Studie nommer 5—Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif
Hoe die Hebreeuse Geskrifte, as deel van die geïnspireerde Woord van God, oorgeskrywe is, hoe die tekstuele getrouheid daarvan behoue gebly het en hoe dit tot in ons dag oorgedra is.
1. (a) Hoe verskil die ‘woorde van Jehovah’ van ander skatte van die verlede? (b) Watter vrae ontstaan oor die bewaring van God se Woord?
DIE ‘woorde van Jehovah’ wat in geskrewe vorm vasgelê is, kan vergelyk word met waters van waarheid wat in ’n merkwaardige reservoir van geïnspireerde dokumente opgegaar is. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah dwarsdeur die tydperk van hierdie hemelse mededelings toegesien het dat hierdie “waters” versamel word om ’n onuitputlike bron van lewegewende informasie te vorm! Ander skatte van die verlede, soos koningskrone, erfstukke, asook monumente van mense, het met verloop van tyd aangeslaan, verweer of verbrokkel, maar ons God se woorde, wat soos ’n skat is, sal tot in ewigheid standhou (Jes. 40:8). Daar is egter al gevra of hierdie waters van waarheid besoedel is nadat dit in die reservoir opgeneem is. Het dit suiwer gebly? Is dit getrou oorgedra uit die tekste in die oorspronklike tale, met die gevolg dat wat elke volk op aarde vandag in sy eie taal tot sy beskikking het betroubaar is? Ons sal vind dat dit ’n opwindende studie is om die gedeelte van hierdie reservoir wat as die Hebreeuse teks bekend staan te ondersoek, en ons sal sien watter sorg aan die dag gelê is om die akkuraatheid daarvan te bewaar, asook watter wonderlike voorsienings gemaak is om dit deur middel van verskillende weergawes en nuwe vertalings aan alle nasies van die mensdom oor te dra en beskikbaar te stel.
2. Hoe is die geïnspireerde geskrifte tot in Esra se dag bewaar?
2 Die oorspronklike dokumente in Hebreeus en Aramees is opgeteken deur God se menslike sekretarisse, van Moses in 1513 v.G.J. tot kort na 443 v.G.J. Sover vandag bekend is, het nie een van hierdie oorspronklike geskrifte tot nou toe behoue gebly nie. Maar van die begin af is groot sorg aan die dag gelê om die geïnspireerde geskrifte, asook goedgekeurde kopieë daarvan, te bewaar. In ongeveer 642 v.G.J., in koning Josia se tyd, is “die wetboek” van Moses, ongetwyfeld die oorspronklike kopie, in die huis van Jehovah gevind, waar dit weggebêre was. Op daardie tydstip was dit reeds 871 jaar lank getrou bewaar. Die Bybelskrywer Jeremia het sulke groot belangstelling in hierdie vonds getoon dat hy dit in 2 Konings 22:8-10 opgeteken het, en omstreeks 460 v.G.J. het Esra weer na dieselfde gebeurtenis verwys (2 Kron. 34:14-18). Hy het belanggestel in hierdie dinge, want hy was “’n skrifgeleerde, vaardig in die wet van Moses wat die HERE, die God van Israel, gegee het” (Esra 7:6). Esra het ongetwyfeld ander boekrolle van die Hebreeuse Geskrifte wat tot op sy dag geskryf is, moontlik ook oorspronklike kopieë van party van die geïnspireerde geskrifte, tot sy beskikking gehad. Trouens, dit lyk asof Esra in sy dag die bewaarder van die goddelike geskrifte was.—Neh. 8:2, 3.
DIE TYDPERK VAN MANUSKRIPOORSKRYWING
3. Watter behoefte aan verdere kopieë van die Geskrifte het ontstaan, en hoe is daar in hierdie behoefte voorsien?
3 Vanaf Esra se tyd was daar ’n toenemende vraag na kopieë van die Hebreeuse Geskrifte. Nie al die Jode het met die herstel van 537 v.G.J. en daarna na Jerusalem en Palestina teruggekeer nie. Inteendeel, duisende het in Babel agtergebly, terwyl ander om sake- en ander redes elders heen getrek het, met die gevolg dat daar in die meeste van die groot kommersiële sentrums van die antieke wêreld Jode gewoon het. Baie Jode het jaarlikse pelgrimsreise na Jerusalem onderneem om die verskillende tempelfeeste by te woon, en daar het hulle aan die aanbidding deelgeneem wat in Bybelse Hebreeus gehou is. In Esra se tyd het die Jode in hierdie talle verafgeleë lande plaaslike vergaderplekke gebruik wat bekend gestaan het as sinagoges, waar die Hebreeuse Geskrifte voorgelees en bespreek is.a Weens die groot aantal plekke van aanbidding wat so ver uitmekaar geleë was, moes kopiiste al hoe meer handgeskrewe manuskripte verskaf.
4. (a) Wat was ’n geniza, en hoe is dit gebruik? (b) Watter waardevolle vonds is in die 19de eeu in een geniza gemaak?
4 Hierdie sinagoges het gewoonlik ’n bewaarkamer gehad wat as die geniza bekend gestaan het. Met verloop van tyd het die Jode ou manuskripte wat geskeur het of verslyt was weens ouderdom in die geniza gebêre en hulle deur nuwes vir gebruik in die sinagoge vervang. Van tyd tot tyd is die inhoud van die geniza plegtig in die grond begrawe, sodat die teks—wat Jehovah se heilige naam bevat het—nie ontheilig sou word nie. Deur die eeue heen het duisende ou Hebreeuse Bybelmanuskripte op hierdie wyse verdwyn. Maar die volgepakte geniza van die sinagoge in Ou Kaïro het hierdie lot vrygespring, waarskynlik omdat dit toegemessel is en tot die middel van die 19de eeu vergete gebly het. In 1890, toe herstelwerk aan die sinagoge gedoen is, is die inhoud van die geniza opnuut ondersoek en sy skatte geleidelik verkoop of as skenkings weggegee. Uit hierdie bron het betreklik volledige manuskripte en duisende fragmente (waarvan party glo uit die sesde eeu G.J. dateer) uiteindelik in die besit gekom van die Cambridge-Universiteitsbiblioteek en ander biblioteke in Europa en Amerika.
