Hoofstuk nege-en-twintig
’n Koning se geloof word beloon
1, 2. Hoe het Hiskia getoon dat hy ’n beter koning was as Agas?
HISKIA was 25 jaar oud toe hy die koning van Juda geword het. Watter soort heerser sou hy wees? Sou hy in die voetstappe van sy vader, koning Agas, volg en sy onderdane oorreed om agter valse gode aan te loop? Of sou hy die volk in die aanbidding van Jehovah lei, soos sy voorvader koning Dawid gedoen het?—2 Konings 16:2.
2 Kort nadat Hiskia begin regeer het, het dit duidelik geword dat hy van plan was om te “doen wat reg was in Jehovah se oë” (2 Konings 18:2, 3). In sy eerste jaar het hy beveel dat Jehovah se tempel herstel word en dat tempeldiens hervat word (2 Kronieke 29:3, 7, 11). Toe het hy ’n groot Pasgaviering gereël waarheen die hele nasie uitgenooi is—ook die tien noordelike stamme van Israel. Wat ’n onvergeetlike fees was dit tog! Daar was sedert die dae van koning Salomo nie so iets nie.—2 Kronieke 30:1, 25, 26.
3. (a) Die inwoners van Israel en Juda wat die Pasga bygewoon het wat Hiskia gereël het, is tot watter optrede beweeg? (b) Wat leer Christene vandag uit die besliste optrede van diegene wat daardie Pasga bygewoon het?
3 Aan die einde van die Pasgaviering het dié wat daar teenwoordig was die heilige pale afgekap, die heilige pilare stukkend gebreek en die hoogtes en altare van hulle valse gode afgebreek. Daarna het hulle na hulle stede teruggekeer, vasbeslote om die ware God te dien (2 Kronieke 31:1). Hoe anders was dit tog as hulle vorige gesindheid ten opsigte van hulle diens aan God! Ware Christene kan vandag hieruit leer hoe belangrik dit is ‘om nie hulle onderlinge vergadering na te laat nie’. Sulke vergaderinge, of dit nou in plaaslike gemeentes of op groter skaal by kring- en streekbyeenkomste is, vervul ’n belangrike funksie om aanmoediging te verskaf en om hulle deur die broederskap sowel as deur God se gees te beweeg om mekaar “tot liefde en voortreflike werke aan te spoor”.—Hebreërs 10:23-25.
Hulle geloof word op die proef gestel
4, 5. (a) Hoe het Hiskia sy onafhanklikheid van Assirië getoon? (b) Watter militêre stappe het Sanherib teen Juda gedoen, en wat doen Hiskia om ’n onmiddellike aanval teen Jerusalem te voorkom? (c) Hoe berei Hiskia voor om Jerusalem teen die Assiriërs te beskerm?
4 Swaar beproewinge lê vir Jerusalem voor. Hiskia het ’n bondgenootskap gebreek wat sy ontroue vader, Agas, met die Assiriërs aangegaan het. Hy het selfs die Filistyne onderwerp, wat bondgenote van Assirië is (2 Konings 18:7, 8). Dit het die koning van Assirië baie kwaad gemaak. Gevolglik lees ons: “In die veertiende jaar van koning Hiskia het Sanherib, die koning van Assirië, teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle verower” (Jesaja 36:1). Hiskia hoop moontlik om Jerusalem teen ’n onmiddellike aanval deur die genadelose Assiriese leër te beskerm en stem in om Sanherib die ontsaglike som van 300 silwer talente en 30 goue talente te betaal.a—2 Konings 18:14.
5 Aangesien daar nie genoeg goud en silwer in die koninklike skatkamer is om die skatting te betaal nie, haal Hiskia soveel kosbare metaal as wat hy kan uit die tempel. Hy sny ook die tempeldeure, wat met goud oorgetrek is, af en stuur dit aan Sanherib. Dit stel die Assiriër tevrede, maar net vir ’n rukkie (2 Konings 18:15, 16). Hiskia besef klaarblyklik dat die Assiriërs Jerusalem nie lank sal uitlos nie. Daarom moet hy voorbereidsels tref. Die volk stop waterbronne toe wat die invallende Assiriërs van water kan voorsien. Hiskia versterk ook die verskansings van Jerusalem en bou ’n arsenaal wapens op, wat “werpspiese in oorvloed en skilde” insluit.—2 Kronieke 32:4, 5.
