Hoofstuk vyftien
Jehovah se besluite teen die nasies
1. Watter oordeelsboodskap teen Assirië teken Jesaja op?
JEHOVAH kan die nasies gebruik om sy volk weens hulle goddeloosheid te dissiplineer. Hy verskoon daardie nasies nietemin nie vir hulle onnodige wreedheid, hulle trots en hulle vyandigheid teenoor ware aanbidding nie. Daarom laat hy Jesaja lank voor die tyd reeds “die uitspraak teen Babilon” opteken (Jesaja 13:1). Maar Babilon is ’n toekomstige bedreiging. In Jesaja se tyd word God se verbondsvolk deur Assirië onderdruk. Assirië vernietig die noordelike koninkryk van Israel en verwoes groot dele van Juda. Maar Assirië se oorwinnings is beperk. Jesaja skryf: “Jehovah van die leërs het gesweer en gesê: ‘Waarlik, net soos ek gedink het, so moet dit gebeur . . . om die Assiriër in my land te verbreek en sodat ek hom op my berge kan vertrap; en sodat sy juk van hulle kan wyk en sodat sy vrag van hulle skouer kan wyk’” (Jesaja 14:24, 25). Kort nadat Jesaja hierdie profesie uitspreek, word die Assiriese bedreiging van Juda verwyder.
2, 3. (a) Teen wie steek Jehovah sy hand in antieke tye uit? (b) Wat beteken dit dat Jehovah sy hand teen “al die nasies” uitsteek?
2 Maar wat van ander nasies wat vyande van God se verbondsvolk is? Hulle moet ook geoordeel word. Jesaja sê: “Dit is die besluit wat teen die hele aarde geneem is, en dit is die hand wat teen al die nasies uitgesteek is. Want Jehovah van die leërs het besluit, en wie kan dit verbreek? En dit is sy hand wat uitgesteek is, en wie kan dit afwend?” (Jesaja 14:26, 27). Jehovah se “besluit” is sy vaste voorneme, iets wat op sy bevel sal gebeur (Jeremia 49:20, 30). God se “hand” is die krag wat hy gebruik om dinge te doen. In die laaste verse van Jesaja hoofstuk 14 en in hoofstukke 15 tot 19 lees ons van Jehovah se besluite teen Filistea, Moab, Damaskus, Etiopië en Egipte.
3 Maar Jesaja sê dat Jehovah se hand teen “al die nasies” uitgesteek is. Al is hierdie profesieë van Jesaja aanvanklik in antieke tye vervul, is hulle gevolglik in sekere sin ook vandag gedurende “die tyd van die einde” van toepassing, wanneer Jehovah sy hand teen al die koninkryke van die aarde uitsteek (Daniël 2:44; 12:9; Romeine 15:4; Openbaring 19:11, 19-21). Die almagtige God, Jehovah, maak sy besluite lank voor die tyd met vertroue bekend. Niemand kan die hand wat hy uitsteek, afwend nie.—Psalm 33:11; Jesaja 46:10.
“’n Vlieënde vurige slang” teen Filistea
4. Wat is party van die besonderhede van Jehovah se uitspraak teen Filistea?
4 Die Filistyne kry eerste aandag. “In die jaar dat koning Agas gesterf het, het hierdie uitspraak gekom: ‘Moet jou nie verbly, o Filistea, enigiemand in jou, net omdat die staf verbreek is van die een wat jou geslaan het nie. Want uit die wortel van die slang sal ’n giftige slang voortkom, en sy vrug sal ’n vlieënde vurige slang wees.’”—Jesaja 14:28, 29.
5, 6. (a) Hoe was Ussia soos ’n slang vir die Filistyne? (b) Wat is Hiskia ten opsigte van Filistea?
5 Koning Ussia was sterk genoeg om die bedreiging van Filistea onder beheer te hou (2 Kronieke 26:6-8). Hy was vir hulle soos ’n slang, en sy staf het daardie vyandige buurnasie aanhoudend geslaan. Nadat Ussia gesterf het—‘sy staf verbreek is’—het die getroue Jotam regeer, maar ‘die volk het nog verderflik gehandel’. Daarna het Agas koning geword. Die situasie het verander, en die Filistyne het suksesvolle strooptogte teen Juda onderneem (2 Kronieke 27:2; 28:17, 18). Maar nou verander die situasie weer. In 746 v.G.J. sterf koning Agas en die jong Hiskia word as koning gekroon. As die Filistyne dink dat sake sal aanhou om in hulle guns te verloop, maak hulle ’n groot fout. Hiskia is ’n dodelike vyand. Hy is ’n afstammeling van Ussia (die “vrug” uit sy “wortel”) en is soos “’n vlieënde vurige slang” wat skielik aanval, blitsvinnig pik en ’n brandende uitwerking het, asof hy sy slagoffers met gif inspuit.
