Dit is nou belangriker as ooit tevore om wakker te bly!
“Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly.”—1 TESSALONISENSE 5:6.
1, 2. (a) Watter soort stede was Pompeji en Herkulaneum? (b) Watter waarskuwing het baie inwoners van Pompeji en Herkulaneum geïgnoreer, en met watter gevolg?
IN DIE eerste eeu van ons Gewone Jaartelling was Pompeji en Herkulaneum twee welvarende Romeinse stede naby die berg Vesuvius. Dit was gewilde vakansieplekke vir welgestelde Romeine. Die teaters was groot genoeg vir gehore van meer as ’n duisend, en in Pompeji was daar ’n groot amfiteater met sitplek vir byna die hele dorp. Opgrawers van Pompeji het op 118 kroeë en tavernes afgekom, waarvan party dobbelhuise of bordele was. Onsedelikheid en materialisme was algemeen, soos muurskilderye en ander oorblyfsels toon.
2 Op 24 Augustus 79 G.J. het die berg Vesuvius begin uitbars. Vulkanoloë meen dat die eerste uitbarsting, wat puimsteen en as op die twee stede laat neerreën het, waarskynlik nie die inwoners sou verhinder het om te vlug nie. Trouens, dit is blykbaar wat baie gedoen het. Maar ander wat die gevaar onderskat het of die waarskuwingstekens eenvoudig geïgnoreer het, het verkies om te bly. Toe, omstreeks middernag, het ’n onstuitbare stroom superverhitte gasse, puimsteen en rots Herkulaneum verswelg en al die inwoners versmoor wat nog in die stad was. Vroeg die volgende oggend het ’n soortgelyke uitbarsting almal in Pompeji uitgewis. Wat ’n tragiese gevolg omdat daar nie op waarskuwingstekens ag geslaan is nie!
Die einde van die Joodse stelsel van dinge
3. Watter ooreenkoms is daar tussen Jerusalem se vernietiging en dié van Pompeji en Herkulaneum?
3 Die verskriklike einde van Pompeji en Herkulaneum was niks in vergelyking met die rampspoedige vernietiging van Jerusalem nege jaar vroeër nie, hoewel daardie ramp deur mense veroorsaak is. Dit is al beskryf as “een van die verskriklikste beleërings in die ganse geskiedenis” en het na wat berig is, tot die dood van meer as eenmiljoen Jode gelei. Maar net soos met die ramp in Pompeji en Herkulaneum het die vernietiging van Jerusalem nie sonder waarskuwing plaasgevind nie.
4. Watter profetiese teken het Jesus gegee om sy volgelinge te waarsku dat die einde van ’n stelsel van dinge naby was, en hoe is dit aanvanklik in die eerste eeu vervul?
4 Jesus Christus het die stad se vernietiging voorspel, en hy het gebeure voorspel wat dit sou voorafgaan—ontstellende gebeure soos oorloë, voedseltekorte, aardbewings en wetteloosheid. Daar sou valse profete wees, maar die goeie nuus van God se Koninkryk sou wêreldwyd verkondig word (Matteus 24:4-7, 11-14). Hoewel ons vandag die vernaamste vervulling van Jesus se woorde sien, het dit destyds ’n kleiner vervulling gehad. Die geskiedenis toon dat daar ’n groot hongersnood in Judea was (Handelinge 11:28). Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus was daar ’n aardbewing in die omgewing van Jerusalem kort voordat die stad vernietig is. Namate Jerusalem se einde nader gekom het, was daar gedurig opstande, onderlinge stryde tussen Joodse politieke faksies en slagtings in verskeie stede waar daar Jode en nie-Jode gewoon het. Nietemin is die goeie nuus van die Koninkryk verkondig “in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.
5, 6. (a) Watter profetiese woorde van Jesus is in 66 G.J. vervul? (b) Waarom was die dodetal so groot toe Jerusalem uiteindelik in 70 G.J. geval het?
