Hoofstuk twaalf
Vertroosting vir God se volk
1. Watter droewige vooruitsig lê voor vir Jerusalem en sy inwoners, maar watter hoop is daar?
SEWENTIG jaar—die normale lewensduur van ’n mens—dit is hoe lank die nasie Juda in Babilon gevange gehou sal word (Psalm 90:10; Jeremia 25:11; 29:10). Die meeste Israeliete wat gevange geneem word, sal in Babilon oud word en sterf. Dink net hoe die uittarting en gespot van hulle vyande hulle sal verneder. Dink ook aan die oneer wat dit hulle God, Jehovah, sal aandoen wanneer die stad waarop hy sy naam geplaas het, so lank woes lê (Nehemia 1:9; Psalm 132:13; 137:1-3). Die geliefde tempel, wat met God se heerlikheid gevul is toe Salomo dit toegewy het, sal nie meer bestaan nie (2 Kronieke 7:1-3). Wat ’n droewige vooruitsig! Maar deur Jesaja voorspel Jehovah ’n herstelling (Jesaja 43:14; 44:26-28). In hoofstuk 51 van die boek Jesaja vind ons verdere profesieë met hierdie tema van vertroosting en gerusstelling.
2. (a) Tot wie rig Jehovah sy vertroostende boodskap deur middel van Jesaja? (b) Hoe ‘streef getroue Jode regverdigheid na’?
2 Jehovah sê vir dié in Juda wat hulle harte tot hom neig: “Luister na my, julle wat regverdigheid nastreef, julle wat Jehovah soek” (Jesaja 51:1a). Om ‘regverdigheid na te streef’, impliseer optrede. Diegene wat “regverdigheid nastreef”, sal nie net sê dat hulle God se volk is nie. Hulle sal ywerige pogings aanwend om regverdig te wees en om in ooreenstemming met God se wil te lewe (Psalm 34:15; Spreuke 21:21). Hulle sal op Jehovah vertrou as die enigste Bron van regverdigheid en hulle sal “Jehovah soek” (Psalm 11:7; 145:17). Dit is nie dat hulle nie reeds weet wie Jehovah is of hoe hulle hom in gebed moet nader nie. Maar hulle sal probeer om nader aan hom te kom deur hom te dien, tot hom te bid en sy leiding te soek in alles wat hulle doen.
3, 4. (a) Wie is “die rots” waaruit die Jode gekap is, en wie is “die holte van die put” waaruit hulle gegrawe is? (b) Waarom sal dit die Jode vertroos as hulle hulle oorsprong onthou?
3 Maar daar is betreklik min in Juda wat werklik regverdigheid nastreef, en dit maak hulle moontlik bang en mismoedig. Jehovah gebruik dus die illustrasie van ’n steengroef om hulle aan te moedig: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle geleidelik met geboortepyne voortgebring het. Want hy was ’n enkeling toe ek hom geroep het, en ek het hom geseën en hom baie gemaak” (Jesaja 51:1b, 2). “Die rots” waaruit die Jode gekap is, is Abraham, ’n geskiedkundige figuur waarop die nasie Israel baie trots is (Matteus 3:9; Johannes 8:33, 39). Hy is die voorvader, die menslike oorsprong, van die nasie. “Die holte van die put” is Sara, uit wie se moederskoot Isak, nog ’n voorvader van Israel, gekom het.
4 Abraham en Sara was verby hulle vrugbare jare en was kinderloos. En tog het Jehovah belowe om Abraham te seën en ‘hom baie te maak’ (Genesis 17:1-6, 15-17). Deurdat God hulle voortplantingsvermoëns herstel het, het Abraham en Sara op hulle oudag ’n kind gehad, en uit hom het God se verbondsvolk voortgespruit. So het Jehovah een man die vader van ’n groot nasie gemaak wat uiteindelik so ontelbaar soos die sterre in die hemel was (Genesis 15:5; Handelinge 7:5). As Jehovah Abraham so uit ’n verre land kon bring en van hom ’n magtige nasie kon maak, sal hy sekerlik sy belofte kan nakom om ’n getroue oorblyfsel uit gevangenskap in Babilon te bevry, hulle in hulle vaderland te herstel en hulle weer eens ’n groot nasie te maak. God se belofte aan Abraham is vervul; sy belofte aan daardie gevange Jode sal ook nagekom word.
