Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit Hooglied van Salomo
“SOOS ’n lelie tussen doringrige onkruid, so is my vriendin onder die dogters.” “Soos ’n appelboom onder die bome van die woud, so is my beminde onder die seuns.” “Wie is hierdie vrou wat afkyk soos die dagbreek, pragtig soos die volmaan, rein soos die gloeiende son?” (Hooglied 2:2, 3; 6:10). Hoe pragtig is hierdie verse uit die Bybelboek Hooglied van Salomo tog! Die hele boek is ’n gedig so ryk aan betekenis en skoonheid dat dit “die mooiste (uitnemendste) lied” genoem word.—Hooglied 1:1, voetnoot in NW.
Koning Salomo van eertydse Israel het hierdie lied, ’n liefdesverhaal van ’n herderseun en ’n plattelandse meisie, ’n Sulammiet, waarskynlik omstreeks 1020 v.G.J. geskryf, vroeg in sy heerskappy wat 40 jaar geduur het. Onder die ander karakters wat in die gedig genoem word, is die meisie se moeder en broers, “dogters van Jerusalem [hofdames]” en “dogters van Sion [vroue van Jerusalem]” (Hooglied 1:5; 3:11). Dit is vir ’n Bybelleser nogal moeilik om al die sprekers in Hooglied van Salomo te identifiseer, maar dit is moontlik as ’n mens oplet na wat hulle sê of wat vir hulle gesê word.
As ’n deel van God se Woord is die boodskap van Hooglied van Salomo om twee redes van groot waarde (Hebreërs 4:12). Eerstens leer dit ons wat ware liefde tussen ’n man en ’n vrou is. Tweedens lig die lied die soort liefde toe wat tussen Jesus Christus en die gemeente van gesalfde Christene bestaan.—2 Korintiërs 11:2; Efesiërs 5:25-31.
MOENIE “DIE LIEFDE IN MY PROBEER WAKKER MAAK” NIE
“Laat hy my soen met die soene van sy mond, want jou liefdesblyke is beter as wyn” (Hooglied 1:2). Die dialoog in Hooglied van Salomo begin met hierdie woorde van ’n nederige plattelandse meisie wat na die koninklike tent van Salomo gebring word. Hoe het sy daar gekom?
“Die seuns van my moeder het vir my kwaad geword”, sê sy. “Hulle het my as die bewaker van die wingerde aangestel.” Haar broers is kwaad vir haar omdat die herderseun vir wie sy lief is, haar genooi het om op ’n lieflike lentedag saam met hom te gaan stap. Om te keer dat sy gaan, het hulle haar die taak gegee om te waak teen “die klein jakkalse wat die wingerde verniel”. Hierdie werk bring haar naby Salomo se kamp. Haar skoonheid word raakgesien wanneer sy “na die neuteboord” afgaan, en sy word in die kamp ingebring.—Hooglied 1:6; 2:10-15; 6:11.
Wanneer die meisie sê dat sy na haar geliefde herder verlang, sê die hofdames vir haar om ‘uit te gaan op die spore van die kudde’ en na hom te gaan soek. Maar Salomo laat haar nie toe om te gaan nie. Hy spreek sy bewondering vir haar skoonheid uit en belowe haar “goue ringe . . . tesame met silwerknoppies”. Maar die meisie is nie beïndruk nie. Die herderseun kom tot in Salomo se kamp, vind haar en roep uit: “Kyk! Jy is pragtig, o my vriendin. Kyk! Jy is pragtig.” Die jong meisie stel die hofdames onder eed: “[Moenie] die liefde in my probeer wakker maak of opwek voordat dit daartoe geneig voel nie.”—Hooglied 1:8-11, 15; 2:7; 3:5.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:2, 3—Waarom is die herinnering aan die herderseun se liefdesblyke soos wyn en sy naam soos olie? Net soos wyn ’n mens se hart vrolik maak en olie strelend is wanneer dit op ’n mens se kop uitgegiet word, het die herinnering aan die seun se liefde en sy naam die meisie versterk en vertroos (Psalm 23:5; 104:15). Net so word ware Christene, veral gesalfdes, versterk en aangemoedig wanneer hulle nadink oor die liefde wat Jesus Christus teenoor hulle betoon het.
1:5—Waarom vergelyk die plattelandse meisie haar donker gelaatskleur met “die tente van Kedar”? Geweefde bokhaar kon vir baie dinge gebruik word (Numeri 31:20). “Doeke van bokhaar” is byvoorbeeld gebruik om “die tent oor die tabernakel” te maak (Eksodus 26:7). Soos vandag nog die geval is met Bedoeïentente, was die tente van Kedar heel moontlik van swart bokhaar gemaak.
1:15—Wat bedoel die herderseun wanneer hy sê: “Jou oë is soos dié van duiwe”? Die herderseun sê dat die oë van sy vriendin sag en liefdevol is, soos dié van duiwe.
