HOOFSTUK DRIE
Die dag van Jehovah—’n Lewensbelangrike tema
1, 2. (a) Na watter lewensbelangrike tema verwys al 12 profete? (b) Hoe het party van die 12 profete die dag van Jehovah direk gemeld?
“DIE groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader” (Sefanja 1:14). God se profete het keer op keer oor die naderende dag van Jehovah gewaarsku. Hulle het gewoonlik getoon hoe die koms daarvan mense se daaglikse lewe, hulle sedes en hulle gedrag moet beïnvloed. ’n Gevoel van dringendheid het altyd met hulle boodskappe gepaardgegaan. Hoe sou jy gereageer het as jy hierdie boodskappe met jou eie ore gehoor het?
2 Wanneer jy die 12 profete lees, sal jy vind dat hulle almal, direk of indirek, van die dag van Jehovah gepraat het.a Voordat ons in die volgende hoofstukke die nuttige inligting bespreek wat hierdie profete oorgedra het, kan jy gerus dink aan die tema wat herhaaldelik voorkom: die dag van Jehovah. Ses van die profete het hierdie presiese uitdrukking of soortgelyke uitdrukkings gebruik. Joël het ’n aanskoulike beskrywing van “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” gegee (Joël 1:15; 2:1, 2, 30-32). Amos het vir die Israeliete gesê om hulle gereed te maak om hulle God te ontmoet, want die dag van Jehovah sal ’n dag van duisternis wees (Amos 4:12; 5:18). Later het Sefanja die woorde gespreek wat in paragraaf 1 aangehaal is. En kort voor die vernietiging van Jerusalem het Obadja gewaarsku: “Die dag van Jehovah teen al die nasies is naby.”—Obadja 15.
3. Waarom kan ons sê dat die profete wat ná die ballingskap gedien het, van Jehovah se dag gepraat het?
3 Jy sal ook sien dat twee profete wat na die Jode toe gestuur is nadat hulle uit ballingskap teruggekeer het, soortgelyke uitdrukkings gebruik het. Sagaria het gepraat van die dag wanneer alle nasies wat teen Jerusalem optrek, verdelg sou word. Hy het ’n treffende beskrywing gegee van wat sou plaasvind op “één dag . . . waarvan dit bekend is dat dit aan Jehovah behoort” (Sagaria 12:9; 14:7, 12-15). En Maleagi het God se volk gewaarsku oor die koms van “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”.—Maleagi 4:1-5.
4. Hoe verwys party van die 12 profete na die dag van Jehovah?
4 Hoewel die res van die 12 nie die uitdrukking “die dag van Jehovah” gebruik het nie, het hulle op daardie dag gesinspeel. Hosea het gesê dat Jehovah rekenskap sou eis van Israel en later van Juda (Hosea 8:13, 14; 9:9; 12:2). Hierdie boodskappe het dikwels verband gehou met wat Jehovah destyds gedoen het. Byvoorbeeld, Jona het God se oordeel oor Nineve verkondig, en Miga het beskryf wat sou gebeur wanneer God teen opstandige volke optree (Jona 3:4; Miga 1:2-5). Nahum het belowe dat Jehovah op Sy teenstanders sou wraak neem (Nahum 1:2, 3). Habakuk het om geregtigheid geroep en “die dag van benoudheid” beskryf (Habakuk 1:1-4, 7; 3:16). Party boodskappe in hierdie boeke het beslis gewys op verwikkelinge wat ware Christene sou raak. Haggai, een van die profete wat ná die ballingskap gedien het, het byvoorbeeld voorspel dat die nasies geskud sou word (Haggai 2:6, 7). Die apostel Paulus het uit Haggai 2:6 aangehaal om Christene aan te spoor om in ’n aanneemlike toestand te wees wanneer God die simboliese bose hemel verwyder.—Hebreërs 12:25-29; Openbaring 21:1.
DIE DAG VAN JEHOVAH—WAT IS DIT?
5, 6. Hoe sal die dag van Jehovah volgens die profete wees?
