Hoofstuk 12
“Hou vas wat jy het”
FILADELFIA
1. Jesus se sesde boodskap word gerig aan die gemeente in watter stad, en wat beteken daardie stad se naam?
BROEDERLIKE GENEENTHEID—wat ’n gewenste eienskap! Jesus het dit ongetwyfeld in gedagte wanneer hy sy sesde boodskap gee, wat hy aan die gemeente in Filadelfia rig, want daardie naam beteken “Broederlike geneentheid”. Die bejaarde Johannes onthou nog die geleentheid, meer as 60 jaar tevore, toe Petrus Jesus drie keer daarvan verseker het dat hy, Petrus, innige geneentheid vir sy Here het (Johannes 21:15-17). Betoon die Christene in Filadelfia, op hulle beurt, broederlike geneentheid? Blykbaar doen hulle dit!
2. Watter soort stad was Filadelfia, watter soort gemeente was daar geleë, en wat sê Jesus vir die engel van hierdie gemeente?
2 Die Filadelfia van Johannes se dag, wat sowat 48 kilometer suidoos van Sardis (op die terrein van die hedendaagse Turkse stad Alasehir) geleë is, is ’n betreklik welvarende stad. Maar die welvaart van die Christengemeente daar is opmerkenswaardiger. Met watter vreugde moes hulle tog die bedienaar ontvang het wat na hulle gereis het, waarskynlik oor Sardis! Die boodskap wat hy bring, bevat besielende raad vir hulle. Maar eers verwys dit na die gesag van die roemryke Afsender daarvan. Hy sê: “En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfia: Hierdie dinge sê hy wat heilig is, wat waaragtig is, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak sodat niemand sal sluit nie, en sluit sodat niemand oopmaak nie.”—Openbaring 3:7.
3. Waarom is dit gepas dat Jesus “heilig” genoem word, en hoe kan daar gesê word dat hy “waaragtig is”?
3 Johannes het gehoor hoe Petrus vir die mens Jesus Christus sê: “U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is” (Johannes 6:68, 69). Aangesien Jehovah God die verpersoonliking van heiligheid is, moet sy enigverwekte Seun ook “heilig” wees (Openbaring 4:8). Jesus is ook “waaragtig”. Die Griekse woord wat hier gebruik word (a·le·thi·nosʹ), bevat die gedagte van egtheid. In hierdie sin is Jesus die ware lig en die ware brood wat uit die hemel neergedaal het (Johannes 1:9; 6:32). Hy is die ware wingerdstok (Johannes 15:1). Jesus is ook waaragtig in die sin dat hy betroubaar is. Hy praat altyd die waarheid. (Sien Johannes 8:14, 17, 26.) Hierdie Seun van God is inderdaad waardig om as Koning en Regter te dien.—Openbaring 19:11, 16.
“Die sleutel van Dawid”
4, 5. Met watter verbond het “die sleutel van Dawid” verband gehou?
4 Jesus het “die sleutel van Dawid”. Hy gebruik dit om ‘oop te maak sodat niemand sal sluit nie en te sluit sodat niemand oopmaak nie’. Wat is hierdie “sleutel van Dawid”?
5 Dit was met koning Dawid van Israel dat Jehovah ’n verbond vir ’n ewige koninkryk gesluit het (Psalm 89:1-4, 34-37). Dawid se huis het van 1070 tot 607 v.G.J. vanaf Jehovah se troon in Jerusalem regeer, maar toe is God se oordeel aan daardie koninkryk voltrek omdat dit goddeloos geword het. So het Jehovah sy profesie in Esegiël 21:27 begin vervul: “’n Puinhoop, ’n puinhoop, ’n puinhoop sal ek dit [aardse Jerusalem] maak. Ook wat dit betref, dit [die septer van koningskap in Dawid se geslag] sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek sal dit aan hom gee.”
6, 7. Wanneer en hoe sou die een met “die wetlike reg” verskyn?
6 Wanneer en hoe sou hierdie een met “die wetlike reg” verskyn? Hoe sou die septer van Dawid se koninkryk aan hom gegee word?
