“Bewaak jou hart”
JEHOVAH het vir die profeet Samuel gesê: “Nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Die psalmis Dawid het ook die aandag op die figuurlike hart gevestig toe hy gesing het: “U [Jehovah] het my hart getoets, dit in die nag ondersoek, U het my gekeur, U vind niks nie; wat ek ook dink, my mond oortree nie.”—Psalm 17:3.
Ja, Jehovah ondersoek ons hart om vas te stel watter soort persoon ons werklik is (Spreuke 17:3). Koning Salomo van eertydse Israel het dus tereg gemaan: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Hoe kan ons ons figuurlike hart bewaak? Spreuke hoofstuk 4 gee ons die antwoord op hierdie vraag.
Luister na die dissipline van ’n vader
Die 4de hoofstuk van Spreuke begin met die woorde: “Luister, o seuns, na die dissipline van ’n vader en skenk aandag, sodat julle begrip kan verkry. Want ek sal beslis goeie onderrig aan julle gee. Moenie my wet verlaat nie.”—Spreuke 4:1, 2, NW.
Die raad aan jongmense is dat hulle na die betroubare onderrigting van hulle godvresende ouers moet luister, veral na dié van ’n vader. Hy het die skriftuurlike verantwoordelikheid om in die fisiese en geestelike behoeftes van sy gesin te voorsien (Deuteronomium 6:6, 7; 1 Timoteus 5:8). Hoeveel moeiliker is dit tog vir ’n jong persoon om sonder hierdie leiding volwassenheid te bereik! Sal dit dus nie beter wees vir ’n kind om die dissipline van sy vader eerbiedig te aanvaar nie?
Maar wat van ’n jong persoon wat nie ’n vader het wat hom kan onderrig nie? Die 11-jarige Jason was byvoorbeeld van die ouderdom van vier af sonder ’n vader.a Toe ’n Christen- ouer man hom gevra het wat vir hom die moeilikste ding in die lewe is, het Jason byna onmiddellik geantwoord: “Ek wens ek het ’n pa gehad. Soms kry dit my regtig onder.” Jongmense wat nie die leiding van ouers het nie, kan egter bemoedigende raad kry. Jason en ander soos hy kan vaderlike raad by die ouer manne en ander ryp persone in die Christengemeente vra en ontvang.—Jakobus 1:27.
Salomo het aan sy eie opvoeding gedink toe hy voorts gesê het: “Ek was ’n ware seun vir my vader, teer en die enigste voor my moeder” (Spreuke 4:3, NW). Die koning het klaarblyklik aangename herinneringe van sy opvoeding gehad. As “’n ware seun” wat vaderlike raad ter harte geneem het, het die jong Salomo ongetwyfeld ’n hartlike en intieme verhouding met sy vader, Dawid, gehad. Daarbenewens was Salomo “die enigste”, of die besonder geliefde seun. Hoe belangrik is dit tog vir ’n kind om op te groei in ’n huis waar ’n hartlike atmosfeer heers en waar kinders maklik met hulle ouers kan kommunikeer!
Verwerf wysheid en insig
Salomo het sy vader se liefdevolle raad onthou en sê: “Hy het my onderrig en vir my gesê: ‘Laat jou hart my woorde stewig vashou. Onderhou my gebooie en bly lewe. Verwerf wysheid, verwerf insig. Moenie die woorde van my mond vergeet nie, en moenie daarvan afwyk nie. Moet dit [wysheid] nie verlaat nie, en dit sal jou bewaar. Wees lief daarvoor, en dit sal jou beveilig. Wysheid is die heel belangrikste. Verwerf wysheid; en by alles wat jy verwerf, verwerf insig.’”—Spreuke 4:4-7, NW.
Waarom is wysheid “die heel belangrikste”? Wysheid beteken die toepassing van kennis en insig op ’n wyse wat goeie resultate voortbring. Kennis—bekendheid of vertroudheid met feite wat deur waarneming en ervaring of deur lees en studie verkry is—is onontbeerlik vir wysheid. Maar as ons nie die vermoë het om ons kennis goed te gebruik nie, sal dit min waarde hê. Ons moet nie net die Bybel en Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word gereeld lees nie, maar ook probeer om toe te pas wat ons daaruit leer.—Matteus 24:45.
Dit is ook noodsaaklik om insig te verwerf. Kan ons werklik daarsonder sien hoe feite met mekaar verband hou en die geheelbeeld van ’n saak kry? As ons nie insig het nie, hoe kan ons die hoekoms en waaroms van dinge verstaan en insig en onderskeidingsvermoë verkry? Ja, as ons sake goed wil beoordeel en tot die regte gevolgtrekking wil kom, het ons insig nodig.—Daniël 9:22, 23, NW.