5. (a) Wie beeld Abraham en Sara af? Verduidelik. (b) Wie voer in die finale vervulling hulle oorsprong na “die rots” toe terug?
5 Die simboliese werk in die steengroef van Jesaja 51:1, 2 het waarskynlik ’n verdere toepassing. Deuteronomium 32:18 noem Jehovah “die Rots” wat die vader geword het van Israel en “die Een wat [Israel] met geboortepyne voortgebring het”. In laasgenoemde uitdrukking word dieselfde Hebreeuse werkwoord gebruik as wat in Jesaja 51:2 gebruik word met betrekking tot Sara wat aan Israel geboorte gee. Gevolglik staan Abraham as ’n profetiese tipe van Jehovah, die Grotere Abraham. Dit is gepas dat Abraham se vrou, Sara, Jehovah se universele hemelse organisasie van geesskepsele afbeeld, wat in die Heilige Skrif as God se vrou voorgestel word (Genesis 3:15; Openbaring 12:1, 5). In die finale vervulling van hierdie woorde van Jesaja se profesie is die nasie wat uit “die rots” gekom het, “die Israel van God”, die gemeente van geesgesalfde Christene, wat op Pinkster 33 G.J. ontstaan het. Soos ons in vorige hoofstukke van hierdie boek genoem het, was daardie nasie in 1918 in Babiloniese gevangenskap, maar is hulle in 1919 weer tot ’n toestand van geestelike voorspoed herstel.—Galasiërs 3:26-29; 4:28; 6:16.
6. (a) Wat lê vir die land Juda voor, en watter herstelling sal dit insluit? (b) Aan watter hedendaagse herstelling laat Jesaja 51:3 ons dink?
6 Jehovah se vertroosting van Sion, of Jerusalem, sluit meer in as net ’n belofte om ’n groot nasie voort te bring. Ons lees: “Jehovah sal Sion beslis vertroos. Hy sal al sy verwoeste plekke vir seker vertroos, en hy sal sy wildernis soos Eden maak en sy woestynvlakte soos die tuin van Jehovah. Verheuging en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die stem van die melodie” (Jesaja 51:3). Gedurende die 70 jaar van verwoesting sal die land van Juda weer ’n wildernis word, vol doringbosse, braambosse en ander plante wat wild groei (Jesaja 64:10; Jeremia 4:26; 9:10-12). Buiten dat die volk weer in Juda gevestig sal word, sal die herstelling ook die land raak, wat tot ’n paradysagtige tuin met waterryke, vrugbare landerye en boorde omskep sal word. Dit sal lyk of die aarde bly is. Vergeleke met sy verwoeste toestand gedurende die ballingskap, sal die land soos ’n paradys wees. Die gesalfde oorblyfsel van die Israel van God het in 1919 in geestelike sin in so ’n paradys gekom.—Jesaja 11:6-9; 35:1-7.
Redes vir vertroue in Jehovah
7, 8. (a) Wat beteken Jehovah se aansporing om na hom te luister? (b) Waarom is dit belangrik dat Juda na Jehovah luister?
7 Jehovah spoor die nasie aan om opnuut aandag te gee en sê: “Skenk aandag aan my, o my volk; en luister na my, o my volksgroep. Want ’n wet sal van my uitgaan, en my regterlike beslissing sal ek laat rus as ’n lig vir die volke. My regverdigheid is naby. My redding sal beslis uittrek, en my arms sal die volke oordeel. Op my sal die eilande hoop, en op my arm sal hulle wag.”—Jesaja 51:4, 5.
8 Jehovah se aansporing dat hulle na hom luister, beteken meer as om net sy boodskap te hoor. Dit beteken dat hulle aandag moet skenk sodat hulle kan optree in ooreenstemming met wat hulle hoor (Psalm 49:1; 78:1). Die nasie moet besef dat Jehovah die Bron van onderrigting, geregtigheid en redding is. Hy alleen is die Bron van geestelike verligting (2 Korintiërs 4:6). Hy is die hoogste Regter van die mensdom. Die wette en regterlike beslissings wat van Jehovah af kom, is ’n lig vir diegene wat hulle daardeur laat lei.—Psalm 43:3; 119:105; Spreuke 6:23.