7 Ongeveer 600 jaar later het ’n nakomeling van koning Dawid, die Joodse maagd Maria, deur heilige gees swanger geraak. God het die engel Gabriël gestuur om Maria mee te deel dat sy ’n seun sou hê, wat Jesus genoem moes word. Gabriël het bygevoeg: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”—Lukas 1:31-33.
8. Hoe het Jesus bewys dat hy bevoeg is om die Dawidiese koningskap te erf?
8 Toe Jesus in 29 G.J. in die Jordaanrivier gedoop en met heilige gees gesalf is, het hy die aangewese Koning in die geslag van Dawid geword. Hy het die goeie nuus van die Koninkryk met voorbeeldige ywer verkondig en sy dissipels opdrag gegee om ook te preek (Matteus 4:23; 10:7, 11). Jesus het homself verneder, selfs tot die dood aan ’n folterpaal, en het sodoende bewys dat hy ten volle bevoeg is om die Dawidiese koningskap te erf. Jehovah het Jesus as ’n onsterflike gees opgewek en hom tot Sy eie regterhand in die hemele verhef. Daar het hy al die regte van die Dawidiese koninkryk geërf. Jesus sou ná verloop van tyd sy reg uitoefen om te “gaan oorwin te midde van [sy] vyande”.—Psalm 110:1, 2; Filippense 2:8, 9; Hebreërs 10:13, 14.
9. Hoe gebruik Jesus die sleutel van Dawid om oop te maak en te sluit?
9 Intussen sou Jesus die sleutel van Dawid kon gebruik om geleenthede en voorregte in verband met die Koninkryk van God te open. Deur middel van Jesus sou Jehovah nou gesalfde Christene op die aarde “van die gesag van die duisternis” verlos en hulle “in die koninkryk van die Seun van sy liefde” oorbring (Kolossense 1:13, 14). Die sleutel sou ook gebruik word om enige ontroues uit te sluit van sulke voorregte (2 Timoteus 2:12, 13). Aangesien hierdie permanente erfgenaam van Dawid se koninkryk Jehovah se steun geniet, kan geen skepsel hom verhinder om sulke pligte na te kom nie.—Vergelyk Matteus 28:18-20.
10. Watter aanmoediging gee Jesus die gemeente in Filadelfia?
10 Jesus se woorde aan die Christene in Filadelfia moet besonder vertroostend wees, aangesien dit van so ’n gesaghebbende bron kom! Hy prys hulle deur te sê: “Ek ken jou dade—kyk! ek het ’n geopende deur voor jou gestel, wat niemand kan sluit nie—dat jy ’n bietjie krag het, en jy het my woord bewaar en my naam nie verloën nie” (Openbaring 3:8). Die gemeente was bedrywig, en ’n deur het daarvoor oopgegaan—ongetwyfeld ’n deur wat die geleentheid skep vir bedieningswerk. (Vergelyk 1 Korintiërs 16:9; 2 Korintiërs 2:12.) Jesus spoor die gemeente derhalwe aan om ten volle gebruik te maak van die geleentheid om te preek. Hulle het volhard en getoon dat hulle, met behulp van God se gees, genoeg krag het om verdere “dade” in Jehovah se diens te verrig (2 Korintiërs 12:10; Sagaria 4:6). Hulle het Jesus se bevele gehoorsaam en het Christus nie deur woord of daad verloën nie.
‘Hulle sal hulle voor jou neerbuig’
11. Watter seën beloof Jesus aan die Christene, en hoe is dit verwesenlik?
11 Jesus beloof dus aan hulle goeie resultate: “Kyk! Ek sal dié gee wat uit die sinagoge van Satan is, wat sê dat hulle Jode is, en dit tog nie is nie maar lieg—kyk! ek sal hulle laat kom en voor jou voete hulde laat bewys en hulle laat weet dat ek jou liefgehad het” (Openbaring 3:9). Soos in Smirna het die gemeente dalk probleme met die plaaslike Jode ondervind. Jesus noem hulle “die sinagoge van Satan”. Maar ten minste party van daardie Jode sal binnekort besef dat wat die Christene oor Jesus verkondig, die waarheid is. Hulle sal waarskynlik ‘hulde bewys’ op die manier wat Paulus in 1 Korintiërs 14:24, 25 beskryf het, sodat hulle in werklikheid berou toon en Christene word, met volle waardering vir die groot liefde wat Jesus getoon het deur selfs van sy siel afstand te doen ten behoewe van sy dissipels.—Johannes 15:12, 13.