6 Dit is ’n gepaste beskrywing van die nuwe koning. “[Hiskia] het die Filistyne verslaan tot by Gasa en ook die gebiede daarvan” (2 Konings 18:8). Volgens die annale van die Assiriese koning Sanherib het die Filistyne Hiskia se onderdane geword. “Die geringes”—die verswakte koninkryk van Juda—geniet veiligheid en materiële oorvloed, terwyl Filistea weens hongersnood ly.—Lees Jesaja 14:30, 31.
7. Watter geloofsbetuiging moet Hiskia doen teenoor die ambassadeurs wat in Jerusalem teenwoordig is?
7 Dit lyk asof daar ambassadeurs in Juda is—moontlik om ’n bondgenootskap teen Assirië te vorm. Wat moet vir hulle gesê word? “Wat sal enigiemand die boodskappers van die nasie antwoord?” Moet Hiskia sekuriteit soek deur bondgenootskappe met ander lande te sluit? Nee! Hy moet vir die boodskappers sê: “Jehovah [het] die fondament van Sion gelê . . . , en daarin sal die geteisterdes van sy volk toevlug soek” (Jesaja 14:32). Die koning moet ten volle op Jehovah vertrou. Sion het ’n vaste fondament. Die stad sal as ’n veilige hawe teen die Assiriese bedreiging bly staan.—Psalm 46:1-7.
8. (a) Hoe is party nasies vandag soos Filistea? (b) Wat het Jehovah vandag gedoen om sy volk te ondersteun, soos hy ook in die ou tyd gedoen het?
8 Party nasies staan God se aanbidders vandag heftig teë, net soos Filistea dit gedoen het. Christengetuies van Jehovah is al in tronke en konsentrasiekampe opgesluit. Hulle werk is al verbied. Van hulle is al doodgemaak. Teenstanders hou aan om “skerp aanvalle op die siel van die regverdige” te rig (Psalm 94:21). Hierdie groep Christene lyk vir hulle vyande dalk ‘gering’ en ‘arm’. Maar met Jehovah se ondersteuning geniet hulle geestelike oorvloed, terwyl hulle vyande honger ly (Jesaja 65:13, 14; Amos 8:11). Wanneer Jehovah sy hand teen die hedendaagse Filistyne uitsteek, sal hierdie “geringes” veilig wees. Waar? In hulle assosiasie met “die huisgesin van God”, waarvan Jesus die onfeilbare fondamenthoeksteen is (Efesiërs 2:19, 20). En hulle sal onder die beskerming staan van die “hemelse Jerusalem”, Jehovah se hemelse Koninkryk, waarvan Jesus Christus die Koning is.—Hebreërs 12:22; Openbaring 14:1.
Moab word stilgemaak
9. Teen wie word die volgende uitspraak gerig, en hoe het hierdie volk getoon dat hulle ’n vyand van God se volk is?
9 Oos van die Dooie See is ’n ander buurnasie van Israel—Moab. Anders as die Filistyne is die Moabiete verwant aan Israel, want hulle is afstammelinge van Lot, Abraham se broerskind (Genesis 19:37). Ten spyte van daardie verwantskap, was Moab altyd ’n vyand van Israel. In Moses se tyd het die koning van Moab byvoorbeeld die profeet Bileam gehuur omdat hy gehoop het dat hy die Israeliete sou vervloek. Toe dit misluk, het Moab onsedelikheid en Baälaanbidding gebruik om Israel te verstrik (Numeri 22:4-6; 25:1-5). Dit is dus geen wonder dat Jehovah Jesaja nou inspireer om “die uitspraak teen Moab” op te teken nie!—Jesaja 15:1a.
10, 11. Wat gaan met Moab gebeur?
10 Jesaja se profesie word teen talle stede en plekke in Moab gerig, onder meer Ar, Kir (of Kir-Hareset) en Dibon (Jesaja 15:1b, 2a). Moabiete sal treur oor Kir-Hareset se rosynekoeke, moontlik ’n vername produk van daardie stad (Jesaja 16:6, 7). Sibma en Jaser, wat bekend is vir wingerdbou, sal neergewerp word (Jesaja 16:8-10). Eglat-Selisia, wat moontlik “’n drie jaar oue verskalf” beteken, sal soos ’n sterk jong koei wees wat uit vrees jammerlik bulk (Jesaja 15:5). Die gras van die land sal verdroog terwyl die “waters van Dimon” vol bloed word weens die slagting van die Moabiete. Die “waters van Nimrim” sal in figuurlike of letterlike sin “woestenye” word—waarskynlik omdat vyandelike magte hulle strome opdam.—Jesaja 15:6-9.
11 Die Moabiete sal hulle met saklinne, oftewel roudrag, omgord. Hulle sal hulle koppe kaal skeer as ’n simbool van skaamte en smart. Hulle baarde sal “afgeknip” wees, wat groot droefheid en vernedering aandui (Jesaja 15:2b-4). Jesaja is seker van die vervulling van hierdie oordele en word self diep ontroer. Soos die trillende snare van ’n harp is sy ingewande onstuimig van meegevoel as gevolg van die boodskap van ellende teen Moab.—Jesaja 16:11, 12.