5 Jy het goeie rede om te wonder hoe die dag van Jehovah sal wees. Jy vra dalk: ‘Hou die dag van Jehovah enigsins verband met hoe ek nou lewe en met my toekoms?’ Soos die profete aangedui het, is die dag van Jehovah ’n tydperk wanneer Jehovah teen sy vyande optree om oordeel te voltrek, ’n dag van oorlog. Daardie vreesinboesemende dag sal waarskynlik ’n dag van verskynsels in die hemel wees. “Die son en die maan sal beslis donker word, en die sterre sal hulle glans intrek” (Joël 2:2, 11, 30, 31; 3:15; Amos 5:18; 8:9). Wat sal op die aarde gebeur, waar ons woon? Miga het gesê: “Die berge sal onder [Jehovah] smelt, en die laagvlaktes sal uitmekaar skeur, soos was as gevolg van die vuur, soos waters wat teen ’n skuinste afgegooi word” (Miga 1:4). Dit is miskien ’n figuurlike beskrywing, maar ons kan daaruit aflei dat God se optrede rampspoedige gevolge vir die aarde en sy bewoners sal hê. Maar nie vir alle mense nie. Dieselfde profete het gewys op oorvloedige seëninge vir diegene wat “soek wat goed is” en sodoende bly lewe.—Amos 5:14; Joël 3:17, 18; Miga 4:3, 4.
6 Ander profete onder die 12 het aanskouliker beelde van die dag van Jehovah geskets. Habakuk het ’n treffende beskrywing gegee van hoe Jehovah “die ewige berge” sal verbrysel en “die heuwels wat tot onbepaalde tyd bly”, sal neerwerp, gepaste voorstellings van menseorganisasies, wat miskien bestendig lyk (Habakuk 3:6-12). Ja, die dag van Jehovah “is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en van angs, ’n dag van storms en van verwoesting, ’n dag van duisternis en van somberheid, ’n dag van wolke en van dik donkerheid”.—Sefanja 1:14-17.
7. Watter plaag is voorspel, en hoe sal dit moontlik vervul word?
7 Dink net watter plaag diegene sal tref wat teen God veg! “Hulle vlees sal verrot, terwyl hulle op hulle voete staan; en hulle oë sal in hulle holtes verrot, en hulle tong sal in hulle mond verrot” (Sagaria 14:12). Of hierdie visioen letterlik vervul sal word of nie, jy kan sien dat dit vir baie mense tragiese gevolge voorspel. Die tong van God se vyande sal verrot, ten minste in die sin dat hulle nie meer uitdagende woorde sal kan spreek nie. En enige oogmerk om verenig te staan in hulle optrede teen God se volk, sal vervaag.
WAAROM ’N GOD VAN LIEFDE OPTREE
8, 9. (a) Wat moet jy in ag neem om te verstaan waarom Jehovah teen die goddeloses optree? (b) Watter verband is daar tussen jou lojaliteit in die daaglikse lewe en Jehovah se toekomstige optrede?
8 Jy het mense dalk al hoor vra: ‘Hoe kan ’n liefdevolle God sulke rampspoed oor sy vyande bring? Moet God werklik verwoesting op die aarde aanrig? Het Jesus ons nie aangespoor om selfs ons vyande lief te hê en sodoende te toon dat ons kinders van die Vader in die hemele is nie?’ (Matteus 5:44, 45). In antwoord hierop kan jy die aandag vestig op die begin van die mensdom se probleme. God het die eerste mensepaar na sy beeld en gelykenis geskep—hulle was volmaak. Maar hulle het sonde en die dood oor die mensdom en gevolglik oor ons gebring. Hulle het hulle aan Satan die Duiwel se kant geskaar in die geskil oor wie die opperreg het om oor die mensdom te regeer (Genesis 1:26; 3:1-19). Deur die eeue heen het Satan probeer bewys dat mense Jehovah nie sal dien as dit vir hulle voordeliger lyk om dit nie te doen nie. Jy weet dat Satan gefaal het. Jesus Christus en baie ander knegte van Jehovah het hulle onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf en getoon dat hulle hom uit liefde dien (Hebreërs 12:1-3). Kan jy nie baie persone by name noem wat God so lojaal dien nie?
9 Wat meer is, jy is betrokke by hierdie geskil wat tot ’n einde sal kom wanneer Jehovah goddeloosheid uitwis. Wanneer jy hierdie 12 boeke lees, sal jy byvoorbeeld sien dat party van die profete die aandag gevestig het op die weelderige lewenstyl van mense wat die aanbidding van Jehovah verwaarloos het. Die profete het God se volk gemaan om ‘hulle hart op hulle weë te rig’ en om hulle lewe te verander (Haggai 1:2-5; 2:15, 18; Amos 3:14, 15; 5:4-6). Ja, die profete het vir die volk gewys hoe om te lewe. Diegene wat daardie vermaning aanvaar het, het getoon dat Jehovah hulle Soewerein is en het sodoende bewys dat Satan ’n leuenaar is. Jehovah sal lojaal wees aan sulke mense wanneer hy sy vyande verdelg.—2 Samuel 22:26.