5 Die Jode het uiteindelik in 66 G.J. teen Rome in opstand gekom. Toe Cestius Gallus ’n leërmag aangevoer het om Jerusalem te beleër, het Jesus se volgelinge Sy woorde onthou: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie” (Lukas 21:20, 21). Die tyd het aangebreek om Jerusalem te verlaat—maar hoe? Gallus het sy troepe onverwags laat terugtrek, wat dit vir Christene in Jerusalem en Judea moontlik gemaak het om Jesus se woorde te gehoorsaam en na die berge te vlug.—Matteus 24:15, 16.
6 Vier jaar later, om en by die tyd van die Pasga, het die Romeinse troepe teruggekeer onder bevel van generaal Titus, wat vasbeslote was om ’n einde te maak aan die Joodse opstand. Sy leërmag het Jerusalem omsingel en “’n verskansing met spits pale” gebou, sodat dit onmoontlik was om te ontsnap (Lukas 19:43, 44). Ondanks die bedreiging van oorlog het Jode van regoor die Romeinse Ryk na Jerusalem gestroom vir die Pasga. Nou was hulle vasgekeer. Volgens Josefus het hierdie ongelukkige besoekers die grootste deel van die slagoffers van die Romeinse beleëring uitgemaak.a Toe Jerusalem uiteindelik geval het, het omtrent ’n sewende van al die Jode in die Romeinse Ryk omgekom. Die vernietiging van Jerusalem en sy tempel het die einde beteken van die Joodse staat en sy godsdiensstelsel wat op die Mosaïese Wet gegrond was.b—Markus 13:1, 2.
7. Waarom het getroue Christene Jerusalem se vernietiging oorleef?
7 As Joodse Christene in 70 G.J. in Jerusalem was, sou hulle saam met al die ander mense in die stad doodgemaak of as slawe weggevoer geword het. Maar volgens die geskiedkundige bewyse het hulle ag geslaan op die waarskuwing wat Jesus 37 jaar vroeër gegee het. Hulle het die stad verlaat en nie teruggekeer nie.
Tydige apostoliese waarskuwings
8. Wat het Petrus besef, en watter woorde van Jesus het hy waarskynlik in gedagte gehad?
8 Vandag is ’n verreikender vernietiging voor die deur, een wat ’n einde sal maak aan hierdie hele stelsel van dinge. Ses jaar voor die vernietiging van Jerusalem het die apostel Petrus dringende en tydige raad gegee wat veral op Christene in ons dag van toepassing is: Bly waaksaam! Petrus het besef hoe belangrik dit is dat Christene hulle “helder denkvermoëns” opwek sodat hulle nie “die gebod van die Here”, Jesus Christus, verontagsaam nie (2 Petrus 3:1, 2). Toe Petrus Christene vermaan het om waaksaam te bly, het hy waarskynlik Jesus se woorde aan Sy apostels ’n paar dae voor Sy dood in gedagte gehad: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie.”—Markus 13:33.
9. (a) Watter gevaarlike gesindheid sou party ontwikkel? (b) Waarom is ’n skeptiese gesindheid veral gevaarlik?
9 Vandag spot party mense en vra: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan?” (2 Petrus 3:3, 4). Daardie mense meen blykbaar dat dinge nooit werklik verander nie, maar voortgaan soos dit nog altyd was van die skepping van die wêreld af. Sulke skeptisisme is gevaarlik. Twyfelgedagtes kan ons gevoel van dringendheid verswak en veroorsaak dat ons tot selfbevrediging begin neig (Lukas 21:34). Volgens Petrus vergeet sulke spotters boonop die Vloed van Noag se dag, wat ’n wêreldwye stelsel van dinge vernietig het. Die wêreld het toe beslis verander!—Genesis 6:13, 17; 2 Petrus 3:5, 6.