12. Hoe is Jesaja se woorde teen Moab vervul?
12 Wanneer sal hierdie profesie vervul word? Binnekort. “Dit is die woord wat Jehovah tevore oor Moab gespreek het. En nou het Jehovah gespreek en gesê: ‘Binne drie jaar, volgens die jare van ’n loonarbeider, sal die heerlikheid van Moab ook veragtelik gemaak word met groot beroering van elke soort, en die oorblywendes sal onbeduidend min wees, nie magtig nie’” (Jesaja 16:13, 14). In ooreenstemming hiermee is daar argeologiese bewyse dat Moab gedurende die agtste eeu v.G.J. swaar gely het en dat baie dele van die land ontvolk is. Tiglat-Pileser III het genoem dat Salamanu van Moab een van die heersers was wat aan hom skatting moes betaal. Sanherib het skatting van Kammusunadbi, die koning van Moab, ontvang. Die Assiriese konings Esar-Haddon en Assurbanipal het die Moabitiese konings Musuri en Kamasjaltu hulle onderdane genoem. Die Moabiete bestaan al eeue lank nie meer as ’n volk nie. Ruïnes van wat vermoedelik Moabitiese stede was, is al gevind, maar daar is tot dusver min fisiese bewyse van hierdie eens magtige vyand van Israel opgegrawe.
Die hedendaagse “Moab” vergaan
13. Watter organisasie kan vandag met Moab vergelyk word?
13 Vandag is daar ’n wêreldwye organisasie wat soortgelyk is aan eertydse Moab. Dit is die Christendom, die vernaamste deel van “Babilon die Grote” (Openbaring 17:5). Moab sowel as Israel het van Abraham se vader, Tera, afgestam. Op ’n soortgelyke manier beweer die Christendom dat hulle, soos die gesalfde Christengemeente van vandag, hulle oorsprong in die eerste-eeuse Christengemeente het (Galasiërs 6:16). Maar soos Moab is die Christendom verdorwe en bevorder hulle geestelike onsedelikheid en die aanbidding van ander gode, nie van die een ware God, Jehovah, nie (Jakobus 4:4; 1 Johannes 5:21). As ’n klas is die leiers van die Christendom gekant teen diegene wat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig.—Matteus 24:9, 14.
14. Watter hoop is daar vir individuele lede van hedendaagse “Moab” ondanks Jehovah se besluit teen daardie organisasie?
14 Moab is uiteindelik stilgemaak. Dieselfde sal met die Christendom gebeur. Jehovah sal dit deur middel van ’n hedendaagse ekwivalent van Assirië vernietig (Openbaring 17:16, 17). Maar daar is hoop vir mense in hierdie hedendaagse “Moab”. Terwyl hy nog teen Moab profeteer, sê Jesaja: “In liefderyke goedhartigheid sal ’n troon beslis stewig gevestig word; en iemand moet in waaragtigheid daarop sit in die tent van Dawid, terwyl hy regspreek en geregtigheid soek en gou is in regverdigheid” (Jesaja 16:5). In 1914 het Jehovah die troon van Jesus, ’n Heerser uit die lyn van koning Dawid, stewig bevestig. Jesus se koningskap is ’n blyk van Jehovah se liefderyke goedhartigheid en dit sal, ter vervulling van God se verbond met koning Dawid, vir ewig duur (Psalm 72:2; 85:10, 11; 89:3, 4; Lukas 1:32). Talle saggeaarde persone het die hedendaagse “Moab” verlaat en het hulle aan Jesus onderwerp om die lewe te verkry (Openbaring 18:4). Hoe vertroostend is dit tog vir hulle om te weet dat Jesus “aan die nasies duidelik [sal] maak wat geregtigheid is”!—Matteus 12:18; Jeremia 33:15.
Damaskus word ’n verbrokkelende puinhoop
15, 16. (a) Hoe tree Damaskus en Israel vyandig op teen Juda, en met watter gevolg vir Damaskus? (b) Wie word ingesluit in die uitspraak teen Damaskus? (c) Wat kan Christene vandag uit Israel se voorbeeld leer?
15 Hierna teken Jesaja “die uitspraak teen Damaskus” op. (Lees Jesaja 17:1-6.) Damaskus, wat noord van Israel lê, is “die hoof van Sirië” (Jesaja 7:8). Gedurende die heerskappy van koning Agas van Juda val Resin van Damaskus Juda saam met Peka van Israel binne. Maar op Agas se versoek voer Tiglat-Pileser III van Assirië oorlog teen Damaskus en verower hy dit en voer hy baie van die stad se inwoners in ballingskap weg. Daarna is Damaskus nie meer ’n bedreiging vir Juda nie.—2 Konings 16:5-9; 2 Kronieke 28:5, 16.
