Bybelboek nommer 61—2 Petrus
Skrywer: Petrus
Waar geskryf: Babilon (?)
Geskrif voltooi: ca. 64 G.J.
1. Watter feite bewys dat Petrus die skrywer van Tweede Petrus was?
TOE Petrus sy tweede brief opgestel het, het hy besef dat sy dood naby is. Dit was sy vurige begeerte om sy mede-Christene te herinner aan die belangrikheid van juiste kennis om hulle te help om standvastig te bly in hulle bediening. Is daar enige rede om te twyfel dat die apostel Petrus die skrywer was van die tweede brief wat sy naam dra? Die brief self ruim alle twyfel wat daar oor die kwessie van skrywerskap kon ontstaan het uit die weg. Die skrywer sê dat hy “Simeon Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus”, is (2 Pet. 1:1). Hy sê dat dit “reeds die tweede brief [is] wat ek aan julle skrywe” (3:1). Hy praat van homself as ’n ooggetuie van die gedaantewisseling van Jesus Christus, ’n voorreg wat Petrus met Jakobus en Johannes gedeel het, en hy skryf hieroor met al die gevoel van ’n ooggetuie (1:16-21). Hy meld dat Jesus sy dood voorspel het.—2 Pet. 1:14; Joh. 21:18, 19.
2. Waaruit blyk die kanonisiteit van Tweede Petrus?
2 Sommige kritici het egter op die verskil in styl tussen die twee briewe gewys as ’n rede om nie die tweede brief as die werk van Petrus te erken nie. Maar dit hoef nie werklik ’n probleem te wees nie, want die onderwerp en die doel van die brief was verskillend. Bowendien het Petrus sy eerste brief “deur Silvanus, die getroue broeder”, geskryf, en indien Silvanus ’n mate van vryheid gegee is by die formulering van die sinne, sou dit die verskil in styl tussen die twee briewe kon verklaar, aangesien Silvanus blykbaar geen aandeel aan die skryf van die tweede brief gehad het nie (1 Pet. 5:12). Die kanonisiteit van die brief is ook al in twyfel getrek omdat dit “sleg gestaaf word in die Vaders”. Maar soos uit die tabel “Belangrike vroeë katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte” blyk, is Tweede Petrus reeds vóór die Derde Konsilie van Carthago deur ’n aantal gesaghebbendes as ’n deel van die Bybelkatalogus beskou.a
3. Wanneer en waar is Tweede Petrus blykbaar geskryf, en aan wie was dit gerig?
3 Wanneer is Petrus se tweede brief geskryf? Dit is hoogs waarskynlik omstreeks 64 G.J., kort na die eerste brief, vanuit Babilon of omstreke geskryf, maar daar is geen regstreekse bewyse nie, veral nie ten opsigte van die plek nie. Ten tyde van hierdie skrywe was die meeste van Paulus se briewe onder die gemeentes in omloop en aan Petrus bekend; hy het hulle beskou as deur God geïnspireer en hulle saam met “die ander Skrifte” gereken. Petrus se tweede brief is gerig “aan die wat net so ’n kosbare geloof as ons verkry het”, waaronder diegene aan wie die eerste brief gerig was en ander vir wie Petrus gepreek het. Net soos die eerste brief in baie gebiede gesirkuleer het, het ook die tweede brief ’n algemene karakter aangeneem.—2 Pet. 3:15, 16; 1:1; 3:1; 1 Pet. 1:1.
INHOUD VAN TWEEDE PETRUS
4. (a) Hoe moet die broers daarna strewe om vrugbaar te word ten opsigte van juiste kennis, en wat word hulle beloof? (b) Hoe word die profetiese woord vaster gemaak, en waarom moet daar ag op gegee word?
4 Maak die roeping tot die hemelse Koninkryk vas (1:1-21). Petrus gee gou reeds blyk van liefdevolle besorgdheid oor ‘die wat ’n kosbare geloof verkry het’. Hy wil graag sien dat genade en vrede vir hulle vermeerder word “deur die [juiste] kennis van God en Jesus, onse Here”. God het hulle vryelik “die grootste en kosbare beloftes” geskenk, waardeur hulle deelgenote van die goddelike natuur kan word. Laat hulle dan met aanwending van alle ywer by hulle geloof voeg die deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde en naasteliefde. As hierdie eienskappe in hulle toeneem, sal hulle nooit onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot juiste kennis nie. Die broers moet hulle beywer om hulle roeping en verkiesing vas te maak, en so ook hulle ingang in die ewige Koninkryk van hulle Here. Omdat hy weet dat ‘die aflegging van sy tentwoning ophande is’, wou Petrus hulle graag aan hierdie dinge herinner sodat hulle ná sy heengaan daarvan melding sou maak. Petrus was ’n aanskouer van Christus se majesteit op die heilige berg toe hierdie woorde “uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” So is die profetiese woord nog vaster gemaak, en daar moet ag op gegee word, want dit is nie deur ’n mens se wil voortgebring nie, “maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”.—1:1, 2, 4, 14, 17, 21, vgl. NW.
5. Watter waarskuwing teen valse leraars gee Petrus, en watter kragtige illustrasies gebruik hy om die sekerheid van God se oordele teen sulke mense aan te toon?
