Lukas
15 En al die belastinggaarders+ en die sondaars+ het na hom toe bly kom om na hom te luister. 2 Gevolglik het die Fariseërs sowel as die skrifgeleerdes aanhoudend gebrom en gesê: “Hierdie man verwelkom sondaars en eet saam met hulle.”+ 3 Toe het hy vir hulle hierdie illustrasie vertel en gesê: 4 “Watter man onder julle wat honderd skape het, sal nie, wanneer hy een van hulle verloor, die nege-en-negentig in die wildernis laat staan en die een wat verlore is, gaan soek totdat hy dit vind nie?+ 5 En wanneer hy dit gevind het, sit hy dit met blydskap op sy skouers.+ 6 En wanneer hy by die huis kom, roep hy sy vriende en sy bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap gevind wat verlore was.’+ 7 Ek sê vir julle dat daar net so in die hemel meer vreugde sal wees oor een sondaar wat berou het+ as oor nege-en-negentig regverdiges wat geen berou nodig het nie.+
8 “Of watter vrou wat tien dragmas het, steek nie, as sy een dragma verloor, ’n lamp aan en vee haar huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit vind nie? 9 En wanneer sy dit gevind het, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het die dragma gevind wat ek verloor het.’ 10 Net so, sê ek vir julle, ontstaan daar vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het.”+
11 Toe het hy gesê: “’n Sekere man het twee seuns gehad.+ 12 En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’+ Toe het hy sy middele vir lewensonderhoud tussen hulle verdeel.+ 13 Later, nie baie dae daarna nie, het die jongste seun alles bymekaargemaak en na die buiteland gereis, na ’n ver land, en daar sy eiendom verkwis deur ’n losbandige lewe te lei.+ 14 Toe hy alles deurgebring het, het daar ’n swaar hongersnood in daardie hele land voorgekom, en hy het gebrek begin ly. 15 Hy het hom selfs aan een van die burgers van daardie land gaan verbind, en hy het hom na sy veld gestuur om varke op te pas.+ 16 En hy het begeer om versadig te word met die karobpeule wat die varke geëet het, en niemand het hom enigiets gegee nie.+
17 “Toe hy tot besinning kom, het hy gesê: ‘Hoeveel huurlinge van my vader het brood in oorvloed, terwyl ek hier van die honger vergaan! 18 Ek sal opstaan en na my vader toe reis+ en vir hom sê: “Vader, ek het teen die hemel en teen u gesondig.+ 19 Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.”’ 20 En hy het opgestaan en na sy vader toe gegaan. Terwyl hy nog ’n hele ent weg was, het sy vader hom gesien en is hy ontroer deur innige jammerte, en hy het gehardloop en hom om die hals geval en hom teer gesoen. 21 Daarop het die seun vir hom gesê: ‘Vader, ek het teen die hemel en teen u gesondig.+ Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.’+ 22 Maar die vader het vir sy slawe gesê: ‘Maak gou! Bring ’n kleed, die beste, en trek dit vir hom aan,+ en sit ’n ring+ aan sy hand en sandale aan sy voete. 23 En bring die vetgemaakte+ jong bul, slag dit en laat ons eet en vrolik wees, 24 want hierdie seun van my was dood en het weer lewend geword;+ hy was verlore en is gevind.’ En hulle het vrolik begin word.
25 “En sy oudste seun+ was op die land; en toe hy kom en die huis nader, het hy ’n musiekkonsert en gedans gehoor. 26 Toe het hy een van die knegte na hom toe geroep en gevra wat hierdie dinge beteken. 27 Hy het vir hom gesê: ‘U broer het gekom,+ en u vader+ het die vetgemaakte jong bul geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.’ 28 Maar hy het toornig geword en wou nie ingaan nie. Toe het sy vader uitgekom en hom begin soebat.+ 29 Hy het geantwoord en vir sy vader gesê: ‘Kyk, ek dien u al soveel jare soos ’n slaaf en ek het nog nooit u gebod oortree nie, en tog het u nog nooit vir my ’n boklam gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.+ 30 Maar die oomblik toe hierdie seun+ van u wat u middele vir lewensonderhoud saam met hoere opgeëet het,+ hier aankom, het u die vetgemaakte jong bul vir hom geslag.’+ 31 Toe het hy vir hom gesê: ‘Kind, jy was altyd by my, en alles wat myne is, is joune;+ 32 maar ons moes eenvoudig vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het lewend geword, en hy was verlore en is gevind.’”+