16 Jehovah se uitspraak teen Damaskus sluit ook oordeelsboodskappe teen die ontroue noordelike koninkryk in, heel moontlik as gevolg van Israel se bondgenootskap met Damaskus (Jesaja 17:3-6). Israel sal soos ’n land in die oestyd word waarop baie min graan staan of soos ’n olyfboom waarvan die meeste van die olywe van die takke afgeskud is (Jesaja 17:4-6). Dit is ’n voorbeeld wat diegene wat aan Jehovah toegewy is tot ernstige nadenke stem! Hy verwag uitsluitlike toegewydheid en aanvaar alleenlik opregte heilige diens. En hy haat diegene wat teen hulle broers draai.—Eksodus 20:5; Jesaja 17:10, 11; Matteus 24:48-50.
Vaste vertroue op Jehovah
17, 18. (a) Hoe reageer party in Israel op Jehovah se uitsprake, maar wat is die algemene reaksie? (b) Hoe is hedendaagse gebeure soortgelyk aan dié in Hiskia se dag?
17 Jesaja sê nou: “In dié dag sal die mens na sy Maker opsien, en sy oë sal stip op die Heilige van Israel gerig wees. En hy sal nie na die altare, die werk van sy hande, kyk nie; en na wat sy vingers gemaak het, sal hy nie stip kyk nie, nie na die heilige pale of die reukwerkstaanders nie” (Jesaja 17:7, 8). Ja, party in Israel het ag gegee op Jehovah se waarskuwingsboodskap. Toe Hiskia byvoorbeeld ’n uitnodiging na die inwoners van Israel gestuur het om die Pasga saam met Juda te vier, het etlike Israeliete die uitnodiging aanvaar en suidwaarts gereis om saam met hulle broers aan rein aanbidding deel te neem (2 Kronieke 30:1-12). Maar die meeste van die inwoners van Israel dryf die spot met die boodskappers wat die uitnodiging oordra. Die land is verhard in hulle afvalligheid. Daarom word Jehovah se besluit daarteen uitgevoer. Assirië vernietig die stede van Israel, die land lê woes, die weivelde word onvrugbaar.—Lees Jesaja 17:9-11.
18 Wat van vandag? Israel was ’n afvallige nasie. Gevolglik laat die manier waarop Hiskia mense in daardie nasies probeer help het om na ware aanbidding terug te keer ons dink aan die manier waarop ware Christene vandag probeer om mense in die afvallige organisasie van die Christendom te help. Sedert 1919 het boodskappers van “die Israel van God” deur die Christendom gegaan en mense uitgenooi om rein aanbidding te beoefen (Galasiërs 6:16). Die meeste het geweier. Baie het die boodskappers bespot. Maar party het die uitnodiging aanvaar. Daar is nou miljoene van hulle, en dit verskaf hulle vreugde om hulle ‘oë stip gerig te hou op die Heilige van Israel’, met ander woorde, om deur hom geleer te word (Jesaja 54:13). Hulle laat vaar hulle aanbidding by die onheilige altare—naamlik die verering van mensgemaakte gode en vertroue in hulle—en wend hulle gretig tot Jehovah (Psalm 146:3, 4). Soos Jesaja se tydgenoot Miga sê elkeen van hulle: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding toon. My God sal my hoor.”—Miga 7:7.
19. Wie sal deur Jehovah bestraf word, en wat sal dit vir hulle beteken?
19 Hoe anders is dit tog as dié wat op sterflike mense vertrou! Stormagtige golwe van geweld en beroering teister die mensdom gedurende hierdie laaste dae. Die “see” van rustelose, opstandige mense bring ontevredenheid en revolusie voort (Jesaja 57:20; Openbaring 8:8, 9; 13:1). Jehovah sal hierdie lawaaierige skare “bestraf”. Sy hemelse Koninkryk sal elke organisasie en persoon vernietig wat moeilikheid maak, en hulle sal “ver weg vlug . . . soos ’n dwarrelwind van dissels voor ’n stormwind”.—Jesaja 17:12, 13; Openbaring 16:14, 16.
20. Watter vertroue het ware Christene, al word hulle deur die nasies “beroof”?
20 Wat sal die resultaat wees? Jesaja sê: “In die aand, kyk! daar is skielike verskrikking. Voor die oggend—dit is nie meer nie. Dit is die deel van dié wat ons plunder, en die lot wat behoort aan dié wat ons beroof” (Jesaja 17:14). Baie plunder Jehovah se volk en behandel hulle wreed en met minagting. Omdat ware Christene nie ’n deel van die wêreld se hoofstroomgodsdienste is nie—of wil wees nie—beskou bevooroordeelde kritici en fanatiese teenstanders hulle as ’n maklike prooi. Maar God se volk is vol vertroue dat die “oggend” wanneer hulle verdrukking tot ’n einde sal kom binnekort gaan aanbreek.—2 Tessalonisense 1:6-9; 1 Petrus 5:6-11.
