“Die groot dag van Jehovah is naby”
“Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader.”—SEFANJA 1:14.
1, 2. (a) Op watter spesiale dag wag Christene? (b) Watter vrae moet ons vra, en waarom?
’N STRALENDE jong vrou wag gretig vir haar troudag om aan te breek. ’n Swanger moeder sien met tere gevoelens uit na die geboorte van haar baba. ’n Uitgeputte werker verlang na die begin van sy langverwagte vakansie. Wat het hulle in gemeen? Hulle wag almal op ’n spesiale dag—’n dag wat ’n uitwerking op hulle lewe sal hê. Hulle ervaar sterk maar heeltemal verskillende emosies. Die dag waarop hulle wag, sal uiteindelik aanbreek, en wanneer dit gebeur, hoop hulle om gereed te wees daarvoor.
2 Vandag wag ware Christene ook gretig op ’n spesiale dag. Dit is die groot “dag van Jehovah” (Jesaja 13:9; Joël 2:1; 2 Petrus 3:12). Wat is hierdie komende “dag van Jehovah”, en watter uitwerking sal die koms daarvan op die mensdom hê? Verder, hoe kan ons seker maak dat ons gereed is daarvoor? Dit is noodsaaklik dat ons nou na die antwoorde op hierdie vrae soek, want die bewyse dui aan dat die volgende woorde van die Bybel waar is: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader.”—Sefanja 1:14.
“Die groot dag van Jehovah”
3. Wat is “die groot dag van Jehovah”?
3 Wat is “die groot dag van Jehovah”? Deur die hele Skrif verwys die uitdrukking “die dag van Jehovah” na spesiale tye wanneer Jehovah oordeel aan sy vyande voltrek het en sy groot naam verheerlik het. Die ontroue mense van Juda en Jerusalem sowel as die onderdrukkende bewoners van Babilon en Egipte het almal voor ‘dae van Jehovah’ te staan gekom toe hulle die voltrekking van Jehovah se oordele ondervind het (Jesaja 2:1, 10-12; 13:1-6; Jeremia 46:7-10). Maar die grootste “dag van Jehovah” lê nog voor. Dit is die “dag” wanneer Jehovah se oordeel voltrek sal word aan dié wat sy naam beswadder het. Dit sal begin met die verwoesting van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, en sal ’n klimaks bereik wanneer die res van die goddelose stelsel van dinge by die oorlog van Armageddon vernietig word.—Openbaring 16:14, 16; 17:5, 15-17; 19:11-21.
4. Waarom behoort die meerderheid van die mensdom die vinnig naderende dag van Jehovah te vrees?
4 Of hulle dit besef of nie, die meerderheid van die mensdom behoort hierdie vinnig naderende dag te vrees. Waarom? Deur die profeet Sefanja antwoord Jehovah: “Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en van angs, ’n dag van storms en van verwoesting, ’n dag van duisternis en van somberheid, ’n dag van wolke en van dik donkerheid.” Inderdaad angswekkend! Daarbenewens sê die profeet: “Ek sal die mensdom in benoudheid bring . . . , want teen Jehovah het hulle gesondig.”—Sefanja 1:15, 17.
5. Watter positiewe beskouing het miljoene van Jehovah se dag, en waarom?
5 Miljoene ander sien egter gretig uit na die koms van Jehovah se dag. Waarom? Hulle weet dat dit ’n tyd van redding en verlossing vir die regverdiges is, ’n dag waarop Jehovah self hoog verhef word en sy glorieryke naam geheilig word (Joël 3:16, 17; Sefanja 3:12-17). Of daardie dag vrees of gretige afwagting wek, hang grootliks af van wat mense nou met hulle lewe doen. Hoe beskou jy die nabyheid van daardie dag? Is jy gereed daarvoor? Het die feit dat Jehovah se dag op die horison is, nóú ’n uitwerking op jou daaglikse lewe?
‘Daar sal spotters kom met hulle spotterny’
6. Hoe beskou die meeste mense die “dag van Jehovah”, en waarom verbaas dit ware Christene nie?
6 Ondanks die dringendheid van die situasie is die meeste van die aarde se bewoners nie besorg oor die naderende “dag van Jehovah” nie. Hulle spot dié wat hulle waarsku dat dit op hande is. Dit verbaas ware Christene nie. Hulle onthou die waarskuwing wat die apostel Petrus opgeteken het: “Want dít weet julle allereers, dat daar in die laaste dae spotters sal kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af.’”—2 Petrus 3:3, 4.