10. Met watter woorde bemoedig Petrus diegene wat dalk ongeduldig raak?
10 Petrus help sy lesers om geduld aan te kweek deur hulle te herinner aan die rede waarom God dikwels nie onmiddellik optree nie. Petrus sê eerstens: “Een dag [is] by Jehovah soos duisend jaar . . . en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Aangesien Jehovah vir ewig lewe, kan hy alle faktore in aanmerking neem en die beste tyd kies om op te tree. Daarna wys Petrus op Jehovah se begeerte dat alle mense tot berou moet kom. God se geduld beteken redding vir baie wat sou vergaan het as hy oorhaastig opgetree het (1 Timoteus 2:3, 4; 2 Petrus 3:9). Maar Jehovah se geduld beteken nie dat hy nooit sal optree nie. ‘Jehovah se dag sal soos ’n dief kom’, sê Petrus.—2 Petrus 3:10.
11. Wat sal ons help om geestelik wakker te bly, en hoe sal dit Jehovah se dag as ’t ware “verhaas”?
11 Petrus se vergelyking is opmerkenswaardig. Dit is nie maklik om ’n dief te vang nie, maar ’n wag wat die hele nag lank wakker bly, se kanse is groter om ’n dief te betrap as een wat af en toe ’n uiltjie knip. Hoe kan ’n wag wakker bly? As hy op en af loop, sal dit makliker wees om wakker te bly as wanneer hy die hele nag lank stilsit. Net so sal dit ons as Christene help om wakker te bly as ons geestelik bedrywig bly. Daarom spoor Petrus ons aan om besig te bly met “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” (2 Petrus 3:11). Hierdie dinge sal ons help om voortdurend “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte [te] hou”. Die Griekse woord wat weergegee word met “goed in gedagte hou”, kan letterlik vertaal word met “verhaas” (2 Petrus 3:12; voetnoot in NW). Ons kan weliswaar nie Jehovah se tydrooster verander nie. Sy dag sal op sy vasgestelde tyd kom. Maar dit sal voel asof die tyd van nou af tot dan baie vinniger verbygaan as ons besig bly in sy diens.—1 Korintiërs 15:58.
12. Hoe kan ons as individue Jehovah se geduld benut?
12 Enigiemand wat dus meen dat die dag van Jehovah te lank neem om te kom, word aangemoedig om op Petrus se raad ag te slaan en geduldig op Jehovah se vasgestelde tyd te wag. Ja, ons kan die ekstra tyd wat God se geduld toelaat, wyslik gebruik. Ons kan byvoorbeeld voortgaan om belangrike Christelike eienskappe aan te kweek en om die goeie nuus aan nog baie meer mense te verkondig as wat andersins moontlik sou gewees het. As ons wakker bly, sal Jehovah ons “vlekkeloos en smetloos en in vrede” bevind aan die einde van hierdie stelsel van dinge (2 Petrus 3:14, 15). Wat ’n seën sal dit tog wees!
13. Watter woorde van Paulus aan die Christene in Tessalonika is vandag veral gepas?
13 In Paulus se eerste brief aan die Christene in Tessalonika praat hy ook van die belangrikheid om wakker te bly. Hy maan: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly” (1 Tessalonisense 5:2, 6). Hoe belangrik is dit tog vandag, met die vernietiging van ’n hele wêreldstelsel van dinge op hande! Aanbidders van Jehovah lewe in ’n wêreld waar geestelike onverskilligheid algemeen is, en dit kan hulle beïnvloed. Paulus gee derhalwe hierdie raad: “Laat ons nugter van verstand bly en die borsplaat van geloof en liefde aanhê en as ’n helm die hoop op redding” (1 Tessalonisense 5:8). ’n Gereelde studie van God se Woord en gereelde assosiasie met ons broers by die vergaderinge sal ons help om Paulus se raad te volg en ons gevoel van dringendheid te behou.—Matteus 16:1-3.
