. Die uitdrukking “die weë van die dood” toon dat daar baie van hierdie bedrieglike paaie is. Kyk na ’n paar gebiede waarvan ons bewus moet wees en moet vermy.
Die rykes en beroemdes van die wêreld word oor die algemeen beskou as eerbare en bewonderenswaardige mense. Hulle sukses op sosiale en finansiële gebied kan dit laat lyk of die manier waarop hulle dinge doen, reg is. Maar wat van die metodes wat baie van hierdie persone gebruik om rykdom of roem te verwerf? Is hulle weë altyd onberispelik en sedelik reg? Dan is daar mense wat bewonderenswaardige ywer vir hulle godsdiensoortuigings aan die dag lê. Maar is hulle opregtheid werklik ’n bewys dat hulle oortuigings reg is?—Romeine 10:2, 3.
’n Weg kan ook weens selfbedrog reg lyk. As ons ons besluite grond op wat ons voel reg is, vertrou ons op die hart, ’n verraderlike gids (Jeremia 17:9). ’n Oningeligte en onopgeleide gewete kan ons mislei om te dink dat die verkeerde weg die regte weg is. Wat sal ons dan help om die regte weg te kies?
Ywerige persoonlike studie van die dieper waarhede van God se Woord is noodsaaklik as ons “waarnemingsvermoëns” wil verkry wat “geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”. Verder moet ons hierdie vermoëns “deur gebruik” oefen om Bybelbeginsels toe te pas (Hebreërs 5:14). Ons moet versigtig wees dat ons nie toelaat dat ’n weg wat bloot reg lyk, ons laat afdwaal van ‘die smal pad wat na die lewe lei’ nie.—Matteus 7:13, 14.
Wanneer “die hart pyn ly”
Kan ons gelukkig wees wanneer ons nie innerlike vrede het nie? Word diepgewortelde pyn deur gelag en vrolikheid verlig? Openbaar dit skerpsinnigheid om gevoelens van depressie met drank te probeer verdryf, om dwelms te gebruik of om van hierdie gevoelens te probeer ontslae raak deur ’n onsedelike lewe te lei? Die antwoord is nee. “Onder gelag kan die hart pyn ly”, sê die wyse koning.—Spreuke 14:13a.
Gelag kan die pyn verberg, maar dit verwyder dit nie. “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”, sê die Bybel. Ja, daar is “’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag; ’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om rond te huppel” (Prediker 3:1, 4). Wanneer depressie voortduur, moet ons stappe doen om dit te oorkom en “bekwame leiding” soek wanneer nodig (Spreuke 24:6).b Gelag en pret het wel waarde, maar relatief gesproke is daardie waarde maar min. Salomo waarsku teen verkeerde vorme van pret en oormatige vermaak deur te sê: “Blydskap loop op droefheid uit.”—Spreuke 14:13b.
Die troueloses en die goeies sal versadig word—Hoe?
“Wie troueloos van hart is, sal versadig word met die gevolge van sy eie weë”, sê die koning van Israel verder, “maar die goeie man met die gevolge van sy handelinge” (Spreuke 14:14). Hoe word die troueloses en die goeies versadig met die gevolge van hulle handelinge?
’n Trouelose persoon is nie besorg daaroor dat hy rekenskap aan God moet gee nie. Daarom is dit vir ’n persoon wat troueloos is, iemand wat geen geloof het nie, glad nie belangrik om te doen wat reg is in Jehovah se oë nie (1 Petrus 4:3-5). So iemand word met die gevolge van sy materialistiese lewenstyl versadig (Psalm 144:11-15a). Aan die ander kant dra die goeie persoon geestelike belange op die hart. In al sy handelinge bly hy by God se regverdige standaarde. So iemand word met die gevolge daarvan versadig, want Jehovah is sy God en hy put onvergelyklike vreugde daaruit om die Allerhoogste te dien.—Psalm 144:15b.
Moenie ‘elke woord glo’ nie
Salomo stel die weë van die onervarenes teenoor dié van die skerpsinniges en sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Die skerpsinnige is nie goedgelowig nie. Hy glo nie alles wat hy hoor nie en laat ander nie vir hom dink nie, maar gee eerder wyslik ag op sy voetstappe. Omdat hy al die beskikbare feite versamel, tree hy met kennis op.
