Genesis
31 Ná verloop van tyd het hy gehoor dat die seuns van Laban sê: “Jakob het alles geneem wat aan ons pa behoort het, en hy het ons pa se besittings gebruik om al hierdie rykdom bymekaar te maak.”+ 2 Wanneer Jakob na Laban se gesig gekyk het, het hy gesien dat sy gesindheid teenoor hom nie meer dieselfde was nie.+ 3 Uiteindelik het Jehovah vir Jakob gesê: “Keer terug na die land van jou vaders en jou familielede,+ en ek sal met jou wees.” 4 Toe het Jakob ’n boodskap aan Ragel en Lea gestuur om na die veld te kom waar sy kleinvee was, 5 en hy het vir hulle gesê:
“Ek het gesien dat julle pa se gesindheid teenoor my verander het,+ maar die God van my pa was met my.+ 6 Julle weet goed dat ek met al my krag vir julle pa gewerk het.+ 7 En julle pa het my probeer bedrieg, en hy het my betaling tien keer verander, maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie. 8 Wanneer hy gesê het: ‘Die gespikkelde lammers sal jou betaling wees,’ dan het al die kleinvee gespikkelde lammers gekry, maar wanneer hy gesê het: ‘Die gestreepte lammers sal jou betaling wees,’ dan het al die kleinvee gestreepte lammers gekry.+ 9 So het God julle pa se kleinvee bly wegneem en dit aan my gegee. 10 Eenkeer, toe die kleinvee op hitte gekom het, het ek opgekyk en in ’n droom gesien dat die bokramme wat met die ooie gepaar het, gestreep, gespikkeld en gevlek is.+ 11 Toe het die engel van die ware God vir my in die droom gesê: ‘Jakob!’ En ek het gesê: ‘Hier is ek.’ 12 En hy het verder gesê: ‘Kyk asseblief op en sien dat al die bokramme wat met die ooie paar, gestreep, gespikkeld en gevlek is, want ek het alles gesien wat Laban aan jou doen.+ 13 Ek is die ware God van Bet-El,+ waar jy ’n pilaar gesalf het en waar jy ’n gelofte aan my gemaak het.+ Staan nou op, gaan uit hierdie land uit en keer terug na jou geboorteland.’”+
14 Toe het Ragel en Lea hom geantwoord: “Is daar enige erfdeel vir ons oor in ons pa se huis? 15 Hy beskou ons mos as uitlanders, want hy het ons verkoop en is besig om die geld op te gebruik wat hy vir ons ontvang het.+ 16 Al die rykdom wat God van ons pa weggeneem het, behoort aan ons en aan ons kinders.+ Doen dan nou alles wat God vir jou gesê het om te doen.”+
17 Daarna het Jakob sy kinders en sy vrouens op die kamele laat klim,+ 18 en hy het sy hele kudde geneem, sowel as al die goedere wat hy bymekaargemaak het+ en die kleinvee wat hy in Paddan-Aram verkry het, en hy het vertrek om na sy pa, Isak, in die land Kanaän, te gaan.+
19 Terwyl Laban sy skape gaan skeer het, het Ragel die terafim-beeldjies*+ gesteel wat aan haar pa behoort het.+ 20 Jakob was slim en het Laban, die Arameër, nie vertel dat hy gaan vlug nie. 21 Hy het gevlug, en hy het deur die Rivier*+ getrek met alles wat hy gehad het. Daarna het hy in die rigting van die bergstreek van Giʹlead+ gegaan. 22 Op die derde dag het Laban gehoor dat Jakob gevlug het. 23 Toe het hy sy broers* saam met hom geneem en hom agternagesit, en hy het hom ná ’n reis van sewe dae in die bergstreek van Giʹlead ingehaal. 24 En God het in die nag in ’n droom+ vir Laban, die Arameër,+ gesê: “Pasop wat jy vir Jakob sê.”*+
25 Jakob het sy tent in die bergstreek van Giʹlead opgeslaan, en Laban en sy broers het in dieselfde gebied kamp opgeslaan. Laban het toe na Jakob gegaan 26 en vir hom gesê: “Wat het jy gedoen? Hoekom het jy my bedrieg en my dogters ontvoer soos gevangenes wat deur die swaard weggeneem is? 27 Hoekom het jy in die geheim gevlug en my bedrieg en my nie vertel nie? As jy my vertel het, kon ek jou met vreugde en liedere, met die tamboeryn en die harp weggestuur het. 28 Maar jy het my nie ’n kans gegee om my kleinkinders* en my dogters te soen nie. Wat jy gedoen het, was baie dom. 29 Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van julle voorvader het gisteraand met my gepraat en gesê: ‘Pasop wat jy vir Jakob sê.’+ 30 Jy het weggegaan omdat jy na die huis van jou pa verlang, maar hoekom het jy dan my gode gesteel?”+
