Christus se teenwoordigheid—Wat beteken dit vir jou?
“Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—MATT. 24:3.
1. Watter interessante vraag het Jesus se apostels hom gevra?
BYNA tweeduisend jaar gelede het vier van Jesus se apostels ’n vraag geopper in ’n privaat gesprek met hulle Heer op die Olyfberg. Hulle het gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matt. 24:3). In hierdie vraag het die apostels twee baie interessante uitdrukkings gebruik, “u teenwoordigheid” en “die voleinding van die stelsel van dinge”. Waarna verwys hierdie uitdrukkings?
2. Wat is die onderliggende betekenis van die woord “voleinding”?
2 Kom ons bespreek eers die tweede uitdrukking en kyk na die woord “voleinding”, wat die vertaling is van die Griekse woord sun·teʹlei·a. In die Nuwe Wêreld-vertaling word hierdie woord deurgaans met “voleinding” weergegee, terwyl ’n verwante Griekse woord, te’los, met “einde” vertaal word. Die verskil in die betekenis van hierdie twee woorde kan toegelig word deur te verduidelik hoe ’n toespraak by die Koninkryksaal verloop. Die voleinding, oftewel slot, van die toespraak is die laaste gedeelte, waarin die spreker die gehoor kortliks herinner aan wat hy bespreek het en dan toon hoe daardie inligting op hulle van toepassing is. Die einde van die toespraak is wanneer die spreker die verhoog verlaat. In die Bybel verwys die uitdrukking “die voleinding van die stelsel van dinge” eweneens na die tydperk wat die einde daarvan voorafgaan en dit ook insluit.
3. Wat is party van die dinge wat gedurende Jesus se teenwoordigheid plaasvind?
3 Wat van die “teenwoordigheid” waaroor die apostels gevra het? Dit is die vertaling van die Griekse woord pa·rou·siʹa.a Christus se pa·rou·siʹa, of teenwoordigheid, het begin toe Jesus in 1914 in die hemel as Koning ingehuldig is en duur voort om die “groot verdrukking” in te sluit, waartydens hy kom om die goddeloses te vernietig (Matt. 24:21). Baie verskillende dinge, onder meer “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel van dinge, die insameling van die uitverkorenes en hulle opstanding tot hemelse lewe, vind gedurende hierdie teenwoordigheid van Jesus plaas (2 Tim. 3:1; 1 Kor. 15:23; 1 Tess. 4:15-17; 2 Tess. 2:1). Daar kan gesê word dat die tydperk wat “die voleinding van die stelsel van dinge” (sun·teʹlei·a) uitmaak, ooreenstem of saamval met die tydperk wat Christus se teenwoordigheid (pa·rou·siʹa) genoem word.
’n Lang tydperk
4. Watter parallel is daar tussen Jesus se teenwoordigheid en die gebeure in Noag se dag?
4 Die feit dat die woord pa·rou·siʹa na ’n lang tydperk verwys, stem ooreen met wat Jesus oor sy teenwoordigheid gesê het. (Lees Matteus 24:37-39.) Let op dat Jesus nie sy teenwoordigheid vergelyk het met die betreklike kort tydperk waartydens die Vloed in Noag se dag plaasgevind het nie. Hy het sy teenwoordigheid eerder vergelyk met die baie langer tydperk wat die Vloed voorafgegaan het. Gedurende hierdie tydperk het Noag onder andere die ark gebou en sy predikingswerk gedoen, en dié tydperk het voortgeduur totdat die Vloed uiteindelik gekom het. Hierdie gebeure het oor baie dekades plaasgevind. Net so sluit Christus se teenwoordigheid die gebeure in wat die groot verdrukking voorafgaan sowel as die groot verdrukking self.—2 Tess. 1:6-9.