Neem byvoorbeeld die vraag: “Is daar ’n God?” Die onervarene is geneig om saam te gaan met die gewilde mening of met wat vooraanstaande mense glo. Die skerpsinnige daarenteen neem tyd om die feite te ondersoek. Hy dink na oor tekste soos Romeine 1:20 en Hebreërs 3:4. In geestelike sake aanvaar ’n skerpsinnige persoon nie net die woord van godsdiensleiers nie. Hy “stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het”.—1 Johannes 4:1.
Hoe wys is dit tog om ag te slaan op die raad om nie ‘elke woord te glo’ nie! Veral diegene aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is om ander in die Christengemeente raad te gee, moet dit ter harte neem. Die raadgewer moet die volle prentjie van die situasie hê. Hy moet goed luister en feite van al die partye versamel sodat hy nie verkeerde of eensydige raad gee nie.—Spreuke 18:13; 29:20.
“Die man met denkvermoëns word gehaat”
Die koning van Israel meld nog ’n verskil tussen die wyses en die dwase deur te sê: “Die wyse vrees en wyk af van die kwaad, maar die sot word woedend en selfversekerd. Hy wat gou toornig word, sal dwaas optree, maar die man met denkvermoëns word gehaat.”—Spreuke 14:16, 17.
Die wyse persoon vrees die gevolge wat ’n verkeerde weg meebring. Daarom is hy versigtig en waardeer hy enige raad wat hom help om slegte dade te vermy. Die sot het nie hierdie vrees nie. Omdat hy selfversekerd is, is hy verwaand en ignoreer hy die raad van ander. So ’n persoon is geneig tot woede en tree derhalwe dwaas op. Maar waarom sal ’n man met denkvermoëns ’n voorwerp van vyandigheid word?
Die uitdrukking in die oorspronklike taal wat met “denkvermoëns” vertaal word, het twee betekenisse. In ’n positiewe sin kan dit op onderskeidingsvermoë of skranderheid dui (Spreuke 1:4; 2:11; 3:21). Of in ’n negatiewe sin kan die uitdrukking verwys na goddelose idees of kwaadwillige gedagtes.—Psalm 37:7; Spreuke 12:2; 24:8.
As die uitdrukking “die man met denkvermoëns” na iemand verwys wat kwaadwillig planne beraam, is dit nie moeilik om te sien waarom so ’n persoon gehaat word nie. Maar is dit nie waar dat ’n man met onderskeidingsvermoë ook gehaat kan word deur diegene wat nie hierdie eienskap besit nie? Byvoorbeeld, diegene wat hulle verstandelike vermoëns gebruik en besluit om “geen deel van die wêreld” te wees nie, word deur die wêreld gehaat (Johannes 15:19). Jong Christene wat hulle denkvermoëns gebruik en onheilsame portuurdruk weerstaan sodat hulle verkeerde gedrag kan vermy, word bespot. Die feit is dat ware aanbidders gehaat word deur die wêreld, wat in die mag van Satan die Duiwel lê.—1 Johannes 5:19.
‘Die slegtes sal hulle moet neerbuig’
Die skerpsinniges verskil op nog ’n manier van die onervarenes. “Die onervarenes sal beslis dwaasheid in besit neem, maar die skerpsinniges sal kennis as ’n hooftooisel dra” (Spreuke 14:18). Omdat die onervarenes onderskeidingsvermoë kortkom, maak hulle dwase keuses. Dit word hulle lot in die lewe. Aan die ander kant versier kennis die skerpsinniges net soos ’n kroon ’n koning vereer.
“Die slegtes sal hulle voor die goeies moet neerbuig”, sê die wyse koning, “en die goddeloses by die poorte van die regverdige” (Spreuke 14:19). Met ander woorde, die goeies sal uiteindelik oor die goddeloses seëvier. Beskou die vermeerdering in getalle en die beter lewenswyse wat God se volk vandag geniet. Wanneer hulle hierdie seëninge sien wat Jehovah se knegte geniet, sal dit party teenstanders dwing om ‘hulle neer te buig’ voor Jehovah se figuurlike hemelse vrou, wat deur die geesgesalfde oorblyfsel op aarde verteenwoordig word. Hierdie teenstanders sal op die laatste by Armageddon gedwing word om te erken dat die aardse deel van God se organisasie waarlik die hemelse deel daarvan verteenwoordig.—Jesaja 60:1, 14; Galasiërs 6:16; Openbaring 16:14, 16.