Etiopië bring ’n geskenk aan Jehovah
21, 22. Watter nasie ontvang volgende ’n oordeelsboodskap, en hoe word Jesaja se geïnspireerde woorde vervul?
21 By ten minste twee geleenthede was Etiopië, wat suid van Egipte lê, betrokke by militêre optrede teen Juda (2 Kronieke 12:2, 3; 14:1, 9-15; 16:8). Nou voorspel Jesaja dat daardie nasie geoordeel gaan word: “Ha, die land van die gonsende insekte met vlerke, wat in die streek van die riviere van Etiopië lê!” (Lees Jesaja 18:1-6.)a Jehovah beveel dat Etiopië ‘afgesny, verwyder en afgekap’ moet word.
22 Ons leer uit nie-Bybelse geskiedenis dat Etiopië Egipte teen die einde van die agtste eeu v.G.J. verslaan het en sowat 60 jaar lank daaroor geheers het. Daarna het die Assiriese keisers Esar-Haddon en Assurbanipal Egipte ingeval. Toe Tebe deur Assurbanipal vernietig is, het Assirië Egipte onderwerp en is die Etiopiese oorheersing oor die Nylvallei tot ’n einde gebring. (Sien ook Jesaja 20:3-6.) Wat van hedendaagse tye?
23. Watter rol speel die hedendaagse “Etiopië”, en waarom kom hy tot sy einde?
23 In Daniël se profesie van “die tyd van die einde” word daar gesê dat Etiopië en Libië die aggressiewe “koning van die noorde” se “voetstappe volg”, dit wil sê dat hulle ag gee op sy leiding (Daniël 11:40-43). Daar word ook gesê dat Etiopië onder die strydmagte van “Gog van die land Magog” is (Esegiël 38:2-5, 8). Gog se magte, wat die koning van die noorde insluit, sal tot hulle einde kom wanneer hulle Jehovah se heilige nasie aanval. Jehovah se hand sal gevolglik ook teen die hedendaagse “Etiopië” uitgesteek wees weens sy teenstand teen Jehovah se soewereiniteit.—Esegiël 38:21-23; Daniël 11:45.
24. Op watter maniere het Jehovah “geskenke” van die nasies ontvang?
24 Maar die profesie sê ook: “In dié tyd sal ’n geskenk aan Jehovah van die leërs gebring word, van ’n volk hoog van gestalte en blinkgevryf, ja, van ’n volk wat oral vrees inboesem . . . na die plek van die naam van Jehovah van die leërs, die berg Sion” (Jesaja 18:7). Al erken die nasies nie Jehovah se soewereiniteit nie, het hulle optrede al soms Jehovah se volk bevoordeel. In sommige lande het die owerhede wette gemaak en hofbeslissings gelewer wat wetlike regte aan getroue aanbidders van Jehovah toegestaan het (Handelinge 5:29; Openbaring 12:15, 16). En daar is ook ander geskenke. “Konings [sal] aan u geskenke bring. . . . Bronsware sal uit Egipte kom; Kus [Etiopië] sal gou sy hande met geskenke na God uitsteek” (Psalm 68:29-31). Vandag bring miljoene hedendaagse “Etiopiërs” wat Jehovah vrees “’n geskenk” in die vorm van aanbidding (Maleagi 1:11). Hulle neem deel aan die ontsaglike taak om die goeie nuus van die Koninkryk in die hele aarde te verkondig (Matteus 24:14; Openbaring 14:6, 7). Wat ’n pragtige geskenk is dit tog om aan Jehovah te gee!—Hebreërs 13:15.
Die hart van Egipte smelt
25. Wat gebeur ter vervulling van Jesaja 19:1-11 met eertydse Egipte?
25 Juda se naaste buurland na die suide is Egipte, wat lank ’n vyand van God se verbondsvolk was. Jesaja hoofstuk 19 vertel van die onsekere toestand in Egipte in Jesaja se tyd. ’n Burgeroorlog woed in Egipte, met “stad teen stad, koninkryk teen koninkryk” (Jesaja 19:2, 13, 14). Geskiedkundiges het bewyse gevind van mededingende dinastieë wat tegelykertyd in verskillende dele van die land geheers het. Die befaamde wysheid van Egipte, met sy ‘waardelose gode en besweerders’ red hom nie uit “die hand van ’n harde heer” nie (Jesaja 19:3, 4). Egipte word agtereenvolgens deur Assirië, Babilon, Persië, Griekeland en Rome onderwerp. Al hierdie gebeure vervul die profesieë van Jesaja 19:1-11.