31 Jakob het Laban geantwoord: “Dit was omdat ek bang was, want ek het vir myself gesê: ‘U sal dalk u dogters met geweld van my af wegneem.’ 32 Die persoon by wie u gode gevind word, sal nie bly lewe nie. Kyk deur my besittings hier in die teenwoordigheid van ons broers, en neem wat aan u behoort.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. 33 Laban het toe in Jakob se tent en in Lea se tent en in die twee slavinne+ se tent ingegaan, maar hy het dit nie gevind nie. Toe het hy uit Lea se tent uitgekom en in Ragel se tent ingegaan. 34 Intussen het Ragel die terafim-beeldjies geneem en dit weggesteek in ’n saalmandjie wat vrouens gebruik wanneer hulle op ’n kameel ry, en sy het daarop gesit. Toe het Laban die hele tent deursoek, maar hy het dit nie gevind nie. 35 Sy het toe vir haar pa gesê: “Moenie kwaad wees nie, Pa. Ek kan nie nou opstaan nie, want ek ondervind wat vrouens gereeld ondervind.”+ Toe het hy deeglik verder gesoek, maar hy het nie die terafim-beeldjies gevind nie.+
36 Jakob het kwaad geword en Laban begin kritiseer. Hy het vir Laban gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen, en watter sonde het ek gepleeg dat u my so agtervolg? 37 Noudat u al my goed deursoek het, wat het u gevind wat aan u huis behoort? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle tussen ons twee oordeel. 38 Gedurende die 20 jaar dat ek by u was, het u skape en u bokke nooit ’n misgeboorte gehad nie,+ en ek het nooit die skaapramme van u kleinvee geëet nie. 39 Ek het nooit ’n dier na u toe gebring wat deur wilde diere verskeur is nie.+ Ek het dit altyd self vervang. Of die dier nou in die dag of in die nag gesteel is, u het vergoeding van my geëis. 40 In die dag het die hitte my verteer, en in die nag het ek baie koud gekry, en dikwels kon ek nie slaap nie.+ 41 Ek is nou al 20 jaar in u huis. Ek het u 14 jaar gedien vir u twee dogters, en 6 jaar vir u kleinvee, en u het my betaling tien keer verander.+ 42 As die God van my vader,+ die God van Abraham en die Een wat deur Isak gevrees word,*+ nie aan my kant was nie, sou u my nou met leë hande weggestuur het. God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het, en dit is hoekom hy u gisteraand tereggewys het.”+
43 Toe het Laban Jakob geantwoord: “Die dogters is my dogters en die kinders is my kinders en die kleinvee is my kleinvee, en alles waarna jy kyk, is myne en my dogters s’n. Hoe kan ek hulle of hulle kinders seermaak? 44 Kom dan nou, laat ons ’n verbond maak, ek en jy, en dit sal as ’n getuie tussen ons dien.” 45 Jakob het dus ’n klip geneem en dit as ’n pilaar opgerig.+ 46 Toe het Jakob vir sy broers gesê om klippe op te tel. En hulle het klippe geneem en dit op mekaar gestapel. Daarna het hulle daar op die stapel klippe geëet. 47 En Laban het dit Jeʹgar-Sahaduʹta* begin noem, maar Jakob het dit Gal-Ed* genoem.
48 Laban het toe gesê: “Hierdie stapel klippe is vandag ’n getuie tussen my en jou.” Daarom is dit Gal-Ed+ genoem, 49 en ook die Wagtoring, want Laban het gesê: “Mag Jehovah wag hou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie kan sien nie. 50 As jy my dogters sleg behandel en jy buiten my dogters nog vrouens begin neem, moet jy onthou dat God ’n getuie tussen my en jou is, al is daar niemand by ons nie.” 51 Laban het verder vir Jakob gesê: “Hier is die stapel klippe, en hier is die pilaar wat ek tussen my en jou opgerig het. 52 Hierdie stapel klippe is ’n getuie, en die pilaar is iets wat getuig+ dat ek nie verby hierdie stapel klippe sal gaan om iets slegs aan jou te doen nie en dat jy nie verby hierdie stapel klippe en hierdie pilaar sal gaan om iets slegs aan my te doen nie. 53 Mag die God van Abraham+ en die God van Nahor, die God van hulle pa, tussen ons oordeel.” En Jakob het gesweer by die Een wat deur sy pa, Isak, gevrees word.*+
54 Daarna het Jakob ’n offerande op die berg gebring en sy broers genooi om iets* te eet. Hulle het dus geëet en die nag op die berg deurgebring. 55 Maar Laban het die oggend vroeg opgestaan en sy kleinkinders*+ en sy dogters gesoen en hulle geseën.+ Toe het Laban vertrek en teruggegaan huis toe.+