5. (a) Watter antieke Hebreeuse manuskripte is reeds gekatalogiseer, en hoe oud is hulle? (b) Wat openbaar ’n studie van hierdie manuskripte?
5 Vandag is daar sowat 6 000 gekatalogiseerde manuskripte van die volledige Hebreeuse Geskrifte of dele daarvan in verskillende biblioteke van die wêreld. Tot onlangs was daar (met die uitsondering van ’n paar fragmente) nie sulke manuskripte wat ouer as die tiende eeu G.J. was nie. Toe is ’n rol van die boek Jesaja in 1947 naby die Dooie See ontdek, en in die daaropvolgende jare is ander onskatbare boekrolle van die Hebreeuse Geskrifte ontdek namate grotte in die Dooie See-gebied ’n ryk skat van manuskripte opgelewer het wat byna 1 900 jaar versteek was. Volgens deskundiges se datering is party van hierdie manuskripte gedurende die laaste paar eeue v.G.J. oorgeskryf. Die vergelykende studie van die ongeveer 6 000 manuskripte van die Hebreeuse Geskrifte voorsien ’n vaste grondslag om te bepaal wat die Hebreeuse teks is en toon dat die teks getrou oorgedra is.
DIE HEBREEUSE TAAL
6. (a) Wat was die vroeë geskiedenis van Hebreeus? (b) Waarom was Moses bevoeg om Genesis te skryf?
6 Die taal wat vandag as Hebreeus bekend staan, was, in sy oorspronklike vorm, die taal wat Adam in die tuin van Eden gepraat het. Om hierdie rede kon dit die mens se taal genoem word. Dit was die taal wat in Noag se dag gepraat is, hoewel dit toe reeds ’n groter woordeskat gehad het. In ’n verder ontwikkelde vorm was dit die basiese taal wat behoue gebly het toe Jehovah die mens se spraak by die Toring van Babel verwar het (Gen. 11:1, 7-9). Hebreeus behoort tot die Semitiese taalgroep, waarvan dit die stamtaal is. Dit is blykbaar verwant aan die taal van Kanaän in Abraham se tyd, en die Kanaäniete het verskillende dialekte uit hulle Hebreeuse tak gevorm. In Jesaja 19:18 word dit “die taal van Kanaän” genoem. In sy tyd was Moses ’n geleerde, geleerd nie net in die wysheid van die Egiptenaars nie, maar ook in die Hebreeuse taal van sy voorvaders. Daarom kon hy ou dokumente lees wat in sy besit gekom het, en hierdie dokumente was moontlik die basis van sekere informasie wat hy opgeteken het in wat nou as die Bybelboek Genesis bekend staan.
7. (a) Watter latere ontwikkeling het Hebreeus ondergaan? (b) As wat het Bybelse Hebreeus gedien?
7 Later, in die dae van die Joodse konings, het Hebreeus as “die Joodse taal” bekend geword (2 Kon. 18:26, 28). In Jesus se tyd het die Jode ’n nuwe of meer ontwikkelde vorm van Hebreeus gepraat, en nog later het dit ’n rabbynse Hebreeus geword. Daar moet egter opgelet word dat die Christelike Griekse Geskrifte die taal steeds “Hebreeus” noem, nie Aramees nie (Joh. 5:2; 19:13, 17; Hand. 22:2; Openb. 9:11). Sedert die vroegste tye was Bybelse Hebreeus die verenigende voertaal wat deur die meeste van Jehovah se voorchristelike getuies sowel as deur die Christengetuies van die eerste eeu verstaan is.
8. Waarvoor kan ons innig dankbaar wees as ons die doel van die Skrif in gedagte hou?
8 Die Hebreeuse Geskrifte het as ’n reservoir van kristalhelder waters van waarheid gedien, wat onder goddelike inspirasie gegee en versamel is. Maar net diegene wat Hebreeus kon lees, kon hierdie godgegewe waters direk benut. Hoe kon mense van die nasies, wat soveel verskillende tale gepraat het, ook ’n manier vind om hierdie waters van waarheid te drink en sodoende goddelike leiding en verkwikking vir hulle siel vind? (Openb. 22:17). Die enigste manier was om dit uit Hebreeus in ander tale te vertaal en só die loop van die stroom van goddelike waarheid breër te maak sodat dit na die hele mensdom kon vloei. Ons kan inderdaad baie dankbaar wees teenoor Jehovah God dat dele van die Bybel sedert ongeveer die vierde of derde eeu v.G.J. tot in ons dag in meer as 1 900 tale vertaal is. Watter seën was dit tog vir alle regverdig gesinde mense, wat inderdaad “behae” in hierdie kosbare waters kon skep!—Ps. 1:2; 37:3, 4.
9. (a) Watter magtiging vir vertaling gee die Bybel self? (b) Van watter verdere nut was ou Bybelvertalings?
9 Magtig of regverdig die Bybel self die vertaling van sy teks in ander tale? Ja, beslis! God se woord aan Israel: “Wees vrolik, jul nasies, met sy volk”, en Jesus se profetiese opdrag aan Christene: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” moet vervul word. Dit sou alleenlik kon plaasvind as die Skrif vertaal word. As ons terugkyk op byna 24 eeue van Bybelvertaling is dit duidelik dat Jehovah se seën op hierdie werk gerus het. Daarbenewens het ou Bybelvertalings wat in manuskripvorm behoue gebly het ook bevestig dat die teks van die Hebreeuse waarheidsreservoir besonder getrou is.—Deut. 32:43, NW; Matt. 24:14.
DIE EERSTE VERTALINGS
10. (a) Wat is die Samaritaanse Pentateug, en waarom is dit vandag vir ons van nut? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe die Samaritaanse Pentateug in die New World Translation gebruik word?