12. Waarom sou dit lede van die Joodse sinagoge in Filadelfia waarskynlik verbaas om te hoor dat party van hulle hulle voor die plaaslike Christengemeenskap sou “neerbuig”?
12 Dit sou lede van die Joodse sinagoge in Filadelfia waarskynlik verbaas om te hoor dat party van hulle voor die plaaslike Christengemeenskap ‘hulde sou bewys’. Met die oog op die feit dat daar ongetwyfeld baie nie-Jode in daardie gemeente is, sou hulle verwag dat presies die teenoorgestelde sou gebeur. Waarom? Omdat Jesaja voorspel het: “[Nie-Joodse] konings sal vir jou [die volk Israel] oppassers word, en hulle vorstinne versorgsters vir jou. Met die gesig na die aarde sal hulle hulle voor jou neerbuig” (Jesaja 49:23; 45:14; 60:14). Sagaria is geïnspireer om in ’n soortgelyke trant te skryf: “In dié dae sal tien man [nie-Jode] uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). Ja, nie-Jode moes hulle voor Jode neerbuig, nie andersom nie!
13. Wie was die Jode oor wie profesieë vervul sou word wat tot eertydse Israel gerig is?
13 Daardie profesieë is tot God se uitverkore nasie gerig. Toe hulle geuiter is, het vleeslike Israel daardie ereposisie beklee. Maar toe die Joodse nasie die Messias verwerp het, het Jehovah hulle verstoot (Matteus 15:3-9; 21:42, 43; Lukas 12:32; Johannes 1:10, 11). Op Pinkster 33 G.J. het hy die ware Israel van God, die Christengemeente, in hulle plek gekies. Die lede daarvan is die geestelike Jode met die ware besnydenis van die hart (Handelinge 2:1-4, 41, 42; Romeine 2:28, 29; Galasiërs 6:16). Al manier waarop individuele vleeslike Jode daarna weer ’n begunstigde verhouding met Jehovah kon verkry, was deur geloof te stel in Jesus as die Messias (Matteus 23:37-39). Blykbaar sou dit spoedig met sommige persone in Filadelfia gebeur.a
14. Hoe is Jesaja 49:23 en Sagaria 8:23 in hedendaagse tye op ’n betekenisvolle wyse vervul?
14 Profesieë soos Jesaja 49:23 en Sagaria 8:23 is in hedendaagse tye op ’n uiters betekenisvolle wyse vervul. As gevolg van die predikingswerk van die Johannes-klas het groot getalle mense Koninkryksdiens deur die geopende deur betree.b Die meeste van hulle het uit die Christendom gekom, wie se godsdienste valslik beweer dat hulle geestelike Israel is. (Vergelyk Romeine 9:6.) Hierdie mense, as ’n groot menigte, was hulle klere en maak dit wit deur geloof te beoefen in Jesus se offerbloed (Openbaring 7:9, 10, 14). Hulle is gehoorsaam aan Christus se Koninkryksheerskappy en hoop dus om die seëninge daarvan hier op die aarde te beërf. Hulle kom na Jesus se gesalfde broers en ‘buig hulle’, geestelik gesproke, voor hulle ‘neer’, omdat ‘hulle gehoor het dat God met hulle is’. Hulle verrig diens aan hierdie gesalfdes, met wie hulle in ’n wêreldwye broederskap verenig word.—Matteus 25:34-40; 1 Petrus 5:9.
“Die uur van beproewing”
15. (a) Wat het Jesus aan die Christene in Filadelfia beloof, en wat is hulle aangespoor om te doen? (b) Watter “kroon” het die Christene uitgesien om eendag te ontvang?
15 Jesus sê verder: “Omdat jy die woord oor my volharding bewaar het, sal ek jou ook bewaar van die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom om dié wat op die aarde woon, op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon wegneem nie” (Openbaring 3:10, 11). Hoewel die Christene van Johannes se dag nie tot die dag van die Here (wat in 1914 begin het) behoue sou bly nie, sou hulle vertroue in Jesus se koms hulle krag gee om aan te hou preek (Openbaring 1:10; 2 Timoteus 4:2). Die “kroon”, of beloning van die ewige lewe, het in die hemel op hulle gewag (Jakobus 1:12; Openbaring 11:18). As hulle tot in die dood getrou was, sou niemand hulle daardie beloning kon ontneem nie.—Openbaring 2:10.
