Hoofstuk ses-en-twintig
“Wees vir ewig bly oor wat ek skep”
1. Watter gerusstellende woorde het die apostel Petrus opgeteken, en watter vraag ontstaan?
SAL ons ooit die einde van ongeregtigheid en lyding sien? Meer as 1 900 jaar gelede het die apostel Petrus hierdie gerusstellende woorde opgeteken: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens [God se] belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Petrus, en baie ander getroue knegte van God deur die eeue heen, het uitgesien na die wonderlike dag wanneer wetteloosheid, onderdrukking en geweld tot ’n einde sal kom en wanneer regverdigheid sal seëvier. Kan ons seker wees dat hierdie belofte vervul sal word?
2. Watter profeet het van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” gepraat, en watter vervullings het daardie profesie van die ou tyd?
2 Ja, ons kan! Toe Petrus van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” gepraat het, het hy nie ’n nuwe idee bekend gestel nie. Sowat 800 jaar vroeër het Jehovah soortgelyke woorde deur middel van die profeet Jesaja geuiter. Daardie vroeëre belofte het in 537 v.G.J. ’n kleinskaalse vervulling gehad toe die Jode uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is, wat hulle in staat gestel het om na hulle vaderland terug te keer. Maar Jesaja se profesie het vandag ’n groot vervulling, en ons sien uit na ’n selfs opwindender vervulling in God se komende nuwe wêreld. Ja, die hartverblydende profesie wat deur middel van Jesaja gegee is, gee ons ’n voorskou van die seëninge wat God vir dié wat hom liefhet, in die vooruitsig stel.
Jehovah rig ’n versoek tot “ ’n hardkoppige volk”
3. Watter vraag word in Jesaja hoofstuk 65 vir ons beantwoord?
3 Onthou dat Jesaja 63:15–64:12 Jesaja se profetiese gebed ten behoewe van die Joodse ballinge in Babilon bevat. Soos Jesaja se woorde duidelik toon, aanbid baie Jode Jehovah nie heelhartig nie, maar daar is party wat berou gehad het en hulle tot hom gewend het. Sal Jehovah die nasie nou ter wille van daardie berouvolle oorblyfsel herstel? Ons vind die antwoord in Jesaja hoofstuk 65. Maar voor Jehovah ’n belofte van verlossing vir die paar getroues uitspreek, beskryf hy die oordeel wat op almal wag wat nie geloof het nie.
4. (a) Wie sal Jehovah soek, in teenstelling met sy opstandige volk? (b) Hoe het die apostel Paulus Jesaja 65:1, 2 toegepas?
4 Jehovah het die volgehoue opstandigheid van sy volk verduur. Maar die tyd sal kom wanneer hy hulle aan hulle vyande sal oorlewer en ander liefdevol in sy guns sal neem. Deur middel van Jesaja sê Jehovah: “Ek het my laat soek deur dié wat nie na my gevra het nie. Ek het my laat vind deur dié wat my nie gesoek het nie. Ek het gesê: ‘Hier is ek, hier is ek!’ vir ’n nasie wat my naam nie aangeroep het nie” (Jesaja 65:1). Dit is ’n droewige feit in verband met Jehovah se verbondsvolk dat mense onder die nasies na Jehovah toe sal kom, maar dat die hardkoppige Juda in sy geheel sal weier om dit te doen. Jesaja is nie die enigste profeet wat voorspel dat God uiteindelik ’n volk sal kies wat voorheen nie erken is nie (Hosea 1:10; 2:23). Die apostel Paulus het Jesaja 65:1, 2 uit die Septuagint aangehaal om te bewys dat mense van die nasies “die regverdigheid wat uit geloof voortspruit”, sou kon verkry, al het die natuurlike Jode geweier om dit te doen.—Romeine 9:30; 10:20, 21.
5, 6. (a) Watter opregte begeerte het Jehovah aan die dag gelê, maar hoe het sy volk gereageer? (b) Wat kan ons leer uit Jehovah se handelinge met Juda?
5 Jehovah verduidelik waarom hy sy eie volk sal toelaat om rampspoed te ly: “Ek het my hande die hele dag deur uitgestrek na ’n hardkoppige volk, wat op die weg wandel wat nie goed is nie, agter hulle gedagtes aan” (Jesaja 65:2). Om jou hande uit te strek, dui op ’n uitnodiging of ’n smeking. Jehovah het sy hande nie net ’n kort rukkie uitgestrek gehou nie, maar die hele dag lank. Sy opregte begeerte is dat Juda na hom moet terugkeer. En tog het hierdie hardkoppige volk geweier om daarop ag te slaan.