6. In wie stel Hiskia sy vertroue?
6 Maar Hiskia stel nie sy vertroue in slim oorlogstrategie of in verskansings nie, maar in Jehovah van die leërs. Hy spoor sy krygshoofde soos volg aan: “Wees moedig en sterk. Moenie bang of verskrik wees weens die koning van Assirië en weens die hele menigte wat by hom is nie; want by ons is meer as by hom. By hom is ’n arm van vlees, maar by ons is Jehovah ons God om ons te help en ons oorloë te voer.” Die volk reageer daarop deur te “begin steun op die woorde van Hiskia, die koning van Juda” (2 Kronieke 32:7, 8). Stel jou die opwindende gebeure voor wat volg terwyl ons hoofstukke 36 tot 39 van Jesaja se profesie hersien.
Rabsake stel sy saak
7. Wie is Rabsake, en waarom is hy na Jerusalem gestuur?
7 Sanherib stuur Rabsake (’n militêre titel, nie ’n naam nie) saam met twee ander hoogwaardigheidsbekleërs na Jerusalem om te eis dat die stad oorgee (2 Konings 18:17). Drie van Hiskia se verteenwoordigers, Eljakim, die opsiener oor Hiskia se huis, Sebna, die sekretaris, en Joag, die seun van Asaf, die kroniekskrywer, ontmoet hulle buite die stadsmuur.—Jesaja 36:2, 3.
8. Hoe probeer Rabsake Jerusalem se weerstand breek?
8 Rabsake se doel is eenvoudig—oortuig Jerusalem om sonder ’n geveg oor te gee. Hy praat Hebreeus en roep eers uit: “Wat is hierdie vertroue wat jy gekoester het? . . . In wie het jy nou vertroue gestel, dat jy teen my in opstand gekom het?” (Jesaja 36:4, 5). Daarna tart Rabsake die vreesbevange Jode en herinner hy hulle dat hulle heeltemal alleen is. Tot wie kan hulle hulle wend vir ondersteuning? Tot daardie “geknakte riet”, Egipte? (Jesaja 36:6). Op hierdie stadium is Egipte wel soos ’n geknakte riet; trouens, daardie voormalige wêreldmoondheid is tydelik deur Etiopië onderwerp en die huidige Farao van Egipte, koning Tirhaka, is nie ’n Egiptenaar nie, maar ’n Etiopiër. En hy gaan binnekort deur Assirië oorwin word (2 Konings 19:8, 9). Aangesien Egipte homself nie eers kan red nie, sal hy min hulp aan Juda kan bied.
9. Wat laat Rabsake klaarblyklik dink dat Jehovah Sy volk in die steek sal laat, maar wat is die feite?
9 Rabsake sê nou dat Jehovah nie vir Sy volk sal veg nie omdat Hy vir hulle kwaad is. Rabsake sê: “As jy vir my sê: ‘Op Jehovah ons God het ons vertrou’, is dit dan nie sy hoogtes en sy altare wat Hiskia verwyder het nie?” (Jesaja 36:7). Die Jode het Jehovah natuurlik allermins verwerp deur die hoogtes en die altare in die land af te breek; hulle het in werklikheid na Jehovah teruggekeer.
10. Waarom maak dit nie saak of Juda se verdedigers baie of min is nie?
10 Daarna herinner Rabsake die Jode dat hulle teen ’n oorweldigende militêre oormag te staan gekom het. Hy daag hulle hooghartig uit: “Laat ek jou tweeduisend perde gee om te sien of jy ruiters daarop kan sit” (Jesaja 36:8). Maar maak dit werklik saak of Juda se opgeleide ruiters baie of min is? Nee, want Juda se redding hang nie af van wie die sterkste leër het nie. Spreuke 21:31 verduidelik sake soos volg: “Die perd is iets wat vir die dag van oorlog gereedgemaak word, maar redding behoort aan Jehovah.” Daarna beweer Rabsake dat Jehovah die Assiriërs seën en nie die Jode nie. Andersins, redeneer hy, sou die Assiriërs nooit so ver in Juda se gebied kon indring nie.—Jesaja 36:9, 10.