10 Die Samaritaanse Pentateug. Die Samaritaanse Pentateug is ’n baie ou vertaling en bevat, soos die naam aandui, net die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Geskrifte. Dit is in werklikheid ’n transliterasie van die Hebreeuse teks in Samaritaanse skrif, wat uit die ou Hebreeuse skrif ontwikkel is. Dit voorsien ’n nuttige aanduiding van wat die Hebreeuse teks van daardie tyd was. Hierdie transliterasie is saamgestel deur die Samaritane—nakomelinge van diegene wat in Samaria agtergebly het nadat die tienstammeryk van Israel in 740 v.G.J. verower is en diegene wat op daardie tydstip deur die Assiriërs daarheen geneem is. Die Samaritane het Israel se aanbidding met dié van hulle eie heidense gode vermeng, en hulle het die Pentateug aanvaar. Daar word gemeen dat hulle omstreeks die vierde eeu v.G.J. hulle transkripsie daarvan gemaak het, hoewel party geleerdes meen dat dit eers in die tweede eeu v.G.J. gedoen is. Wanneer hulle die teks daarvan gelees het, het hulle dit in werklikheid in Hebreeus uitgespreek. Hoewel die teks op sowat 6 000 plekke van die Hebreeuse teks verskil, is baie van hierdie verskille minder belangrike punte. Min van die manuskripkopieë wat vandag nog bestaan, is ouer as die 13de eeu G.J. Sommige voetnote van die New World Translation bevat verwysings na die Samaritaanse Pentateug.b
11. Wat is die Targoems, en van watter nut is hulle in verband met die teks van die Hebreeuse Geskrifte?
11 Die Aramese Targoems. Die Aramese woord vir “vertolking” of “parafrase” is targoem. Sedert Nehemia se tyd het Aramees die verkeerstaal geword van baie van die Jode wat in die grondgebied van Persië gewoon het, met die gevolg dat dit nodig was om voorlesings van die Hebreeuse Geskrifte in daardie taal te vertaal. Die Targoems het waarskynlik eers omstreeks die vyfde eeu G.J. hulle huidige vorm aangeneem. Hoewel hulle slegs vrye parafrases van die Hebreeuse teks en nie ’n akkurate vertaling is nie, verskaf hulle ’n ryk agtergrond vir die teks en is hulle nuttig om duidelikheid oor sekere moeilike gedeeltes te kry. Voetnote in die New World Translation verwys dikwels na die Targoems.c
12. Wat is die Septuagint, en waarom is dit so belangrik?
12 Die Griekse Septuagint. Die Griekse Septuagint (wat “Sewentig” beteken) is die belangrikste van die vroeë vertalings van die Hebreeuse Geskrifte en is die eerste ware geskrewe vertaling van die Hebreeuse teks. Volgens tradisie het 72 Joodse geleerdes van Alexandrië, Egipte, dit in ongeveer 280 v.G.J. begin vertaal. Later is die getal 70 om die een of ander rede begin gebruik, en gevolglik is die vertaling die Septuagint genoem. Blykbaar is dit die een of ander tyd gedurende die tweede eeu v.G.J. voltooi. Dit het as Skrif vir die Griekssprekende Jode gedien en is tot die tyd van Jesus en sy apostels op groot skaal gebruik. In die Christelike Griekse Geskrifte is die meeste van die 320 direkte aanhalings en die gesamentlike totaal van moontlik 890 aanhalings uit en verwysings na die Hebreeuse Geskrifte op die Septuagint gebaseer.
13. Watter waardevolle fragmente van die Septuagint het tot vandag toe behoue gebly, en wat is hulle waarde?
13 ’n Aansienlike aantal fragmente van die Septuagint wat op papirus geskryf is, is vandag nog vir studiedoeleindes beskikbaar. Hulle is waardevol omdat hulle uit vroeg-Christelike tye dateer, en hoewel hulle dikwels net uit ’n paar verse of hoofstukke bestaan, help hulle om vas te stel wat die teks van die Septuagint was. Die Fouad-Papiriversameling (Inventarisnommer 266) is in 1939 in Egipte ontdek, en daar is bevind dat dit uit die eerste eeu v.G.J. dateer. Dit bevat dele van die boeke Genesis en Deuteronomium. Omdat net dele behoue gebly het, kom die goddelike naam nie in die fragmente van Genesis voor nie. Maar in die boek Deuteronomium kom dit op verskeie plekke voor, waar dit in vierkantige Hebreeuse karakters in die Griekse teks geskryf staan.d Ander papiri dateer uit ongeveer die vierde eeu G.J., toe duursamer velyn, ’n fyn soort perkament wat gewoonlik van kalfs-, lams- of bokvel gemaak is, vir die skryf van manuskripte begin gebruik is.
14. (a) Wat getuig Origines ten opsigte van die Septuagint? (b) Wanneer en hoe is daar met die Septuagint geknoei? (c) Watter getuienis kon die vroeë Christene ongetwyfeld gegee het wanneer hulle die Septuagint gebruik het?
14 Dit is interessant dat die goddelike naam, in die vorm van die Tetragrammaton, ook in die Septuagint van Origines se Hexapla verskyn, wat in ses kolomme ingedeel was en in ongeveer 245 G.J. voltooi is. In sy kommentaar oor Psalm 2:2 het Origines aangaande die Septuagint geskryf: “In die akkuraatste manuskripte verskyn DIE NAAM in Hebreeuse karakters; nie in vandag se Hebreeuse [karakters] nie, maar in die heel oudstes.”e Dit lyk asof die getuienis onweerlegbaar is dat daar reeds vroeg met die Septuagint geknoei is deurdat die Tetragrammaton deur Kuʹri·os (Here) en The·osʹ (God) vervang is. Aangesien die vroeë Christene manuskripte gebruik het wat die goddelike naam bevat het, kan daar nie veronderstel word dat hulle die Joodse tradisie gevolg en versuim het om “DIE NAAM” in hul bediening uit te spreek nie. Hulle moes direk uit die Griekse Septuagint aangaande Jehovah se naam kon getuig het.