7. Wat sal ons help om ’n gevoel van dringendheid te behou?
7 Wat sal ons help om sulke negatiewe denke te weerstaan en sodoende ’n gevoel van dringendheid te behou? Petrus sê vir ons: ‘Ek wek julle helder denkvermoëns deur herinnering op, sodat julle die woorde sal onthou wat vantevore deur die heilige profete gespreek is en die gebod van die Here en Redder deur middel van julle apostels’ (2 Petrus 3:1, 2). As ons aandag skenk aan profetiese waarskuwings, sal dit ons help om ‘ons helder denkvermoëns op te wek’. Miskien het ons hierdie herinneringe al oor en oor gehoor, maar dit is noodsaaklik dat ons nou, meer as ooit tevore, aanhou om aandag te skenk aan hierdie waarskuwings.—Jesaja 34:1-4; Lukas 21:34-36.
8. Waarom ignoreer baie mense herinneringe in die Bybel?
8 Waarom ignoreer party hierdie herinneringe? Petrus sê verder: “Ooreenkomstig hulle wens ontgaan hierdie feit hulle aandag, dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat kompak bo water uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God; en deur dié middele is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is” (2 Petrus 3:5, 6). Ja, daar is dié wat nie wil hê dat Jehovah se dag moet kom nie. Hulle wil nie hê dat hulle lewe ontwrig moet word nie. Hulle wil nie teenoor Jehovah aanspreeklik wees vir hulle selfsugtige lewenswyse nie! Soos Petrus sê, lewe hulle “ooreenkomstig hulle eie begeertes”.
9. Watter gesindheid het mense in die dae van Noag en van Lot geopenbaar?
9 As gevolg van “hulle wens” verkies hierdie spotters om die feit te ignoreer dat Jehovah in die verlede in die mensdom se aangeleenthede ingegryp het. Jesus Christus sowel as die apostel Petrus verwys na twee sulke gebeurtenisse—“die dae van Noag” en “die dae van Lot” (Lukas 17:26-30; 2 Petrus 2:5-9). Voor die Vloed het mense geen ag geslaan op die waarskuwing wat Noag gegee het nie. En voor die vernietiging van Sodom en Gomorra was Lot in die oë van sy skoonseuns “soos iemand wat ’n grap maak”.—Genesis 19:14.
10. Wat sê Jehovah vir diegene wat geen ag daarop slaan nie?
10 Vandag is dit presies dieselfde. Maar let op wat Jehovah vir diegene sê wat geen ag daarop slaan nie: “Ek sal aandag skenk aan die manne wat op hulle afsaksel stol en wat in hulle hart sê: ‘Jehovah sal geen goed doen nie en hy sal geen kwaad doen nie.’ En hulle rykdom sal buit word en hulle huise ’n verlate woesteny. En hulle sal huise bou, maar hulle sal dit nie bewoon nie; en hulle sal wingerde plant, maar hulle sal die wyn daarvan nie drink nie” (Sefanja 1:12, 13). Mense gaan dalk voort met hulle “normale” daaglikse bedrywighede, maar hulle sal geen permanente voordeel trek uit hulle harde werk nie. Waarom nie? Omdat Jehovah se dag skielik sal kom en geen materiële rykdom wat hulle opgegaar het, hulle sal red nie.—Sefanja 1:18.
“Bly in afwagting daarvan”
11. Watter vermaning moet ons in gedagte hou?
11 Anders as die goddelose wêreld om ons, moet ons die vermaning wat deur die profeet Habakuk opgeteken is, in gedagte hou: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit beweeg hygend voort na die einde, en dit sal geen leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:3). Al lyk dit uit ons onvolmaakte oogpunt of daardie dag talm, moet ons onthou dat Jehovah nie traag is nie. Sy dag sal presies op tyd kom, op ’n uur dat mense dit nie verwag nie.—Markus 13:33; 2 Petrus 3:9, 10.