10. Hoe gee die dinge wat Miga waargeneem het, Jehovah verdere rede tot optrede?
10 Daar is nog ’n rede vir God om op te tree. Dink terug aan die agtste eeu v.G.J. toe Miga in Juda geprofeteer het. Hy praat asof hy die nasie is en vergelyk die situasie met ’n wingerd of ’n boord ná die oes, met geen oorblywende druiwe of vye nie. Dit was die stand van sake in die Judese gemeenskap, waarin daar skaars enige regskapenes gevind kon word. Israeliete het jag gemaak op hulle medeburgers en op die loer gelê om bloed te vergiet. Hulle leiers en regters het selfsugtige gewin nagejaag (Miga 7:1-4). Hoe sou jy gevoel het as jy onder sulke omstandighede gelewe het? Jy sou waarskynlik medelye gevoel het vir die onskuldige slagoffers. Hoeveel te meer voel Jehovah dan medelye vir die onderdruktes! Jehovah ondersoek die mensdom vandag. Wat dink jy vind hy? Onderdrukkers buit ander wreed uit en doen hulle medemens geweld aan. Wat lojales betref, daar is betreklik min van hulle in vergelyking met die wêreldbevolking. Maar ons hoef nie moed te verloor nie. Uit liefde vir die slagoffers sal Jehovah reg laat geskied.—Esegiël 9:4-7.
11. (a) Wat beteken die dag van Jehovah vir diegene wat hom vrees? (b) Watter invloed het Jona se waarskuwingsboodskap op die Nineviete gehad?
11 Dit is duidelik dat Jehovah se dag vernietiging vir sy vyande sal beteken en verlossing vir diegene wat hom vrees en dien.b Miga het voorspel dat nasies na die berg van Jehovah se huis sou stroom, wat wêreldwye vrede en eenheid tot gevolg sou hê (Miga 4:1-4). Het die feit dat die profete destyds die dag van Jehovah verkondig het, enige verandering in mense se lewens meegebring? Dit het in die geval van party. Onthou, toe Jona ’n oordeel teen Nineve verkondig het, het die gewelddadige, goddelose inwoners van daardie stad “geloof in God begin stel” en “hulle van hulle slegte weg afgekeer”. Gevolglik het Jehovah nie op daardie stadium rampspoed oor hulle gebring nie (Jona 3:5, 10). Die boodskap oor die naderende dag van Jehovah se oordeel het wel ’n invloed op die lewens van die Nineviete gehad!
HOE RAAK DAARDIE DAG JOU?
12, 13. (a) Oor wie het die 12 geprofeteer? (b) Waarom kan ons sê dat die profetiese woorde van die 12 baie ver in die toekoms gewys het?
12 ‘Maar daardie profete het eeue gelede gelewe’, maak iemand dalk beswaar. ‘Wat het hulle boodskappe oor Jehovah se dag met my te doen?’ Daardie profete het weliswaar baie jare voor selfs Jesus se geboorte gelewe, maar ons moet nietemin ondersoek hoe hulle woorde oor Jehovah se dag in die 21ste eeu van toepassing is. Hoe kan ons op praktiese wyse by hulle woorde oor Jehovah se groot dag baat vind? Daar is ’n sleutel wat ons kan help om die toepaslikheid van hulle boodskap te sien en om daarby baat te vind. Dit is dat ons besef dat die profete gewaarsku het oor Jehovah se dag teen Israel, Juda, omliggende nasies en sekere wêreldmoondhede van destyds.c Die punt is dat daardie profesieë vervul is! Die Assiriërs hét Samaria binnegeval, Juda ís in 607 v.G.J. verwoes en die omliggende vyandige nasies ís kort daarna vernietig. Uiteindelik het die Assiriese en Babiloniese wêreldmoondhede geval, alles in vervulling van spesifieke profesieë.
13 Dink nou aan Pinksterdag 33 G.J., lank nadat baie van daardie profesieë die eerste keer vervul is. Op daardie dag het die apostel Petrus Joël se profesie toegepas op die uitstorting van God se heilige gees. Toe het Petrus uit die boek Joël aangehaal: “Die son sal in duisternis verander word en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van Jehovah aanbreek” (Handelinge 2:20). Dit toon dat daar nog verdere vervullings van die profesieë oor die dag van Jehovah sou wees. Wat Joël se profesie betref, dit het in 70 G.J. ’n tweede vervulling gehad toe die Romeinse leër Jerusalem vernietig het, beslis ’n tyd van duisternis en bloed.
