Bybelboek nommer 5—Deuteronomium
Skrywer: Moses
Waar geskryf: Vlaktes van Moab
Geskrif voltooi: 1473 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 2 maande (1473 v.G.J.)
1. Watter vrae kan in verband met Israel se intog in die Beloofde Land gestel word?
DIE boek Deuteronomium bevat ’n dinamiese boodskap vir Jehovah se volk. Nadat die kinders van Israel 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, het hulle nou op die drumpel van die Beloofde Land gestaan. Wat het vir hulle voorgelê? Voor watter unieke probleme sou hulle aan die ander kant van die Jordaan te staan kom? Wat sou Moses ten slotte vir die nasie sê? Ons kan ook vra: Waarom is dit vir ons wat vandag leef nuttig om die antwoorde op hierdie vrae te weet?
2. In watter besondere opsig is Deuteronomium belangrik?
2 Die antwoorde is te vinde in die woorde wat Moses gespreek het en wat hy in die vyfde boek van die Bybel, Deuteronomium, opgeteken het. Hoewel Deuteronomium baie dinge uit die voorgaande boeke herhaal, is hy op sy eie besondere wyse belangrik. Waarom? Die boek benadruk die goddelike boodskap, want dit is op ’n tydstip in die geskiedenis van Jehovah se volk voorsien toe hulle werklik dinamiese leierskap en positiewe riglyne nodig gehad het. Hulle het op die punt gestaan om die Beloofde Land onder ’n nuwe leier binne te gaan. Hulle het aanmoediging nodig gehad om verder te gaan, en terselfdertyd het hulle ’n goddelike waarskuwing nodig gehad sodat hulle die regte weg kon inslaan wat tot Jehovah se seën sou lei.
3. Wat beklemtoon Moses dwarsdeur Deuteronomium, en waarom is dit vandag vir ons belangrik?
3 In ooreenstemming met die behoefte is Moses kragtig deur Jehovah se gees beweeg om ’n direkte beroep op Israel te doen om gehoorsaam en getrou te wees. Dwarsdeur die hele boek beklemtoon hy dat Jehovah die allerhoogste God is, wat uitsluitlike toegewydheid eis en wat wil hê dat al die lede van sy volk ‘hom met hulle hele hart en met hulle hele siel en met al hulle krag moet liefhê’. Hy is “die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie”. Hy duld geen mededinging nie. Gehoorsaamheid aan hom beteken die lewe, ongehoorsaamheid, die dood. Jehovah se onderrig, soos gegee in Deuteronomium, was presies die voorbereiding en raad wat Israel nodig gehad het vir die gewigtige take wat op hulle gewag het. Dit is ook die soort vermaning wat ons vandag nodig het sodat ons in die vrees van Jehovah kan bly wandel en sy naam te midde van ’n verdorwe wêreld kan heilig.—Deut. 5:9, 10, vgl. NW; 6:4-6; 10:12-22.
4. Wat beteken die naam Deuteronomium, en wat is die doel van die boek?
4 Die naam Deuteronomium kom van die titel in die Griekse Septuagint-vertaling, Deu·te·ro·noʹmi·on, wat ’n kombinasie is van deuʹte·ros, wat “tweede” beteken, en noʹmos, wat “wet” beteken. Dit beteken derhalwe “Tweede Wet; Herhaling van die Wet”. Dit is afkomstig van die Griekse weergawe van die Hebreeuse uitdrukking misj·nêʹ hat·too·rahʹ in Deuteronomium 17:18, wat akkuraat weergegee word met ‘afskrif van die wet’. Maar ondanks die betekenis van die naam Deuteronomium is hierdie Bybelboek nie ’n tweede wet of ’n blote herhaling van die Wet nie. Dit is eerder ’n verklaring van die Wet wat Israel vermaan het om Jehovah lief te hê en te gehoorsaam in die Beloofde Land wat hulle weldra sou binnegaan.—1:5.
5. Wat bewys dat Moses die skrywer van Deuteronomium was?
5 Aangesien dit die vyfde rol, of volume, van die Pentateug is, moes die skrywer dieselfde gewees het as die skrywer van die voorgaande vier boeke, naamlik Moses. Die inleidende verklaring identifiseer Deuteronomium as “die woorde waarmee Moses die hele Israel toegespreek het”, en latere uitdrukkings soos “Moses het hierdie wet opgeskrywe” en ‘Moses het hierdie lied opgeskrywe’, bewys duidelik sy skrywerskap. Sy naam kom bykans 40 keer in die boek voor, gewoonlik as gesag vir die verklarings wat gedoen word. Die eerste persoon, wat op Moses betrekking het, word feitlik deurgaans gebruik. Die laaste verse is na Moses se dood bygevoeg, heel waarskynlik deur Josua of deur die hoëpriester Eleasar.—1:1; 31:9, 22, 24-26.