26. Hoe sal die inwoners van die hedendaagse “Egipte” in die groter vervulling op Jehovah se oordele reageer?
26 Maar in die Bybel simboliseer Egipte dikwels Satan se wêreld (Esegiël 29:3; Joël 3:19; Openbaring 11:8). Het Jesaja se “uitspraak teen Egipte” dan ’n groter vervulling? Ja, beslis! Die eerste woorde van die profesie moet almal rede gee om aandag te skenk: “Kyk! Jehovah ry op ’n vinnige wolk en kom na Egipte. En die waardelose gode van Egipte sal beslis vir hom sidder, en die hart van Egipte sal in sy binneste smelt” (Jesaja 19:1). Jehovah gaan binnekort teen Satan se organisasie optree. Dan sal dit baie duidelik wees dat die gode van hierdie stelsel van dinge waardeloos is (Psalm 96:5; 97:7). ‘Die hart van Egipte sal smelt’ van vrees. Jesus het daardie tyd voorspel: “Daar sal . . . angs van nasies [wees], wat radeloos is as gevolg van die gebulder van die see en sy onstuimigheid, terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom.”—Lukas 21:25, 26.
27. Watter interne verdeeldheid word vir “Egipte” voorspel, en hoe word dit vandag vervul?
27 Van die tyd wat tot die voltrekking van sy oordeel lei, sê Jehovah profeties: “Ek sal Egiptenaars teen Egiptenaars aanhits, en hulle sal beslis elkeen teen sy broer veg, en elkeen teen sy metgesel, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk” (Jesaja 19:2). Vandat God se Koninkryk in 1914 opgerig is, is “die teken van [Jesus se] teenwoordigheid” gekenmerk deur nasies en koninkryke wat teen mekaar opstaan. Bloedige stamgevegte, wrede volksmoorde en so genoemde etniese reiniging het gedurende hierdie laaste dae miljoene lewens geëis. Sulke “weë van benoudheid” sal al hoe erger word namate die einde nader kom.—Matteus 24:3, 7, 8.
28. Wat sal valse godsdiens op die oordeelsdag kan doen om hierdie stelsel van dinge te red?
28 “Die gees van Egipte sal verbysterd raak in sy binneste, en ek sal sy planne verwar. En hulle sal hulle sekerlik wend tot die waardelose gode en tot die besweerders en tot die geestemediums en tot die beroepsvoorspellers van gebeure” (Jesaja 19:3). Toe Moses voor Farao verskyn het, het die priesters van Egipte beskaamd gestaan, want hulle was nie so magtig soos Jehovah nie (Eksodus 8:18, 19; Handelinge 13:8; 2 Timoteus 3:8). So ook sal valse godsdiens nie hierdie verdorwe stelsel op die oordeelsdag kan red nie. (Vergelyk Jesaja 47:1, 11-13.) Uiteindelik het Egipte onder “’n harde heer”, Assirië, gekom (Jesaja 19:4). Dit skadu die sombere toekoms van hierdie stelsel van dinge af.
29. Van watter nut sal politici wees wanneer Jehovah se dag kom?
29 Maar wat van die politieke leiers? Kan hulle help? “Die vorste van Soan is inderdaad dwaas. Wat die wyses van Farao se raadgewers betref, hulle raad is iets onredeliks.” (Lees Jesaja 19:5-11.) Hoe onredelik is dit tog om te hoop dat menseraadgewers op die oordeelsdag van enige nut sal wees! Al het hulle al die kennis in die wêreld tot hulle beskikking, het hulle nie Goddelike wysheid nie (1 Korintiërs 3:19). Hulle het Jehovah verwerp en het hulle eerder tot die so genoemde wetenskap asook filosofie, geld, genot en ander gode gewend. Gevolglik het hulle geen kennis van God se voornemens nie. Hulle is mislei en verward. Hulle werke is tevergeefs. (Lees Jesaja 19:12-15.) “Die wyses het beskaamd gestaan. Hulle het verskrik geword en sal gevang word. Kyk! Hulle het die woord van Jehovah verwerp, en watter wysheid het hulle?”—Jeremia 8:9.
’n Teken en ’n getuienis vir Jehovah
30. In watter sin sal ‘die land van Juda vir Egipte ’n rede tot waggeling word’?
30 Maar al is “Egipte” se leiers swak, “soos vroue”, is daar nog steeds mense wat na Goddelike wysheid soek. Jehovah se gesalfdes en hulle metgeselle ‘maak God se voortreflikhede alom bekend’ (Jesaja 19:16; 1 Petrus 2:9). Hulle doen wat hulle kan om mense oor die komende vernietiging van Satan se organisasie te waarsku. Jesaja skryf vervolgens oor hierdie toekomstige situasie en sê: “Die land van Juda sal vir Egipte ’n rede tot waggeling word. Elkeen aan wie dit gemeld word, verkeer in angs weens die besluit van Jehovah van die leërs wat hy teen hom neem” (Jesaja 19:17). Die getroue boodskappers van Jehovah gaan uit en vertel mense die waarheid—wat insluit dat hulle die plae aankondig wat Jehovah voorspel (Openbaring 8:7-12; 16:2-12). Dit ontstel die godsdiensleiers van die wêreld.
31. Hoe gebeur dit dat “die taal van Kanaän” (a) in die ou tyd en (b) in hedendaagse tye in stede van Egipte gepraat word?