16, 17. (a) Wat is “die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom”? (b) Wat was die toestand van die gesalfdes aan die begin van “die uur van beproewing”?
16 Maar wat is “die uur van beproewing”? Daardie Christene in Asië moes ongetwyfeld ’n verdere vlaag van verskriklike vervolging deur die keiserlike Romeinse Ryk verduur het.c Nietemin is die grotere vervulling die uur van sifting en oordeel wat uiteindelik gedurende die dag van die Here aangebreek en van 1918 af ’n klimaks bereik het. Die toets was om te bepaal of ’n persoon ten gunste van God se opgerigte Koninkryk of ten gunste van Satan se wêreld is. Dit duur ’n betreklike kort tydjie, ’n “uur”, maar dit is nog nie verby nie. Intussen moet ons nooit vergeet dat ons in “die uur van beproewing” lewe nie.—Lukas 21:34-36.
17 In 1918 moes die Johannes-klas van gesalfde Christene—soos daardie getroue gemeente in Filadelfia—teenstand van die hedendaagse “sinagoge van Satan” die hoof bied. Godsdiensleiers van die Christendom, wat beweer het dat hulle geestelike Jode is, het die heersers op listige wyse gemanipuleer om ware Christene te onderdruk. Tog het hierdie Christene hard probeer om ‘die woord oor Jesus se volharding te bewaar’; gevolglik het hulle met geestelike hulp, ’n betekenisvolle “bietjie krag”, voortbestaan en is hulle gewek om in te gaan deur die deur wat nou voor hulle oopgegaan het. Hoe?
“’n Geopende deur”
18. Watter aanstelling het Jesus in 1919 gedoen, en hoe het die aangestelde gevolglik soos Hiskia se getroue bestuurder geword?
18 In 1919 het Jesus sy belofte nagekom en die groepie ware gesalfde Christene as sy “getroue en verstandige slaaf” erken (Matteus 24:45-47). ’n Voorreg soortgelyk aan dié wat die getroue bestuurder Eljakim in die tyd van koning Hiskia geniet het, het hulle te beurt geval.d Jehovah het van Eljakim gesê: “Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê, en hy sal oopmaak sonder dat iemand sluit, en hy sal sluit sonder dat iemand oopmaak.” Eljakim het groot verantwoordelikhede vir Hiskia, die koninklike seun van Dawid, op hom geneem. Net so is “die sleutel van die huis van Dawid” vandag op die skouer van die gesalfde Johannes-klas gelê in die sin dat die aardse belange van die Messiaanse Koninkryk aan hulle toevertrou is. Jehovah het sy knegte vir hierdie voorreg versterk deur hulle bietjie krag te vermeerder tot dinamiese energie wat voldoende is vir ’n ontsaglike wêreldwye getuienis.—Jesaja 22:20, 22; 40:29.
19. Hoe het die Johannes-klas die verantwoordelikhede behartig wat Jesus hulle in 1919 gegee het, en wat het dit tot gevolg gehad?
19 Sedert 1919 het die gesalfde oorblyfsel Jesus se voorbeeld gevolg en ’n kragtige veldtog aangepak om die goeie nuus van die Koninkryk wyd en syd te verkondig (Matteus 4:17; Romeine 10:18). Gevolglik het party van die hedendaagse sinagoge van Satan, die Christendom, na hierdie gesalfde oorblyfsel gekom, berou getoon en hulle ‘neergebuig’ ter erkenning van die slaaf se gesag. Hulle het Jehovah ook eensgesind saam met die oueres van die Johannes-klas kom dien. Dit het voortgeduur totdat die volle getal van Jesus se gesalfde broers versamel is. Daarna het “’n groot menigte . . . uit alle nasies” hulle voor die gesalfde slaaf kom “neerbuig” (Openbaring 7:3, 4, 9). Die slaaf en hierdie groot menigte dien saam as die een kudde van Jehovah se Getuies.