6. (a) Watter tydperk word in Deuteronomium gedek? (b) Omstreeks wanneer was die boek feitlik voltooi?
6 Wanneer het die gebeure van Deuteronomium plaasgevind? In die begin sê die boek self: “In die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek.” Na die voltooiing van die verslag in Deuteronomium neem die boek Josua die verslag op, drie dae voor die Jordaan oorgesteek is, wat “op die tiende van die eerste maand” gebeur het (Deut. 1:3; Jos. 1:11; 4:19). Dit laat ’n tydperk van twee maande en een week oor vir die gebeure van Deuteronomium. Dertig dae van hierdie tydperk van nege weke is egter in rou oor die dood van Moses deurgebring (Deut. 34:8). Dit beteken dat feitlik al die gebeure van Deuteronomium in die 11de maand van die 40ste jaar plaasgevind het. Teen die einde van daardie maand moes die boek feitlik ook klaar geskryf gewees het, want Moses het vroeg in die 12de maand van die 40ste jaar, of vroeg in 1473 v.G.J., gesterf.
7. Wat toon dat Deuteronomium eg is?
7 Die bewyse wat reeds vir die egtheid van die eerste vier boeke van die Pentateug aangevoer is, geld ook vir Deuteronomium, die vyfde boek. Dit is ook een van die vier boeke in die Hebreeuse Geskrifte wat die meeste in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal word; die ander is Genesis, Psalms en Jesaja. Daar is 83 sulke aanhalings, en slegs ses van die boeke in die Christelike Griekse Geskrifte sinspeel nie op Deuteronomium nie.a
8. Watter gegronde getuienis deur Jesus staaf die egtheid van Deuteronomium?
8 Jesus self lewer die kragtigste getuienis ter stawing van Deuteronomium. Aan die begin van sy bediening is hy drie keer deur die Duiwel versoek, en drie keer het hy daarop gereageer met die antwoord: “Daar is geskrywe.” Waar geskrywe? In die boek Deuteronomium (8:3; 6:16, 13), wat Jesus as sy geïnspireerde gesag aangehaal het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Matt. 4:1-11). Later, toe die Fariseërs hom oor God se gebooie op die proef kom stel het, het Jesus in antwoord daarop “die eerste en groot gebod” uit Deuteronomium 6:5 aangehaal (Matt. 22:37, 38; Mark. 12:30; Luk. 10:27). Jesus se getuienis stempel Deuteronomium op onweerlegbare wyse as eg.
9. Deur watter eksterne getuienis word Deuteronomium geregverdig?
9 Daarbenewens pas die gebeure en vertellings in die boek presies by die geskiedkundige situasie en die omgewing. Die verwysings na Egipte, Kanaän, Amalek, Ammon, Moab en Edom strook presies met die tye, en plekname word akkuraat aangegee.b Die argeologie bring nog steeds bewys na bewys van die getrouheid van Moses se geskrifte aan die lig. Henry H. Halley skryf: “Die argeologie het in die laaste tyd so prominent geword dat dit ’n besliste reaksie in die rigting van die konserwatiewe standpunt [dat Moses die Pentateug geskryf het] teweeggebring het. Die teorie dat skrif in Moses se dag onbekend was, is absoluut verouderd. En daar word elke jaar in Egipte, Palestina en Mesopotamië bewyse opgegrawe, in die vorm van inskripsies sowel as in grondlae, dat die verhale in die [Hebreeuse Skrifte] ware geskiedverslae is. En die ‘gesaghebbendes’ kry langsamerhand beslis meer eerbied vir die oorlewering dat Moses die skrywer is.”c Selfs eksterne getuienis bewys derhalwe dat Deuteronomium, sowel as die res van die Pentateug, ’n ware, egte verslag deur God se profeet Moses is.
