Die tweede boek van Konings
6 Die seuns van die profete+ het vir Eliʹsa gesê: “Die plek waar ons saam met u woon, is te klein vir ons. 2 Laat ons asseblief na die Jordaanrivier gaan. Laat elkeen van ons ’n stomp daar gaan haal en daar vir ons ’n plek maak om in te woon.” Hy het gesê: “Gaan.” 3 Een van hulle het gesê: “Kom asseblief saam met u knegte.” Hy het gesê: “Goed, ek sal saamkom.” 4 Toe het hy saam met hulle gegaan, en hulle het by die Jordaanrivier aangekom en bome begin afkap. 5 Terwyl een van hulle besig was om ’n boom af te kap, het die bylkop in die water geval. Hy het uitgeroep: “Ag, my meester, dit was ’n geleende byl!” 6 Die man van die ware God het gevra: “Waar het dit geval?” Hy het vir hom die plek gewys. Eliʹsa het toe ’n stuk hout afgekap en dit daar gegooi, en dit het die bylkop laat dryf. 7 Hy het gesê: “Haal dit uit.” Toe het hy sy hand uitgesteek en dit geneem.
8 Die koning van Sirië het teen Israel gaan oorlog voer.+ Hy het met sy knegte vergader en vir hulle gesê waar hulle saam met hom moes kamp opslaan. 9 Die man van die ware God+ het ’n boodskap aan die koning van Israel gestuur en gesê: “Moenie by daardie plek verbygaan nie, want die Siriërs is op pad daarnatoe.” 10 En die koning van Israel het ’n waarskuwing gestuur na die plek wat die man van die ware God genoem het. Eliʹsa het aangehou om die koning te waarsku, en die koning het daardie plekke vermy. Dit het verskeie kere gebeur.+
11 Dit het die koning* van Sirië baie kwaad gemaak, en hy het sy knegte bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Sê vir my: Wie van ons is aan die koning van Israel se kant?” 12 Toe het een van sy knegte gesê: “Nie een van ons nie, my heer die koning! Dit is die profeet Eliʹsa in Israel wat vir die koning van Israel vertel wat u in u slaapkamer sê.”+ 13 Hy het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, sodat ek manne kan stuur om hom te vang.” Later is daar vir hom gesê: “Hy is in Dotan.”+ 14 Hy het dadelik perde en strydwaens en ’n groot leërmag daarheen gestuur. Hulle het in die nag daar aangekom en die stad omsingel.
15 Toe die dienaar van die man van die ware God vroeg opstaan en buitentoe gaan, het hy gesien dat ’n leërmag met perde en strydwaens die stad omsingel. Toe het sy dienaar vir hom gesê: “Ag, my meester! Wat gaan ons doen?” 16 Maar hy het gesê: “Moenie bang wees nie!+ Want daar is meer by ons as wat daar by hulle is.”+ 17 Eliʹsa het toe gebid en gesê: “O Jehovah, maak asseblief sy oë oop sodat hy kan sien.”+ Jehovah het dadelik die dienaar se oë oopgemaak, en hy het gesien dat die bergstreek rondom Eliʹsa+ vol perde en strydwaens van vuur+ was.
18 Toe die Siriërs na hom toe begin kom, het Eliʹsa tot Jehovah gebid en gesê: “Laat hierdie nasie asseblief blind word.”+ Toe het hy hulle blind laat word, net soos Eliʹsa gevra het. 19 Eliʹsa het toe vir hulle gesê: “Dit is nie die pad nie, en dit is nie die stad nie. Volg my, en laat ek julle lei na die man wat julle soek.” Maar hy het hulle na Samariʹa+ gelei.
20 Toe hulle in Samariʹa aankom, het Eliʹsa gesê: “O Jehovah, maak hulle oë oop sodat hulle kan sien.” En Jehovah het hulle oë oopgemaak, en hulle het gesien dat hulle in die middel van Samariʹa is. 21 Toe die koning van Israel hulle sien, het hy vir Eliʹsa gevra: “Moet ek hulle doodmaak? Moet ek hulle doodmaak, my vader?” 22 Maar hy het gesê: “Jy moet hulle nie doodmaak nie. Sou jy dié doodmaak wat jy met jou swaard en met jou boog gevange geneem het? Gee vir hulle kos* en water sodat hulle kan eet en drink+ en na hulle heer toe kan teruggaan.” 23 Toe het hy vir hulle ’n groot feesmaal gehou, en hulle het geëet en gedrink, en daarna het hy hulle na hulle heer toe teruggestuur. En die rowerbendes van die Siriërs+ het nooit weer in die land van Israel ingekom nie.
24 Daarna het Ben-Hadad, die koning van Sirië, sy hele leërmag* bymekaargeroep en Samariʹa+ gaan beleër. 25 Gevolglik het daar ’n groot hongersnood+ in Samariʹa ontstaan. Hulle het dit so lank beleër dat ’n donkie se kop+ later 80 silwerstukke werd was, en ’n kwart kab* duiwemis 5 silwerstukke. 26 Toe die koning van Israel op die muur verbygegaan het, het ’n vrou na hom toe uitgeroep: “Help ons, my heer die koning!” 27 Hy het geantwoord: “As Jehovah jou nie help nie, hoe kan ek jou dan help? Is daar nog enigiets op die dorsvloer of in die wynpers of oliepers?” 28 Die koning het vir haar gevra: “Wat is fout?” Sy het geantwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, en môre sal ons my seun eet.’+ 29 Toe het ons my seun gekook en hom geëet.+ Die volgende dag het ek vir haar gesê: ‘Gee jou seun dat ons hom kan eet.’ Maar sy het haar seun weggesteek.”
30 Toe die koning die vrou se woorde hoor, het hy sy klere geskeur.+ En terwyl hy op die muur verbygegaan het, het die mense gesien dat hy saklinne onder sy klere* dra. 31 Hy het toe gesê: “Mag God my swaar straf* as die kop van Eliʹsa, die seun van Safat, vandag op hom bly!”+
32 Eliʹsa het in sy huis gesit, en die ouermanne het by hom gesit. Die koning het ’n boodskapper voor hom uit gestuur, maar voordat die boodskapper daar aangekom het, het Eliʹsa vir die ouermanne gesê: “Het julle gesien hoe hierdie seun van ’n moordenaar+ beveel het dat my kop afgekap moet word? As julle die boodskapper sien kom, moet julle die deur toemaak, en julle moet die deur toedruk sodat hy nie kan inkom nie. Hoor julle nie die geluid van sy heer se voetstappe kort agter hom nie?” 33 Terwyl hy nog met hulle gepraat het, het die boodskapper na hom toe gekom. Toe het die koning gekom en gesê: “Hierdie rampspoed kom van Jehovah af. Hoekom moet ek nog langer op Jehovah wag?”