9. Wie, buiten God se verbondsvolk, sal baat vind by Jehovah se reddingsdade?
9 Dit alles sal nie net vir God se verbondsvolk geld nie, maar ook vir mense in die hele wêreld wat die regte gesindheid het, selfs op die mees afgeleë eilande van die see. Hulle vertroue in God en in sy vermoë om ten behoewe van sy getroue knegte op te tree en hulle te red, sal nie tot teleurstelling lei nie. Sy mag, of krag, wat deur sy arm verteenwoordig word, is seker; niemand kan dit terughou nie (Jesaja 40:10; Lukas 1:51, 52). Die ywerige predikingswerk van die oorblywende lede van die Israel van God het vandag ook miljoene mense, baie van hulle op afgeleë eilande van die see, gehelp om hulle tot Jehovah te wend en geloof in hom te stel.
10. (a) Watter waarheid sal koning Nebukadnesar noodgedwonge moet leer? (b) Watter “hemel” en “aarde” sal tot ’n einde gebring word?
10 Jehovah verwys vervolgens na ’n waarheid wat koning Nebukadnesar van Babilon sal moet leer. Niks in die hemel of op aarde kan Jehovah keer om sy wil uit te voer nie (Daniël 4:34, 35). Ons lees: “Slaan julle oë op na die hemel, en aanskou die aarde daar onder. Want die hemel sal verstrooi word en verdwyn net soos rook, en soos ’n kleed sal die aarde verslyt, en sy bewoners sal soos ’n muggie sterf. Maar wat my redding betref, dit sal tot onbepaalde tyd bestaan, en my regverdigheid sal nie verbreek word nie” (Jesaja 51:6). Al is dit teen die beleid van die Babiloniese konings om toe te laat dat gevangenes na hulle vaderland terugkeer, sal dit nie keer dat Jehovah sy volk red nie (Jesaja 14:16, 17). Die Babiloniese “hemel”, of heersende mag, sal verower word. Die Babiloniese “aarde”, die onderdane van daardie heersende mag, sal uiteindelik tot ’n einde kom. Ja, selfs die grootste moondheid van daardie tyd kan nie teen Jehovah se mag staande bly of in die pad van sy reddingsdade staan nie.
11. Waarom is die algehele vervulling van die profesie dat die Babiloniese “hemel” en “aarde” tot niet gemaak gaan word, vir hedendaagse Christene aanmoedigend?
11 Hoe aanmoedigend is dit tog vir hedendaagse Christene om te weet dat hierdie profetiese woorde heeltemal vervul is! Waarom? Omdat die apostel Petrus soortgelyke uitdrukkings gebruik het in verband met ’n gebeurtenis wat nog moet plaasvind. Hy het van die dag van Jehovah gepraat wat vinnig nader kom en “waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt”. Toe het hy gesê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:12, 13; Jesaja 34:4; Openbaring 6:12-14). Hoewel die magtige nasies en hulle verhewe heersers wat soos sterre is, Jehovah teëstaan, sal hulle op sy vasgestelde tyd tot niet gemaak word—so maklik soos ’n mens ’n muggie dooddruk (Psalm 2:1-9). Net God se regverdige regering sal vir ewig oor ’n regverdige mensegemeenskap regeer.—Daniël 2:44; Openbaring 21:1-4.
12. Waarom moet God se knegte nie bang wees wanneer hulle deur teenstanders belaster word nie?
12 Jehovah praat nou met die mense “wat regverdigheid nastreef” en sê: “Luister na my, julle wat regverdigheid ken, die volk in wie se hart my wet is. Moenie bang wees vir die smaad van sterflike mense nie, en moenie met verskrikking vervul word bloot weens hulle smadende woorde nie. Want die mot sal hulle opeet asof hulle ’n kleed is, en die kleremot sal hulle opeet asof hulle wol is. Maar wat my regverdigheid betref, dit sal tot onbepaalde tyd bestaan, en my redding tot ontelbare geslagte” (Jesaja 51:7, 8). Dié wat op Jehovah vertrou, sal as gevolg van hulle moedige standpunt belaster en gesmaad word, maar dit is nie iets om te vrees nie. Dié wat hulle smaad, is blote mense wat ‘opgeëet’ sal word, net soos ’n wolkleed deur ’n mot opgeëet word.a Soos getroue Jode van die ou tyd het ware Christene vandag geen rede om enigiemand te vrees wat hulle teëstaan nie. Jehovah, die ewige God, is hulle redding (Psalm 37:1, 2). Die smaad wat God se vyande hulle aandoen, is ’n bewys dat Jehovah se volk sy gees het.—Matteus 5:11, 12; 10:24-31.