INHOUD VAN DEUTERONOMIUM
10. Waaruit bestaan Deuteronomium?
10 Die boek bestaan hoofsaaklik uit ’n reeks toesprake wat Moses op die vlaktes van Moab, oorkant Jerigo, vir die kinders van Israel gehou het. Die eerste van hierdie toesprake eindig in hoofstuk 4, die tweede strek tot aan die einde van hoofstuk 26, die derde eindig met hoofstuk 28, en nog ’n toespraak strek tot aan die einde van hoofstuk 30. Nadat Moses die laaste reëlings met die oog op sy naderende dood getref het, onder meer om Josua as sy opvolger aan te stel, teken hy ’n besonder mooi lied tot lof van Jehovah op, gevolg deur ’n seën oor die stamme van Israel.
11. Hoe lei Moses sy eerste toespraak in?
11 Moses se eerste toespraak (1:1–4:49). Dit verskaf ’n historiese inleiding tot wat hierop volg. Moses gee eers ’n oorsig van Jehovah se getroue handelinge met Sy volk. Moses sê vir hulle om die land wat aan hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof is, in te gaan en in besit te neem. Hy verhaal hoe Jehovah die bedrywigheid van hierdie teokratiese gemeenskap aan die begin van die trek deur die woestyn gekoördineer het deur hom, Moses, wyse, verstandige en ervare manne te laat uitkies om as owerstes oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien op te tree. Onder Jehovah se waaksame oog was alles pragtig georganiseerd terwyl Israel ‘deur daardie hele groot en vreeslike woestyn getrek het’.—1:19.
12. Watter gebeure rondom die eerste verkenning van Kanaän bring hy vervolgens in herinnering?
12 Moses herinner hulle nou aan die wederstrewigheid waaraan hulle hulle skuldig gemaak het toe hulle die verslag gehoor het van die verkenners wat van Kanaän teruggekeer het en hulle gekla het dat Jehovah hulle haat omdat Hy, so het hulle hom beskuldig, hulle uit Egipteland uitgelei en hulle toe in die hande van die Amoriete laat val het. Weens hulle gebrek aan geloof het Jehovah vir daardie bose geslag gesê dat nie een van hulle, behalwe Kaleb en Josua, die goeie land sou sien nie. Daarop het hulle weer wederstrewig gehandel, want hulle het driftig geword en die vyand heeltemal op eie krag aangeval, met die gevolg dat die Amoriete hulle soos ’n swerm bye agtervolg en verstrooi het.
13. Op grond waarvan het Moses Josua van oorwinning verseker?
13 Hulle het in die woestyn in die rigting van die Rooi See getrek, en in die loop van 38 jaar het die hele geslag krygsmanne uitgesterf. Jehovah het hulle toe beveel om die Arnon oor te steek en die land ten noorde daarvan in besit te neem en gesê: “Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs” (2:25). Sihon en sy land het in die Israeliete se hande geval, en toe is Og se koninkryk in besit geneem. Moses het Josua verseker dat Jehovah op dieselfde wyse vir Israel sou stry om al die koninkryke te oorwin. Moses het God toe gevra of hy tog asseblief na die goeie land anderkant die Jordaan mag oortrek, maar Jehovah het dit steeds geweier en vir hom gesê om die bevel aan Josua oor te dra en hom te bemoedig en te versterk.
14. Watter nadruk lê Moses op God se Wet en op uitsluitlike toegewydheid?
14 Moses lê nou groot nadruk op God se Wet en waarsku dat niks by Sy gebooie gevoeg of daarvan weggelaat mag word nie. Ongehoorsaamheid sal rampspoedig wees: “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (4:9). Hulle het geen gedaante gesien toe Jehovah hulle die Tien Woorde onder vreeswekkende omstandighede by Horeb meegedeel het nie. Dit sal hulle ondergang beteken as hulle nou tot afgodediens en beeldaanbidding oorgaan, want, sê Moses, “Jehovah jou God is ’n verterende vuur, ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis” (4:24, NW). Dit was hý wat hulle voorvaders liefgehad en uitverkies het. Daar is geen ander God bo in die hemel of onder op die aarde nie. Gehoorsaam Hom, vermaan Moses, “dat jy die dae mag verleng in die land wat die HERE jou God jou vir altyd sal gee”.—4:40.
15. Watter reëling vir vrystede oos van die Jordaan word getref?
15 Na Moses hierdie kragtige toespraak afgesluit het, sonder hy Beser, Ramot en Golan af as vrystede oos van die Jordaan.