12. Waarteen het Jesus gewaarsku, en hoe verskil dit van wat Jesus se getroue volgelinge doen?
12 Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om in afwagting van Jehovah se dag te bly en het gewaarsku dat selfs party van sy volgelinge hulle gevoel van dringendheid sou verloor. Hy het aangaande hulle voorspel: “As daardie bose slaaf ooit in sy hart sou sê: ‘My heer talm om te kom’, en sy medeslawe sou begin slaan en saam met die verstokte dronkaards sou eet en drink, sal die heer van daardie slaaf op ’n dag kom dat hy dit nie verwag nie en op ’n uur wat hy nie weet nie en hom met die grootste strengheid straf” (Matteus 24:48-51). In teenstelling hiermee behou “die getroue en verstandige slaaf”-klas lojaal hulle gevoel van dringendheid. Die slaafklas het aangehou waak en getoon dat hulle gereed is. Jesus het hulle “oor al sy besittings” hier op die aarde aangestel.—Matteus 24:42-47.
Die belangrikheid van dringende optrede
13. Hoe het Jesus die belangrikheid van ’n gevoel van dringendheid beklemtoon?
13 Dit was noodsaaklik dat eerste-eeuse Christene hulle gevoel van dringendheid behou. Hulle moes onmiddellik optree om uit Jerusalem te vlug toe hulle daardie stad “deur leërkampe omsingel sien” (Lukas 21:20, 21). Dit het in die jaar 66 G.J. gebeur. Let op hoe Jesus die belangrikheid daarvan beklemtoon het dat destydse Christene dringend moes optree: “Laat die man wat op die dak is, nie afkom om die goed uit sy huis te neem nie; en laat die man wat op die land is, nie na die huis terugkeer om sy bokleed te gaan haal nie” (Matteus 24:17, 18). In die lig van die feit dat die geskiedenis toon dat Jerusalem nog vier jaar behoue gebly het, waarom was dit dan so dringend dat Christene in 66 G.J. op Jesus se woorde moes ag slaan?
14, 15. Waarom was dit noodsaaklik dat eerste-eeuse Christene sonder versuim moes optree toe hulle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien?
14 Hoewel dit so is dat die Romeinse leër Jerusalem eers in 70 G.J. vernietig het, was die jare tussen 66 G.J. en 70 G.J. allesbehalwe probleemvry. Daardie jare was vol geweld en bloedvergieting. Een geskiedskrywer beskryf die situasie in Jerusalem gedurende daardie tyd as “’n verskriklik bloedige burgeroorlog wat met afgryslike wreedhede gepaardgegaan het”. Jong manne is gewerf om die vestings te versterk, om wapens op te neem en om militêre diens te doen. Hulle het elke dag aan militêre oefeninge deelgeneem. Dié wat nie ten gunste van uiterste maatreëls was nie, is as verraaiers beskou. As Christene die stad nie onmiddellik verlaat het nie, sou hulle hulle in ’n uiters gevaarlike situasie bevind het.—Matteus 26:52; Markus 12:17.
15 Let daarop dat Jesus gesê het dat “dié wat in Judea is”, nie net dié in Jerusalem nie, moes begin vlug. Dit was belangrik, want binne ’n paar maande nadat die Romeinse troepe van Jerusalem af teruggetrek het, het hulle hulle oorlogsbedrywighede hervat. Eerstens is Galilea in 67 G.J. onderwerp, en toe is Judea die volgende jaar stelselmatig verower. Dit het groot ellende oral op die platteland tot gevolg gehad. Dit het ook al hoe moeiliker geword vir enige Jood om uit Jerusalem self te ontsnap. Die stad se poorte is bewaak, en daar is aangeneem dat enigeen wat probeer ontsnap het, na die Romeine wou oorloop.
16. Watter gesindheid moes eerste-eeuse Christene hê om daardie tyd van benoudheid te oorleef?
16 Met al hierdie faktore in gedagte kan ons verstaan waarom Jesus die dringendheid van die situasie beklemtoon het. Christene moes bereid wees om opofferings te maak en nie toelaat dat hulle aandag deur materiële besittings afgelei word nie. Hulle moes bereid wees om ‘van al hulle besittings afskeid te neem’ sodat hulle aan Jesus se waarskuwing gehoor kon gee (Lukas 14:33). Dié wat sonder versuim gehoor gegee het en na die ander kant van die Jordaan gevlug het, is gered.