31 Wat is die verrassende resultaat van hierdie verkondigingswerk? “In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän praat en wat by Jehovah van die leërs sweer. Een daarvan sal genoem word: Die Stad van Afbreking” (Jesaja 19:18). In die ou tyd is hierdie profesie blykbaar vervul toe daar Jode was wat Hebreeus gepraat het in Egiptiese stede waarheen hulle gevlug het (Jeremia 24:1, 8-10; 41:1-3; 42:9–43:7; 44:1). Vandag is daar mense in die gebied van die hedendaagse “Egipte” wat geleer het om die “suiwer taal” van Bybelwaarheid te praat (Sefanja 3:9). Een van die vyf figuurlike stede word “Die Stad van Afbreking” genoem, wat toon dat deel van die “suiwer taal” verband hou met die werk om Satan se organisasie bloot te lê en ‘af te breek’.
32. (a) Watter “altaar” is in Egipteland? (b) Hoe is die gesalfdes soos “’n pilaar” by Egipte se grens?
32 Danksy die predikingswerk van Jehovah se volk, sal sy groot naam beslis bekend word in hierdie stelsel van dinge. “In dié dag sal daar ’n altaar vir Jehovah binne-in Egipteland wees, en ’n pilaar vir Jehovah by sy grens” (Jesaja 19:19). Hierdie woorde verwys na die posisie van gesalfde Christene wat in ’n verbondsverhouding met God is (Psalm 50:5). As “’n altaar” bring hulle hulle offerandes; as “’n pilaar en stut van die waarheid” getuig hulle aangaande Jehovah (1 Timoteus 3:15; Romeine 12:1; Hebreërs 13:15, 16). Hulle is “in Egipteland” in die sin dat hulle—saam met hulle metgeselle, die “ander skape”—in meer as 230 lande en eilande van die see aangetref word. Maar hulle is “geen deel van die wêreld” nie (Johannes 10:16; 17:15, 16). Hulle staan as ’t ware op die grens tussen hierdie wêreld en die Koninkryk van God en is gereed om daardie grens oor te steek en hulle hemelse beloning te ontvang.
33. In watter opsigte is die gesalfdes “’n teken” en “’n getuie” in “Egipteland”?
33 Jesaja gaan voort: “Dit sal ’n teken en ’n getuie vir Jehovah van die leërs wees in Egipteland; want hulle sal tot Jehovah roep weens die onderdrukkers, en hy sal vir hulle ’n redder stuur, ja, ’n grootse redder, wat hulle sal verlos” (Jesaja 19:20). As “’n teken” en “’n getuie” neem die gesalfdes die leiding in die predikingswerk en verheerlik hulle Jehovah se naam in hierdie stelsel van dinge (Jesaja 8:18; Hebreërs 2:13). Die geroep van verdruktes kan dwarsdeur die wêreld gehoor word, maar menseregerings is oor die algemeen nie in staat om hulle te help nie. Maar Jehovah sal ’n Groot Redder, die Koning Jesus Christus, stuur om al die sagmoediges te bevry. Wanneer hierdie laaste dae hulle klimaks bereik in die oorlog van Armageddon, sal hy sorg dat godvresende mense verligting en ewige seëninge verkry.—Psalm 72:2, 4, 7, 12-14.
34. (a) Hoe sal “die Egiptenaars” Jehovah leer ken, en watter offerande en gawe sal hulle aan hom bring? (b) Wanneer sal Jehovah “Egipte” ’n slag toedien, en watter genesing sal daarop volg?
34 Intussen is dit God se wil dat alle soorte mense juiste kennis moet verkry en gered moet word (1 Timoteus 2:4). Daarom skryf Jesaja: “Jehovah sal beslis bekend word aan die Egiptenaars; en die Egiptenaars sal Jehovah in dié dag ken, en hulle sal offerande en gawe bring en sal aan Jehovah ’n gelofte doen en dit betaal. En Jehovah sal Egipte beslis ’n slag toedien. Daar sal ’n slag toegedien word en ’n genesing wees; en hulle sal tot Jehovah terugkeer, en hy sal hulle dringende versoek aanhoor en hulle genees” (Jesaja 19:21, 22). Mense uit alle nasies van Satan se wêreld, individuele “Egiptenaars”, leer Jehovah ken en bring offerandes aan hom, “die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Hulle doen ’n gelofte aan Jehovah deur hulle aan hom toe te wy, en hulle betaal dit deur ’n lewe van lojale diens te lei. Ná die “slag” wat Jehovah hierdie stelsel van dinge by Armageddon sal toedien, sal hy die mensdom deur middel van sy Koninkryk genees. Gedurende Jesus se Duisendjarige Heerskappy sal die mensdom tot geestelike, verstandelike, sedelike en fisiese volmaaktheid verhef word. Dit sal ware genesing wees!—Openbaring 22:1, 2.