16. Wat beklemtoon Moses se tweede toespraak?
16 Moses se tweede toespraak (5:1–26:19). Dit is ’n oproep tot Israel om na Jehovah te luister, wat by Sinai van aangesig tot aangesig met hulle gespreek het. Let op hoe Moses die Wet herhaal met enkele noodsaaklike wysiginge wat dit geskik maak vir hulle nuwe lewe oorkant die Jordaan. Dit is nie ’n blote opsomming van bepalinge en verordeninge nie. Elke woord toon dat Moses se hart vol ywer vir en toegewydheid aan sy God is. Sy woorde is tot welsyn van die nasie. Gehoorsaamheid aan die Wet word deurgaans beklemtoon—gehoorsaamheid uit ’n liefdevolle hart, nie weens dwang nie.
17. Hoe moet Israel die liefde wat Jehovah aan hulle betoon het, beantwoord?
17 Eers herhaal Moses die Tien Woorde, die Tien Gebooie, en sê hy vir Israel om dit te gehoorsaam en nie na regs of na links af te wyk nie, sodat hulle hul dae in die land kan verleng en dat hulle baie, baie kan word. “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE” (6:4). Hulle moet Hom met hart, siel en lewenskrag liefhê, en die Israeliete moet hulle kinders leer en hulle vertel van die groot tekens en wonders wat Jehovah in Egipte gedoen het. Geen huweliksverbintenisse mag met die afgodsaanbiddende Kanaäniete aangegaan word nie. Jehovah het Israel gekies om sy spesiale eiendom te word, nie omdat hulle talryk is nie, maar omdat hy hulle liefhet en die eed wat hy vir hulle vaders gesweer het, wil hou. Israel moet die strik van demongodsdiens vermy, al die beelde in die land vernietig en trou bly aan Jehovah, waarlik “’n groot en gedugte God”.—7:21.
18. Waarteen vermaan Moses die Israeliete om te waak?
18 Jehovah het hulle 40 jaar lank in die woestyn verootmoedig, waardeur hy hulle geleer het dat die mens nie van manna of brood lewe nie, maar van elke uiting uit Jehovah se mond. Gedurende al daardie jare van tugtiging het hulle klere nie verslyt of hulle voete nie geswel nie. Nou staan hulle op die punt om ’n land van rykdom en oorvloed binne te gaan! Hulle moet egter oppas vir die strik van materialisme en dié van selfvoldaanheid en onthou dat dit Jehovah is wat ‘krag gee om rykdom te verwerf’ en wat die goddelose nasies verdrywe (8:18). Moses noem vervolgens geleenthede toe Israel God vertoorn het. Hulle moet onthou hoe Jehovah se toorn in die woestyn teen hulle ontvlam het, met plaag en vuur en verdelging! Hulle moet hulle verderflike aanbidding van die goue kalf onthou, wat tot Jehovah se grimmige toorn gelei het en tot gevolg gehad het dat die tafels van die Wet opnuut gemaak moes word! (Ex. 32:1-10, 35; 17:2-7; Num. 11:1-3, 31-35; 14:2-38). Nou moet hulle Jehovah tog seker dien en aanhang, hy wat hulle ter wille van hulle vaders liefgehad en hulle gemaak het “soos die sterre van die hemel in menigte”.—Deut. 10:22.
19. Watter keuse word duidelik gestel, en watter wette word vir die nasie uiteengesit?
19 Israel moet “al die gebooie” hou, en hulle moet Jehovah vir seker gehoorsaam, hom as hulle God liefhê en hom met hulle hele hart en met hulle hele siel dien (11:8, 13). Jehovah sal hulle steun en beloon as hulle hom gehoorsaam. Maar hulle moet hulle bes doen en hulle kinders ywerig onderrig. Die keuse waarvoor Israel staan, word duidelik gestel: Gehoorsaamheid lei tot seëninge, ongehoorsaamheid tot vervloeking. Hulle moet nie ‘agter ander gode aan loop nie’ (11:26-28). Moses sit dan spesifieke wette uiteen wat die Israeliete raak wanneer hulle optrek om die Beloofde Land in besit te neem. Daar is (1) wette rakende godsdiens en aanbidding; (2) wette oor regspleging, heerskappy en oorlogvoering; en (3) wette wat die private en maatskaplike lewe van die volk raak.