5. Hoe toon die woorde in Openbaring hoofstuk 6 dat Jesus se teenwoordigheid ’n lang tydperk is?
5 Ander Bybelprofesieë toon duidelik dat Christus se teenwoordigheid na ’n lang tydperk verwys en nie net na sy koms om die goddeloses te vernietig nie. Die boek Openbaring beeld Jesus uit waar hy op ’n wit perd ry en ’n kroon gegee word. (Lees Openbaring 6:1-8.) Dit sê dat Jesus, nadat hy in 1914 as Koning gekroon is, “uitgegaan [het] om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi”. Die verslag toon dan dat hy gevolg word deur ruiters op perde van verskillende kleure. Hulle is profetiese voorstellings van oorlog, voedselskaarstes en pessiektes, wat alles plaasvind oor die lang tydperk wat “die laaste dae” genoem word. Ons sien in ons leeftyd die vervulling van hierdie profesie.
6. Wat help Openbaring hoofstuk 12 ons om oor Christus se teenwoordigheid te verstaan?
6 Openbaring hoofstuk 12 voorsien verdere besonderhede oor die oprigting van God se Koninkryk in die hemel. Ons lees daar van ’n oorlog in die onsigbare ryk. Migael—Jesus Christus in sy hemelse posisie—en sy engele veg teen die Duiwel en sy demone. Satan die Duiwel en sy hordes word gevolglik na die aarde neergewerp. Dan, sê die verslag vir ons, het die Duiwel groot toorn, “omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het”. (Lees Openbaring 12:7-12.) Dit is derhalwe duidelik dat die oprigting van Christus se Koninkryk in die hemel gevolg word deur ’n tydperk wat gekenmerk word deur groter “wee” vir die aarde en sy bewoners.
7. Waarvan praat die tweede psalm, en watter geleentheid word daarin beskryf?
7 Die tweede psalm praat eweneens profeties van Jesus se inhuldiging as Koning op die hemelse berg Sion. (Lees Psalm 2:5-9; 110:1, 2.) Hierdie psalm toon egter ook dat daar ’n tydperk is waarin die aarde se heersers, tesame met hulle onderdane, die geleentheid gebied word om hulle aan Christus se heerskappy te onderwerp. Hulle word gemaan om ‘met insig op te tree’ en hulle te laat “teregwys”. Ja, “gelukkig is almal” wat gedurende dié tyd “hulle toevlug tot hom [God] neem” deur Jehovah en sy aangestelde Koning te dien. Daar is dus gedurende Jesus se teenwoordigheid in koninklike mag ’n geleentheid om te verander.—Ps. 2:10-12.
Herken die teken
8, 9. Wie sou die teken van Christus se teenwoordigheid herken en die betekenis daarvan verstaan?
8 Toe die Fariseërs vir Jesus gevra het wanneer die Koninkryk sou kom, het hy geantwoord dat dit uit hulle oogpunt nie “met opvallende waarneembaarheid” sou kom nie (Luk. 17:20, 21). Ongelowiges sou nie verstaan nie. Hoe kon hulle? Hulle het Jesus nie eens as hulle toekomstige Koning herken nie. Wie sou dan die teken van Christus se teenwoordigheid herken sowel as die betekenis daarvan verstaan?
9 Jesus het toe gesê dat sy dissipels die teken net so duidelik sou sien as wat hulle “weerlig” sou sien, wat “deur sy geflits, van een deel onder die hemel tot ’n ander deel onder die hemel skyn”. (Lees Lukas 17:24-29.) Dit is interessant om daarop te let dat Matteus 24:23-27 dieselfde gedagte regstreeks verbind met die teken van Christus se teenwoordigheid.
Die geslag wat die teken sien
10, 11. (a) Watter verduideliking is vroeër gegee oor die “geslag” wat in Matteus 24:34 gemeld word? (b) Wie sou Jesus se dissipels ongetwyfeld verstaan het sou deel van daardie “geslag” wees?
