Aan die Hebreërs
12 Omdat ons so ’n groot wolk van getuies om ons het, moet ons ook ontslae raak van elke gewig en van die sonde wat ons maklik verstrik.+ Laat ons die wedloop wat voor ons is, met volharding hardloop+ 2 terwyl ons ons oë stip gerig hou op die een wat ons in ons geloof lei en wat ons geloof volkome maak* – Jesus.+ As gevolg van die vreugde wat voor hom gestel is, het hy ’n folterpaal* verduur en het die skande nie vir hom saak gemaak nie, en hy het aan die regterhand van die troon van God gaan sit.+ 3 Let goed op die een wat die vyandige spraak moes verduur van sondaars+ wat hulleself op hierdie manier benadeel het, sodat julle nie moeg word en moed opgee nie.+
4 In julle stryd teen daardie sonde het julle nog nooit tot die dood toe weerstand gebied nie. 5 En julle het die aansporing wat tot julle as seuns gerig is, heeltemal vergeet: “My seun, moenie neersien op die dissipline wat van Jehovah* kom nie, en moet ook nie moed opgee wanneer jy deur hom reggehelp word nie, 6 want Jehovah* dissiplineer dié wat hy liefhet. Ja, hy straf* elkeen wat hy as ’n seun aanneem.”+
7 Wat julle verduur, is deel van julle dissipline.* God behandel julle soos seuns.+ Want watter seun word nie deur sy pa gedissiplineer nie?+ 8 Maar as julle nie hierdie dissipline ontvang het nie, is julle in werklikheid buite-egtelike kinders en nie seuns nie. 9 Om die waarheid te sê, ons menslike pa’s* het ons gedissiplineer, en ons het hulle gerespekteer. Moet ons dan nie selfs meer bereid wees om ons te onderwerp aan die Vader van ons geestelike lewe sodat ons kan lewe nie?+ 10 Want hulle het ons ’n kort rukkie gedissiplineer op ’n manier wat hulle gedink het goed is, maar hy doen dit tot ons voordeel sodat ons in sy heiligheid kan deel.+ 11 Ja, geen dissipline lyk op die oomblik asof dit iets is om oor bly te wees nie, maar dit is pynlik.* Tog bring dit ná die tyd die vreedsame vrug van regverdigheid voort vir dié wat daardeur opgelei is.
12 Versterk dus die hande wat slap hang en die knieë wat swak is,+ 13 en hou aan om reguit paaie vir julle voete te maak,+ sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar eerder gesond gemaak word. 14 Probeer hard om in vrede met alle mense te lewe+ en om die heiligheid te hê+ waarsonder geen mens die Here sal sien nie. 15 Wees baie versigtig dat niemand die kans laat verbygaan om die onverdiende goedheid van God te ontvang nie, dat geen giftige wortel opskiet en moeilikheid veroorsaak en baie mense daardeur onrein word nie.+ 16 En sorg dat daar niemand onder julle is wat seksueel onsedelik* is of wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat sy regte as eersgeborene vir een maaltyd verruil het.+ 17 Want julle weet dat hy verwerp is toe hy ná die tyd die seën wou ontvang, want al het hy met trane hard probeer om sy pa van gedagte te laat verander,+ het dit niks gehelp nie.*
18 Julle het nie by iets gekom waaraan gevat kan word+ en wat met vuur aan die brand gesteek is nie.+ Julle het nie gekom by ’n donker wolk of digte donkerte of ’n storm+ 19 of die geluid van ’n trompet+ of ’n stem wat praat nie.+ Toe die volk dit hoor, het hulle gesmeek dat niks verder vir hulle gesê moes word nie.+ 20 Want hulle is bang gemaak deur hierdie bevel: “As selfs ’n dier aan die berg raak, moet dit met klippe doodgegooi word.”+ 21 Wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses selfs gesê het: “Ek is bang en ek bewe.”+ 22 Maar julle het gekom by ’n berg Sion+ en ’n stad van die lewende God, hemelse Jerusalem,+ en tienduisende engele 23 in hulle algemene vergadering,+ en die gemeente van die eersgeborenes, wat in die hemel opgeskryf is, en God, die Regter van almal,+ en die geestelike lewens+ van regverdiges wat tot volmaaktheid gebring is.+ 24 En julle het gekom by Jesus, die middelaar+ van ’n nuwe verbond,+ en die bloed wat gesprinkel is en wat op ’n beter manier praat as Abel se bloed.+
25 Sorg dat julle nie weier om te luister na* die een wat praat nie.* Want in die verlede het mense op die aarde geweier om te luister na die een wat ’n waarskuwing van God gegee het, en hulle is gestraf. Sal ons dan nie beslis ook gestraf word as ons nie luister na die een wat uit die hemel praat nie?+ 26 Destyds het sy stem die aarde geskud,+ maar nou het hy belowe: “Ek sal nie net die aarde nie, maar ook die hemel nog ’n keer skud.”+ 27 Met die uitdrukking “nog ’n keer” word daar bedoel dat die dinge wat geskud word, dit wil sê die dinge wat gemaak is, verwyder word sodat net die dinge wat nie geskud word nie, kan oorbly. 28 Aangesien ons ’n Koninkryk gaan ontvang wat nie geskud kan word nie, laat ons dus aanhou om baat te vind by die onverdiende goedheid, waardeur ons aanvaarbare heilige diens aan God kan bied met vrees en ontsag vir hom. 29 Want ons God is ’n verterende vuur.+