5 Kragtige waarskuwing teen valse leraars (2:1-22). Valse profete en leraars sal verderflike sektes invoer, losbandige gedrag bevorder en die waarheid belaster. Maar hulle verderf sluimer nie. God het hom nie daarvan weerhou om die engele wat gesondig het te straf, om ’n vloed in Noag se dag te bring of om Sodom en Gomorra tot as te verbrand nie. Maar hy het die prediker Noag en die regverdige Lot gered, wat toon dat “die Here [Jehovah] weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word”. Want sulke mense is vermetel, aanmatigend, soos redelose diere, onkundig, lasteraars, lief vir bedrieërye, owerspelig, hebsugtig en soos Bileam, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het. Hulle belowe vryheid maar is self slawe van die verdorwenheid. Dit sou vir hulle beter gewees het om nie die weg van die geregtigheid te ken nie, want met hulle het gebeur soos die spreekwoord sê: “Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.”—2:9, 22.
6. (a) Waarom skryf Petrus, en wat sê hy aangaande God se belofte? (b) Hoe moet Christene, in teenstelling met spotters, toon dat hulle waaksaam is?
6 Hou die dag van Jehovah goed in gedagte (3:1-18). Petrus skryf om Christene se helder denkvermoë op te wek sodat hulle die woorde kan onthou wat tevore gespreek is. In die laaste dae sal daar spotters kom wat sê: “Waar is die belofte van sy [Christus se] wederkoms?” Hierdie mense vergeet dat God die toenmalige wêreld deur water vernietig het en dat ‘die teenswoordige hemele en die aarde deur dieselfde woord as ’n skat weggelê is en vir die vuur bewaar word teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense’. Aangesien duisend jaar by Jehovah soos een dag is, ‘vertraag die Here nie die belofte nie’, maar hy is lankmoedig en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie. Christene moet derhalwe let op hulle gedrag en moet dade van godsvrug beoefen terwyl hulle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente van die intense hitte sal smelt. Maar daar sal “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” volgens God se belofte wees.—3:4, 7, 9, 13.
7. Hoe moet Christene hulle beywer, noudat hulle hierdie dinge weet?
7 Gevolglik moet hulle hulle beywer sodat hulle “vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede”. Hulle moet die lankmoedigheid van hulle Here as redding ag, net soos die geliefde Paulus aan hulle geskryf het. Noudat hulle hierdie dinge vooruit weet, moet hulle op hulle hoede wees om nie uit hulle eie vastigheid weg te val nie. “Maar”, sluit Petrus af, “julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid.”—3:14, 18.
WAAROM NUTTIG
8. (a) Hoe getuig Petrus van die inspirasie van sowel die Hebreeuse as die Griekse Geskrifte? (b) Hoe sal dit ons tot nut strek om aan juiste kennis vas te hou?
8 Hoe noodsaaklik is juiste kennis tog nie! Petrus self verweef in sy argumente juiste kennis wat hy uit die Hebreeuse Geskrifte verkry het, waarvan hy getuig dat dit deur heilige gees geïnspireer is: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” Hy wys ook daarop dat Paulus se wysheid “aan hom gegee is” (1:21; 3:15). Dit strek ons tot groot nut om al hierdie geïnspireerde Geskrifte te ondersoek en vas te hou aan juiste kennis. Dan sal ons nooit selfvoldaan word nie soos diegene van wie Petrus skryf en wat sê: “Alles [bly] soos dit was van die begin van die skepping af” (3:4). Ons sal ook nie in die valstrikke beland van die valse leraars soos dié wat Petrus in hoofstuk 2 van sy brief beskryf nie. Ons moet eerder voortdurend die waarskuwings oordink wat deur Petrus en die ander Bybelskrywers gegee word. Dit sal ons help om te bly “vasstaan in die waarheid” en om geduldig en standvastig toe te neem “in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus”.—1:12; 3:18.
9. Tot watter kragsinspanning word ons aangemoedig, en waarom?
9 As ’n hulp om toe te neem in die juiste “kennis van God en Jesus, onse Here”, moedig Petrus ons aan om ons kragtig in te span om die Christelike eienskappe aan te kweek wat in hoofstuk 1, verse 5 tot 7, opgenoem word. Dan voeg hy in vers 8 by: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.” Dit is inderdaad uitstekende aanmoediging tot aktiwiteit as God se bedienaars in hierdie kritieke dae!—1:2.
10. (a) Watter beloftes beklemtoon Petrus, en watter aansporing gee hy in verband daarmee? (b) Watter versekering gee Petrus met betrekking tot die Koninkryksprofesieë?
10 Hoe belangrik is dit tog dat ons ons tot die uiterste inspan om seker te maak dat ons deelgenote word van “die grootste en kosbare beloftes” van Jehovah God! Daarom spoor Petrus die gesalfde Christene aan om hulle oë gevestig te hou op die Koninkryksdoelwit deur te sê: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” Dan vestig Petrus die aandag op die luister van Jesus se Koninkryksheerlikheid, waarvan hy ’n ooggetuie geword het deur die gesig van die gedaantewisseling. Hy voeg by: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons des te vaster gemaak.” Ja, elke profesie aangaande die luisterryke Koninkryk van Jehovah sal gewis vervul word. Daarom kan ons met vertroue Petrus se woorde wat hy uit Jesaja se profesie aanhaal ons eie maak: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Pet. 1:4, 10, 11, 19, vgl. NW; 3:13; Jes. 65:17, 18.
[Voetnoot]
a Sien tabel op bladsy 303.