20. Watter punte beklemtoon die wette met betrekking tot aanbidding?
20 (1) Godsdiens en aanbidding (12:1–16:17). Wanneer die Israeliete die land binnegaan, moet elke spoor van valse godsdiens—sy hoogtes, altare, pilare, heilige boomstamme en beelde—heeltemal vernietig word. Israel mag slegs aanbid op die plek wat Jehovah hulle God kies om sy naam te vestig, en daar moet hulle hulle in hom verheug, hulle almal. Voorskrifte oor die eet van vleis en offers sluit herhaalde herinneringe in dat hulle nie bloed moet eet nie. “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie . . . Jy mag dit nie eet nie, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan as jy doen wat reg is in die oë van die HERE” (12:16, 23-25, 27; 15:23). Moses gaan nou oor tot ’n onomwonde veroordeling van afgodery. Israel moet nie eens verneem na die weë van valse godsdiens nie. As daar bewys word dat ’n profeet vals is, moet hy doodgemaak word, en afvalliges—selfs ’n geliefde familielid of vriend, ja, selfs hele stede—moet eweneens vernietig word. Dan volg voorskrifte oor rein en onrein voedsel, die betaling van tiendes en die onderhoud van die Leviete. Die belange van skuldenaars, die armes en slawe word liefdevol beskerm. Ten slotte gee Moses ’n oorsig van die jaarlikse feeste as geleenthede om Jehovah vir sy seën te dank: “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie.”—16:16.
21. Watter wette aangaande geregtigheid word gegee, en watter belangrike profesie spreek Moses uit?
21 (2) Geregtigheid, heerskappy en oorlogvoering (16:18–20:20). Moses gee eers die wette wat regters en opsigters raak. Geregtigheid is belangrik, want Jehovah haat omkoopgeskenke en die verdraaiing van die reg. Die prosedures om getuienis in te win en regsake te hanteer, word uiteengesit. “Op die verklaring van twee getuies of drie getuies moet die veroordeelde gedood word” (17:6). Wette rakende konings word gemeld. Voorsiening word vir die priesters en Leviete gemaak. Spiritisme word as ‘’n gruwel vir Jehovah’ verbied (18:12). Moses kyk ver in die toekoms en sê: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister” (18:15-19). ’n Valse profeet moet egter sterf. Hierdie gedeelte sluit af met wette op vrystede en bloedwraak, sowel as vereistes vir vrystelling van militêre diens en die reëls van oorlogvoering.
22. Wette op watter private en maatskaplike sake word bespreek?
22 (3) Private en maatskaplike lewe (21:1–26:19). Wette rakende die daaglikse lewe van die Israeliete word uiteengesit oor sake soos wanneer iemand dood aangetref word, huwelike met krygsgevange vroue, die eersgeboortereg, ’n wederstrewige seun, die ophang van ’n misdadiger aan ’n paal, die bewys van maagdelikheid, geslagsmisdrywe, kastrasie, buite-egtelike seuns, die behandeling van vreemdelinge, sanitasie, die betaling van rente en geloftes, egskeiding, ontvoering, lenings, lone en die insameling van oesoorblyfsels. ’n Man mag nie meer as 40 houe gegee word nie. ’n Bul mag nie gemuilband word wanneer hy dors nie. Die prosedure vir die swaershuwelik word uiteengesit. Akkurate gewigte moet gebruik word, want onregverdigheid is ’n gruwel vir Jehovah.
23. Wat toon Moses sal die gevolg wees as God se volk Sy gebooie gehoorsaam?
23 Voor Moses hierdie vurige toespraak afsluit, herinner hy die volk aan hoe Amalek die moeë Israeliete by die agterhoede aangeval het toe hulle uit Egipte gevlug het, en Moses beveel Israel om ‘die gedagtenis van Amalek onder die hemel uit te delg’ (25:19). Wanneer hulle in die land kom, moet hulle die eerstelinge van die land met gejuig offer, en hulle moet ook die tiendes offer met die dankbare gebed aan Jehovah: “Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel en die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met ’n eed beloof het, ’n land wat oorloop van melk en heuning” (26:15). As hulle al hierdie gebooie met hulle hele hart en siel uitvoer, sal Jehovah, van sy kant, ‘hulle die hoogste stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ’n lof en ’n roem en ’n sieraad, terwyl hulle ’n heilige volk aan Jehovah hulle God sal wees soos Hy beloof het’.—26:19.