20. Waarom moet Jehovah se Getuies vandag besonder sterk in die geloof en bedrywig in God se diens wees?
20 Jehovah se Getuies, wat soos die Christene in Filadelfia in ’n band van opregte broederlike geneentheid verenig is, besef vandag dat hulle predikingswerk dringend gedoen moet word. Die groot verdrukking sal binnekort die gordyn oor Satan se goddelose wêreld laat sak. Mag elkeen van ons op daardie tydstip sterk in die geloof en bedrywig in God se diens bevind word, sodat ons name nie uit Jehovah se boek van die lewe uitgewis sal word nie (Openbaring 7:14). Laat ons Jesus se vermaning aan die gemeente in Filadelfia baie ernstig opneem, sodat ons aan ons diensvoorregte kan vashou en die ewige lewe as beloning kan verkry.
Seëninge vir die oorwinnaars
21. Hoe het gesalfde Christene vandag ‘die woord oor Jesus se volharding bewaar’, en watter vooruitsig het hulle?
21 Die Johannes-klas het vandag ‘die woord oor Jesus se volharding bewaar’, dit wil sê, hulle het sy voorbeeld gevolg en volhard (Hebreërs 12:2, 3; 1 Petrus 2:21). Jesus se verdere woorde aan die gemeente in Filadelfia het hulle dus grootliks aangemoedig: “Die een wat oorwin—ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar hoegenaamd nie meer uitgaan nie.”—Openbaring 3:12a.
22. (a) Wat is die tempel van Jesus se God? (b) Hoe sal die gesalfde Christene wat oorwin, pilare in hierdie tempel word?
22 Wat ’n voorreg is dit tog vir iemand om ’n pilaar in die tempel van Jehovah te wees! In eertydse Jerusalem was die letterlike tempel die sentrum van Jehovah se aanbidding. In die tempel het die hoëpriester, een dag elke jaar, die bloed van offerdiere geoffer voor die wonderdadige lig wat Jehovah se teenwoordigheid in “die Allerheiligste” afgebeeld het (Hebreërs 9:1-7). Toe Jesus gedoop is, het ’n ander tempel tot stand gekom, ’n groot geestelike, tempelagtige reëling vir die aanbidding van Jehovah. Die allerheiligste van hierdie tempel is in die hemel, waar Jesus gepas “voor die aangesig van God” verskyn het (Hebreërs 9:24). Jesus is die Hoëpriester, en net een offer word vir die algehele versoening van sondes gebring: die vergote bloed van die volmaakte mens Jesus (Hebreërs 7:26, 27; 9:25-28; 10:1-5, 12-14). Solank hulle getrou bly, dien gesalfde Christene op aarde as onderpriesters in die aardse voorhowe van hierdie tempel (1 Petrus 2:9). Maar wanneer hulle oorwin het, gaan hulle ook in daardie hemelse allerheiligste in en word hulle onbeweegbare stutte, soos pilare, van die tempelagtige reëling vir aanbidding (Hebreërs 10:19; Openbaring 20:6). Daar is geen gevaar dat hulle ‘meer daar sal uitgaan nie’.
23. (a) Watter belofte maak Jesus vervolgens aan die gesalfde Christene wat oorwin? (b) Wat het die feit dat Jehovah se naam en die naam van die nuwe Jerusalem op Christenoorwinnaars geskryf word, tot gevolg?
23 Jesus sê verder: “En ek sal op hom die naam van my God skryf en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel neerdaal, en my nuwe naam” (Openbaring 3:12b). Ja, die naam van Jehovah—hulle God en Jesus se God—word op hierdie oorwinnaars geskryf. Dit toon duidelik dat Jehovah en Jesus twee afsonderlike persone is en nie twee dele van ’n drie-enige God, of Drie-eenheid, nie (Johannes 14:28; 20:17). Die hele skepping moet besef dat hierdie gesalfdes aan Jehovah behoort. Hulle is sy getuies. Op hulle word ook geskryf die naam van die nuwe Jerusalem, die hemelse stad wat uit die hemel neerdaal in die sin dat die welwillende heerskappy daarvan oor die hele getroue mensdom uitgebrei word (Openbaring 21:9-14). Al die aardse Christenskape sal op dié manier ook weet dat hierdie gesalfde oorwinnaars burgers van die Koninkryk, die hemelse Jerusalem, is.—Psalm 87:5, 6; Matteus 25:33, 34; Filippense 3:20; Hebreërs 12:22.
