Watter soort wagtende houding neem jy in?
IN VANDAG se wêreld hou min mense daarvan om vir iemand of vir iets te wag. Dit beproef hulle geduld. Die Skrif moedig God se volk egter aan om “ ’n wagtende houding” aan te kweek. In teenstelling met die mense om hom het die profeet Miga gesê: “Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem.”—Miga 7:7; Klaagliedere 3:26.
Maar wat beteken dit om op Jehovah te wag? Hoe moet ’n Christen op God wag? Is daar gepaste en ongepaste maniere om dit te doen? Die ondervinding van die profeet Jona van die negende eeu v.G.J. voorsien vir ons ’n les in dié verband.
’n Ongepaste wagtende houding
Jehovah God het Jona gestuur om vir die mense van Nineve, die hoofstad van die Assiriese Ryk, te gaan preek. Nineve was bekend as “die stad van bloedvergieting” weens sy verskriklike onmenslikheid en wreedheid, ’n feit wat bevestig word deur geskiedkundiges en argeoloë (Nahum 3:1). Jona het aanvanklik probeer om hierdie toewysing te vermy, maar Jehovah het seker gemaak dat die profeet uiteindelik na Nineve toe gaan.—Jona 1:3–3:2.
“Jona [het] die stad begin ingaan, een dagreis te voet, en hy het bly verkondig en gesê: ‘Nog net veertig dae, en Nineve sal verwoes word’ ” (Jona 3:4). Daar was ’n verstommende reaksie op Jona se pogings: “Die manne van Nineve het geloof in God begin stel, en hulle het ’n vas uitgeroep en hulle met saklinne beklee, van die grootste onder hulle tot selfs die geringste onder hulle” (Jona 3:5). Gevolglik het Jehovah, ’n God wat “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom”, die stad gespaar.—2 Petrus 3:9.
Wat was Jona se reaksie? Die verslag sê: “Maar Jona was baie ontevrede hieroor, en hy het kwaad geword” (Jona 4:1). Waarom? Jona het moontlik gevoel dat hy aansien as ’n profeet verloor het omdat sy boodskap van vernietiging nie teen ’n sekere tyd vervul is nie. Hy het blykbaar meer besorgd geraak oor sy eie reputasie as oor barmhartigheid en die redding van ander.
Jona het natuurlik nie so ver gegaan as om uit sy amp as profeet te tree nie. Nietemin het hy gewag om te “sien wat van die stad sou word”. Ja, hy het ’n soort teësinnige, wag-en-sien-houding, ontwikkel. Toe hy besef dat dinge nie gebeur soos hy verwag het nie, het hy vir hom ’n hut gemaak en ontevrede in die skaduwee daarvan gesit en wag om te sien wat sou gebeur. Maar Jehovah het Jona se gesindheid nie goedgekeur nie, en daarom het hy die denke van sy eiesinnige profeet op liefdevolle wyse reggestel.—Jona 4:5, 9-11.
Waarom Jehovah geduldig is
Hoewel Nineve berou getoon het en gespaar is, het hulle later weer in goddelose weë verval. Deur die profete Nahum en Sefanja het Jehovah Nineve se vernietiging voorspel. Jehovah het van “die stad van bloedvergieting” gepraat en gesê dat hy Assirië sou vernietig en Nineve ’n verlate woesteny sou maak (Nahum 3:1; Sefanja 2:13). In 632 v.G.J. is Nineve eens en vir altyd vernietig.
Die wêreld is vandag eweneens skuldig aan moedswillige bloedvergieting op ’n baie groter skaal as eertydse Nineve. Om hierdie en ander redes het Jehovah bepaal dat die teenswoordige goddelose stelsel van dinge tydens ’n ongeëwenaarde “groot verdrukking” tot ’n einde sal kom.—Matteus 24:21, 22.
Tog het Jehovah die beloofde vernietiging teruggehou sodat opregte mense van vandag, soos berouvolles in Nineve, berou kan toon en gespaar kan word. Die apostel Petrus verwys soos volg na God se geduld: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 Petrus 3:9, 10, 13.
Die gepaste wagtende houding
Petrus sê verder: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Petrus 3:11, 12). Let op dat ons, terwyl ons op Jehovah se dag wag, “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” aan die dag moet lê—bedrywigheid, nie onbedrywigheid nie, is gepas.
Ja, ’n gepaste wagtende houding openbaar algehele vertroue dat Jehovah se dag nie ’n oomblik later sal kom as wat Jehovah hom voorgeneem het nie. Sulke geloof lei tot heilige gedrag en godvrugtige dade, waarvan die vernaamste die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk is. Jesus het ’n goeie voorbeeld gestel in die predikingswerk, en hy het sy gesalfde volgelinge beveel: “Laat julle lendene omgord wees en julle lampe brand, en wees julle soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die huwelik terugkeer, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak wanneer hy daar aankom en klop. Gelukkig is daardie slawe wat die heer by sy aankoms wakend vind!”—Lukas 12:35-37.