2:7; 3:5—Waarom word die hofdames onder eed geplaas “by die gaselooie of by die takbokooie van die veld”? Gaselle en takbokooie is bekend vir hulle grasie en skoonheid. Die Sulammitiese meisie laat die hofdames in werklikheid sweer by alles wat grasieus en pragtig is, dat hulle hulle daarvan sal weerhou om die liefde in haar te probeer wakker maak.
Lesse vir ons:
1:2; 2:6. Rein liefdesblyke is moontlik gepas gedurende ’n hofmakery. ’n Paartjie moet egter seker maak dat dit betonings van opregte toegeneentheid is en nie van onrein hartstog nie, omdat dít tot geslagsonsedelikheid kan lei.—Galasiërs 5:19.
1:6; 2:10-15. Die Sulammitiese meisie se broers het hulle suster nie toegelaat om saam met haar geliefde na ’n afgesonderde plek in die berge te gaan nie, maar nie omdat sy onsedelik was of nie goeie motiewe gehad het nie. Hulle het eerder ’n voorsorgmaatreël getref wat bedoel was om te keer dat sy in ’n situasie beland wat tot versoeking kan lei. Die les vir paartjies wat mekaar die hof maak, is dat hulle afgesonderde plekke moet vermy.
2:1-3, 8, 9. Hoewel sy pragtig was, het beskeidenheid gemaak dat die Sulammitiese meisie haar as “net ’n saffraan [’n doodgewone blom] van die kusvlakte” beskou het. Weens haar skoonheid en getrouheid aan Jehovah het die herderseun aan haar gedink as “’n lelie tussen doringrige onkruid”. En wat kan van hom gesê word? Omdat hy aantreklik was, was hy vir haar soos “’n gasel”. Hy moes ook geestelikgesind en toegewyd aan Jehovah gewees het. “Soos ’n appelboom [wat skaduwee en vrugte voorsien] onder die bome van die woud”, sê sy, “so is my beminde onder die seuns.” Is geloof en toegewydheid aan God nie begeerlike eienskappe om in ’n potensiële huweliksmaat te soek nie?
2:7; 3:5. Die plattelandse meisie het geen romantiese aangetrokkenheid tot Salomo gevoel nie. Sy het ook die hofdames onder eed gestel om nie in haar liefde te probeer opwek vir enigiemand anders as die herderseun nie. Dit is nie moontlik of gepas om vir sommer enigiemand romantiese liefde te voel nie. ’n Ongetroude Christen wat wil trou, moet alleenlik ’n lojale kneg van Jehovah oorweeg.—1 Korintiërs 7:39.
“WAT SIEN JULLE IN DIE SULAMMITIESE MEISIE?”
Iets “kom daar soos rookkolomme uit die wildernis op” (Hooglied 3:6). Wat sien die vroue van Jerusalem wanneer hulle uitgaan om te gaan kyk? Dit is Salomo en sy dienaars wat na die stad terugkeer! En die koning het die Sulammitiese meisie met hom saamgebring.
Die herderseun het die meisie gevolg en vind gou ’n manier om haar te sien. Wanneer hy haar van sy liefde verseker, sê sy vir hom dat sy die stad wil verlaat: “Totdat die wind saggies waai en die skaduwees gevlug het, sal ek na die mirreberg en na die wierookheuwel gaan.” Sy nooi die herder om “in sy tuin [te] kom en die keurigste vrugte daarvan [te] eet”. Hy antwoord: “Ek het in my tuin gekom, o my suster, my bruid.” Die vroue van Jerusalem sê vir hulle: “Eet, o vriende! Drink en word dronk van liefdesblyke!”—Hooglied 4:6, 16; 5:1.
Nadat die Sulammitiese meisie die hofdames van ’n droom vertel, sê sy vir hulle: ‘Ek is siek van liefde.’ Hulle vra: “Hoe is jou beminde meer as enige ander beminde?” Sy antwoord: “My beminde is skitterend en blosend, die opvallendste onder tienduisend” (Hooglied 5:2-10). Wanneer Salomo haar oorvloedig prys, antwoord sy nederig: “Wat sien julle in die Sulammitiese meisie?” (Hooglied 6:4-13). Die koning beskou dit as ’n geleentheid om haar guns te wen en gee haar nog meer komplimente. Maar die meisie bly standvastig in haar liefde vir die herderseun. Uiteindelik laat Salomo haar huis toe gaan.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
4:1; 6:5—Waarom word die meisie se hare met “’n trop bokke” vergelyk? Die vergelyking gee te kenne dat haar hare so blink en welig was soos die swart hare van bokke.