6 Wat ’n hartverblydende les leer ons uit Jehovah se woorde! Hy wil hê dat ons nader aan hom moet kom omdat hy ’n genaakbare God is (Jakobus 4:8). Hierdie woorde toon ook dat Jehovah nederig is (Psalm 113:5, 6). Hy hou immers aan om sy hande figuurlik gesproke uit te strek en om sy volk te smeek om terug te keer, al het hulle hardkoppigheid hom “gekrenk” (Psalm 78:40, 41). Eers nadat hy hulle eeue lank gesmeek het, lewer hy hulle uiteindelik aan hulle vyande oor. Selfs dan sluit hy nie die deur vir nederige individue onder hulle nie.
7, 8. Op watter maniere het Jehovah se hardkoppige volk hom vertoorn?
7 Die hardkoppige Jode het Jehovah herhaaldelik deur hulle skandelike gedrag vertoorn. Jehovah beskryf hulle aanstootlike dade: “Die volk wat bestaan uit dié wat my voortdurend in my aangesig aanstoot gee, wat in die tuine offerandes bring en op die bakstene offerrook laat opgaan, wat tussen die grafte sit, wat ook die nag in die waghutte deurbring, wat varkvleis eet, terwyl die sous van bedorwe dinge in hulle houers is; wat sê: ‘Hou jou eenkant. Moenie nader kom na my toe nie, want ek sal beslis heiligheid op jou oordra.’ Hierdie mense is ’n rook in my neusgate, ’n vuur wat die hele dag brand” (Jesaja 65:3-5). Hierdie skynbare vroom persone gee Jehovah ‘in sy aangesig’ aanstoot—’n uitdrukking wat moontlik op vermetelheid en oneerbiedigheid dui. Hulle wend geen poging aan om hulle gruwels te verberg nie. Is dit nie veral afkeurenswaardig om sondes te pleeg in die teenwoordigheid van die Een wat eintlik geëer en gehoorsaam moet word nie?
8 Hierdie eiegeregtige sondaars sê in werklikheid vir ander Jode: ‘Bly op ’n afstand, want ek is heiliger as jy.’ Hoe huigelagtig tog! Hierdie “vroom” persone bring offerandes en brand reukwerk vir valse gode, wat in God se Wet veroordeel word (Eksodus 20:2-6). Hulle sit tussen die grafte, wat hulle volgens die Wet onrein maak (Numeri 19:14-16). Hulle eet varkvleis, kos wat onrein is (Levitikus 11:7).a En tog voel hulle heiliger as ander Jode weens hulle godsdienswerke, en hulle wil hê dat ander mense van hulle af moet wegbly sodat dié nie bloot deur assosiasie as ’t ware geheilig, of rein, sal word nie. Dit is nietemin glad nie hoe die God wat “uitsluitlike toegewydheid” eis, die saak beskou nie!—Deuteronomium 4:24.
9. Hoe beskou Jehovah die eiegeregtige sondaars?
9 Jehovah beskou hierdie eiegeregtige persone nie as heilig nie, maar sê eerder: “Hierdie mense is ’n rook in my neusgate.” Die Hebreeuse woord vir “neus” of “neusgat” word dikwels figuurlik vir toorn gebruik. Rook word ook met Jehovah se brandende toorn in verband gebring (Deuteronomium 29:20). Die afstootlike afgodediens waarin sy volk verval het, het Jehovah se brandende toorn verwek.
10. Hoe sal Jehovah diegene in Juda vir hulle sondes vergeld?
10 In sy geregtigheid kan Jehovah hierdie opsetlike sondaars nie ongestraf laat bly nie. Jesaja skryf: “‘Kyk! Dit staan voor my geskrywe. Ek sal nie stilbly nie, maar ek sal dit vergeld; ja, ek sal dit vergeld in hulle boesem, vir hulle eie oortredings en terselfdertyd vir die oortredings van hulle voorvaders’, het Jehovah gesê. ‘Omdat hulle offerrook op die berge laat opgaan het en my op die heuwels gesmaad het, sal ek ook hulle loon allereers in hulle boesem uitmeet’” (Jesaja 65:6, 7). Deur valse aanbidding te beoefen, het hierdie Jode Jehovah gesmaad. Hulle het die aanbidding van die ware God na niks beters as dié van die nasies rondom hulle laat lyk nie. “Vir hulle eie oortredings”, onder meer afgodediens en spiritisme, sal Jehovah hulle “in hulle boesem” vergeld. Die woord “boesem” verwys blykbaar na plooie in die bokleed wat ’n sak gevorm het en waarin handelaars ’n afgemete hoeveelheid van ’n produk kon gooi (Lukas 6:38). Vir afvallige Jode is die betekenis duidelik—Jehovah sal hulle ‘vergelding’, of straf, uitmeet. Die God van geregtigheid sal rekenskap eis (Psalm 79:12; Jeremia 32:18). Aangesien Jehovah nie verander nie, kan ons seker wees dat hy op sy bestemde tyd hierdie goddelose stelsel van dinge op soortgelyke wyse sal straf.—Maleagi 3:6.