11, 12. (a) Waarom dring Rabsake daarop aan om in “die Jode se taal” te praat, en hoe probeer hy om die Jode wat staan en luister in die versoeking te bring? (b) Watter uitwerking kan Rabsake se woorde op die Jode hê?
11 Hiskia se verteenwoordigers is besorg oor die uitwerking wat Rabsake se redenasie op die manne sal hê wat hom bo van die stadsmuur af kan hoor. Hierdie Joodse amptenare vra: “Praat asseblief in die Siriese taal met u knegte, want ons verstaan; en moenie in die Jode se taal met ons praat voor die ore van die volk wat op die muur is nie” (Jesaja 36:11). Maar Rabsake is glad nie van plan om in die Siriese taal te praat nie. Hy wil hê dat twyfel en vrees in die Jode moet ontstaan sodat hulle sal oorgee en Jerusalem sonder ’n stryd ingeneem kan word! (Jesaja 36:12). Daarom praat die Assiriër weer in “die Jode se taal”. Hy waarsku die inwoners van Jerusalem: “Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie, want hy kan julle nie verlos nie.” Hierna probeer hy om dié wat hom hoor in die versoeking te bring deur te beskryf hoe die lewe vir Jode onder Assiriese heerskappy kan wees: “Gee julle aan my oor en kom na my toe uit en eet elkeen van sy eie wingerdstok en elkeen van sy eie vyeboom en drink elkeen die water van sy eie reënput, totdat ek kom en julle na ’n land neem net soos julle land, ’n land van graan en nuwe wyn, ’n land van brood en wingerde.”—Jesaja 36:13-17.
12 Daar sal hierdie jaar geen oes vir die Jode wees nie—as gevolg van die Assiriese inval het hulle niks op hulle landerye geplant nie. Die vooruitsig om sappige druiwe te eet en koue water te drink, is vir die manne wat op die muur staan en luister seker baie aanloklik. Maar Rabsake is nog nie klaar nie; hy wil die Jode nog verder probeer verswak.
13, 14. Waarom is wat met Samaria gebeur het nie op Juda se situasie van toepassing nie, ondanks die redenasie van Rabsake?
13 Rabsake gebruik nou ’n ander mondelinge wapen uit sy arsenaal van redenasies. Hy waarsku die Jode om Hiskia nie te glo nie as hy sê: “Jehovah sal ons verlos.” Rabsake herinner die Jode dat die gode van Samaria nie kon keer dat die tien stamme deur die Assiriërs oorwin word nie. En wat van die gode van die ander nasies wat Assirië onderwerp het? “Waar is die gode van Hamat en Arpad?” vra hy. “Waar is die gode van Sefarwaim? En het hulle Samaria uit my hand verlos?”—Jesaja 36:18-20.
14 Rabsake, ’n aanbidder van valse gode, verstaan natuurlik nie dat daar ’n groot verskil is tussen die afvallige Samaria en Jerusalem onder Hiskia nie. Samaria se valse gode het geen krag gehad om die tienstammeryk te red nie (2 Konings 17:7, 17, 18). Aan die ander kant het Jerusalem onder Hiskia valse gode verwerp en weer begin om Jehovah te dien. Maar die drie Judese verteenwoordigers probeer dit nie aan Rabsake verduidelik nie. “Hulle het stilgebly en hom nie ’n woord geantwoord nie, want die gebod van die koning het gesê: ‘Julle mag hom nie antwoord nie’” (Jesaja 36:21). Eljakim, Sebna en Joag keer na Hiskia terug en gee ’n amptelike verslag van wat Rabsake gesê het.—Jesaja 36:22.
Hiskia neem ’n besluit
15. (a) Watter besluit moet Hiskia nou neem? (b) Hoe stel Jehovah sy volk gerus?