10 Hierdie tydskrif het vroeër verduidelik dat “hierdie geslag” wat in Matteus 24:34 gemeld word, in die eerste eeu “die geslag van ongelowige Jode [was] wat in dieselfde tyd gelewe het”.b Hierdie verduideliking het redelik gelyk omdat al die ander opgetekende gevalle waar Jesus die woord “geslag” gebruik het, ’n negatiewe konnotasie gehad het en Jesus in die meeste gevalle ’n negatiewe byvoeglike naamwoord, soos “goddelose”, gebruik het om die geslag te beskryf (Matt. 12:39; 17:17; Mark. 8:38). Daar is dus gemeen dat Jesus in die hedendaagse vervulling verwys het na die goddelose “geslag” van ongelowiges wat die gebeure sou sien wat “die voleinding van die stelsel van dinge” (sun·teʹlei·a) sou kenmerk sowel as die einde (teʹlos) van die stelsel self.
11 Dit is so dat Jesus met of van die goddelose mense van sy dag gepraat het wanneer hy die woord “geslag” in ’n negatiewe sin gebruik het. Maar was dit noodwendig die geval met sy verklaring in Matteus 24:34? Onthou dat vier van Jesus se dissipels “alleen” na hom toe gekom het (Matt. 24:3). Aangesien Jesus nie negatiewe byvoeglike naamwoorde gebruik het toe hy met hulle oor “hierdie geslag” gepraat het nie, sou die apostels ongetwyfeld verstaan het dat hulle en hulle mededissipels deel van die “geslag” sou wees wat nie sou verbygaan “voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie”.
12. Na wie het Jesus volgens die konteks verwys toe hy die woord “geslag” gebruik het?
12 Op grond waarvan kan ons tot hierdie gevolgtrekking kom? Op grond van ’n noukeurige ontleding van die konteks. Jesus het volgens Matteus 24:32, 33 gesê: “En leer dít van die vyeboom as ’n illustrasie: Sodra sy jong tak sag word en hy blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur.” (Vergelyk Markus 13:28-30; Lukas 21:30-32.) Dan lees ons in Matteus 24:34: “Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie geslag hoegenaamd nie sal verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie.”
13, 14. Waarom kan ons sê dat die “geslag” waarna Jesus verwys het, ongetwyfeld sy dissipels was?
13 Jesus het gesê dat sy dissipels, wat weldra met heilige gees gesalf sou word, dié sou wees wat sekere gevolgtrekkings sou kon maak wanneer hulle “al hierdie dinge” sien gebeur. Jesus het dus ongetwyfeld na sy dissipels verwys toe hy die stelling gemaak het: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie.”
14 In teenstelling met ongelowiges sou Jesus se dissipels nie net die teken sien nie, maar ook die betekenis daarvan verstaan. Hulle sou “leer” uit die aspekte van hierdie teken en “weet” wat dit werklik beteken. Hulle sou ten volle verstaan dat hy “voor die deur” is. Hoewel dit so is dat ongelowige Jode sowel as getroue gesalfde Christene ’n beperkte vervulling van Jesus se woorde in die eerste eeu gesien het, kon net sy gesalfde volgelinge destyds uit hierdie gebeure leer—die werklike betekenis verstaan van wat hulle gesien het.
15. (a) Wie maak die hedendaagse “geslag” uit waarna Jesus verwys het? (b) Waarom kan ons nie bereken presies hoe lank “hierdie geslag” is nie? (Sien venster op bladsy 25.)
15 Vandag meen mense wat nie geestelike insig het nie, dat daar geen “opvallende waarneembaarheid” met betrekking tot die teken van Jesus se teenwoordigheid is nie. Hulle redeneer dat alles voortgaan net soos in die verlede (2 Pet. 3:4). Daarteenoor herken Christus se getroue gesalfde broers, die hedendaagse Johannes-klas, hierdie teken asof dit ’n weerligstraal is en verstaan hulle die werklike betekenis daarvan. As ’n klas maak hierdie gesalfdes die hedendaagse “geslag” van tydgenote uit wat nie sal verbygaan “voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie”.c Dit gee te kenne dat party van Christus se gesalfde broers nog op die aarde sal lewe wanneer die voorspelde groot verdrukking begin.