13, 14. Wat word deur die woorde “Ragab” en “die seemonster” afgebeeld, en hoe is hy “verpletter” en “deurboor”?
13 Asof hy Jehovah roep om ten behoewe van Sy gevange volk op te tree, sê Jesaja: “Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, o arm van Jehovah! Ontwaak soos in die dae van lank gelede, soos gedurende die geslagte van vervloë tye. Is dit nie u wat Ragab verpletter het, wat die seemonster deurboor het nie? Is dit nie u wat die see laat opdroog het, die waters van die groot diepte nie? Wat die dieptes van die see ’n pad gemaak het waarlangs die teruggekooptes kon deurtrek nie?”—Jesaja 51:9, 10.
14 Die geskiedkundige voorbeelde waarvan Jesaja praat, is goed gekies. Elke Israeliet weet dat die nasie uit Egipte verlos is en deur die Rooi See getrek het (Eksodus 12:24-27; 14:26-31). Die woorde “Ragab” en “die seemonster” verwys na Egipte onder die Farao wat Israel se uittog uit Egipte teëgestaan het (Psalm 74:13; 87:4; Jesaja 30:7). Eertydse Egipte het soos ’n ontsaglike slang gelyk waarvan die kop by die Nyldelta was en die lang lyf honderde kilometers langs die vrugbare Nylvallei gestrek het (Esegiël 29:3). Maar hierdie monster is ’n verpletterende slag toegedien toe Jehovah die Tien Plae daaroor uitgegiet het. Hy is deurboor, ernstig gewond en verswak toe sy leër in die waters van die Rooi See vernietig is. Ja, Jehovah het die mag van sy arm in sy optrede teenoor Egipte getoon. Sal hy enigsins minder gereed wees om vir sy volk te veg wat in Babilon in ballingskap is?
15. (a) Wanneer en hoe sal Sion se droefheid en gesug wegvlug? (b) Wanneer het droefheid en gesug in hedendaagse tye van die Israel van God af weggevlug?
15 Die profesie gaan voort en kyk nou vorentoe na Israel se bevryding uit Babilon: “Dan sal die losgekooptes van Jehovah terugkeer, en hulle sal na Sion kom met vreugdegeroep, en blydskap tot onbepaalde tyd sal op hulle hoof wees. Verheuging en blydskap sal hulle verkry. Droefheid en gesug sal beslis wegvlug” (Jesaja 51:11). Ongeag hoe droewig hulle toestand in Babilon is, diegene wat Jehovah se regverdigheid nastreef, het wonderlike vooruitsigte. Die tyd sal kom wanneer droefheid en gesug nie meer sal bestaan nie. ’n Vreugdegeroep, blydskap en verheuging sal uit die mond van die losgekooptes gehoor word. In die hedendaagse vervulling van daardie profetiese woorde is die Israel van God in 1919 uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat. Hulle het met groot vreugde na hulle geestelike grondgebied teruggekeer—vreugde wat tot vandag toe voortduur.
16. Wat is die losprys vir die Jode?
16 Wat sal die losprys vir die Jode wees? Jesaja se profesie het reeds getoon dat Jehovah “Egipte as losprys vir jou [gee], Etiopië en Seba in jou plek” (Jesaja 43:1-4). Dit sal later plaasvind. Nadat die Persiese Ryk Babilon verower het en die Joodse gevangenes vrygelaat het, sal hulle Egipte, Etiopië en Seba verower. Hulle sal in die plek van die siele van die Israeliete gegee word. Dit is in ooreenstemming met die beginsel in Spreuke 21:18: “Die goddelose is ’n losprys vir die regverdige; en wie verraderlik handel, neem die plek van die regskapenes in.”