15. (a) Gebruik die tabel op bladsy 314 en beskryf die velyn- en leermanuskripte van die Septuagint. (b) Hoe verwys die New World Translation hierna?
15 Honderde velyn- en leermanuskripte van die Griekse Septuagint bestaan vandag nog. Etlike hiervan, wat tussen die vierde eeu G.J. en die negende eeu G.J. geskryf is, is belangrik vanweë die groot dele van die Hebreeuse Geskrifte wat hulle bevat. Hulle staan as unsiale bekend, omdat hulle geheel en al in groot, losstaande hoofletters geskryf is. Die res word minuskels genoem, omdat hulle in ’n kleiner, kursiewe skrif geskryf is. Minuskels, of kursiewe manuskripte, was sedert die negende eeu tot daar met drukwerk begin is in die mode. Die vernaamste unsiaalmanuskripte van die vierde en vyfde eeu, naamlik Vaticanus nr. 1209, Sinaiticus en Alexandrinus, bevat almal die Griekse Septuagint met ’n paar geringe variasies. Die voetnote en kommentaar in die New World Translation verwys dikwels na die Septuagint.f
16. (a) Wat is die Latynse Vulgaat, en waarom is dit so waardevol? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe die New World Translation daarna verwys.
16 Die Latynse Vulgaat. ’n Groot aantal Katolieke vertalers het hierdie vertaling as moederteks gebruik vir ander vertalings in die baie tale van die Westelike Christendom. Wat was die oorsprong van die Vulgaat? Die Latynse woord vulgatus beteken “gewoon, dit wat algemeen is”. Die Vulgaat het aanvanklik in die gewone, of algemene, Latyn van die dag verskyn sodat die gewone mense van die Wes-Romeinse Ryk dit maklik kon verstaan. Die geleerde Hieronimus, wat die vertaler van die Vulgaat was, het vantevore aan die hand van die Griekse Septuagint twee hersienings van die Oud-Latynse Psalms voltooi. Maar sy vertaling van die Vulgaat-Bybel is direk uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks gedoen en was dus nie ’n vertaling van ’n vertaling nie. Hieronimus het van ongeveer 390 G.J. tot 405 G.J. aan sy Latynse vertaling uit die Hebreeus gewerk. Hoewel die voltooide werk apokriewe boeke ingesluit het, wat teen hierdie tyd in die kopieë van die Septuagint was, het Hieronimus ’n duidelike onderskeid getref tussen die boeke wat kanoniek was en dié wat nie-kanoniek was. Die New World Translation verwys baie kere in sy voetnote na Hieronimus se Vulgaat.g
DIE HEBREEUSE TEKSTE
17. Wie was die skrifgeleerdes, of Soferim, en waarvoor het Jesus hulle veroordeel?
17 Die Soferim. Die manne wat die Hebreeuse Geskrifte vanaf die dae van Esra tot die tyd van Jesus oorgeskryf het, is skrifgeleerdes, of Soferim, genoem. Met verloop van tyd het hulle hul vryhede begin veroorloof om tekstuele veranderinge aan te bring. Trouens, Jesus self het hierdie sogenaamde bewaarders van die Wet ronduit veroordeel omdat hulle hul regte toegeëien het wat hulle nie toegekom het nie.—Matt. 23:2, 13.
18. (a) Wie was die Masorete, en watter waardevolle kommentare oor die Hebreeuse teks het hulle voorsien? (b) Wat is ’n paar voorbeelde van hulle verbeteringe, soos aangegee in die New World Translation?
18 Die Masora bring wysigings aan die lig. Diegene wat die Soferim in die eeue na Christus as oorskrywers opgevolg het, het as die Masorete bekend geword. Hulle het kennis geneem van die wysigings wat die voormalige Soferim aangebring het en het dit in die kantlyn of aan die einde van die Hebreeuse teks neergeskryf. Hierdie kanttekeninge het as die Masora bekend geword. Die Masora het die 15 besondere punte van die Soferim aangegee, naamlik 15 woorde of uitdrukkings in die Hebreeuse teks wat met kolletjies of strepies gemerk is. Party van hierdie besondere punte beïnvloed nie die Afrikaanse vertaling of die vertolking nie, maar ander doen dit wel en is van belang.h Die Soferim het toegelaat dat hulle bygelowige vrees om die naam Jehovah uit te spreek hulle verstrik, sodat hulle dit op 134 plekke na ʼAdho·naiʹ (Here) en in party gevalle na ʼElo·himʹ (God) verander het. Die Masora gee hierdie veranderinge aan.i Volgens ’n aantekening in die Masora word die Soferim of vroeë skrifgeleerdes ook daarvan beskuldig dat hulle ten minste 18 emendasies (verbeteringe) aangebring het, hoewel daar blykbaar selfs meer was.j Hierdie emendasies is heel waarskynlik met goeie bedoelinge aangebring, omdat dit gelyk het asof die oorspronklike passasie òf oneerbiedigheid teenoor God, òf minagting vir sy aardse verteenwoordigers getoon het.
19. Wat is die Hebreeuse konsonante-teks, en wanneer het dit vaste vorm aangeneem?
19 Die konsonante-teks. Die Hebreeuse alfabet bestaan uit 22 konsonante en geen vokale nie. Oorspronklik moes die leser self sy kennis van die taal gebruik om die vokaalklanke in te voeg. Hebreeuse skrif was soos ’n afgekorte skrif. Selfs in moderne Afrikaans gebruik mense baie standaardafkortings waarin net konsonante voorkom. Daar is byvoorbeeld Bpk. as afkorting van Beperk. Die Hebreeuse taal het insgelyks uit ’n reeks woorde bestaan wat net uit konsonante saamgestel was. Met “konsonante-teks” word daar dus die Hebreeuse teks sonder enige vokaaltekens bedoel. Die konsonante-teks van die Hebreeuse manuskripte het tussen die eerste en tweede eeu G.J. vaste vorm aangeneem, hoewel manuskripte met variante tekste nog ’n ruk lank in omloop was. In teenstelling met die voorafgaande tydperk van die Soferim is geen verdere wysigings aangebring nie.