‘Betoon guns aan die geteisterdes’
Salomo maak hierdie opmerking oor die mensenatuur: “Die arme is selfs vir sy medemens ’n voorwerp van haat, maar die vriende van die ryke is baie” (Spreuke 14:20). Hoe waar is dit tog van onvolmaakte mense! Omdat hulle inherent selfsugtig is, is hulle geneig om die rykes bo die armes te verkies. Hoewel die ryke baie vriende het, is hulle net so tydelik as sy rykdom. Moet ons dit dan nie vermy om geld of vleitaal te gebruik om vriende te maak nie?
Gestel ’n eerlike selfondersoek bring aan die lig dat ons die rykes se guns probeer verwerf en op die armes neersien. Ons moet besef dat die Bybel sulke partydigheid veroordeel. Dit sê: “Wie sy medemens verag, sondig, maar gelukkig is hy wat aan die geteisterdes guns betoon.”—Spreuke 14:21.
Ons moet bedagsaam wees teenoor mense wat in moeilike omstandighede verkeer (Jakobus 1:27). Hoe kan ons dit doen? Deur “hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud” te voorsien, wat geld, kos, verblyf, klere en persoonlike aandag kan insluit (1 Johannes 3:17). Gelukkig is hy wat aan sulke mense guns betoon, want “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”.—Handelinge 20:35.
Hoe vaar hulle?
Die beginsel “wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai”, geld vir die skerpsinnige sowel as die dwaas (Galasiërs 6:7). Eersgenoemde doen wat goed is; laasgenoemde dink onheil uit. “Sal dié wat onheil uitdink, nie ronddwaal nie?” vra die wyse koning. Die antwoord is ja; hulle “verdwaal” (Die Bybel, 1953). “Maar daar is liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid vir dié wat die goeie uitdink” (Spreuke 14:22). Diegene wat goed doen, geniet die welwillendheid van ander sowel as God se liefderyke goedhartigheid.
Salomo verbind sukses met harde werk en mislukking met baie woorde en min dade: “Deur elke soort moeisame arbeid kom voordeel, maar die woord van die lippe alleen lei tot gebrek” (Spreuke 14:23). Hierdie beginsel is beslis van toepassing op ons geestelike strewes. Wanneer ons hard werk in die Christelike bediening, maai ons die seëninge wat kom wanneer ons die lewensreddende waarheid van God se Woord aan baie ander bekend maak. As ons enige teokratiese toewysing wat ons ontvang, getrou uitvoer, lei dit tot vreugde en tevredenheid.
“Die kroon van die wyses is hulle rykdom; die dwaasheid van die sotte is dwaasheid”, sê Spreuke 14:24. Dit kan beteken dat die wysheid wat die wyses probeer verkry, hulle rykdom is en dat dit vir hulle as ’n kroon, of versiering, dien. Die dwase daarenteen verwerf net dwaasheid. Volgens ’n naslaanwerk kan hierdie spreuk ook aandui dat “rykdom ’n versiering is vir diegene wat dit goed gebruik . . . [terwyl] dwase net hulle dwaasheid het”. Hoe dit ook al sy, die wyse vaar beter as die dwaas.
“’n Waaragtige getuie verlos siele”, sê die koning van Israel, “maar een wat bedrieglik is, strooi net leuens uit” (Spreuke 14:25). Hoewel dit beslis waar is in ’n regterlike konteks, kan ons kyk hoe dit op ons bediening van toepassing is. Ons Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk behels dat ons getuig van die waaragtigheid van God se Woord. Hierdie getuienis verlos regskapenes van valse godsdiens en red lewens. Deur voortdurend op onsself en op ons onderrigting te let, sal ons onsself red sowel as dié wat na ons luister (1 Timoteus 4:16). Terwyl ons voortgaan om dit te doen, moet ons wakker wees om skerpsinnigheid in alle aspekte van die lewe aan die dag te lê.
[Voetnote]
a Vir ’n bespreking van Spreuke 14:1-11, sien bladsye 26-9 van Die Wagtoring van 15 November 2004.
b Sien bladsye 11-16 van die Ontwaak! van 22 Oktober 1987.
[Prent op bladsy 18]
Ywerige studie van dieper waarhede is noodsaaklik as ons wil onderskei wat reg sowel as verkeerd is
[Prent op bladsy 18]
Word ’n mens werklik deur ’n materialistiese lewenstyl versadig?