Verdere gerusstelling
17. Waarom hoef die Jode nie die woede van Babilon te vrees nie?
17 Jehovah stel sy volk verder gerus: “Ek—ek vertroos julle. Wie is jy dat jy bang sou wees vir ’n sterflike mens wat sal doodgaan, en vir ’n mensekind wat soos groen gras gemaak sal word? En dat jy Jehovah, jou Maker, sou vergeet, die Een wat die hemel uitspan en die fondament van die aarde lê, sodat jy voortdurend, die hele dag, in angs verkeer het weens die woede van die een wat jou insluit, asof hy heeltemal oorgehaal was om jou te verwoes? En waar is die woede van die een wat jou insluit?” (Jesaja 51:12, 13). Jare van ballingskap lê voor. Daar is nogtans geen rede om die woede van Babilon te vrees nie. Hoewel daardie nasie, die derde wêreldmoondheid volgens die Bybelverslag, God se volk sal oorwin en hulle probeer “insluit”, of dit vir hulle onmoontlik sal probeer maak om te ontvlug, weet getroue Jode dat Jehovah die val van Babilon deur die hand van Kores voorspel het (Jesaja 44:8, 24-28). In teenstelling met die Skepper—die ewige God, Jehovah—sal die inwoners van Babilon vergaan soos gras wat gedurende die droë seisoen onder die intense strale van die son verwelk. Waar sal hulle dreigemente en hulle woede dan wees? Hoe onverstandig is dit tog om die mens te vrees en Jehovah, die een wat hemel en aarde gemaak het, te vergeet!
18. Waarvan verseker Jehovah sy volk, al gaan hulle ’n tyd lank gevangenes wees?
18 Hoewel Jehovah se volk ’n tyd lank in gevangenskap sal wees, as ’t ware ‘in kettings gebukkend sal gaan’, sal hulle skielik vrygelaat word. Hulle sal nie in Babilon uitgewis word of as gevangenes van die honger doodgaan en leweloos in Sjeool, die kuil, beland nie (Psalm 30:3; 88:3-5). Jehovah verseker hulle: “Hy wat in kettings gebukkend gaan, sal beslis gou losgelaat word, sodat hy nie in die dood die kuil sal ingaan nie en sodat sy brood nie sal ontbreek nie.”—Jesaja 51:14.
19. Waarom kan getroue Jode volkome vertroue in Jehovah se woorde hê?
19 Jehovah gaan voort om Sion te vertroos en sê: “Maar ek, Jehovah, is jou God, die Een wat die see in beroering bring sodat sy golwe onstuimig word. Jehovah van die leërs is sy naam. En ek sal my woorde in jou mond lê, en met die skaduwee van my hand sal ek jou beslis bedek, om die hemel te plant en die fondament van die aarde te lê en vir Sion te sê: ‘Jy is my volk’” (Jesaja 51:15, 16). Die Bybel praat herhaaldelik van God se vermoë om sy krag oor die see uit te oefen en dit te beheer (Job 26:12; Psalm 89:9; Jeremia 31:35). Hy het volkome beheer oor die natuurkragte, soos hy getoon het toe hy sy volk uit Egipte verlos het. Wie kan, selfs in die geringste mate, met “Jehovah van die leërs” vergelyk word?—Psalm 24:10.
20. Watter “hemele” en “aarde” sal tot stand kom wanneer Jehovah Sion herstel, en watter vertroostende woorde sal hy uitspreek?
20 Die Jode bly God se verbondsvolk, en Jehovah verseker hulle dat hulle na hulle vaderland sal terugkeer en weer onder sy Wet sal lewe. Daar sal hulle Jerusalem en die tempel herbou en hulle verantwoordelikhede onder die verbond wat hy deur Moses met hulle gesluit het, hervat. Wanneer die herstelde Israeliete en hulle vee weer in die land begin woon, sal “’n nuwe aarde” tot stand kom. “Nuwe hemele”, ’n nuwe regeringstelsel, sal daaroor geplaas word (Jesaja 65:17-19; Haggai 1:1, 14). Jehovah sal weer vir Sion sê: “Jy is my volk.”
’n Aansporing tot optrede
21. Hoe spoor Jehovah die volk aan om op te tree?
21 Nadat Jehovah Sion vertroos het, spoor hy hulle aan om op te tree. Hy praat asof hulle reeds die einde van hulle lyding bereik het en sê: “Ontwaak, ontwaak, staan op, o Jerusalem, jy wat uit die hand van Jehovah sy beker van woede gedrink het. Die kelk, die beker wat waggeling veroorsaak, het jy gedrink, leeggemaak” (Jesaja 51:17). Ja, Jerusalem moet uit sy droewige toestand opstaan en sy vorige posisie en heerlikheid terugkry. Die tyd sal kom wanneer hulle die simboliese beker van Goddelike vergelding leeggemaak het. Daar sal niks oorbly van God se woede teen hulle nie.