15 Koning Hiskia moet nou ’n besluit neem. Gaan Jerusalem aan die Assiriërs oorgee? met Egipte saamspan? of vasstaan en veg? Hiskia is onder groot druk. Hy gaan na Jehovah se tempel terwyl Eljakim en Sebna, saam met die ouer manne van die priesters, gestuur word om Jehovah deur middel van die profeet Jesaja te raadpleeg (Jesaja 37:1, 2). Die koning se gesante, wat in saklinne geklee is, nader Jesaja en sê: “Vandag is ’n dag van benoudheid en van bestrawwing en van minagtende vermetelheid . . . Miskien sal Jehovah u God die woorde hoor van Rabsake, wat deur die koning van Assirië, sy heer, gestuur is om die lewende God uit te tart, en sal hy van hom rekenskap eis vir die woorde wat Jehovah u God gehoor het” (Jesaja 37:3-5). Ja, die Assiriërs tart die lewende God! Sal Jehovah aandag skenk aan hulle uittarting? Deur middel van Jesaja stel Jehovah die Jode gerus: “Moenie bang wees weens die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië smadend van my gepraat het nie. Kyk, ek plaas ’n gees in hom, en hy sal ’n berig hoor en na sy eie land terugkeer; en ek sal hom beslis in sy eie land deur die swaard laat val.”—Jesaja 37:6, 7.
16. Watter briewe stuur Sanherib?
16 Intussen word Rabsake weggeroep om by Sanherib te wees terwyl hy teen Libna oorlog voer. Sanherib sal later met Jerusalem afreken (Jesaja 37:8). Die vertrek van Rabsake bring nogtans geen verligting van die druk op Hiskia nie. Sanherib stuur dreigbriewe wat beskryf wat die inwoners van Jerusalem kan verwag as hulle weier om oor te gee: “Jy het gehoor wat die konings van Assirië met al die lande gedoen het deur hulle aan vernietiging oor te gee, en sal jy verlos word? Het die gode van die nasies wat deur my voorvaders verdelg is, hulle verlos? . . . Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarwaim—van Hena en van Iwwa?” (Jesaja 37:9-13). Die Assiriër sê eintlik dat dit sinneloos is om weerstand te bied—weerstand sal net groter moeilikheid bring!
17, 18. (a) Wat is Hiskia se beweegrede wanneer hy Jehovah vra om hulle te beskerm? (b) Hoe antwoord Jehovah die Assiriër deur middel van Jesaja?
17 Hiskia is baie besorg oor die gevolge van die besluit wat hy moet neem en hy sprei Sanherib se briewe voor Jehovah in die tempel uit (Jesaja 37:14). Hy doen ’n opregte gebed tot Jehovah en smeek hom om aandag te skenk aan die Assiriër se dreigemente en sluit sy gebed met hierdie woorde af: “En nou, o Jehovah ons God, red ons uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat u, o Jehovah, alleen God is” (Jesaja 37:15-20). Hieruit is dit duidelik dat Hiskia nie hoofsaaklik oor sy eie redding besorg is nie, maar oor die oneer wat op Jehovah se naam gebring sou word as Assirië Jerusalem verslaan.
18 Jehovah se antwoord op Hiskia se gebed kom deur Jesaja. Jerusalem moet nie aan Assirië oorgee nie; hulle moet vasstaan. Asof hy met Sanherib praat, sê Jesaja moedig wat Jehovah se boodskap aan die Assiriër is: “Die maagdelike dogter van Sion het jou verag, sy het jou bespot. Agter jou het die dogter van Jerusalem haar kop [spottend] geskud” (Jesaja 37:21, 22). Dan voeg Jehovah as ’t ware by: ‘Wie is jy om die Heilige van Israel uit te tart? Ek ken jou dade. Jy is baie ambisieus; jy het grootgepraat. Jy het op jou militêre vermoë vertrou en baie gebied verower. Maar jy is nie onoorwinlik nie. Ek sal jou planne in die wiele ry. Ek sal jou oorwin. Dan sal ek met jou doen soos jy met ander gedoen het. Ek sal ’n haak in jou neus sit en jou na Assirië teruglei!’—Jesaja 37:23-29.