“Ter wille van my knegte”
11. Hoe toon Jehovah dat hy ’n getroue oorblyfsel sal red?
11 Sal Jehovah barmhartigheid aan getroues onder sy volk bewys? Jesaja verduidelik: “Só het Jehovah gesê: ‘Net soos die nuwe wyn in die tros gevind word en iemand moet sê: “Moet dit nie verderf nie, want daar is ’n seën daarin”, so sal ek doen ter wille van my knegte om nie almal te verderf nie. En ek sal uit Jakob ’n nageslag voortbring en uit Juda die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes moet dit in besit neem, en my knegte sal daar woon’” (Jesaja 65:8, 9). Deur sy volk met ’n tros druiwe te vergelyk, gebruik Jehovah ’n illustrasie wat hulle maklik kan verstaan. Daar is baie druiwe in die land, en wyn wat van druiwe gemaak word, is ’n seën vir die mens (Psalm 104:15). Die beeld wat geskep word, is moontlik dié van ’n tros waaraan party van die druiwe goed is, maar nie almal nie. Of een tros is dalk goed, maar ander trosse is groen of vrot. Hoe dit ook al sy, die wingerdarbeider sal nie goeie druiwe vernietig nie. Op hierdie manier verseker Jehovah sy volk dat hy die nasie nie geheel en al sal vernietig nie, maar dat hy ’n getroue oorblyfsel sal spaar. Hy sê dat hierdie begunstigde oorblyfsel sy “berge” sal beërf, dit wil sê Jerusalem en die land van Juda, die heuwelagtige gebied wat Jehovah in besit geneem het.
12. Watter seëninge wag op die getroue oorblyfsel?
12 Watter seëninge wag op hierdie getroue oorblyfsel? Jehovah verduidelik: “Saron moet ’n weiveld vir skape word en die Agorlaagvlakte ’n rusplek vir beeste, vir my volk wat my gesoek het” (Jesaja 65:10). Vee speel ’n belangrike rol in die lewe van baie Jode, en in vreedsame tye bring oorvloedige weiveld voorspoed. Jehovah verwys na twee uiterstes van die land om ’n prentjie van vrede en voorspoed te skilder. Aan die westekant strek die Saronvlakte, wat bekend is vir sy skoonheid en vrugbaarheid, al met die kus van die Middellandse See langs. Die Agorvallei vorm ’n deel van die noordoostelike grens van die land (Josua 15:7). Gedurende die komende ballingskap sal hierdie gebiede saam met die res van die land woes lê. Jehovah belowe egter dat dit ná die ballingskap pragtige weivelde vir die terugkerende oorblyfsel sal word.—Jesaja 35:2; Hosea 2:15.
Vertroue in “die Geluksgod”
13, 14. Watter gebruike toon dat God se volk hom verlaat het, en wat sal as gevolg daarvan met hulle gebeur?
13 Jesaja se profesie vestig nou weer die aandag op diegene wat Jehovah verlaat het en volgehou het met afgodediens. Dit sê: “Julle is dié wat Jehovah verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel vir die Geluksgod dek en wat gemengde wyn vir die god van die Noodlot skink” (Jesaja 65:11). Deur ’n tafel vol kos en drank voor “die Geluksgod” en “die god van die Noodlot” te dek, het hierdie afvallige Jode in die afgodiese gebruike van die heidense nasies verval.b Wat sal word van enigiemand wat liggelowig genoeg is om op hierdie gode te vertrou?