22, 23. Wat sal Jerusalem ervaar wanneer hulle die beker van Jehovah se toorn drink?
22 Maar terwyl Jerusalem gestraf word, sal nie een van hierdie stad se inwoners, of “seuns”, kan keer wat gebeur nie (Jesaja 43:5-7; Jeremia 3:14). Die profesie sê: “Nie een van al die seuns waaraan sy geboorte gegee het, het haar gelei nie, en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar hand gevat nie” (Jesaja 51:18). Hoe gaan hulle tog deur die toedoen van die Babiloniërs ly! “Dié twee dinge het jou oorgekom. Wie sal met jou simpatiseer? Plundering en verbreking, en honger en swaard! Wie sal jou vertroos? Jou seuns het flou geword. Hulle het aan die bopunt van al die strate gelê soos die wilde skaap in die net, soos dié wat vol is van die woede van Jehovah, die bestrawwing van jou God.”—Jesaja 51:19, 20.
23 Die arme Jerusalem! “Plundering en verbreking”, sowel as “honger en swaard”, sal daaroor kom. Die “seuns” van die stad sal dit nie kan lei en staande laat bly nie. Hulle sal hulpeloos en uitgeteer bystaan, sonder krag om weerstand te bied teen die Babiloniese invallers. In die openbaar, aan die bopunt, of by die hoek, van die strate sal hulle lê, flou, swak en uitgeput (Klaagliedere 2:19; 4:1, 2). Hulle sal die beker van God se woede gedrink het en sal so magteloos wees soos diere wat in ’n net gevang is.
24, 25. (a) Wat sal nie weer met Jerusalem gebeur nie? (b) Wie sal ná Jerusalem uit die beker van Jehovah se toorn drink?
24 Maar hierdie droewige situasie gaan tot ’n einde kom. Jesaja sê vertroostend: “Daarom, luister asseblief hierna, o vrou, geteisterd en dronk, maar nie van wyn nie. Só het jou Here, Jehovah, ja, jou God, wat die regstryd vir sy volk voer, gesê: ‘Kyk! Ek sal die beker wat waggeling veroorsaak, uit jou hand wegneem. Die kelk, my beker van woede—jy sal dit verder nie meer drink nie. En ek sal dit in die hand sit van dié wat jou irriteer, wat vir jou siel gesê het: “Buig, sodat ons oor jou kan gaan”, sodat jy jou rug net soos die aarde gemaak het, en soos die straat vir dié wat daaroor gaan’” (Jesaja 51:21-23). Nadat Jehovah Jerusalem gedissiplineer het, is hy gereed om medelydend op te tree en ’n vergewensgesinde gees teenoor die stad te openbaar.
25 Jehovah sal nou sy toorn van Jerusalem wegkeer en dit teen Babilon rig. Babilon sal Jerusalem vernietig en verneder het (Psalm 137:7-9). Maar Jerusalem sal nie weer deur die toedoen van Babilon of sy bondgenote uit so ’n beker hoef te drink nie. Die beker sal eerder uit Jerusalem se hand geneem word en aan dié gegee word wat bly was oor sy vernedering (Klaagliedere 4:21, 22). Babilon sal val, smoordronk (Jeremia 51:6-8). Intussen sal Sion verrys! Wat ’n ommekeer! So ’n vooruitsig sal Sion werklik vertroos. En Jehovah se knegte kan verseker wees dat sy naam deur sy reddingsdade geheilig sal word.
[Voetnote]
a Die mot waarvan hier gepraat word, is klaarblyklik die gewone kleremot, veral in sy vernietigende larwestadium.
[Prent op bladsy 167]
Jehovah, die Grotere Abraham, is die “rots” waaruit sy volk “gekap is”
[Prent op bladsy 170]
Die teenstanders van God se volk sal verdwyn, soos ’n kleed wat deur motte geëet is
[Prent op bladsy 176, 177]
Jehovah het getoon dat hy die mag het om die elemente te beheer
[Prent op bladsy 178]
Die beker waaruit Jerusalem gedrink het, moet vir Babilon en sy bondgenote aangegee word