24. Watter seëninge en vervloekinge word in die derde toespraak voor Israel gestel?
24 Moses se derde toespraak (27:1–28:68). Hierin som Moses, in samewerking met die oudstes van Israel en die priesters, Jehovah se vervloekinge weens ongehoorsaamheid en die seëninge weens getrouheid breedvoerig op. Vreesinboesemende waarskuwings word oor die vreeslike gevolge van ontrouheid gegee. Indien die Israeliete as sy heilige volk na die stem van Jehovah hulle God bly luister, sal hulle wonderlike seëninge geniet, en al die volke van die aarde sal sien dat Jehovah se naam oor hulle uitgeroep is. As hulle egter versuim om dit te doen, sal Jehovah “die vervloeking, die verwarring en die bedreiging” teen hulle stuur (28:20). Hulle sal deur walglike siekte, deur droogte en deur hongersnood getref word; hulle vyande sal hulle agtervolg en in slawerny bring, en hulle sal verstrooi en uit die land verdelg word. Hierdie vervloekinge, en nog ander, sal oor hulle kom as hulle “nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, [Jehovah, hulle] God, te vrees nie”.—28:58, vgl. NW.
25. (a) Watter verbond sluit Jehovah nou met Israel? (b) Watter keuse hou Moses aan die volk voor?
25 Moses se vierde toespraak (29:1–30:20). Jehovah sluit nou ’n verbond met Israel in Moab. Dit behels die Wet, soos deur Moses herhaal en uiteengesit, wat Israel sal rig wanneer hulle die Beloofde Land binnegaan. Die plegtige eed wat met die verbond gepaard gaan, beklemtoon die nasie se verantwoordelikhede. Ten slotte neem Moses die hemele en die aarde as getuies dat hy die lewe en die dood, die seën en die vloek, aan die volk voorhou, en hy vermaan: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om dit aan hulle te gee.”—30:19, 20.
26. Watter finale reëlings tref Moses voor sy dood?
26 Josua se aanstelling, en Moses se lied (31:1–32:47). Hoofstuk 31 vertel hoe Moses, nadat hy die Wet opgeskryf en instruksies oor die gereelde openbare voorlesing daarvan gegee het, die bevel aan Josua oordra en vir hom sê om vol moed en sterk te wees, en vertel dan hoe Moses ’n gedenklied komponeer en die woorde van die Wet klaar opskryf en reël dat dit langs die verbondsark van Jehovah geplaas word. Daarna spreek Moses die woorde van die lied voor die hele gemeente as ’n laaste vermaning.
27. Watter kragtige boodskap bevat Moses se lied?
27 Die eerste reëls van Moses se lied identifiseer die verfrissende Bron van sy onderrig en getuig inderdaad van groot waardering! “Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. Want die Naam van [Jehovah] roep ek uit.” Ja, skryf grootheid toe aan “onse God”, “die Rots” (32:2-4, vgl. NW). Maak bekend sy volmaakte werk, sy regverdige weë, en sy getrouheid, regverdigheid en opregtheid. Dit was skandelik dat Israel verderflik gehandel het, hoewel Jehovah hulle in ’n leë, huilende woestyn omring het, hulle soos sy oogappel bewaak het en soos ’n arend oor sy kleintjies oor hulle gesweef het. Hy het sy volk vet gemaak, hulle Jesurun, “Opregte”, genoem, maar hulle het met vreemde gode sy jaloesie gewek en “kinders in wie geen trou is nie”, geword (32:20). Wraak en vergelding kom Jehovah toe. Hy maak dood en lewend. Wanneer hy sy glinsterende swaard skerp maak en sy hand die strafgerig vasgryp, sal hy inderdaad wraak oefen op sy teenstanders. Watter vertroue behoort dit tog by sy volk in te boesem! Soos die lied in sy klimaks sê, is dit ’n tyd om te “jubel, o nasies [met] sy volk” (32:43, vgl. NW). Watter wêreldse digter kan ooit begin om die verhewe prag, krag en diepe betekenis van hierdie lied aan Jehovah te ewenaar?
28. Hoe word Jehovah in Moses se finale seën verheerlik?
28 Moses se finale seën (32:48–34:12). Moses ontvang nou finale instruksies in verband met sy dood, maar sy teokratiese diens is nog nie klaar nie. Eers moet hy Israel seën, en hierdeur verheerlik hy weer eens Jehovah, die Koning in Jesurun, wat met sy heilige tienduisende in ligglans verskyn. Die stamme word by name genoem en ontvang afsonderlik seëninge, en dan loof Moses Jehovah as die Uitnemende: “Die ewige God is ’n woning [“skuilplek”, NW], en onder—ewige arms” (33:27). Uit ’n hart wat oorloop van waardering spreek hy sy laaste woorde tot die nasie: “Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ’n Volk wat deur die HERE verlos is.”—33:29.