24. Wat stel Jesus se nuwe naam voor, en hoe word dit op getroue gesalfde Christene geskryf?
24 Ten slotte word Jesus se nuwe naam op gesalfde oorwinnaars geskryf. Dit verwys na Jesus se nuwe amp en die unieke voorregte wat Jehovah aan hom gegee het (Filippense 2:9-11; Openbaring 19:12). Niemand anders leer daardie naam ken nie, in die sin dat niemand anders daardie ondervindinge het of daardie voorregte ontvang nie. Maar wanneer Jesus sy naam op sy getroue broers skryf, verkry hulle ’n intieme verhouding met hom in daardie hemelse ryk en deel hulle selfs in sy voorregte (Lukas 22:29, 30). Dit is geen wonder nie dat Jesus sy boodskap aan sulke gesalfdes afsluit deur die vermaning te herhaal: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê.”—Openbaring 3:13.
25. Hoe kan elke individuele Christen vandag die beginsel agter Jesus se raad aan die gemeente in Filadelfia toepas?
25 Wat ’n groot aansporing moes hierdie boodskap tog vir die getroue Christene in Filadelfia gewees het! En dit bevat beslis nou, gedurende die dag van die Here, ’n kragtige les vir die Johannes-klas. Maar die beginsels daarvan is vir elke individuele Christen belangrik, hetsy hy van die gesalfdes of van die ander skape is (Johannes 10:16). Dit sal van ons almal verstandig wees om aan te hou om Koninkryksvrugte voort te bring, soos daardie Christene in Filadelfia gedoen het. Ons almal het ten minste ’n bietjie krag. Ons almal kan iets in Jehovah se diens doen. Laat ons hierdie krag gebruik! Laat ons, wat groter Koninkryksvoorregte betref, wakker wees om in te gaan deur enige deur wat vir ons oopgaan. Ons kan selfs tot Jehovah bid om so ’n deur oop te maak (Kolossense 4:2, 3). Terwyl ons Jesus se voorbeeld van volharding volg en aan sy naam getrou bly, sal ons toon dat ons ook ’n oor het om te hoor wat God se heilige gees vir die gemeentes sê.
[Voetnote]
a In Paulus se tyd het Sostenes, die presiderende beampte van die Joodse sinagoge in Korinte, ’n Christenbroer geword.—Handelinge 18:17; 1 Korintiërs 1:1.
b Die tydskrif Die Wagtoring, wat deur die Johannes-klas uitgegee word, het deurgaans beklemtoon hoe dringend dit is om hierdie geleentheid aan te gryp en soveel moontlik in die predikingswerk te doen; sien byvoorbeeld die artikels “Laat almal die heerlikheid van Jehovah verkondig” en “‘Hulle geluid het oor die hele aarde uitgegaan’” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2004. In die artikel “Geseënd is dié wat aan God heerlikheid gee”, in die nommer van 1 Junie 2004, is klem gelê op die geleentheid om die voltydse diens deur ’n “geopende deur” te betree. Daar was gedurende een maand in 2005 ’n hoogtepunt van 1 093 552 pioniers wat sulke diens gerapporteer het.
c McClintock en Strong se Cyclopedia (Deel X, bladsy 519) sê: “Die Christelike godsdiens is onder die aandag van die keisers gebring deur die opskuddings wat onder die bevolking verwek is deur heidense priesters, wat die merkwaardige vooruitgang van daardie geloof met ontsteltenis gadegeslaan het, en Trajanus [98-117 G.J.] het gevolglik bevele uitgevaardig vir die geleidelike onderdrukking van die nuwe leer wat mense in haters van die gode verander het. Die bewind van Plinius die Jongere as goewerneur van Bitinië [wat in die noorde aan die Romeinse provinsie Asië gegrens het] is bemoeilik deur aangeleenthede wat voortgespruit het uit die vinnige uitbreiding van die Christelike godsdiens en die gevolglike woede van die heidense bevolking in sy provinsie.”
d Die naam Hiskia beteken “Jehovah versterk”. Sien 2 Konings 16:20, voetnoot in NW.