14 Jehovah waarsku hulle onomwonde: “Ek sal julle vir die swaard bestem, en julle sal almal buig om geslag te word; want ek het geroep, maar julle het nie geantwoord nie, ek het gepraat, maar julle het nie geluister nie; en julle het bly doen wat sleg was in my oë en gekies wat my glad nie behaag het nie” (Jesaja 65:12). Deur middel van woordspeling op die naam van die god van die Noodlot in die oorspronklike Hebreeus, sê Jehovah dat dié wat hierdie valse god aanbid, “vir die swaard bestem” is, dit wil sê dat hulle vernietig gaan word. Jehovah het hierdie mense herhaaldelik deur middel van sy profete aangespoor om berou te toon, maar hulle het hom geïgnoreer en het hardkoppig verkies om te doen wat hulle weet sleg is in sy oë. Met watter minagting behandel hulle God tog! Ter vervulling van God se waarskuwing sal ’n groot katastrofe die nasie in 607 v.G.J. tref wanneer Jehovah die Babiloniërs toelaat om Jerusalem en sy tempel te vernietig. Dan sal “die Geluksgod” nie sy aanhangers in Juda en Jerusalem kan beskerm nie.—2 Kronieke 36:17.
15. Hoe slaan ware Christene vandag ag op die waarskuwing in Jesaja 65:11, 12?
15 Vandag slaan ware Christene ag op die waarskuwing wat in Jesaja 65:11, 12 gevind word. Hulle glo nie dat ‘Geluk’ die een of ander bonatuurlike mag is wat gunste kan verskaf nie. Hulle weier om hulle materiële besittings te vermors om “die Geluksgod” tevrede te stel en vermy alle vorme van dobbelary. Hulle is oortuig dat diegene wat hulle aan hierdie god toewy, uiteindelik alles sal verloor, want Jehovah sê vir sulke persone: “Ek sal julle vir die swaard bestem.”
“Kyk! My knegte sal bly wees”
16. Op watter maniere sal Jehovah sy getroue knegte seën, maar wat sal gebeur met dié wat hom verlaat het?
16 Die profesie wys diegene tereg wat Jehovah verlaat het en beskryf die teenstelling tussen die vooruitsigte van dié wat God opreg aanbid en dié wat dit op huigelagtige wyse doen: “Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: ‘Kyk! My knegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk! My knegte sal drink, maar julle sal dors wees. Kyk! My knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk! My knegte sal met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart, maar julle sal skreeu weens die pyn in die hart en weeklaag weens die verbreking van gees’” (Jesaja 65:13, 14). Jehovah sal sy getroue knegte seën. Hulle sal juig met harte wat oorloop van vreugde. Die feit dat hulle sal eet, drink en bly wees, toon dat Jehovah op oorvloedige wyse in die behoeftes van sy aanbidders sal voorsien. In teenstelling daarmee sal diegene wat gekies het om Jehovah te verlaat, geestelik honger en dors wees. Hulle behoeftes sal nie bevredig word nie. Hulle sal skreeu en weeklaag weens die angs en benoudheid wat oor hulle sal kom.
17. Waarom het God se volk vandag goeie rede om met vreugde uit te roep?
17 Jehovah se woorde is ’n goeie beskrywing van die geestelike toestand van dié wat vandag bloot beweer dat hulle God dien. Hoewel die miljoene lede van die Christendom ly weens die verbreking van gees, roep Jehovah se aanbidders met vreugde uit. En hulle het goeie rede om bly te wees. Hulle is geestelik goed gevoed. Jehovah voorsien vir hulle oorvloedige geestelike voedsel deur middel van Bybelpublikasies en Christelike vergaderinge. Die opbouende waarhede en die vertroostende beloftes van God se Woord gee ons waarlik ’n “goeie toestand van die hart”!
18. Wat sal oorbly van diegene wat Jehovah verlaat het, en waarop dui die gebruik van hulle naam in ’n eed?
18 Jehovah sê verder vir diegene wat hom verlaat het: “Julle sal julle naam beslis by my uitverkorenes vir ’n eed agterlaat, en die Soewereine Heer Jehovah sal julle elkeen afsonderlik doodmaak, maar sy knegte sal hy by ’n ander naam noem, sodat elkeen wat homself op die aarde seën, hom deur die God van trou sal seën, en elkeen wat ’n beëdigde verklaring op die aarde aflê, by die God van trou sal sweer; omdat die vorige benoudhede vergete sal wees en omdat hulle vir my oë verborge sal wees” (Jesaja 65:15, 16). Al wat sal oorbly van diegene wat Jehovah verlaat het, is hulle naam, wat net as ’n eed, of ’n vloek, gebruik sal word. Dit beteken moontlik dat dié wat hulle in plegtige eed tot iets wil verbind, as ’t ware sal sê: ‘Mag ek gestraf word soos daardie afvalliges gestraf is as ek hierdie belofte nie nakom nie.’ Dit kan selfs beteken dat hulle naam as ’n illustrasie gebruik sal word, soos Sodom en Gomorra, as ’n simbool van God se straf oor die goddeloses.
