Aan die Hebreërs
10 Die Wet is ’n skaduwee+ van die toekomstige goeie dinge,+ maar nie die werklikheid van daardie dinge nie. Daarom kan dit* aanbidders nooit, deur dieselfde offerandes wat jaar ná jaar geoffer word, tot volmaaktheid bring nie.+ 2 Anders sou offerandes mos nie meer gebring word nie, want dié wat heilige diens doen en eenmaal gereinig is, sou nie meer van sondes bewus wees nie. 3 Maar hierdie offerandes herinner hulle jaar ná jaar aan sondes,+ 4 want dit is nie vir die bloed van bulle en bokke moontlik om sondes weg te neem nie.
5 Toe hy in die wêreld ingekom het, het hy dus gesê: “‘U wou nie ’n offerande of ’n offergawe hê nie, maar u het vir my ’n liggaam voorberei. 6 U het nie heelbrandoffers en sonde-offers goedgekeur nie.’+ 7 Toe het ek gesê: ‘Kyk! Ek het gekom (in die boekrol is daar oor my geskryf) om u wil te doen, o God.’”+ 8 Eers het hy gesê: “U wou nie offerandes en offergawes en heelbrandoffers en sonde-offers hê nie, en u het dit nie goedgekeur nie.” Dit verwys na offerandes wat volgens die Wet gebring word. 9 Dan sê hy: “Kyk! Ek het gekom om u wil te doen.”+ Hy verwyder dit wat eerste is sodat hy dit wat tweede is, kan instel. 10 Deur hierdie “wil”+ is ons eens en vir altyd geheilig deur middel van die offer van die liggaam van Jesus Christus.+
11 Elke priester neem ook dag ná dag sy plek in om heilige* diens te doen+ en om oor en oor dieselfde offerandes te bring,+ wat sonde nooit heeltemal kan wegneem nie.+ 12 Maar hierdie man het eens en vir altyd een offerande vir sondes gebring en het aan die regterhand van God gaan sit,+ 13 en hy wag van toe af totdat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak word.+ 14 Want deur een slagoffer het hy dié wat geheilig word, eens en vir altyd tot volmaaktheid gebring.+ 15 En die heilige gees bevestig dit ook vir ons, want eers sê dit: 16 “‘Dit is die verbond wat ek ná daardie dae met hulle sal maak,’ sê Jehovah.* ‘Ek sal my wette in hulle harte sit, en ek sal dit in hulle verstande skryf.’”+ 17 Dan sê dit: “En ek sal nie meer aan hulle sondes en hulle wettelose dade dink nie.”+ 18 As God dan nou hierdie sondes vergewe het, is geen offers meer nodig nie.
19 Broers, deur die bloed van Jesus het ons die vrymoedigheid* om gebruik te maak van die weg wat in die heiligdom+ ingaan. 20 Hy het hierdie nuwe en lewende weg vir ons geopen* deur die gordyn,*+ naamlik sy liggaam,* 21 en nou het ons ’n groot priester oor die huis van God.+ 22 Laat ons dus met opregte harte en rotsvaste geloof nader kom, aangesien ons harte deur besprinkeling gereinig is van ’n goddelose gewete+ en ons liggame met skoon water gewas is.+ 23 Laat ons aan die openbare bekendmaking van ons hoop vashou sonder om te twyfel,+ want die een wat die belofte gemaak het, is getrou. 24 En laat ons aandag skenk aan* mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor.*+ 25 Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos,+ soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig,+ en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom.+
26 Want as ons opsetlik sonde beoefen nadat ons akkurate kennis van die waarheid ontvang het,+ bly daar nie meer enige offerande vir sondes oor nie,+ 27 maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel en ’n brandende woede wat die teenstanders gaan verteer.+ 28 Enigiemand wat nie die Wet van Moses gehoorsaam nie, word op die getuienis van twee of drie doodgemaak+ sonder enige genade. 29 Wat dink julle? As iemand die Seun van God vertrap het en die bloed van die verbond+ waardeur hy geheilig is, as iets doodgewoons beskou het en die gees van onverdiende goedheid beledig en verwerp het,+ verdien hy nie om soveel swaarder gestraf te word nie? 30 Want ons ken die Een wat gesê het: “Die wraak is myne. Ek sal terugbetaal.” Hy sê ook: “Jehovah* sal sy volk oordeel.”+ 31 Dit is iets vreesliks om in die hande van die lewende God te val.
32 Maar bly dink aan die tyd nadat julle die lig gesien het,+ toe julle ’n groot stryd deurgemaak het en baie gely het. 33 Soms is julle in die openbaar* beledig en sleg behandel, en soms het julle dié wat so iets deurgemaak het, bygestaan. 34 Want julle het simpatie met dié in die gevangenis en het julle vreugde behou toe julle van julle besittings beroof is,+ omdat julle weet dat julle ’n beter besitting het wat permanent is.+
35 Moenie ophou om met vrymoedigheid te praat nie, want dit sal ryklik beloon word.+ 36 Julle het volharding nodig,+ want as julle die wil van God bly doen, sal julle die vervulling van die belofte ontvang. 37 Want nog “’n baie kort rukkie”,+ en “die een wat kom, sal kom en sal nie lank neem nie”.+ 38 “Maar my regverdige kneg sal deur geloof lewe”,+ en “as hy van my af wegbeweeg, gee hy my* geen vreugde nie”.+ 39 Ons is dan nou nie die soort wat van God af wegbeweeg en vernietig word nie,+ maar die soort wat geloof het en daardeur sal bly lewe.