Ons moet ons gevoel van dringendheid behou
17. Waarom moet ons ons gevoel van dringendheid verskerp?
17 Bybelprofesieë toon duidelik dat ons diep in die tyd van die einde lewe. Ons moet meer as ooit tevore ons gevoel van dringendheid verskerp. In vredestyd ondervind ’n soldaat nie die spanning en gevaar van die stryd nie. Maar as hy as gevolg daarvan dit glad nie nodig ag om waaksaam te bly nie en hy skielik opgeroep word, sal hy heel waarskynlik onvoorbereid wees, met noodlottige gevolge. Dit geld ook op geestelike gebied. As ons toelaat dat ons gevoel van dringendheid vervaag, sal ons moontlik nie voorbereid wees om aanvalle af te weer nie en dalk onkant betrap word wanneer Jehovah se dag uiteindelik kom (Lukas 21:36; 1 Tessalonisense 5:4). As enige persone hulle ‘daarvan teruggetrek het om Jehovah te volg’, is dit nou die tyd vir hulle om hom weer te soek.—Sefanja 1:3-6; 2 Tessalonisense 1:8, 9.
18, 19. Wat sal ons help om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah” goed in gedagte te hou?
18 Dit is geen wonder dat die apostel Petrus ons vermaan om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah” goed in gedagte te hou nie! Hoe kan ons dit doen? Een manier is om “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” te beoefen (2 Petrus 3:11, 12). As ons besig bly met sulke bedrywighede, sal dit ons help om gretig uit te sien na die koms van “die dag van Jehovah”. Die Griekse woord wat met “goed in gedagte hou” vertaal word, beteken letterlik “verhaas”. Ons kan die tyd wat oorbly tot die koms van Jehovah se dag, nie letterlik verhaas nie. Maar as ons besig is in God se diens terwyl ons op daardie dag wag, sal dit voel of die tyd baie vinniger verbygaan.—1 Korintiërs 15:58.
19 As ons oor God se Woord peins en oor die herinneringe daarin nadink, sal dit ons eweneens in staat stel om dit te doen—“om gretig uit te sien na (verwag en verhaas) die koms” van daardie dag, ja, om “voortdurend in afwagting” daarvan te wees (2 Petrus 3:12; The Amplified Bible; The New Testament, deur William Barclay). Ingesluit in hierdie herinneringe is die talle profesieë wat nie net die koms van Jehovah se dag voorspel nie, maar ook die oorvloedige seëninge wat uitgestort sal word op dié wat ‘aanhou om Jehovah te verwag’.—Sefanja 3:8.
20. Watter vermaning moet ons ter harte neem?
20 Ja, dit is nou die tyd vir almal van ons om die vermaning wat deur die profeet Sefanja gegee is, ter harte te neem: “Voordat die brandende toorn van Jehovah oor julle kom, voordat die dag van Jehovah se toorn oor julle kom, soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde, wat Sy regterlike beslissing uitgevoer het. Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word in die dag van Jehovah se toorn.”—Sefanja 2:2, 3.
21. Wat sal God se volk vasbeslote wees om gedurende 2007 te doen?
21 Hoe gepas is die jaarteks dus wat vir die 2007-kalenderjaar gekies is: “Die groot dag van Jehovah is naby.” God se volk is oortuig dat ‘dit naby is en baie vinnig nader kom’ (Sefanja 1:14). “Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:3). Mag ons dus, terwyl ons op daardie dag wag, altyd bewus wees van die tye waarin ons lewe, in die besef dat die finale vervulling van hierdie profesieë op hande is!
Kan jy antwoord?
• Wat is “die groot dag van Jehovah”?
• Waarom ignoreer baie die dringendheid van die tye?
• Waarom moes Christene in die eerste eeu met ’n gevoel van dringendheid optree?
• Hoe kan ons ons gevoel van dringendheid verskerp?
[Lokteks op bladsy 19]
Die jaarteks vir 2007 is: “Die groot dag van Jehovah is naby.”—Sefanja 1:14.
[Prente op bladsy 16, 17]
Soos in Noag se dag, sal spotters onkant betrap word wanneer Jehovah optree
[Prent op bladsy 18]
Christene moes sonder versuim optree toe hulle Jerusalem “deur leërkampe omsingel” sien