Miljoene hou aan waak
14. Watter statistiek toon dat baie vandag Petrus se raad volg om wakker te bly?
14 Is daar vandag baie wat ag slaan op die geïnspireerde aanmoediging om waaksaam te bly? Ja. Gedurende die 2002-diensjaar het ’n hoogtepunt van 6 304 645 verkondigers—’n vermeerdering van 3,1 persent oor 2001—getoon dat hulle geestelik waaksaam is deur 1 202 381 302 uur daaraan te bestee om met ander oor God se Koninkryk te praat. Hierdie werk is nie iets wat hulle lig opneem nie. Dit is ’n belangrike deel van hulle lewe. Baie van hulle het dieselfde gesindheid as Eduardo en Noemi in El Salvador.
15. Watter ondervinding uit El Salvador toon dat baie geestelik waaksaam bly?
15 Etlike jare gelede het Eduardo en Noemi ag gegee op Paulus se woorde: “Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander” (1 Korintiërs 7:31). Hulle het hulle lewe vereenvoudig en die voltydse pionierbediening betree. Met verloop van tyd is hulle in baie opsigte geseën en het hulle selfs aan die kring- en streekwerk deelgeneem. Al het Eduardo en Noemi ernstige probleme gehad, is hulle daarvan oortuig dat hulle die regte besluit gemaak het toe hulle materiële gerief prysgegee het om in die voltydse diens te wees. Baie van die 29 269 verkondigers in El Salvador—wat 2 454 pioniers insluit—het ’n soortgelyke selfopofferende gees getoon, wat een rede is waarom daardie land verlede jaar ’n vermeerdering van 2 persent in die getal verkondigers gehad het.
16. Watter gesindheid het ’n jong broer in Côte d’Ivoire getoon?
16 In Côte d’Ivoire is dieselfde gesindheid getoon deur ’n jong Christenman wat aan die takkantoor geskryf het: “Ek dien as ’n bedieningskneg. Maar ek kan nie die broers aanmoedig om pioniers te word as ek nie self ’n goeie voorbeeld stel nie. Daarom het ek ’n goed betaalde werk opgegee en werk ek nou vir myself, wat my meer tyd vir die bediening gee.” Hierdie jong man het een van die 983 pioniers geword wat in Côte d’Ivoire dien, waar daar verlede jaar 6 701 verkondigers was, ’n vermeerdering van 5 persent.
17. Hoe het ’n jong Getuie in België getoon dat sy haar nie deur vooroordeel laat afskrik nie?
17 Onverdraagsaamheid, vooroordeel en diskriminasie veroorsaak steeds probleme vir die 24 961 Koninkryksverkondigers in België. Nietemin is hulle ywerig en word hulle nie geïntimideer nie. Toe ’n 16-jarige Getuie hoor hoe Jehovah se Getuies tydens ’n klas oor etiek by die skool as ’n sekte beskryf word, het sy toestemming gevra om die ander kant van die saak te stel. Met behulp van die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name en die brosjure Jehovah se Getuies—Wie is hulle? kon sy verduidelik wie die Getuies werklik is. Die inligting is gunstig ontvang, en die volgende week is die leerlinge ’n toets gegee, waarin al die vrae oor die Christelike godsdiens van Jehovah se Getuies gehandel het.
18. Wat bewys dat verkondigers in Argentinië en Mosambiek nie toelaat dat ekonomiese probleme hulle aandag van Jehovah se diens aflei nie?
18 Die meeste Christene kom in hierdie laaste dae voor ernstige probleme te staan. Nogtans laat hulle nie toe dat hulle aandag hierdeur afgelei word nie. Ten spyte van opspraakwekkende ekonomiese probleme het Argentinië verlede jaar ’n nuwe hoogtepunt van 126 709 Getuies gehad. Daar is steeds wydverspreide armoede in Mosambiek. Nietemin het 37 563 ’n deelname aan die getuieniswerk gerapporteer, ’n vermeerdering van 4 persent. Die lewe is moeilik vir baie in Albanië, maar daardie land het ’n uitstekende vermeerdering van 12 persent gehad, met ’n hoogtepunt van 2 708 verkondigers. Dit is duidelik dat Jehovah se gees nie gestuit word deur moeilike toestande wanneer sy knegte Koninkryksbelange eerste stel nie.—Matteus 6:33.