14, 15. (a) Waarom kan ons sê dat die profesieë oor die dag van Jehovah ons vandag raak? (b) Wanneer kan ons verwag dat die dag van Jehovah sal aanbreek?
14 Maar Joël se profesie en ander profesieë oor die dag van Jehovah moet nog ’n finale vervulling hê, wat van toepassing is op ons wat in die 21ste eeu lewe. Hoe so? Petrus het Christene gemaan om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte [te] hou”. Die apostel het verder gesê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:12, 13). Geen nuwe hemele (’n nuwe teokratiese regering) met ’n nuwe aarde (’n gemeenskap van regverdige mense onder daardie regering) is onmiddellik ná die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. opgerig nie. Die profetiese woorde oor die dag van Jehovah moet dus nog ’n vervulling hê. Ja, hierdie profesieë raak ons vandag, wat in “kritieke tye” lewe!—2 Timoteus 3:1.
15 Die saamgestelde beskrywing van Jehovah se dag soos opgeteken in hierdie 12 Bybelboeke laat ons aan Jesus Christus se woorde dink: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie.” “Onmiddellik ná” die begin van daardie groot verdrukking, het hy gesê, “sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Matteus 24:21, 29). Dit help ons om vas te stel wanneer Jehovah se dag sal kom. Dit is voor die deur. Die Skrif dui aan dat die groot verdrukking “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, sal vernietig. Dan sal Jehovah se dag, as die klimaks van die groot verdrukking, God se vyande van die aarde af verdelg.—Openbaring 17:5, 12-18; 19:11-21.
16. In watter belangrike opsig sal profesieë oor die dag van Jehovah vervul word?
16 Jehovah se Getuies het die basiese kenmerke van die vervullings van profesieë oor Jehovah se dag onderskei. Afvallige Jerusalem, ontroue Samaria, die vyandige Edomiete, die gewelddadige Assiriërs en die Babiloniërs het dikwels en op verskillende maniere aspekte van valse godsdiens voorafgeskadu. Alle godsdiens van hierdie aard sal in die eerste fase van die groot verdrukking vernietig word. In die “groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” wat daarop volg, sal haar politieke en kommersiële minnaars aan hulle einde kom.—Joël 2:31.
WEES GEREED
17, 18. (a) Waarom het Amos wee uitgespreek oor dié wat “smag na die dag van Jehovah”? (b) Wat sal gebeur met dié wat nie gereed is vir die dag van Jehovah nie?
17 Omdat die oordeelsboodskappe hoofsaaklik op valse godsdiens van toepassing is, voel party Christene dalk dat hulle nie deur die vervulling van hierdie profesieë geraak sal word nie. Maar wat Amos vir die Israeliete gesê het, is vir almal van praktiese waarde: “Wee dié wat smag na die dag van Jehovah!” Party Israeliete in Amos se dag het gedink dat Jehovah se dag vir hulle net seëninge sal beteken, in die oortuiging dat dit die dag sal wees dat God ten behoewe van sy volk optree. Hulle het selfs gesmag na daardie dag! Maar vir egosentriese mense sou die dag van Jehovah “duisternis wees en geen lig nie”, het Amos verder gesê. Ja, daardie Israeliete sou Jehovah se toorn ervaar!—Amos 5:18.
18 Amos het toe beskryf wat met dié sou gebeur wat smag na die dag van Jehovah. Dink aan iemand wat vir ’n leeu vlug en hom teen ’n beer vasloop. Hy hardloop van die beer af weg en vind skuiling in ’n huis. Uitasem maak hy die deur agter hom toe en leun hy teen die muur, maar word dan deur ’n slang gepik. In sekere sin is dit die lot van dié wat nie werklik gereed is vir die dag van Jehovah nie.—Amos 5:19.