Salomo gaan voort om sy vader se woorde aan te haal en sê: “Ag dit [wysheid] hoog, en dit sal jou verhef. Dit sal jou verheerlik omdat jy dit aanneem. Vir jou hoof sal dit ’n bekoorlike krans gee; ’n pragtige kroon sal dit aan jou verskaf” (Spreuke 4:8, 9, NW). Godvrugtige wysheid beskerm die een wat dit kosbaar ag. Daarbenewens vereer en versier dit hom. Laat ons dan alles in ons vermoë doen om wysheid te verwerf.
“Gryp dissipline aan”
Die koning van Israel sluit hom aan by die onderrigting van sy vader en sê: “Hoor, my seun, en neem my woorde aan. Dan sal die jare van jou lewe baie word. Ek sal jou in die weg van wysheid onderrig; ek sal jou in die spore van regskapenheid laat loop. Wanneer jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie; en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit is jou lewe.”—Spreuke 4:10-13, NW.
As ’n ware seun vir sy vader het Salomo ongetwyfeld die waarde besef van liefdevolle dissipline wat ’n mens leer en teregwys. Kan ons werklik verwag om sonder gebalanseerde dissipline geestelik volwasse te word of om die gehalte van ons lewe te verbeter? As ons nie uit ons foute leer nie of as ons nie verkeerde idees regstel nie, sal ons nie eintlik geestelik vorder nie. Redelike dissipline lei tot godvrugtige gedrag en help ons aldus om “in die spore van regskapenheid [te] loop”.
’n Ander vorm van dissipline laat ook ‘die jare van ons lewe baie word’. Hoe so? Wel, Jesus Christus het gesê: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou, en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig” (Lukas 16:10). Sal dit nie makliker wees om onsself in groot dinge te dissiplineer, dít waarvan ons lewe kan afhang, as ons ons reeds in klein dinge dissiplineer nie? Byvoorbeeld, as ons ons oog leer om nie ‘aan te hou kyk na ’n vrou om hartstog vir haar te hê’ nie, sal dit onwaarskynlik wees dat ons voor onsedelikheid sal swig (Matteus 5:28). Hierdie beginsel geld natuurlik vir mans sowel as vroue. As ons ons verstand dissiplineer om ‘elke gedagte in gevangenskap te bring’, bestaan daar nie veel gevaar dat ons ’n growwe oortreding in woord of daad sal begaan nie.—2 Korintiërs 10:5.
Dit is weliswaar gewoonlik moeilik om dissipline te aanvaar en dit kan beperkend lyk (Hebreërs 12:11). Maar die wyse koning verseker ons dat ons makliker vooruitgang sal kan maak as ons dissipline aangryp. Net soos goeie afrigting ’n hardloper in staat stel om op sy vinnigste te hardloop sonder om te val of homself te beseer, sal ons deur dissipline aan te gryp op die weg na die lewe kan bly en ’n goeie pas kan handhaaf sonder om te struikel. Ons moet natuurlik versigtig wees watter pad ons kies.
Vermy “die pad van die goddeloses”
Salomo waarsku met ’n gevoel van dringendheid: “Moenie die pad van die goddeloses betree nie, en moenie reguit in die weg van die slegtes inloop nie. Vermy dit, moenie daarop gaan nie; draai weg daarvan en gaan verby. Want hulle slaap nie as hulle nie kwaad doen nie, en hulle kan nie slaap nie tensy hulle iemand laat struikel. Want hulle het hulle met die brood van goddeloosheid gevoed, en die wyn van gewelddade drink hulle.”—Spreuke 4:14-17, NW.
Die goddeloses, wie se weë Salomo ons aanmoedig om te vermy, se lewe draai om hulle skandelike dade. Vir hulle is dit soos om te eet en te drink as hulle doen wat sleg is. Hulle kan nie slaap nie tensy hulle gewelddade pleeg. Hulle hele persoonlikheid is verdorwe! Kan ons werklik ons hart bewaak terwyl ons met hulle assosieer? Hoe dwaas is dit tog om “reguit in die weg van die slegtes in [te] loop” deur onsself bloot te stel aan die geweld wat in die meeste vermaak van vandag se wêreld uitgebeeld word! ’n Mens kan eenvoudig nie daarna streef om tere medelye te hê en jou terselfdertyd blootstel aan tonele op die televisieskerm of in rolprente wat slegte dade uitbeeld en waardeur jy ongevoelig gemaak kan word nie.