Eerste-eeuse slawe het hulle “lendene omgord” deur die punte van hulle kleed onder hulle lyfband in te steek sodat hulle harde fisiese werk kon doen. ’n Christen moet dus energiek wees, ywerig vir goeie werke. Hy moet stry teen enige neiging om “traag” of geestelik onbedrywig te wees en nie toelaat dat vermaak of materiële strewes al sy energie opneem nie. Hy moet eerder ‘baie hê om in die werk van die Here te doen’ terwyl hy op die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah wag.—Romeine 12:11; 1 Korintiërs 15:58.
Bedrywig terwyl ons wag
Jehovah se Getuies bly besig terwyl hulle op Jehovah se dag wag. Tydens die 2003-diensjaar het hulle byvoorbeeld gemiddeld 3 383- 000 uur elke dag daaraan bestee om Jehovah se woord te verkondig. Dink net, een persoon sal 386 jaar lank sonder ophou moet getuig as hy wil bereik wat hulle in een dag bereik het!
Nietemin sal dit goed wees as ons ons afvra: ‘Watter soort wagtende houding neem ek persoonlik in?’ Jesus het ’n gelykenis vertel wat die vlytigheid beskryf wat van getroue gesalfde Christene verwag word. Hy het van drie slawe gepraat: “Vir een het [die heer] vyf talente gegee, vir ’n ander twee, vir nog ’n ander een, vir elkeen volgens sy eie vermoë, en hy het na die buiteland gegaan. Onmiddellik het die een wat die vyf talente ontvang het, weggegaan en daarmee handel gedryf en nog vyf verkry. Net so het die een wat die twee ontvang het, nog twee verkry. Maar die een wat net een ontvang het, het weggegaan en in die grond gegrawe en die silwergeld van sy heer weggesteek. Ná ’n lang tyd het die heer van daardie slawe gekom en met hulle afrekening gehou.”—Matteus 25:15-19.
Al drie slawe het op die heer se terugkeer gewag. Die twee wat besig gebly het terwyl hulle op hulle heer gewag het, is met sy aankoms meegedeel: “Mooi so, goeie en getroue slaaf!” Maar die een wat gewag het sonder om iets te doen, is anders behandel. Die heer het gesê: “Gooi die nikswerd slaaf uit in die duisternis daar buite.”—Matteus 25:20-30.
Hoewel hierdie gelykenis op gesalfde Christene van toepassing is, is daar ’n les vir ons almal, ongeag wat ons hoop is. Die Heer, Jesus Christus, verwag dat elkeen van ons ywerig moet wees in ons diens terwyl ons op sy koms tydens Jehovah se groot dag wag. Hy waardeer elkeen se werk “volgens sy eie vermoë” en omstandighede. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om ’n “mooi so” van die Heer te hoor wanneer die wagtydperk uiteindelik verby is!
Ons Here se geduld beteken redding
Gestel hierdie stelsel van dinge duur langer as wat ons aanvanklik gedink of gehoop het dit sou. Dit is nie sonder goeie rede nie. Die apostel Petrus het geskryf: “Beskou die geduld van ons Here as redding” (2 Petrus 3:15). Juiste kennis van God se voorneme en ’n nederige beskouing van ons eie relatiewe onbelangrikheid sal ons in staat stel om geduldig te wees solank Jehovah dit goeddink om met hierdie ou stelsel geduldig te wees.
Om Christene aan te spoor om geduld te beoefen, het die Bybelskrywer Jakobus ’n illustrasie gebruik. Hy het geskryf: “Kyk! Die boer wag vir die kosbare vrug van die aarde en beoefen geduld ten opsigte daarvan totdat hy die vroeë reën en die laat reën kry. Julle moet ook geduld beoefen; maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here het naby gekom.”—Jakobus 5:7, 8.
Jehovah God wil nie hê dat ons moeg word of opgee terwyl ons wag nie. Hy het ’n werk wat hy wil hê ons moet doen en skep behae daarin dat ons die wagtydperk gebruik om ywerig aan daardie werk deel te neem. Hy wil hê dat ons onder diegene moet wees wat die apostel Paulus in sy brief aan die Hebreërs beskryf: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag sal lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê, sodat julle nie traag sal word nie, maar navolgers sal wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.”—Hebreërs 6:11, 12.
Laat ons dus nie moeg word nie. Mag ons persoonlike verhouding met Jehovah God, ons geloof in die losprysoffer van Jesus en ons wonderlike hoop op die nuwe stelsel van dinge eerder die dryfkrag in ons lewe wees. Laat ons, soos die “goeie en getroue” slawe van Jesus se gelykenis, bewys dat ons lof en ’n beloning waardig is deur besig te bly om ons God te loof, soos die psalmis wat gesê het: “Wat my betref, ek sal voortdurend wag, en ek sal al u lof vermeerder.”—Psalm 71:14.
[Prent op bladsy 21]
Teleurgesteld het Jona gewag om te sien wat met Nineve sou gebeur
[Prente op bladsy 22, 23]
Laat ons godvrugtige toegewydheid aan die dag lê terwyl ons op Jehovah se dag wag