“Dít sal vir jou die teken wees”
19. Watter teken gee Jehovah aan Hiskia, en wat beteken dit?
19 Watter waarborg het Hiskia dat Jesaja se profesie vervul sal word? Jehovah antwoord: “Dít sal vir jou die teken wees: Vanjaar sal geëet word wat opslaan van korrels wat geval het, en in die tweede jaar graan wat vanself opkom; maar in die derde jaar moet julle saad saai en oes en wingerde plant en die vrugte daarvan eet” (Jesaja 37:30). Jehovah sal vir die vasgekeerde Jode kos voorsien. Al kan hulle weens die Assiriese besetting nie saad saai nie, sal hulle van die oorblyfsels van die vorige jaar se oes kan eet. Die volgende jaar is ’n sabbatsjaar, en hulle moet hulle lande, ondanks hulle moeilike situasie, braak laat lê (Eksodus 23:11). Jehovah belowe dat genoeg graan op die landerye sal opkom om hulle te onderhou as die volk aan hom gehoorsaam is. Dan sal hulle die volgende jaar op die gewone manier saad kan saai en die vrug van hulle arbeid kan geniet.
20. Hoe sal diegene wat aan die Assiriese aanval ontkom, “wortelskiet ondertoe en vrugte voortbring boontoe”?
20 Jehovah vergelyk nou sy volk met ’n plant wat nie maklik ontwortel kan word nie: “Dié van die huis van Juda wat ontkom, . . . sal beslis wortelskiet ondertoe en vrugte voortbring boontoe” (Jesaja 37:31, 32). Ja, diegene wat op Jehovah vertrou, het niks om te vrees nie. Hulle en hulle nakomelinge sal stewig in die land bevestig word.
21, 22. (a) Wat word aangaande Sanherib voorspel? (b) Hoe en wanneer word Jehovah se woorde oor Sanherib vervul?
21 Wat van die Assiriër se dreigemente teen Jerusalem? Jehovah antwoord: “Hy sal nie in hierdie stad inkom nie, en ook sal hy nie ’n pyl daarin skiet of met ’n skild daarteen kom of ’n beleëringskans daarteen opwerp nie. Met die pad waarmee hy gekom het, sal hy terugkeer, en in hierdie stad sal hy nie inkom nie” (Jesaja 37:33, 34). Daar sal op die ou end glad nie ’n geveg tussen Assirië en Jerusalem wees nie. Verbasend genoeg sal dit die Assiriërs wees wat sonder ’n geveg verslaan word, nie die Jode nie.
22 Jehovah hou sy woord en stuur ’n engel wat die room van Sanherib se manskappe—185 000 manne—doodmaak. Dit gebeur blykbaar by Libna, en Sanherib word wakker en vind dat die leiers, hoofde en sterk manne van sy leër dood is. Vernederd keer hy na Nineve terug, maar ten spyte van sy verpletterende nederlaag, bly hy nog steeds toegewy aan sy valse god Nisrog. ’n Paar jaar later, terwyl hy in die tempel van Nisrog aanbid, word Sanherib deur twee van sy seuns vermoor. Weer eens is die lewelose Nisrog nie in staat om hom te red nie.—Jesaja 37:35-38.
Hiskia se geloof word verder versterk
23. Voor watter krisis kom Hiskia te staan wanneer Sanherib die eerste keer teen Juda optrek, en wat is die implikasies van hierdie krisis?
23 Omtrent die tyd toe Sanherib die eerste keer teen Juda optrek, word Hiskia dodelik siek. Jesaja sê vir hom dat hy gaan sterf (Jesaja 38:1). Die 39-jarige koning is verpletter. Hy is nie net besorg oor sy eie welsyn nie, maar ook oor die toekoms van die volk. Die gevaar bestaan dat Jerusalem en Juda deur die Assiriërs binnegeval gaan word. Wie sal die stryd lei as Hiskia sterf? Op daardie tyd het Hiskia nie ’n seun om die heerskappy oor te neem nie. Hiskia bid vurig tot Jehovah om barmhartigheid aan hom te bewys.—Jesaja 38:2, 3.