19. Hoe sal God se knegte by ’n ander naam genoem word, en waarom sal hulle vertroue in die God van trou hê? (Sien ook voetnoot.)
19 Hoe anders sal die lot van God se eie knegte tog nie wees nie! Hulle sal by ’n ander naam genoem word. Dit toon watter geseënde toestand en eer hulle in hulle vaderland sal geniet. Hulle sal nie ’n seën by ’n valse god soek of by ’n lewelose afgod sweer nie. Wanneer hulle hulleself seën of ’n eed sweer, sal hulle dit eerder by die God van trou doen (Jesaja 65:16). Die inwoners van die land sal rede hê om volkome vertroue in God te hê, want hy sal bewys het dat hy getrou is aan sy beloftes.c Veilig in hulle vaderland, sal die Jode gou die vorige benoudheid vergeet.
“Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde”
20. Hoe is Jehovah se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” in 537 v.G.J. vervul?
20 Jehovah verskaf nou besonderhede oor sy belofte om ’n berouvolle oorblyfsel te herstel nadat hulle uit ballingskap in Babilon teruggekeer het. Deur middel van Jesaja sê Jehovah: “Kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jesaja 65:17). Jehovah se herstellingsbelofte sal beslis vervul word, en daarom praat hy van daardie toekomstige herstelling asof dit reeds plaasvind. Hierdie profesie is aanvanklik in 537 v.G.J. vervul, toe die Joodse oorblyfsel na Jerusalem teruggekeer het. Waaruit het die “nuwe hemele” destyds bestaan? Die goewerneurskap van Serubbabel wat deur die hoëpriester Josua ondersteun is en in Jerusalem gesetel was. Die herstelde Joodse oorblyfsel het “’n nuwe aarde” uitgemaak, ’n gereinigde gemeenskap wat hulle aan hierdie heerskappy onderwerp het en gehelp het om rein aanbidding in die land te herstel (Esra 5:1, 2). Weens die vreugde van daardie herstelling het hulle van alle vorige lyding vergeet; hulle het die vorige benoudheid nie eers onthou nie.—Psalm 126:1, 2.
21. Watter nuwe hemele het in 1914 in aansyn gekom?
21 Maar onthou dat Petrus Jesaja se profesie herhaal het en getoon het dat dit ’n toekomstige vervulling sal hê. Die apostel het geskryf: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). In 1914 het die langverwagte nuwe hemele in aansyn gekom. Die Messiaanse Koninkryk wat in daardie jaar gebore is, regeer uit die hemel, en Jehovah het dit gesag oor die hele aarde gegee (Psalm 2:6-8). Hierdie Koninkryksregering, onder Christus en sy 144 000 medeheersers, is die nuwe hemele.—Openbaring 14:1.
22. Waaruit sal die nuwe aarde bestaan, en hoe word mense nou al voorberei om die kern van daardie reëling te word?
22 Wat van die nuwe aarde? Net soos in die eertydse vervulling sal die nuwe aarde uit mense bestaan wat hulle geredelik aan die heerskappy van die nuwe hemelse regering onderwerp. Miljoene wat die regte gesindheid het, onderwerp hulle nou al aan hierdie regering en streef daarna om sy wette te gehoorsaam, soos dit in die Bybel gevind word. Hierdie persone kom uit alle nasionaliteite, tale en rasse en hulle werk saam om die heersende Koning Jesus Christus te dien (Miga 4:1-4). Ná die huidige goddelose stelsel van dinge verbygegaan het, sal hierdie groep die kern van ’n nuwe aarde vorm wat uiteindelik ’n aardomvattende gemeenskap van godvresende mense sal wees wat die aardse ryk van God se Koninkryk sal beërf.—Matteus 25:34.
23. Watter inligting vind ons in die boek Openbaring omtrent “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde”, en hoe sal hierdie profesie vervul word?