Bly in die lig
Salomo gebruik die voorbeeld van ’n pad verder en sê: “Maar die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is” (Spreuke 4:18, NW). As ’n mens die Bybel bestudeer en wat dit sê in jou lewe probeer toepas, kan dit vergelyk word met ’n reis wat jy vroeg in die oggend aanpak terwyl dit nog donker is. Wanneer die donker nag plek maak vir ’n donkerblou hemelruim, kan ons amper niks sien nie. Maar wanneer die son geleidelik opkom, kan ons stadigaan al hoe meer dinge om ons sien. Uiteindelik skyn die son helder, en ons kan alles in duidelike besonderhede sien. Ja, die waarheid word geleidelik vir ons duideliker namate ons volhou om die Skrif geduldig en ywerig te bestudeer. Dit is noodsaaklik dat ons ons hart geestelik voed as ons dit teen valse redenasies wil bewaak.
Die betekenis van Bybelprofesieë word ook progressief geopenbaar. Profesieë word vir ons duideliker namate Jehovah se heilige gees lig daarop werp en namate dit deur wêreldgebeure of in die ondervindinge van God se volk vervul word. Ons moet nie ongeduldig raak en oor die vervulling daarvan begin bespiegel nie, maar moet eerder wag dat ‘die lig al hoe helderder word’.
Wat van mense wat God se leiding verwerp deur te weier om in die lig te wandel? “Die weg van die goddeloses is soos die donker”, sê Salomo. “Hulle het nie geweet waaroor hulle bly struikel nie” (Spreuke 4:19, NW). Die goddeloses is soos ’n man wat in die donker struikel, maar nie weet wat hom laat struikel het nie. Selfs al lyk dit of die goddeloses voorspoedig is weens hulle onregverdigheid, is hulle oënskynlike sukses net tydelik. Die psalmis het aangaande sulke mense gesing: “Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U [Jehovah] laat hulle in puin val.”—Psalm 73:18.
Bly waaksaam
Die koning van Israel sê verder: “My seun, skenk tog aandag aan my woorde. Neig jou oor tot my gesegdes. Mag hulle nie voor jou oë wyk nie. Bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is lewe vir dié wat hulle vind en gesondheid vir hulle hele vlees. Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:20-23, NW.
Salomo se eie voorbeeld getuig van die waarde van die raad om die hart te bewaak. Hy was weliswaar “’n ware seun” vir sy vader terwyl hy nog jonk was, en hy het tot diep in sy volwasse jare aan Jehovah getrou gebly. Maar die Bybel sê: “In die tyd van Salomo se ouderdom het sy [uitlandse] vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie” (1 Konings 11:4). As ’n mens nie gedurig waaksaam bly nie, kan selfs ’n baie goeie hart verlei word om te doen wat sleg is (Jeremia 17:9). Ons moet die herinneringe in God se Woord na aan ons hart hou—reg “binne-in”. Dit sluit die riglyne in die 4de hoofstuk van Spreuke in.
Ondersoek jou hartstoestand
Slaag ons daarin om ons figuurlike hart te bewaak? Hoe kan ons uitvind watter soort mens ons van binne is? “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond”, het Jesus Christus gesê (Matteus 12:34). Hy het ook gesê: “Uit die hart kom daar . . . goddelose redenasies, moorde, egbreuk, hoererye, diefstalle, valse getuienisse, lasteringe” (Matteus 15:19, 20). Ja, ons woorde en dade sê baie oor die soort mens wat ons diep binne-in is.
Salomo spoor ons gepas aan: “Verwyder verdraaide woorde van jou; en hou slinkse lippe ver van jou af weg. Wat jou oë betref, hulle moet reguit vorentoe kyk, ja, jou stralende oë moet reg voor jou uit kyk. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë stewig gevestig wees. Moenie regs of links afwyk nie. Verwyder jou voet van wat sleg is.”—Spreuke 4:24-27, NW.
Met die oog op Salomo se vermaning moet ons ons spraak en ons gedrag ondersoek. As ons ons hart wil bewaak en God wil behaag, moet ons verdraaide woorde en slinksheid vermy (Spreuke 3:32, NW). Daarom moet ons biddend nadink oor wat ons woorde en dade omtrent ons openbaar. Dan moet ons Jehovah se hulp vra om enige swakheid wat ons bespeur reg te stel.—Psalm 139:23, 24.
Mag ons oë bowenal “reguit vorentoe kyk”. Laat ons hulle gevestig hou op die doelwit om ons hemelse Vader met ons hele siel te dien (Kolossense 3:23). Mag Jehovah jou sukses gee in “al jou weë” namate jy persoonlik so ’n regskape weg nastreef, en mag hy jou ryklik seën omdat jy die geïnspireerde raad volg om ‘jou hart te bewaak’.
[Voetnoot]
a Nie sy regte naam nie.
[Lokteks op bladsy 22]
Vermy jy vermaak wat geweld uitbeeld?
[Prent op bladsy 21]
Vind baat by die raad van ervare persone
[Prent op bladsy 23]
Dissipline vertraag nie jou vooruitgang nie
[Prent op bladsy 24]
Hou vol met jou studie van die Bybel