20. Wat het die Masorete in verband met die Hebreeuse teks gedoen?
20 Die Masoretiese teks. In die tweede helfte van die eerste millennium G.J. het die Masorete (Hebreeus, ba·ʽalêʹ ham·ma·soo·rahʹ, wat “die Meesters van Tradisie” beteken) ’n stelsel van vokaal- en aksenttekens ingestel. Hierdie tekens was ’n geskrewe gids om vokaalklanke te lees en uit te spreek, terwyl die uitspraak vantevore deur middel van mondelinge oorlewering oorgedra is. Die Masorete het hoegenaamd geen veranderinge aangebring in die tekste wat hulle oorgeskryf het nie, maar het na goeddunke kanttekeninge in die Masora gemaak. Hulle was baie versigtig om hul geen vryhede ten opsigte van die teks te veroorloof nie. Daarbenewens het hulle in hul Masora die aandag gevestig op tekstuele eienaardighede en verbeterde lesings aangegee wat hulle nodig geag het.
21. Wat is die Masoretiese teks?
21 Drie skole van Masorete het aan die ontwikkeling van die vokalisasie en klemaanduiding van die konsonante-teks gewerk, naamlik die Babiloniese, Palestynse en Tiberiese. Die Hebreeuse teks wat tans in gedrukte uitgawes van die Hebreeuse Bybel verskyn, staan bekend as die Masoretiese teks en gebruik die stelsel wat deur die Tiberiese skool ontwerp is. Hierdie stelsel is ontwikkel deur die Masorete van Tiberias, ’n stad aan die westelike oewer van die See van Galilea. Voetnote in die New World Translation verwys talle kere na die Masoretiese teks (met die simbool M) en na die kanttekeninge daarvan, die Masora (met die simbool Mmargin).k
22. Watter manuskrip van die Babiloniese groep tekste het beskikbaar geword, en hoe vergelyk dit met die Tiberiese teks?
22 Die Palestynse skool het die vokaaltekens bó die konsonante geplaas. Net ’n paar sulke manuskripte het tot in ons dag behoue gebly, wat toon dat hierdie vokalisasiestelsel gebrekkig was. Die Babiloniese vokalisasiestelsel was eweneens supralineêr. Die Petersburgse Profetekodeks, van 916 G.J., is ’n manuskrip met die Babiloniese vokalisasie en word in die Openbare Biblioteek van Leningrad, USSR, bewaar. Hierdie kodeks bevat Jesaja, Jeremia, Esegiël en die “klein” profete, asook kanttekeninge (Masora). Geleerdes het hierdie manuskrip ywerig ondersoek en met die Tiberiese teks vergelyk. Hoewel dit die supralineêre vokalisasiestelsel gebruik, volg dit in werklikheid die Tiberiese teks wat die konsonante-teks en sy vokale en Masora betref. Die Britse Museum het ’n kopie van die Babiloniese teks van die Pentateug, en daar is bevind dat dit in groot mate met die Tiberiese teks ooreenstem.
23. Watter vondste van Hebreeuse manuskripte is naby die Dooie See gemaak?
23 Dooie See-rolle. In 1947 het ’n opwindende nuwe hoofstuk in die geskiedenis van Hebreeuse manuskripte begin. In ’n grot by Wadi Qumran (Nahal Qumeran), naby die Dooie See, is die eerste Jesaja-rol, asook ander Bybelse en nie-Bybelse boekrolle, ontdek. Kort daarna is ’n volledige fotostaatafdruk van hierdie goed behoue Jesaja-rol (1QIsa) gepubliseer sodat geleerdes dit kon bestudeer. Daar word gemeen dat dit uit omstreeks die einde van die tweede eeu v.G.J. dateer. Dit was inderdaad ’n ongelooflike vonds—’n Hebreeuse manuskrip wat ongeveer duisend jaar ouer was as die oudste beskikbare manuskrip van die erkende Masoretiese teks van Jesaja!l Ander grotte in Qumran het fragmente opgelewer van meer as 170 boekrolle, wat dele van alle boeke van die Hebreeuse Geskrifte buiten Ester bevat. Die bestudering van sulke boekrolle is nog nie afgehandel nie.
24. Hoe vergelyk hierdie manuskripte met die Masoretiese teks, en hoe gebruik die New World Translation hulle?
24 Een geleerde berig dat sy ondersoek van die lang Psalm 119 in een belangrike Dooie See-rol van die Psalms (11QPsa) toon dat dit feitlik woordelik met die Masoretiese teks van Psalm 119 ooreenkom. Professor J. A. Sanders het aangaande die Psalms-rol gesê: “Die meeste van [die variante] is ortografies en slegs van belang vir dié geleerdes wat belangstel in leidrade oor die uitspraak van Hebreeus in die ou tyd en dergelike aangeleenthede.”a Ander voorbeelde van hierdie merkwaardige ou manuskripte toon dat daar in die meeste gevalle geen groot variasies voorkom nie. Die Jesaja-rol self, waarin daar wel verskille ten opsigte van spelling en grammatikale konstruksie voorkom, verskil nie wat leerstellige punte betref nie. Hierdie gepubliseerde Jesaja-rol se variasies is ondersoek tydens die voorbereiding van die New World Translation, wat soms daarna verwys.b
25. Watter Hebreeuse tekste is nou reeds bespreek, en watter sekerheid gee die bestudering daarvan ons?
25 Ons het nou die hoofkanale bespreek waarlangs die Hebreeuse Geskrifte aan ons oorgedra is. Dit is hoofsaaklik die Samaritaanse Pentateug, die Aramese Targoems, die Griekse Septuagint, die Tiberiese Hebreeuse teks, die Palestynse Hebreeuse teks, die Babiloniese Hebreeuse teks en die Hebreeuse teks van die Dooie See-rolle. Danksy die bestudering en vergelyking van hierdie tekste het ons die sekerheid dat die Hebreeuse Geskrifte tot in ons dag oorgedra is in wesenlik dieselfde vorm as wat geïnspireerde knegte van God hulle oorspronklik opgeteken het.