23 Die boek Openbaring beskryf ’n visioen wat die apostel Johannes gesien het van die komende dag van Jehovah, wanneer hierdie stelsel van dinge verwyder sal word. Daarna sal Satan in die afgrond gewerp word (Openbaring 19:11–20:3). Ná hierdie beskrywing herhaal Johannes die profetiese woorde van Jesaja en skryf: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien.” Die daaropvolgende verse van die verslag van hierdie wonderlike visioen vertel van die tyd wanneer Jehovah God die toestande op hierdie aarde grootliks sal laat verbeter (Openbaring 21:1, 3-5). Jesaja se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” sal ’n wonderlike vervulling in God se nuwe wêreld hê! Onder die nuwe goewermentele hemele sal ’n nuwe aardse gemeenskap ’n geestelike sowel as fisiese paradys geniet. Hoe vertroostend is die volgende belofte tog: “Die vorige dinge [siektes, lyding en al die ander probleme waarvoor die mensdom te staan kom,] sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.” Wat ons ook al van daardie tyd sal onthou, sal nie vir ons die smart, of pyn, veroorsaak wat nou die harte van baie belas nie.
24. Waarom sal Jehovah verheug wees oor die herstelling van Jerusalem, en wat sal nie meer in die strate van hierdie stad gehoor word nie?
24 Jesaja se profesie gaan voort: “Verheug julle en wees vir ewig bly oor wat ek skep. Want kyk, ek skep Jerusalem as ’n rede tot blydskap en sy volk as ’n rede tot vreugde. En ek sal bly wees oor Jerusalem en my verheug oor my volk; en daarin sal nie meer die geluid van gehuil of die geluid van ’n klaaggeroep gehoor word nie” (Jesaja 65:18, 19). Dit sal nie net die Jode wees wat verheug is omdat hulle in hulle vaderland herstel is nie, maar God self sal verheug wees, want hy sal Jerusalem iets pragtigs maak—weer eens die middelpunt van ware aanbidding op aarde. Die geluid van gehuil oor rampspoed, wat dekades vroeër in die strate van daardie stad gehoor is, sal nooit weer gehoor word nie.
25, 26. (a) Hoe maak Jehovah in ons dag Jerusalem “’n rede tot blydskap”? (b) Hoe sal Jehovah die Nuwe Jerusalem gebruik, en waarom kan ons ons vandag verheug?
25 Jehovah maak Jerusalem vandag ook “’n rede tot blydskap”. Hoe? Soos ons reeds gesien het, sal die nuwe hemele wat in 1914 in aansyn gekom het, uiteindelik 144 000 medeheersers insluit, wat ’n aandeel aan die hemelse regering sal hê. Hulle word profeties as die “Nuwe Jerusalem” beskryf (Openbaring 21:2). God sê van die Nuwe Jerusalem: “Kyk, ek skep Jerusalem as ’n rede tot blydskap en sy volk as ’n rede tot vreugde.” Die Nuwe Jerusalem sal deur God gebruik word om ongekende seëninge oor die gehoorsame mensdom uit te stort. Die geluid van gehuil of van ’n klaaggeroep sal nie meer gehoor word nie, want Jehovah sal ons “die versoeke van [ons] hart” gee.—Psalm 37:3, 4.
26 Daar is werklik goeie rede om vandag verheug te wees! Jehovah gaan binnekort sy roemryke naam heilig deur alle teenstanders te vernietig (Psalm 83:17, 18). Dan sal die nuwe hemele volkome in beheer wees. Watter wonderlike redes is daar tog om ons te verheug en vir ewig bly te wees oor wat God skep!
Die belofte van ’n veilige toekoms
27. Hoe beskryf Jesaja die veiligheid wat die terugkerende Jode in hulle vaderland sal geniet?
27 Hoe sal die lewe onder die nuwe hemele in die eerste vervulling vir die terugkerende Jode wees? Jehovah sê: “Daarvandaan sal nie meer ’n suigeling van ’n paar dae kom nie, en ook nie ’n ou man wat nie sy dae vervul nie; want iemand sal as ’n blote seun sterf, al is hy honderd jaar oud; en wat die sondaar betref, al is hy honderd jaar oud, sal ’n vloek oor hom uitgespreek word” (Jesaja 65:20). Wat ’n pragtige beskrywing van die veiligheid wat die terugkerende ballinge in hulle herstelde vaderland sal geniet! Ontydige dood sal geen pasgeborene, wat maar ’n paar dae oud is, opeis nie. So ’n dood sal ook nie ’n ouer persoon wegneem wat nog nie sy volle lewensduur uitgeleef het nie.d Hoe gerusstellend is Jesaja se woorde tog vir die Jode wat na Juda sal terugkeer! Hulle is veilig in hulle land en hoef hulle nie te bekommer dat vyande hulle kindertjies sal wegvoer of hulle manne sal doodmaak nie.