[Venster op bladsy 63]
Hulp aan baie om hulle neer te buig
Van die 144 000 gesalfdes wat die hemelse Koninkryk sal beërf, is daar klaarblyklik ’n oorblyfsel, die Johannes-klas, van minder as 9 000 wat nog hulle aardse loopbaan moet voltooi. Terselfdertyd het die groot menigte gegroei tot ’n skare van meer as 6 600 000 (Openbaring 7:4, 9). Wat het tot hierdie ontsaglike vermeerdering bygedra? Die verskillende skole wat Jehovah se Getuies gereël het, het ’n groot rol hierin gespeel. In skerp teenstelling met die kweekskole van die Christendom wat wêreldse filosofieë leer en die Bybel afkraak, bou hierdie Getuieskole sterk geloof in God se Woord op. Hulle toon hoe prakties die Bybel is wat ’n rein, sedelike lewe en toegewyde diens aan God betref. Sedert 1943 hou elke gemeente van Jehovah se Getuies regoor die aarde ’n Teokratiese Bedieningskool in sy Koninkryksaal. Miljoene woon elke week hierdie skool by, waar hulle ’n verenigde Bybelonderrigprogram volg.
Sedert 1959 hou Jehovah se Getuies ook Koninkryksbedieningskole vir die opleiding van gemeentelike ouer manne en bedieningsknegte. En sedert 1977 het die Pionierdiensskole honderdduisende broers en susters opgelei wat Jehovah met ’n ware Filadelfiese gees voltyds in die predikingswerk dien. In 1987 is die Bedieningsopleidingskool begin om manlike Getuies vir spesiale toewysings in die wêreldveld op te lei.
’n Besondere skool van Jehovah se Getuies is die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Sedert 1943 het daar feitlik elke jaar twee groepe studente uit hierdie sendingskool in die staat New York gegradueer. Dit het altesaam meer as 7 000 bedienaars van Jehovah vir buitelandse sendingdiens opgelei. Die gegradueerdes van hierdie skool het al in meer as honderd lande gedien, en in baie van hierdie lande het hulle gehelp om die Koninkrykswerk aan te voor. Ná sowat 60 jaar is party van die vroeë sendelinge nog steeds bedrywig en werk hulle saam met nuwer sendelinge om die wêreldwye uitbreiding van Jehovah se organisasie te bevorder. Wat ’n wonderlike uitbreiding was dit tog!
[Tabel op bladsy 64]
In 1919 het die heersende Koning Jesus ’n deur oopgemaak wat die geleentheid skep vir Christelike diens. Al hoe meer toegewyde Christene benut hierdie geleentheid.
Lande deur prediking Christene wat Voltydse Jaar bereik gepreek hete predikersf
1918 14 3 868 591
1928 32 23 988 1 883
1938 52 47 143 4 112
1948 96 230 532 8 994
1958 175 717 088 23 772
1968 200 1 155 826 63 871
1978 205 2 086 698 115 389
1988 212 3 430 926 455 561
1998 233 5 544 059 698 781
2005 235 6 390 022 843 234
[Voetnote]
e Die bogenoemde syfers is maandelikse gemiddeldes.
f Die bogenoemde syfers is maandelikse gemiddeldes.
[Tabel op bladsy 65]
Die bedrywigheid van Jehovah se Getuies is heelhartig. Beskou byvoorbeeld die ure wat hulle aan die predikings- en onderrigtingswerk bestee het en die groot getal gratis Bybelstudies wat hulle in mense se huise gehou het.
Ure van Bybelstudies gehou predikingswerk (Maandelikse
Jaar (Jaarlikse totaal) gemiddelde)
1918 19 116 Nie opgeteken nie
1928 2 866 164 Nie opgeteken nie
1938 10 572 086 Nie opgeteken nie
1948 49 832 205 130 281
1958 110 390 944 508 320
1968 208 666 762 977 503
1978 307 272 262 1 257 084
1988 785 521 697 3 237 160
1998 1 186 666 708 4 302 852
2005 1 278 235 504 6 061 534
[Prent op bladsy 59]
’n Romeinse sleutel van die eerste eeu