29. In watter opsigte was Moses uitsonderlik?
29 Nadat Moses die Beloofde Land vanaf die berg Nebo gesien het, sterf hy, en Jehovah begrawe hom in Moab; sy graf is tot vandag toe onbekend en ongeëerd. Hy het 120 jaar oud geword, maar “sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie”. Jehovah het hom gebruik om groot tekens en wonders te doen, en soos die laaste hoofstuk meld, het daar nog nie ‘in Israel ’n profeet opgestaan soos Moses, vir wie Jehovah van aangesig tot aangesig geken het nie’.—34:7, 10.
WAAROM NUTTIG
30. Hoe vorm Deuteronomium ’n gepaste slot vir die Pentateug?
30 As die laaste boek van die Pentateug smee Deuteronomium alles saam wat tevore in verband met die bekendmaking en heiliging van die groot naam van Jehovah God gebeur het. Hy alleen is God, wat uitsluitlike toegewydheid eis en geen mededinging deur demongode van valse godsdiensaanbidding duld nie. Vandag moet alle Christene ernstige aandag skenk aan die grootse beginsels wat God se wet ten grondslag lê en hom gehoorsaam sodat hulle sy vloek sal vryspring wanneer hy sy glinsterende swaard skerp maak vir die voltrekking van wraak aan sy teenstanders. Sy grootste en eerste gebod moet die wegwyser in hulle lewe word: “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”—6:5.
31. Hoe word daar in ander geïnspireerde geskrifte na Deuteronomium verwys om waardering vir God se voornemens te verdiep?
31 In die res van die Skrif word daar dikwels na Deuteronomium verwys om waardering vir die goddelike voornemens te verdiep. Benewens Jesus se aanhalings om die Versoeker te antwoord, het hy by baie ander geleenthede daarna verwys (Deut. 5:16—Matt. 15:4; Deut. 17:6—Matt. 18:16 en Joh. 8:17). Dit is selfs nog in Openbaring die geval, waar die verheerlikte Jesus ten slotte waarsku dat niks by die boekrol van Jehovah se profesie gevoeg of daarvan weggeneem mag word nie (Deut. 4:2—Openb. 22:18). Petrus haal uit Deuteronomium aan om krag te verleen aan sy sterk argument dat Jesus die Christus is sowel as die Profeet wat groter as Moses is wat Jehovah beloof het om in Israel te verwek (Deut. 18:15-19—Hand. 3:22, 23). Paulus haal daaruit aan in verband met beloninge vir arbeiders, grondige ondersoek aan die hand van getuies se verklarings en die onderrigting van kinders.—Deut. 25:4—1 Kor. 9:8-10 en 1 Tim. 5:17, 18; Deut. 13:14 en 19:15—1 Tim. 5:19 en 2 Kor. 13:1; Deut. 5:16—Ef. 6:2, 3.
32. In watter opsig is Josua, Gideon en die profete goeie voorbeelde vir ons?
32 Nie net die skrywers van die Christelike Geskrifte nie, maar ook God se knegte van voorchristelike tye het onderrig en aanmoediging uit Deuteronomium gekry. Dit sal vir ons goed wees om hulle voorbeeld te volg. Dink aan die stipte gehoorsaamheid van Moses se opvolger, Josua, tydens die inval van Kanaän toe hy verowerde stede vernietig het en geen buit geneem het soos Agan nie (Deut. 20:15-18 en 21:23—Jos. 8:24-27, 29). Toe Gideon dié wat ‘bang was en gebewe het’ uit sy leër weggestuur het, was dit in gehoorsaamheid aan die Wet (Deut. 20:1-9—Rigt. 7:1-11). Dit was uit getrouheid aan die wet van Jehovah dat die profete in Israel en Juda vrymoedig en onbevrees veroordelinge oor afvallige nasies uitgespreek het. Amos is ’n uitstekende voorbeeld hiervan (Deut. 24:12-15—Amos 2:6-8). Ja, daar is letterlik honderde voorbeelde wat Deuteronomium met die res van God se Woord verbind, wat toon dat dit ’n integrerende en nuttige deel van die harmoniese geheel is.
33. (a) Hoe adem Deuteronomium lof tot Jehovah? (b) Wat toon die bygaande tabel ten opsigte van die wêreldse nasies se erkenning van die beginsels van God se wet?
33 Die hele gees van Deuteronomium adem lof tot die Soewereine God, Jehovah. Die hele boek beklemtoon: ‘Aanbid Jehovah; gee hom uitsluitlike toegewydheid.’ Hoewel die Wet nie meer vir Christene bindend is nie, is die onderliggende beginsels daarvan nog nie afgeskaf nie (Gal. 3:19). Hoeveel kan ware Christene tog nie leer uit hierdie dinamiese boek van God se wet met sy progressiewe onderrig, openhartigheid en eenvoudige styl nie! Ja, selfs die nasies van die wêreld het die uitnemendheid van Jehovah se oortreffende wet erken en baie van die voorskrifte van Deuteronomium in hulle wetboeke opgeneem. Die bygaande tabel verstrek interessante voorbeelde van wette wat hulle oorgeneem of in beginsel toegepas het.
34. Watter verband is daar tussen hierdie “Herhaling van die Wet” en God se Koninkryk?
34 Daarbenewens wys hierdie verklaring van die Wet vooruit na God se Koninkryk en verhoog dit ons waardering daarvoor. Hoe? Toe die aangewese Koning, Jesus Christus, op aarde was, was hy deeglik vertroud met die boek en het hy dit toegepas, soos sy bekwame verwysings daarna toon. Wanneer hy sy Koninkryksheerskappy oor die hele aarde uitbrei, sal hy ooreenkomstig die juiste beginsels van hierdie einste “wet” regeer, en almal wat kom om hulle in hom as die Koninkryk-“saad” te seën, sal hierdie beginsels móét gehoorsaam (Gen. 22:18, NW; Deut. 7:12-14). Dit is nuttig en voordelig om hulle nou te begin gehoorsaam. Hierdie 3 500 jaar oue “wet”, wat nog lank nie verouderd is nie, spreek vandag tot ons in dinamiese klanke, en dit sal aanhou spreek tot in die nuwe wêreld onder God se Koninkryk. Mag Jehovah se naam steeds onder sy volk geheilig word deur die toepassing van al die nuttige onderrig in die Pentateug, wat so ’n glorieryke klimaks in Deuteronomium bereik—gewis ’n geïnspireerde en inspirerende deel van “die hele Skrif”!
[Voetnote]
a Sien die lys “Aanhalings uit die Ou Testament” in The New Testament in Original Greek, deur B. F. Westcott en F. J. A. Hort, 1956, bladsye 601-18.
b Deuteronomium 3:9, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
c Halley’s Bible Handbook, 1988, Henry H. Halley, bladsy 56.
[Tabel op bladsy 41]
ENKELE REGSPRESEDENTE IN DEUTERONOMIUMd
I. Persoonlike en gesinswette Hoofstukke en verse
A. Persoonlike verhoudinge
1. Ouers en kinders 5:16
2. Huweliksbetrekkinge 22:30; 27:20, 22, 23
3. Egskeidingswette 22:13-19, 28, 29
B. Eiendomsregte 22:1-4
II. Konstitusionele wette
A. Kwalifikasies en pligte
van die koning 17:14-20
B. Militêre voorskrifte
2. Opsigters 20:9
III. Die regterlike mag
A. Pligte van regters 16:18, 20
B. Die hoogste appèlhof 17:8-11
IV. Die strafreg
A. Misdade teen die staat
1. Omkopery, regsverdraaiing 16:19, 20
2. Meineed 5:20
B. Sedemisdrywe
2. Onwettige huwelike 22:30; 27:20, 22, 23
C. Misdade teen die persoon
1. Moord en aanranding 5:17; 27:24
2. Verkragting en verleiding 22:25-29
V. Humane wette
A. Goedheid teenoor diere 25:4; 22:6, 7
C. Veiligheidskode vir bouwerk 22:8
D. Behandeling van afhanklike
klasse, met inbegrip van 15:12-15; 21:10-14;
slawe en gevangenes 27:18, 19
E. Filantropiese voorsienings 14:28, 29; 15:1-11;
vir die behoeftiges 16:11, 12; 24:19-22
[Voetnoot]
d Israel’s Laws and Legal Precedents, 1907, C. F. Kent, bladsye vii tot xviii; sien ook Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 214-20.