28. Wat leer ons uit Jehovah se woorde oor die lewe in die nuwe wêreld onder sy Koninkryk?
28 Wat vertel Jehovah se woorde ons van die lewe in die komende nuwe wêreld? Onder God se Koninkryk sal elke kind die vooruitsig op ’n veilige toekoms hê. Die dood sal nooit ’n godvresende man in die fleur van sy lewe wegneem nie. Inteendeel, die gehoorsame mensdom sal veilig en gerus wees en sal die lewe kan geniet. Wat van dié wat teen God in opstand kom? Hierdie persone sal nie langer die voorreg hê om te lewe nie. Al is die opstandige sondaar “honderd jaar oud”, sal hy sterf. In daardie geval sal hy “’n blote seun” wees vergeleke met wat hy kon gewees het—’n man met eindelose lewe.
29. (a) Watter vreugdes sal God se gehoorsame volk in die herstelde land van Juda hê? (b) Waarom is bome ’n gepaste illustrasie van langlewendheid? (Sien voetnoot.)
29 Jehovah gaan verder met sy beskrywing van die toestande wat in die herstelde land van Juda sal heers: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut” (Jesaja 65:21, 22). Nadat God se gehoorsame volk na die verwoeste land van Juda teruggekeer het, waar daar ongetwyfeld geen huise of wingerde was nie, sal hulle die vreugde hê om in hulle eie huise te woon en die vrug van hulle eie wingerde te eet. God sal hulle werk seën, en hulle sal lank lewe—soos die dae van ’n boom—waartydens hulle die vrug van hulle arbeid sal geniet.e
30. In watter gelukkige situasie bevind Jehovah se knegte hulle vandag, en wat sal hulle in die nuwe wêreld geniet?
30 Daar was in ons dag ’n vervulling van hierdie profesie. Jehovah se volk het in 1919 uit geestelike ballingskap gekom en het hulle “land”, of sfeer van bedrywigheid en aanbidding, begin herstel. Hulle het gemeentes gestig en was geestelik vrugbaar. Gevolglik geniet Jehovah se volk nou reeds ’n geestelike paradys en godgegewe vrede. Ons kan seker wees dat hierdie vrede tot in die fisiese Paradys sal voortduur. Ons kan ons nie eers indink wat Jehovah deur middel van die gewillige harte en hande van sy aanbidders in die nuwe wêreld sal kan uitrig nie. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om jou eie huis te bou en dan daarin te woon! Onder die Koninkryksheerskappy sal daar geen tekort aan bevredigende werk wees nie. Hoe wonderlik sal dit tog wees om altyd ‘die goeie te sien’ vir die vrugte van jou eie arbeid! (Prediker 3:13). Sal ons genoeg tyd hê om die werk van ons hande ten volle te geniet? Ja, beslis! Die eindelose lewens van getroue mense sal “soos die dae van ’n boom” wees—duisende jare, en nog langer!
31, 32. (a) Watter seëninge sal die terugkerende ballinge geniet? (b) Watter vooruitsig sal getroue mense in die nuwe wêreld hê?
31 Jehovah beskryf verdere seëninge wat op die terugkerende ballinge wag: “Hulle sal nie verniet swoeg nie, en ook sal hulle nie vir ontsteltenis geboorte gee nie; want hulle is die nageslag wat uit die geseëndes van Jehovah bestaan, en hulle nakomelinge saam met hulle” (Jesaja 65:23). Daardie herstelde Jode sal deur Jehovah geseën word, sodat hulle nie tevergeefs sal arbei nie. Ouers sal nie kinders voortbring wat ’n vroeë dood sal sterf nie. Die voormalige ballinge sal nie die seëninge van die herstelling alleen geniet nie; hulle nageslag sal saam met hulle wees. God is so gretig om in sy volk se behoeftes te voorsien dat hy belowe: “Voordat hulle roep, sal ek antwoord; terwyl hulle nog praat, sal ek hoor.”—Jesaja 65:24.
32 Hoe sal Jehovah hierdie beloftes in die komende nuwe wêreld nakom? Die tyd sal leer. Jehovah het nie al die besonderhede verskaf nie, maar ons kan seker wees dat getroue mense nooit weer ‘verniet sal swoeg’ nie. Die groot menigte Armageddon-oorlewendes en hulle kinders sal die vooruitsig hê om ’n baie lang bevredigende lewe—ewige lewe—te geniet! Diegene wat in die opstanding terugkom en wat kies om in ooreenstemming met God se standaarde te lewe, sal ook in die nuwe wêreld vreugde vind. Jehovah sal hulle versoeke aanhoor en hulle behoeftes bevredig; hy sal selfs vooruit weet wat hulle nodig het. Ja, Jehovah sal sy hand oopmaak en die gepaste ‘begeertes van alles wat lewe, bevredig’.—Psalm 145:16.