19. (a) Wat bewys dat daar nog baie skaapgeaarde mense is wat na Bybelwaarheid honger? (b) Watter ander besonderhede van die jaarverslag toon dat Jehovah se knegte geestelik wakker bly? (Sien die tabel op bladsye 12-15.)
19 Die maandelikse gemiddelde van 5 309 289 Bybelstudies wat verlede jaar regoor die wêreld gerapporteer is, toon dat daar nog baie skaapgeaarde mense is wat na Bybelwaarheid honger. Van die nuwe hoogtepunt van 15 597 746 wat die Gedenkmaal bygewoon het, is die meeste nog nie bedrywige knegte van Jehovah nie. Mag hulle toeneem in kennis en in liefde vir Jehovah sowel as die broederskap. Dit is opwindend om te sien dat die “groot menigte” “ander skape” voortgaan om produktief te wees terwyl hulle die Skepper “dag en nag . . . in sy tempel” dien saam met hulle geesgesalfde broers.—Openbaring 7:9, 15; Johannes 10:16.
Leer uit Lot se voorbeeld
20. Wat leer ons uit die voorbeeld van Lot en sy vrou?
20 Selfs getroue knegte van God kan natuurlik tydelik hulle gevoel van dringendheid verloor. Dink aan Abraham se broerskind Lot. Twee engele het hom besoek en hom meegedeel dat God Sodom en Gomorra binnekort gaan vernietig. Die nuus sou Lot, wat “baie ontsteld was oor die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag”, beslis nie verbaas het nie (2 Petrus 2:7). Tog het hy “bly talm” toe die twee engele gekom het om hom uit Sodom uit te lei. Die engele moes hom en sy gesin feitlik uit die stad sleep. Net daarna het Lot se vrou die waarskuwing van die engele om nie terug te kyk nie, geïgnoreer. Haar onverskillige gesindheid het haar duur te staan gekom (Genesis 19:14-17, 26). “Dink aan die vrou van Lot”, het Jesus gewaarsku.—Lukas 17:32.
21. Waarom is dit nou belangriker as ooit tevore om wakker te bly?
21 Die ramp by Pompeji en Herkulaneum en die gebeure wat met die vernietiging van Jerusalem gepaardgegaan het, sowel as die voorbeelde van die Vloed in Noag se dag en van Lot, lig toe hoe belangrik dit is om waarskuwings ernstig op te neem. As Jehovah se knegte onderskei ons die teken van die tyd van die einde (Matteus 24:3). Ons het ons van valse godsdiens afgeskei (Openbaring 18:4). Soos eerste-eeuse Christene moet ons “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte hou” (2 Petrus 3:12). Ja, dit is nou belangriker as ooit tevore om wakker te bly! Watter stappe kan ons neem en watter eienskappe kan ons aankweek om wakker te bly? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnote]
a Dit is onwaarskynlik dat Jerusalem in die eerste eeu meer as 120 000 inwoners gehad het. Eusebius raam dat 300 000 inwoners van die provinsie Judea na Jerusalem gereis het vir die Pasga van 70 G.J. Die res van die slagoffers moes uit ander dele van die ryk gekom het.
b Vanuit Jehovah se standpunt is die Mosaïese Wet natuurlik in 33 G.J. deur die nuwe verbond vervang.—Efesiërs 2:15.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter verwikkeling het Joodse Christene in staat gestel om aan die vernietiging van Jerusalem te ontkom?
• Hoe help die raad in die geskrifte van die apostels Petrus en Paulus ons om wakker te bly?
• Wie toon vandag dat hulle wawyd wakker is?
• Watter les leer ons uit die verslag van Lot en sy vrou?
[Tabel op bladsy 12-15]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 2002-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Prent op bladsy 9]
In 66 G.J. het die Christene in Jerusalem op Jesus se waarskuwing ag geslaan
[Prente op bladsy 10]
As Christene bedrywig bly, help dit hulle om wakker te bly