24, 25. (a) Hoe verhoor Jehovah Hiskia se gebed goedgunstiglik? (b) Watter wonderwerk laat Jehovah plaasvind, soos in Jesaja 38:7, 8 beskryf word?
24 Nog voor Jesaja uit die paleis se voorhof is, stuur Jehovah hom met nog ’n boodskap na die verslae koning se bed toe terug: “Ek het jou gebed gehoor. Ek het jou trane gesien. Kyk, ek voeg vyftien jaar by jou dae; en uit die palm van die koning van Assirië sal ek jou en hierdie stad verlos, en ek sal hierdie stad verdedig” (Jesaja 38:4-6; 2 Konings 20:4, 5). Jehovah bevestig sy belofte met ’n ongewone teken: “Kyk, ek laat die skaduwee van die trappies wat weens die son op die trappies van die trap van Agas gedaal het, tien trappies teruggaan.”—Jesaja 38:7, 8a.
25 Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus was daar ’n trap in die koning se paleis, moontlik met ’n kolom daar naby. Wanneer die son se strale op die kolom geval het, het dit ’n skaduwee op die trap gewerp. ’n Mens kon vasstel hoe laat dit is deur na die posisie van die skaduwee op die trap te kyk. Nou gaan Jehovah ’n wonderwerk laat plaasvind. Nadat die skaduwee geleidelik op die gewone manier met die trap afbeweeg het, sal dit tien trappies terugbeweeg. Wie het ooit van so iets gehoor? Die Bybel sê: “En die son het geleidelik tien trappies teruggegaan op die trappies waarlangs dit gedaal het” (Jesaja 38:8b). Kort daarna herstel Hiskia van sy siekte. Die nuus hiervan versprei tot in Babilon. Wanneer die koning van Babilon dit hoor, stuur hy boodskappers na Jerusalem om die feite te hoor.
26. Wat is een resultaat van die verlenging van Hiskia se lewe?
26 Omtrent drie jaar ná Hiskia se wonderdadige herstel word sy eerste seun, Manasse, gebore. Wanneer Manasse grootword, toon hy geen waardering vir God se medelye, waarsonder hy nie eers gebore sou gewees het nie! Inteendeel, gedurende die grootste deel van sy lewe doen Manasse op groot skaal wat sleg was in Jehovah se oë.—2 Kronieke 32:24; 33:1-6.
Hy begaan ’n oordeelsfout
27. Hoe toon Hiskia waardering vir Jehovah?
27 Hiskia is, soos sy voorvader Dawid, ’n man van geloof. Hy heg groot waarde aan God se Woord. Volgens Spreuke 25:1 het hy gereël dat die materiaal saamgestel word wat nou in Spreuke hoofstukke 25 tot 29 opgeteken staan. Party is ook van mening dat hy die 119de Psalm geskryf het. Die hartroerende danklied wat Hiskia komponeer nadat hy van sy siekte herstel het, toon dat hy ’n man met diep gevoelens is. Hy kom tot die slotsom dat die belangrikste ding in die lewe is om Jehovah “al die dae van ons lewe” by Sy tempel te loof (Jesaja 38:9-20). Mag ons almal so voel oor rein aanbidding!
28. Watter oordeelsfout begaan Hiskia die een of ander tyd nadat hy wonderdadig genees is?
28 Maar al is Hiskia getrou, is hy nog steeds onvolmaak. Hy begaan ’n ernstige oordeelsfout die een of ander tyd ná Jehovah hom genees het. Jesaja verduidelik: “In dié tyd het Merodag-Baladan, die seun van Baladan, die koning van Babilon, briewe en ’n geskenk aan Hiskia gestuur, nadat hy gehoor het dat hy siek was maar weer aangesterk het. Toe het Hiskia oor hulle bly geword en hulle sy skathuis gewys, die silwer en die goud en die balsemolie en die goeie olie en sy hele wapenhuis en alles wat onder sy skatte te vinde was. Daar was niks in sy huis en in sy hele ryk wat Hiskia hulle nie gewys het nie.”—Jesaja 39:1, 2.b
29. (a) Wat is moontlik Hiskia se beweegrede wanneer hy sy skatte vir die Babiloniese afvaardiging wys? (b) Wat sal die gevolge van Hiskia se oordeelsfout wees?