DIE GESUIWERDE HEBREEUSE TEKS
26. (a) Wanneer is ’n kritiese studie van die Hebreeuse teks bevorder, en wat is party van die meestertekste wat gedruk is? (b) Hoe is die Ginsburg-teks gebruik?
26 Tot in die 19de eeu was die Tweede Rabbynse Bybel van Jakob ben Chajjim, wat in 1524-25 gepubliseer is, die standaard- gedrukte uitgawe van die Hebreeuse Bybel. Dit was eers in die 18de eeu dat geleerdes ’n kritiese studie van die Hebreeuse teks begin bevorder het. In 1776-80 het Benjamin Kennicott variante lesings uit meer as 600 Hebreeuse manuskripte te Oxford gepubliseer. Toe, in 1784-98, het die Italiaanse geleerde J. B. de Rossi variante lesings van meer as 800 ander manuskripte te Parma gepubliseer. Die Hebraïkus S. Baer, van Duitsland, het ook ’n meesterteks saamgestel. Korter gelede het C. D. Ginsburg baie jare daaraan gewy om ’n kritiese meesterteks van die Hebreeuse Bybel daar te stel. Dit het vir die eerste keer in 1894 verskyn en is in 1926 finaal hersien.c Joseph Rotherham het die 1894-uitgawe van hierdie teks gebruik vir sy Engelse vertaling The Emphasised Bible, wat in 1902 verskyn het, en professor Max L. Margolis en sy medewerkers het die tekste van Ginsburg en Baer gebruik vir die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat hulle in 1917 uitgegee het.
27, 28. (a) Wat is die Biblia Hebraica, en hoe is dit ontwikkel? (b) Hoe het die New World Translation hierdie teks gebruik?
27 In 1906 het die Hebraïkus Rudolf Kittel die eerste uitgawe (en later ’n tweede uitgawe) van sy gesuiwerde Hebreeuse teks met die titel Biblia Hebraica, of “Die Hebreeuse Bybel”, in Duitsland uitgereik. In hierdie boek het Kittel ’n teksapparaat voorsien deur middel van uitgebreide voetnote, wat die talle Hebreeuse manuskripte van die Masoretiese teks wat op daardie tydstip beskikbaar was, gekollasioneer of vergelyk het. Hy het die algemeen aanvaarde teks deur Jakob ben Chajjim as grondteks gebruik. Toe die baie ouer en beter Masoretiese tekste van Ben Asjer beskikbaar geword het, wat omstreeks die 10de eeu G.J. gestandaardiseer is, het Kittel aan ’n heeltemal ander derde uitgawe van die Biblia Hebraica begin werk. Hierdie werk is na sy dood deur sy medewerkers voltooi.
28 Die 7de, 8ste en 9de uitgawe (1951-55) van Kittel se Biblia Hebraica is as grondteks gebruik vir die Hebreeuse deel van die New World Translation in Engels. ’n Nuwe uitgawe van die Hebreeuse teks, naamlik Biblia Hebraica Stuttgartensia, van 1977, is gebruik om die informasie in die voetnote van die New World Translation wat in 1984 gepubliseer is by te werk.
29. Watter aspek van die Biblia Hebraica was besonder waardevol by die herstel van die goddelike naam?
29 Die feit dat Kittel die Masora-kanttekeninge aangegee het, waarin talle tekswysigings van voorchristelike oorskrywers uitgewys word, het bygedra tot akkurate vertalings in die New World Translation, onder andere om die goddelike naam, Jehovah, op sekere plekke te herstel. Die immer groeiende gebied van die Bybelkunde word steeds deur die New World Translation toeganklik gemaak.
30. (a) Gebruik die diagram op bladsy 308, wat die bronne vir die teks van die Hebreeuse Geskrifte in die New World Translation aangee, en beskryf die geskiedenis van die Hebreeuse teks tot en met die Biblia Hebraica as die hoofbron van die New World Translation. (b) Wat is party van die ander bronne wat die New World Bible Translation Committee geraadpleeg het?
30 Een van die diagramme wat hierdie studie aanvul, verstrek die bronne vir die teks van die Hebreeuse Geskrifte in die New World Translation. Hierdie diagram toon kortliks die ontwikkeling van die Hebreeuse teks wat tot Kittel se Biblia Hebraica gelei het, wat as hoofbron gebruik is. Die sekondêre bronne wat geraadpleeg is, word deur die wit stippellyne aangedui. Die bedoeling is nie om aan te dui dat die oorspronklike kopieë in die geval van vertalings soos die Latynse Vulgaat en die Griekse Septuagint geraadpleeg is nie. Soos in die geval van die geïnspireerde Hebreeuse geskrifte self is die oorspronklike kopieë van hierdie vertalings nie meer beskikbaar nie. Hierdie bronne is aan die hand van betroubare teksuitgawes of betroubare ou vertalings en kritiese kommentare geraadpleeg. Deur hierdie verskillende bronne te raadpleeg, kon die New World Bible Translation Committee ’n gesaghebbende en betroubare vertaling van die oorspronklike geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte publiseer. Al hierdie bronne word in die New World Translation se voetnote aangegee.
31. (a) Waarvan is die New World Translation se weergawe van die Hebreeuse Geskrifte dus die resultaat? (b) Watter dank en hoop kan ons gevolglik uitspreek?
31 Die New World Translation se weergawe van die Hebreeuse Geskrifte is dus die produk van eeuelange studie en navorsing op die gebied van die Bybelkunde. Dit is op ’n besonder getroue teks gebaseer en is die ryke resultaat van getroue teksoordraging. Met sy boeiende vloeiendheid en styl is dit ’n vertaling vir ernstige Bybelstudie wat tegelykertyd eerlik en akkuraat is. Alle dank aan Jehovah, die kommunikerende God, dat sy Woord vandag lewend en kragtig is! (Hebr. 4:12). Mag regskape mense aanhou om hulle geloof deur die bestudering van God se kosbare Woord op te bou en beweeg word om Jehovah se wil in hierdie betekenisvolle dae uit te voer.—2 Pet. 1:12, 13.