33. In watter sin sal die diere in vrede met mekaar wees wanneer die Jode na hulle vaderland terugkeer?
33 Hoe verreikend sal die beloofde vrede en veiligheid wees? Jehovah sluit hierdie deel van die profesie soos volg af: “‘Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet net soos die bul; en wat die slang betref, stof sal sy voedsel wees. Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie’, het Jehovah gesê” (Jesaja 65:25). Wanneer die getroue Joodse oorblyfsel na hulle vaderland terugkeer, sal hulle onder Jehovah se sorg wees. ’n Leeu sal as ’t ware strooi eet soos ’n bul, want die leeu sal die Jode of hulle diere geen kwaad aandoen nie. Hierdie belofte is seker, want dit sluit af met die woorde “het Jehovah gesê”. En sy woord word altyd bewaarheid!—Jesaja 55:10, 11.
34. Watter opwindende vervulling het Jehovah se woorde vandag en sal dit in die nuwe wêreld hê?
34 Jehovah se woorde het vandag ’n opwindende vervulling onder ware aanbidders. God het die geestelike gebied van sy volk sedert 1919 geseën en dit in ’n geestelike paradys verander. Diegene wat in hierdie geestelike paradys inkom, maak merkwaardige veranderinge in hulle lewe (Efesiërs 4:22-24). Met die hulp van God se gees maak mense wat vroeër dierlike persoonlikhede gehad het—wat hulle medemens moontlik uitgebuit of op ander maniere veronreg het—vordering om ongewenste eienskappe te beheers. Gevolglik geniet hulle vrede en eenheid van aanbidding met medegelowiges. Die seëninge wat Jehovah se volk nou in hulle geestelike paradys geniet, sal tot in die fisiese Paradys strek, waar die vrede wat onder die mense bestaan, met die vrede onder die diere sal ooreenstem. Ons kan seker wees dat God se oorspronklike opdrag aan die mensdom op sy bestemde tyd behoorlik uitgevoer sal word: “Onderwerp [die aarde], en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.”—Genesis 1:28.
35. Waarom het ons goeie rede om ‘vir ewig bly te wees’?
35 Hoe dankbaar is ons tog vir Jehovah se belofte om “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te skep! Daardie belofte het in 537 v.G.J. ’n vervulling gehad en het vandag ’n verdere vervulling. Hierdie twee vervullings dui op ’n wonderlike toekoms vir die gehoorsame mensdom. Jehovah het ons goedgunstig, deur middel van Jesaja se profesie, ’n voorskou gegee van wat hy in die vooruitsig stel vir dié wat hom liefhet. Ons het voorwaar goeie rede om ag te slaan op Jehovah se woorde: “Wees vir ewig bly oor wat ek skep”!—Jesaja 65:18.
[Voetnote]
a Baie dink dat hierdie sondaars by die grafte was omdat hulle met die dooies probeer kommunikeer het. Die eet van varkvleis was moontlik met afgodediens geassosieer.
b Die Bybelvertaler Hieronimus (gebore in die vierde eeu G.J.) het op hierdie vers kommentaar gelewer en vertel van ’n ou gebruik wat afgodedienaars op die laaste dag van die laaste maand van hulle jaar onderhou het. Hy het geskryf: “Hulle het ’n tafel gedek met verskillende soorte kos en ’n beker met gemengde soet wyn om geluk vir die vrugbaarheid van die afgelope of komende jaar te verseker.”
c Volgens Jesaja 65:16 in die Hebreeuse Masoretiese teks is Jehovah “die God van Amen”. “Amen” beteken “laat dit so wees”, of “beslis”, en is ’n bevestiging of waarborg dat iets waar is of dat dit beslis verwesenlik sal word. Deur al sy beloftes uit te voer, toon Jehovah dat sy woorde waar is.
d Die nuwe Afrikaanse Bybel (1983) vertaal Jesaja 65:20 soos volg: “Daar sal geen kind sterf wat maar ’n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie.”
e Bome is ’n gepaste illustrasie van langlewendheid, want sover die mens se kennis strek, is bome van die dinge wat die langste lewe. ’n Olyfboom bring byvoorbeeld honderde jare lank olywe voort en kan tot duisend jaar oud word.
[Prent op bladsy 389]
In God se nuwe wêreld sal ons oorgenoeg tyd hê om die werk van ons hande te geniet