29 Selfs ná Jehovah se engel die Assiriërs ’n verpletterende nederlaag toegedien het, was hulle nog steeds ’n bedreiging vir baie nasies, ook Babilon. Hiskia wou dalk die koning van Babilon beïndruk, moontlik as ’n toekomstige bondgenoot. Maar Jehovah wil nie hê dat die inwoners van Juda met hulle vyande moet omgaan nie; hy wil hê dat hulle op hom moet vertrou! Deur middel van die profeet Jesaja openbaar Jehovah nou die toekoms aan Hiskia: “Daar kom dae, en alles wat in jou huis is en wat jou voorvaders tot vandag toe opgegaar het, sal na Babilon weggevoer word. Daar sal niks oorbly nie . . . En party van jou seuns wat uit jou sal voortkom, van wie jy vader sal word, sal geneem word en hofamptenare in die paleis van die koning van Babilon word” (Jesaja 39:3-7). Ja, die nasie wat Hiskia wou beïndruk, sal uiteindelik Jerusalem se skatte plunder en slawe van sy burgers maak. Toe Hiskia sy skatte vir die Babiloniërs gewys het, het dit net hulle gierigheid geprikkel.
30. Hoe het Hiskia ’n goeie gesindheid geopenbaar?
30 Tweede Kronieke 32:26 verwys moontlik na die geval toe Hiskia sy skatte vir die Babiloniërs gewys het en sê: “Hiskia het hom verneder in die hoogmoed van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, en Jehovah se toorn het nie in die dae van Hiskia oor hulle gekom nie.”
31. Wat het uiteindelik met Hiskia gebeur, en wat leer ons daaruit?
31 Ondanks sy onvolmaaktheid was Hiskia ’n man van geloof. Hy het geweet dat sy God, Jehovah, ’n werklike persoon is wat gevoelens het. Toe hy onder druk verkeer het, het Hiskia opreg tot Jehovah gebid, en Jehovah het hom verhoor. Jehovah God het hom vrede gegee vir die res van sy dae, en Hiskia was dankbaar daarvoor (Jesaja 39:8). Jehovah moet vandag vir ons net so werklik wees. Mag ons soos Hiskia wees wanneer probleme ontstaan en ons tot Jehovah wend vir wysheid en ’n uitkoms, “want hy gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt” (Jakobus 1:5). As ons volhard en geloof in Jehovah beoefen, kan ons seker wees dat hy “die beloner [sal] word van dié wat hom ernstig soek”, nou en in die toekoms.—Hebreërs 11:6.
[Voetnote]
a Meer as R60 miljoen teen hedendaagse waardes.
b Ná Sanherib se nederlaag het omliggende nasies geskenke van goud, silwer en ander kosbare dinge na Hiskia gebring. In 2 Kronieke 32:22, 23, 27 lees ons dat Hiskia “’n baie groot hoeveelheid rykdom en heerlikheid gehad” het en dat hy “in die oë van al die nasies verhef” is. Hierdie geskenke het hom moontlik in staat gestel om sy skathuis, wat hy leeggemaak het toe hy skatting aan die Assiriërs betaal het, weer vol te maak.
[Prent op bladsy 383]
Koning Hiskia vertrou op Jehovah wanneer hy voor die mag van Assirië te staan kom
[Volbladillustrasie op bladsy 384]
[Prent op bladsy 389]
Die koning stuur gesante na Jesaja om Jehovah se besluit te hoor
[Prent op bladsy 390]
Hiskia bid dat Jehovah se naam verheerlik word deur Assirië se nederlaag
[Prent op bladsy 393]
Jehovah se engel maak 185 000 Assiriërs dood