‘Mag my volk geseënd wees’
35, 36. Watter bande het ter vervulling van Jesaja 19:23-25 in die ou tyd tussen Egipte, Assirië en Israel ontstaan?
35 Die profeet sien dan ’n merkwaardige verwikkeling in die toekoms: “In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assirië sal in Egipte kom en Egipte in Assirië; en hulle sal beslis diens verrig, Egipte saam met Assirië. In dié dag sal Israel die derde wees saam met Egipte en Assirië, naamlik ’n seën in die midde van die aarde, want Jehovah van die leërs sal dit seën deur te sê: ‘Mag my volk, Egipte, en die werk van my hande, Assirië, en my erfdeel, Israel, geseënd wees’” (Jesaja 19:23-25). Ja, ’n tyd sal kom wanneer daar vriendelike betrekkinge tussen Egipte en Assirië sal bestaan. Hoe sal dit gebeur?
36 Toe Jehovah sy volk in die verlede van die nasies gered het, het hy as ’t ware vir hulle hoofweë na vryheid gemaak (Jesaja 11:16; 35:8-10; 49:11-13; Jeremia 31:21). ’n Beperkte vervulling van hierdie profesie het ná die vernietiging van Babilon plaasgevind toe ballinge uit Assirië en Egipte, sowel as uit Babilon, na die Beloofde Land teruggebring is (Jesaja 11:11). Maar wat van vandag?
37. Hoe lewe miljoene vandag asof daar ’n grootpad tussen “Assirië” en “Egipte” is?
37 Vandag is die oorblyfsel van gesalfde geestelike Israeliete “’n seën in die midde van die aarde”. Hulle bevorder ware aanbidding en verkondig die Koninkryksboodskap aan mense in al die nasies. Party van hierdie nasies is soos Assirië, uiters militaristies. Ander nasies is liberaler, moontlik soos Egipte—wat vroeër “die koning van die suide” van Daniël se profesie was (Daniël 11:5, 8). Miljoene uit die militaristiese nasies sowel as die liberaler nasies het die weg van ware aanbidding begin bewandel. Daarom word mense uit alle nasies verenig omdat hulle saam “diens verrig”. Daar is geen nasionalistiese skeidings onder hierdie persone nie. Hulle is lief vir mekaar, en daar kan waarlik gesê word dat ‘Assirië in Egipte kom en Egipte in Assirië’. Dit is asof daar ’n grootpad van die een na die ander is.—1 Petrus 2:17.
38. (a) Hoe sal Israel “die derde wees saam met Egipte en Assirië”? (b) Waarom sê Jehovah: ‘Mag my volk geseënd wees’?
38 Maar hoe sal Israel “die derde wees saam met Egipte en Assirië”? Vroeg in “die tyd van die einde” was die meeste van dié wat Jehovah op aarde gedien het lede van “die Israel van God” (Daniël 12:9; Galasiërs 6:16). Sedert die 1930’s het ’n groot skare “ander skape”, met ’n aardse hoop, verskyn (Johannes 10:16a; Openbaring 7:9). Hulle kom uit die nasies—wat deur Egipte en Assirië voorafgeskadu word—en stroom na Jehovah se huis van aanbidding terwyl hulle ander ook nooi om saam met hulle te gaan (Jesaja 2:2-4). Hulle doen dieselfde predikingswerk as hulle gesalfde broers, ondergaan soortgelyke beproewinge, lê dieselfde getrouheid en onkreukbaarheid aan die dag en word aan dieselfde geestelike tafel gevoed. Die gesalfdes en die “ander skape” is voorwaar “een kudde onder een herder” (Johannes 10:16b). Kan enigiemand daaraan twyfel dat Jehovah tevrede is met hulle werk wanneer hy hulle ywer en volharding sien? ’n Mens kan verstaan waarom hy ’n seën oor hulle uitspreek en sê: ‘Mag my volk geseënd wees!’
[Voetnoot]
a Party geleerdes is van mening dat die uitdrukking “land van die gonsende insekte met vlerke” na die sprinkane verwys wat soms in Etiopië swerms vorm. Ander wys daarop dat die Hebreeuse woord vir “gonsende”, tsela·tsalʹ, amper dieselfde klink as tsaltsalja, die naam wat die Galla, ’n Hamitiese volk wat in die hedendaagse Etiopië woon, aan die tsetsevlieg gegee het.
[Prent op bladsy 191]
Filistynse soldate storm op hulle vyande af (Egiptiese snywerk uit die 12de eeu v.G.J.)
[Prent op bladsy 192]
Klipreliëf van ’n Moabitiese soldaat of god (tussen 11de en 8ste eeu v.G.J.)
[Prent op bladsy 196]
Siriese soldaat op ’n kameel (negende eeu v.G.J.)
[Prent op bladsy 198]
Die “see” van die opstandige mensdom bring ontevredenheid en revolusie voort
[Prent op bladsy 203]
Die priesters van Egipte was nie so magtig soos Jehovah nie