[Voetnote]
a Dit is nie bekend wanneer die gebruik van sinagoges ingestel is nie. Dit kon gedurende die 70-jarige ballingskap in Babel gewees het, toe daar geen tempel was nie, of kort na die terugkeer uit ballingskap, in Esra se dag.
b Sien “Sam” in die NW-naslaanuitgawe se voetnote by Genesis 4:8; Exodus 6:2; 7:9; 8:15; en 12:40. Laasgenoemde weergawe help ons om Galasiërs 3:17 te verstaan.
c Sien “T” in die NW-naslaanuitgawe se voetnote by Numeri 24:17; Deuteronomium 33:13; en Psalm 100:3.
d NW-naslaanuitgawe, aanhangsel 1C, “Die goddelike naam in ou Griekse vertalings”.
e Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 9.
f Die New World Translation dui hierdie variasies aan met die simbole LXXא vir Sinaiticus, LXXA vir Alexandrinus en LXXB vir Vaticanus. Sien die voetnote by 1 Konings 14:2 en 1 Kronieke 7:34; 12:19.
g Sien “Vg” in die NW-naslaanuitgawe se voetnoot by Exodus 37:6.
h NW-naslaanuitgawe, aanhangsel 2A, “Besondere punte”.
i NW-naslaanuitgawe, aanhangsel 1B, “Teksveranderinge in verband met die goddelike naam”.
j NW-naslaanuitgawe, aanhangsel 2B, “Emendasies (veranderinge) van die Soferim”.
k Sien die NW-naslaanuitgawe se voetnote by Psalm 60:5; 71:20; 100:3; en 119:79.
l Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 322.
a The Dead Sea Psalms Scroll, 1967, J. A. Sanders, bladsy 15.
b Sien “1QIsa” in die NW-naslaanuitgawe se voetnote by Jesaja 7:1; 14:4.
c Sien “Gins.” in die NW-naslaanuitgawe se voetnoot by Levitikus 11:42.
[Tabel op bladsy 313]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PARTY VAN DIE VERNAAMSTE PAPIRUSMANUSKRIPTE
Van die Hebreeuse Geskrifte
Manuskrip se naam Papirus Nash
Tyd 2de of 1ste eeu v.G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Cambridge, Engeland
Inhoud (by benadering) 24 reëls van Tien Gebooie en ’n
paar verse van Deuteronomium hfst. 5, 6
Manuskrip se naam Rylands 458
Simbool 957
Tyd 2de eeu v.G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Manchester, Engeland
Inhoud (by benadering) Fragmente van Deuteronomium hfst. 23-28
Manuskrip se naam Fouad 266
Tyd 1ste eeu v.G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Kaïro, Egipte
Inhoud (by benadering) Dele van Genesis en Deuteronomium
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Deut. 18:5; Hand. 3:22; aanhangsel 1C
Manuskrip se naam Dooie See-rol van Levitikus
Simbool 4QLXX Levb
Tyd 1ste eeu v.G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Jerusalem, Israel
Inhoud (by benadering) Fragmente van Levitikus
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Chester Beatty 6
Simbool 963
Tyd 2de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Dublin, Ierland, en Ann Arbor, Mich., VSA
Inhoud (by benadering) Dele van Numeri en Deuteronomium
Manuskrip se naam Chester Beatty 9, 10
Simbool 967/968
Tyd 3de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Dublin, Ierland, en Princeton, NJ, VSA
Inhoud (by benadering) Dele van Esegiël, Daniël en Ester
Van die Christelike Griekse Geskrifte
Manuskrip se naam Oxirhinchus 2
Simbool P1
Tyd 3de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Philadelphia, Pa., VSA
Inhoud (by benadering) Matt. 1:1-9, 12, 14-20
Manuskrip se naam Oxirhinchus 1228
Simbool P22
Tyd 3de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Glasgow, Skotland
Inhoud (by benadering) Fragmente van Johannes hfst. 15, 16
Manuskrip se naam Michigan 1570
Simbool P37
Tyd 3de/4de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Ann Arbor, Mich., VSA
Inhoud (by benadering) Matt. 26:19-52
Manuskrip se naam Chester Beatty 1
Simbool P45
Tyd 3de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Dublin, Ierland; Wenen, Oostenryk
Inhoud (by benadering) Fragmente van Mattheüs, Markus, Lukas, Johannes en Handelinge
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Chester Beatty 2
Simbool P46
Tyd ca. 200 G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Dublin, Ierland; Ann Arbor, Mich., VSA
Inhoud (by benadering) Nege van Paulus se briewe
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Chester Beatty 3
Simbool P47
Tyd 3de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Dublin, Ierland
Inhoud (by benadering) Openb. 9:10–17:2
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Rylands 457
Simbool P52
Tyd ca. 125 G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Manchester, Engeland
Inhoud (by benadering) Joh. 18:31-33, 37, 38
Manuskrip se naam Bodmer 2
Simbool P66
Tyd ca. 200 G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Genève, Switserland
Inhoud (by benadering) Grootste deel van Johannes
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Bodmer 7, 8
Simbool P72
Tyd 3de/4de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Genève, Switserland, en Vatikaanse
Biblioteek in Rome, Italië
Inhoud (by benadering) Judas, 1 Petrus en 2 Petrus
Manuskrip se naam Bodmer 14, 15
Simbool P75
Tyd 3de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Genève, Switserland
Inhoud (by benadering) Grootste deel van Lukas en Johannes
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
[Tabel op bladsy 314]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PARTY VAN DIE VERNAAMSTE VELYN- EN LEERMANUSKRIPTE
Van die Hebreeuse Geskrifte (in Hebreeus)
Manuskrip se naam Aleppo-kodeks
Simbool Al
Tyd 930 G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Voorheen in Aleppo, Sirië. Nou in
Israel.