“Hou aan waak”
16. Wat moet al Christus se dissipels doen?
16 Maar meer is nodig as om net die teken te herken. Jesus het verder gesê: “Wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak” (Mark. 13:37). Dít is vandag vir ons almal van die allergrootste belang, hetsy ons van die gesalfdes of van die groot menigte is. Nege dekades het verloop sedert Jesus in 1914 in die hemel as Koning ingehuldig is. Ongeag hoe moeilik dit is, ons moet gereed wees en aanhou waak. Die besef dat Christus onsigbaar teenwoordig is in Koninkryksmag, help ons om dit te doen. Dit maak ons ook bewus van die feit dat hy binnekort sal kom om sy vyande te vernietig “op ’n uur wat [ons] dit nie waarskynlik ag nie”.—Luk. 12:40.
17. Hoe moet hierdie begrip ons laat voel, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
17 As ons die betekenis van Christus se teenwoordigheid verstaan, help dit om ons gevoel van dringendheid te verskerp. Ons weet dat Jesus alreeds teenwoordig is en sedert 1914 onsigbaar as Koning in die hemel regeer. Hy sal binnekort kom om die goddeloses te vernietig en groot veranderinge op hierdie hele aarde te bewerkstellig. Ons moet dus meer vasbeslote as ooit tevore wees om ’n daadwerklike aandeel te hê aan die werk wat Jesus voorspel het toe hy gesê het: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [teʹlos] kom.”—Matt. 24:14.
[Voetnote]
a Die betekenis van pa·rou·siʹa kan gesien word in die verskil wat tussen die apostel Paulus se “teenwoordigheid” en sy “afwesigheid” getref word in 2 Korintiërs 10:10, 11 sowel as in Filippense 2:12. Vir ’n breedvoerige bespreking, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 676-9.
c Die tydperk waartydens “hierdie geslag” lewe, kom blykbaar ooreen met die tydperk wat gedek word deur die eerste visioen in die boek Openbaring (Op. 1:10–3:22). Hierdie aspek van die Here se dag strek van 1914 totdat die laaste van die getroue gesalfdes sterf en opgewek word.—Sien Openbaring—Sy groot klimaks is op hande! bladsy 24, paragraaf 4.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe weet ons dat Jesus se teenwoordigheid ’n lang tydperk is?
• Wie herken die teken van Jesus se teenwoordigheid en verstaan wat dit beteken?
• Wie maak die hedendaagse geslag uit wat in Matteus 24:34 gemeld word?
• Waarom kan ons nie bereken presies hoe lank “hierdie geslag” is nie?
[Venster op bladsy 25]
Kan ons bereken hoe lank “hierdie geslag” is?
Die woord “geslag” verwys gewoonlik na mense van verskillende ouderdomme wie se lewe gedurende ’n spesifieke tydperk of gebeurtenis oorvleuel. Eksodus 1:6 sê byvoorbeeld vir ons: “Uiteindelik het Josef gesterf, en ook al sy broers en daardie hele geslag.” Josef en sy broers se ouderdomme het verskil, maar hulle het gedurende dieselfde tydperk ’n gemeenskaplike ondervinding deurgemaak. Deel van ‘daardie geslag’ was party van Josef se broers wat voor hom gebore is. Party van hulle het langer as Josef gelewe (Gen. 50:24). Ander van ‘daardie geslag’, soos Benjamin, is ná Josef gebore en het moontlik nog gelewe nadat hy gesterf het.
Wanneer die woord “geslag” gebruik word met verwysing na mense wat gedurende ’n spesifieke tyd lewe, kan daar dus nie gesê word presies hoe lank daardie tyd is nie, behalwe dat dit wel ’n einde het en nie uitermate lank sal wees nie. Deur die uitdrukking “hierdie geslag” te gebruik, soos opgeteken in Matteus 24:34, het Jesus dus nie vir sy dissipels ’n formule gegee om te kan bepaal wanneer “die laaste dae” sou eindig nie. Inteendeel, Jesus het daarna beklemtoon dat hulle nie sou weet wat “daardie dag en uur” is nie.—2 Tim. 3:1; Matt. 24:36.
[Prent op bladsy 22, 23]
Die verslag sê dat Jesus, nadat hy in 1914 as Koning gekroon is, “uitgegaan [het] om te oorwin”
[Prent op bladsy 24]
“Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie”