Numeri
11 En die volk het bitterlik begin kla voor Jehovah. Toe Jehovah dit hoor, het hy woedend geword. En Jehovah het vuur onder hulle ingestuur, en dit het party aan die rand van die kamp verteer. 2 Toe die volk na Moses begin roep het om hulle te help, het hy ’n smeekgebed tot Jehovah gedoen,+ en die vuur het doodgegaan. 3 Daarom is daardie plek Tabeʹra* genoem, omdat Jehovah vuur onder hulle ingestuur het.+
4 Die gemengde skare*+ wat onder hulle was, het toe selfsugtige begeertes+ uitgespreek, en die Israeliete het ook begin huil en gesê: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet?+ 5 Ons verlang so na die vis wat ons verniet in Egipte geëet het, en na die komkommers, die waatlemoene, die preie, die uie en die knoffel!+ 6 Maar nou teer ons uit. Nou moet ons net in hierdie manna vaskyk.”+
7 Terloops, die manna+ was soos koljandersaad,+ en dit het soos balsemgom gelyk. 8 Die volk het uitgegaan en dit opgetel en dit in handmeule gemaal of in ’n vysel fyngestamp. Dan het hulle dit in kookpotte gekook of ronde brode daarvan gemaak,+ en dit het soos ’n soet oliekoek gesmaak. 9 Wanneer die dou in die nag op die kamp geval het, het die manna ook geval.+
10 Moses het die volk hoor huil, die een familie ná die ander, elke man by die ingang van sy tent. En Jehovah het baie kwaad geword,+ en Moses was ook baie ontsteld. 11 Toe het Moses vir Jehovah gesê: “Hoekom het u u kneg laat swaarkry? Hoekom geniet ek nie u goedkeuring nie? Hoekom het u die las van hierdie hele volk op my geplaas?+ 12 Het ek met hierdie hele volk swanger geword? Het ek aan hulle geboorte gegee, sodat u vir my sê: ‘Dra hulle in die voue van jou kleed, soos ’n oppasser ’n baba dra,’ na die land wat u aan hulle voorvaders met ’n eed belowe het?+ 13 Waar gaan ek vleis kry om vir hierdie hele volk te gee? Want hulle bly by my huil en sê: ‘Gee vir ons vleis om te eet!’ 14 Ek kan nie hierdie hele volk alleen dra nie. Dit is te veel vir my.+ 15 As u dit van my verwag, maak my sommer nou dadelik dood, asseblief.+ Wees genadig teenoor my en moet my nie nog meer rampspoed laat sien nie.”
16 Jehovah het Moses geantwoord: “Kry vir my 70 manne van die ouermanne van Israel bymekaar, manne wat jy weet ouermanne en beamptes van die volk+ is, en neem hulle na die tent van samekoms, en laat hulle daar by jou staan. 17 Ek sal neerdaal+ en daar met jou praat,+ en ek sal van die gees+ wat op jou is, wegneem en dit op hulle plaas, en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.+ 18 Jy moet vir die volk sê: ‘Heilig julle vir môre,+ want julle sal beslis vleis eet, want julle het in Jehovah se ore gehuil+ en gesê: “Wie gaan vir ons vleis gee om te eet? Dit was vir ons beter in Egipte.”+ Jehovah sal beslis vir julle vleis gee, en julle sal eet.+ 19 Julle sal eet, nie een dag of 2 dae of 5 dae of 10 dae of 20 dae nie, 20 maar ’n hele maand lank, totdat dit by julle ore* uitkom en julle siek en sat word daarvoor,+ want julle het Jehovah, wat by julle is, verwerp, en julle het voor hom gehuil en gesê: “Hoekom het ons Egipte verlaat?”’”+
21 Toe het Moses gesê: “Daar is 600 000 manne* onder hierdie volk,+ en tog het u gesê: ‘Ek sal vir hulle vleis gee, genoeg vir ’n hele maand’! 22 Sal dit vir hulle genoeg wees as hele kuddes en troppe geslag word? Of sal dit vir hulle genoeg wees as al die visse van die see vir hulle gevang word?”
23 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Is die hand van Jehovah te kort?+ Nou sal jy sien of wat ek sê, sal gebeur of nie.”
24 Daarna het Moses uitgegaan en Jehovah se woorde aan die volk oorgedra. En hy het 70 manne uit die ouermanne van die volk bymekaargeroep en hulle rondom die tent laat staan.+ 25 Toe het Jehovah in ’n wolk neergedaal+ en met hom gepraat+ en van die gees+ wat op hom was, weggeneem en dit op elkeen van die 70 ouermanne geplaas. En toe die gees op hulle kom, het hulle soos profete begin optree,*+ maar hulle het dit net hierdie een keer gedoen.
26 Twee van die manne was nog in die kamp. Hulle name was Eldad en Medad. En die gees het op hulle gekom omdat hulle onder dié was wie se name neergeskryf was, maar hulle het nie na die tent uitgegaan nie. Toe het hulle soos profete begin optree in die kamp. 27 En ’n jong man het gehardloop en vir Moses gesê: “Eldad en Medad tree op soos profete in die kamp!” 28 Toe het Josua,+ die seun van Nun, wat Moses van jongs af gedien het, geantwoord en gesê: “My heer Moses, keer hulle!”+ 29 Maar Moses het vir hom gesê: “Is jy jaloers ter wille van my? Nee, ek wens dat Jehovah se hele volk profete was en dat Jehovah sy gees op hulle sou plaas!” 30 Later het Moses saam met die ouermanne van Israel na die kamp teruggekeer.
31 Toe het ’n wind wat deur Jehovah gestuur is, opgekom en kwartels van die see af gewaai en hulle om die kamp op die grond laat val,+ ongeveer ’n dagreis ver in alle rigtings, reg rondom die kamp, ongeveer twee el* diep. 32 Toe het die volk daardie hele dag en hele nag en die hele volgende dag wakker gebly en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het ten minste tien homer* bymekaargemaak, en hulle het dit rondom die kamp bly uitsprei. 33 Maar terwyl die vleis nog in hulle mond was, voordat dit gekou kon word, het Jehovah se woede teen die volk opgevlam, en Jehovah het die volk met ’n baie groot slagting getref.+
34 Hulle het daardie plek dus Kibʹrot-Hattaʹäwa*+ genoem, want daar het hulle die mense begrawe wat selfsugtige begeertes geopenbaar het.+ 35 Van Kibʹrot-Hattaʹäwa af het die volk weggetrek na Haʹserot, en hulle het in Haʹserot gebly.+