4:11—Wat is betekenisvol daaraan dat die Sulammitiese meisie se ‘lippe drup van heuningstroop’ en dat daar ‘heuning en melk onder haar tong is’? Heuningstroop, of heuning wat uit die heuningkoek drup, is geuriger en soeter as heuning wat aan lug blootgestel is. Hierdie vergelyking, sowel as die idee dat heuning en melk onder die meisie se tong was, beklemtoon die goedheid en aangenaamheid van die woorde wat deur die Sulammitiese meisie geuiter is.
5:12—Wat is die gedagte agter die uitdrukking “sy oë is soos duiwe by die waterkanale, wat hulle in melk bad”? Die meisie praat van haar geliefde se pragtige oë. Miskien vergelyk sy die donker iris wat omring word deur die wit van sy oë, op poëtiese wyse met blougrys duiwe wat in melk bad.
5:14, 15—Waarom word die herder se hande en bene op hierdie manier beskryf? Die meisie verwys blykbaar na die herder se vingers as goue silinders en na sy naels as chrisoliet. Sy vergelyk sy bene met “marmerpilare” omdat hulle sterk en mooi is.
6:4, voetnoot in NW—Verwys die “Lieflike Stad” na Jerusalem? Nee. Die “Lieflike Stad” is “Tirsa”. Hierdie Kanaänitiese stad is deur Josua verower, en ná Salomo se tyd het dit die eerste hoofstad van die noordelike tienstammeryk van Israel geword (Josua 12:7, 24; 1 Konings 16:5, 6, 8, 15). “Dit was blykbaar ’n pragtige stad”, sê een naslaanwerk, “wat sal verklaar waarom dit hier genoem word.”
6:13, voetnoot in NW—Wat is “die dans van twee kampe”? Hierdie uitdrukking kan ook as die “dans van Mahanaim” vertaal word. Die stad met hierdie naam was oos van die Jordaanrivier naby die Jabbokstroomvallei geleë (Genesis 32:2, 22; 2 Samuel 2:29). “Die dans van twee kampe” verwys moontlik na ’n sekere dans wat tydens ’n fees in daardie stad gehou is.
7:4—Waarom vergelyk Salomo die nek van die Sulammitiese meisie met “’n ivoortoring”? Vroeër het die meisie hierdie kompliment ontvang: “Jou nek is soos die toring van Dawid” (Hooglied 4:4). ’n Toring is lank en slank, en ivoor is glad. Salomo is beïndruk met die slankheid en gladheid van die meisie se nek.
Lesse vir ons:
4:1-7. Deur Salomo se verlokkinge te weerstaan, het die Sulammitiese meisie, hoewel sy onvolmaak was, getoon dat sy sonder sedelike gebreke is. Haar sedelike krag het dus haar fisiese skoonheid vergroot. Dit behoort ook waar te wees in die geval van Christenvroue.
4:12. Soos ’n pragtige tuin wat deur ’n heining of ’n muur ingesluit word en waartoe toegang alleenlik verkry kan word deur ’n geslote hek, het die Sulammitiese meisie haar tere geneenthede alleenlik aan haar aanstaande man beskikbaar gemaak. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ongetroude Christenvroue en -mans!
“DIE VLAM VAN JAH”
“Wie is die vrou wat daar uit die wildernis opkom, wat op haar beminde leun?” vra die Sulammitiese meisie se broers wanneer hulle haar sien huis toe kom. Vroeër het een van hulle gesê: “As sy ’n muur is, sal ons ’n silwerkanteel op haar bou; maar as sy ’n deur is, sal ons haar met ’n sederplank toemaak.” Noudat die standvastigheid van die Sulammitiese meisie se liefde beproef is, sê sy: “Ek is ’n muur, en my borste is soos torings. In dié geval het ek in sy oë geword soos iemand wat vrede vind.”—Hooglied 8:5, 9, 10.
Ware liefde is “die vlam van Jah”. Waarom? Omdat sulke liefde by Jehovah ontstaan. Dit is Hy wat ons die vermoë gegee het om lief te hê. Dit is ’n vlam waarvan die gloed nie geblus kan word nie. Hooglied van Salomo lig pragtig toe dat die liefde tussen ’n man en ’n vrou “so sterk [onfeilbaar] soos die dood” kan wees.—Hooglied 8:6.
Salomo se voortreflikste lied werp ook lig op die band wat tussen Jesus Christus en die lede van sy hemelse “bruid” bestaan (Openbaring 21:2, 9). Jesus se liefde vir gesalfde Christene oortref enige liefde tussen ’n man en ’n vrou. Die lede van die bruidsklas is standvastig in hulle toegewydheid. Jesus het uit liefde sy lewe ook vir die “ander skape” gegee (Johannes 10:16). Alle ware aanbidders kan dus die Sulammitiese meisie se voorbeeld van onwankelbare liefde en toegewydheid navolg.
[Prent op bladsy 18, 19]
Wat leer Hooglied van Salomo ons om in ’n huweliksmaat te soek?