19. Op watter praktiese maniere moet ons vir die dag van Jehovah voorberei?
19 Sien jy van watter praktiese waarde hierdie verslag vir jou kan wees? Onthou dat Amos sy woorde gerig het tot mense wat in ’n toegewyde verhouding met God was. Maar daar was dinge omtrent hulle dade en gesindhede wat moes verander. Is dit nie die moeite werd om jou lewe te ondersoek om te sien of jy gereed is vir daardie lewensbelangrike dag en of sekere veranderinge nodig is nie? Hoe kan jy toon dat jy werklik gereed is? Dit is beslis nie deur ’n skuilplek te bou, basiese voedselitems op te gaar, te leer hoe om water te suiwer of goudmunte bymekaar te maak, soos party oorlewingsgroepe al gedoen het nie. “Nie hulle silwer of hulle goud sal hulle in die dag van Jehovah se grimmigheid kan verlos nie”, sê Sefanja. Om gereed te wees, beteken dus nie om materiële dinge op te gaar nie (Sefanja 1:18; Spreuke 11:4; Esegiël 7:19). Ons moet eerder geestelik waaksaam wees en dag vir dag lewe soos mense wat gereed is. Ons moet die regte gesindheid hê—en dade wat daarmee ooreenstem. Miga het gesê: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem.”—Miga 7:7.
20. Watter faktore verander nie ons wagtende houding nie?
20 As jy hierdie wagtende houding het, sal jy bewys lewer dat jy gereed is, op die uitkyk na die dag van Jehovah. Jy sal jou nie kwel oor die datum waarop daardie dag sal kom of hoe lank jy al daarvoor wag nie. Al die profesieë oor daardie dag sal op Jehovah se bestemde tyd vervul word en sal nie talm nie. Jehovah het vir Habakuk gesê: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit beweeg hygend voort na die einde, en dit sal geen leuen vertel nie. Al sou dit [uit ’n menslike standpunt] talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie [uit Jehovah se standpunt] laat wees nie.”—Habakuk 2:3.
21. Hoe kan jy baat vind by wat in hierdie boek bespreek gaan word?
21 In hierdie boek sal jy leer hoe jy ’n wagtende houding teenoor die God van redding kan inneem. Watter voordele kan jy verwag? Wel, die boek sal die aandag vestig op ’n deel van die Bybel wat miskien vir jou ietwat onbekend is—die 12 sogenaamde Klein Profete. Jy sal dus stimulerende gedagtes teëkom. Byvoorbeeld, in Deel 2 sal jy sien hoe om ‘Jehovah te soek’ en te bly lewe (Amos 5:4, 6). Op grond van hierdie 12 boeke sal jy kan onderskei hoe om Jehovah beter te leer ken en ’n beter begrip kan verkry van hoe om hom te dien, en hoe om dit in selfs groter mate te doen. Hierdie profete sal jou ongetwyfeld help om jou begrip van sy persoonlikheid te verbreed. In Deel 3 sal jy duideliker sien wat Jehovah van jou verwag in jou handelinge met jou gesinslede en ander. Dit kan jou help om gereed te wees vir sy groot dag. Laastens sal jy in Deel 4 sien watter raad die profete gee oor die gesindheid wat jy moet hê namate Jehovah se dag nader kom en sal jy ook leer hoe dit jou Christelike bediening kan raak. Jy sal ongetwyfeld verheug wees wanneer jy die profete se boodskap ondersoek oor watter soort toekoms jy kan geniet.
22. Hoe sal jy graag wil reageer op die raad in die boeke van die 12 profete?
22 Onthou jy die dringende woorde van Sefanja wat aan die begin van hierdie hoofstuk aangehaal is? (Sefanja 1:14). Sy boodskap het ’n invloed op die lewe van jong koning Josia gehad. Toe Josia maar 16 jaar oud was, het hy Jehovah begin soek. Toe hy 20 geword het, het hy ’n veldtog teen afgodediens begin, in ooreenstemming met Sefanja se aansporing aan die volk van Juda en Jerusalem (2 Kronieke 34:1-8; Sefanja 1:3-6). Het die waarskuwing oor die dag van Jehovah so ’n groot invloed op jou daaglikse lewe gehad as wat dit op Josia se lewe gehad het? Kom ons kyk hoe die 12 profete elkeen van ons kan help.
a Jesaja, ’n tydgenoot van die eerste groep van hierdie 12 profete, sowel as Esegiël, ’n tydgenoot van die tweede groep, het ook oor die dag van Jehovah gewaarsku.—Jesaja 13:6, 9; Esegiël 7:19; 13:5; sien Hoofstuk 2 van hierdie boek, paragrawe 4-6.
b Lees asseblief Hosea 6:1; Joël 2:32; Obadja 17; Nahum 1:15; Habakuk 3:18, 19; Sefanja 2:2, 3; Haggai 2:7; Sagaria 12:8, 9 en Maleagi 4:2 vir bykomende bewyse van hierdie positiewe aspek.
c Party van die 12 het nie net teen een nasie geprofeteer nie, maar teen ’n aantal nasies.