Inhoud (by benadering) Groot deel van Hebreeuse Geskrifte
(Ben Asjer-teks)
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Kodeks Or4445 van die Britse Museum
Tyd 10de eeu G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Londen, Engeland
Inhoud (by benadering) Grootste deel van die Pentateug
Manuskrip se naam Karaïtiese kodeks van Kaïro
Simbool Ca
Tyd 895 G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Kaïro, Egipte
Inhoud (by benadering) Vroeëre en latere profete
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Codex Leningradensis
Simbool B 19A
Tyd 1008 G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Leningrad, USSR
Inhoud (by benadering) Hebreeuse Geskrifte
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Jos. 21:37; 2 Sam. 8:3; aanhangsel 1A
Manuskrip se naam Petersburgse Profetekodeks
Simbool B 3
Tyd 916 G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Leningrad, USSR
Inhoud (by benadering) Latere profete
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
aanhangsel 2B
Manuskrip se naam Eerste Dooie See-rol van Jesaja
Simbool 1QIsa
Tyd Einde van 2de eeu v.G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Jerusalem, Israel
Inhoud (by benadering) Jesaja
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Dooie See-rol van Psalms
Simbool 11QPsa
Tyd 1ste eeu G.J.
Taal Hebreeus
Bewaarplek Jerusalem, Israel
Inhoud (by benadering) Dele van 41 van die laaste derde van
die Psalms
Van die Septuagint en Christelike Griekse Geskrifte
Manuskrip se naam Sinaiticus
Simbool 01( א)
Tyd 4de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Londen, Engeland
Inhoud (by benadering) Deel van Hebreeuse Geskrifte en volledige
Griekse Geskrifte sowel as ’n paar
apokriewe geskrifte
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Alexandrinus
Simbool A (02)
Tyd 5de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Londen, Engeland
Inhoud (by benadering) Die volledige Hebreeuse en Griekse
Geskrifte (’n paar klein dele ontbreek
of is beskadig) asook ’n paar apokriewe
geskrifte
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Vaticanus 1209
Simbool B (03)
Tyd 4deeeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Vatikaanse Biblioteek in Rome, Italië
Inhoud (by benadering) Oorspronklik die volledige Bybel. Nou
ontbreek: Gen. 1:1–46:28; Ps. 106-137;
Hebreërs ná 9:14; 2 Timotheüs;
Titus; Filemon; Openbaring
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Mark. 6:14; Joh. 1:18; 7:53–8:11
Manuskrip se naam Ephraemi Syri rescriptus
Simbool C (04)
Tyd 5de eeu G.J.
Taal Grieks
Bewaarplek Parys, Frankryk
Inhoud (by benadering) Dele van Hebreeuse Geskrifte (64 blaaie)
en van die Griekse Geskrifte (145 blaaie)
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Manuskrip se naam Codex Bezae Cantabrigiensis
Simbool Dea (05)
Tyd 5de eeu G.J.
Taal Grieks-Latyn
Bewaarplek Cambridge, Engeland
Inhoud (by benadering) Grootste deel van die vier Evangelies en
Handelinge, ’n paar verse van 3 Johannes
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Matt. 24:36; Mark. 7:16; Luk. 15:21
(daar word net na die simbool “D” verwys)
Manuskrip se naam Codex Claromontanus
Simbool DP (06)
Tyd 6de eeu G.J.
Taal Grieks-Latyn
Bewaarplek Parys, Frankryk
Inhoud (by benadering) Pauliniese briewe (met inbegrip van
Hebreërs)
Voorbeelde van gebruik in New World Translation—With References
(sien voetnote by teksverwysings)
Gal. 5:12 (daar word net na die
simbool “D” verwys)
[Diagram op bladsy 308]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Bronne vir die teks van die New World Translation—Hebreeuse Geskrifte
Oorspronklike Hebreeuse geskrifte en vroeë kopieë
Aramese Targoems
Dooie See-rolle
Samaritaanse Pentateug
Griekse Septuagint
Oud-Latyn
Kopties, Ethiopies, Armeens
Hebreeuse konsonante-teks
Latynse Vulgaat
Griekse vertalings—Aquila, Theodotion, Symmachus
Siriese Pesjitta
Masoretiese teks
Kaïro-kodeks
Petersburgse Profete-kodeks
Aleppo-kodeks
Ginsburg se Hebreeuse teks
Codex Leningradensis B 19A
Biblia Hebraica (BHK), Biblia Hebraica
Stuttgartensia (BHS)
New World Translation
Hebreeuse Geskrifte—Engels; uit Engels in baie ander hedendaagse tale vertaal
[Tabel op bladsy 309]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Bronne vir die teks van die New World Translation—Christelike Griekse Geskrifte
Oorspronklike Griekse geskrifte en vroeë kopieë
Armeense vertaling
Koptiese vertalings
Siriese vertalings—Curetoonse, Philoxeniaanse, Harklensiese,
Palestynse, Sinaïtiese, Pesjitta
Oud-Latyn
Latynse Vulgaat
Sixtynse en Clementynse hersiene Latynse teks
Griekse kursiewe MMS.
Erasmus-teks
Stephanus-teks
Textus Receptus
Griekse teks van Griesbach
Emphatic Diaglott
Papiri—(bv. Chester Beatty P45, P46, P47; Bodmer P66, P74,
P75)
Vroeë Griekse unsiale—Vaticanus 1209 (B), Sinaiticus (א),
Alexandrinus (A), Ephraemi Syri rescriptus (C), Bezae (D)
Griekse teks van Westcott en Hort
Griekse teks van Bover
Griekse teks van Merk
Griekse teks van Nestle-Aland
Griekse teks van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe
23 Hebreeuse vertalings (14de-20ste eeu), wat uit Grieks
of uit die Latynse Vulgaat vertaal is en die
Tetragrammaton vir die goddelike naam gebruik
New World Translation
Christelike Griekse Geskrifte—Engels; uit Engels in baie ander hedendaagse tale vertaal