Volgens Johannes
10 “Ek verseker julle: Hy wat nie by die deur van die skaapkraal ingaan nie maar iewers anders opklim, is ’n dief en ’n rower.+ 2 Maar hy wat by die deur ingaan, is die herder van die skape.+ 3 Die deurwagter maak vir hom oop,+ en die skape luister na sy stem.+ Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. 4 Wanneer hy al sy skape uitgebring het, gaan hy voor hulle uit, en die skape volg hom omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal glad nie ’n vreemdeling volg nie, maar sal van hom af wegvlug, omdat hulle nie die stem van vreemdelinge ken nie.” 6 Jesus het hierdie vergelyking vir hulle vertel, maar hulle het nie verstaan wat hy vir hulle gesê het nie.
7 Daarom het Jesus weer gesê: “Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape.+ 8 Almal wat in my plek gekom het, is diewe en rowers, maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9 Ek is die deur. Wie deur my ingaan, sal gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.+ 10 Die dief kom nie tensy dit is om te steel en te slag en te vernietig nie.+ Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed kan hê. 11 Ek is die goeie herder.+ Die goeie herder gee sy lewe* vir die skape.+ 12 ’n Gehuurde werker, wat nie ’n herder is nie en aan wie die skape nie behoort nie, verlaat die skape en vlug wanneer hy ’n wolf sien kom. Dan gryp die wolf hulle en jaag hulle uitmekaar. 13 Omdat hy ’n gehuurde werker is, gee hy nie vir die skape om nie. 14 Ek is die goeie herder. Ek ken my skape en my skape ken my,+ 15 net soos die Vader my ken en ek die Vader ken,+ en ek gee my lewe* vir die skape.+
16 “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie.+ Ek moet hulle ook inbring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word.+ 17 Daarom het die Vader my lief,+ omdat ek my lewe* gee,+ sodat ek dit weer kan ontvang. 18 Niemand neem dit van my af weg nie, maar ek gee dit uit my eie. Ek het gesag om dit te gee, en ek het gesag om dit weer te ontvang.+ Ek het hierdie gebod van my Vader ontvang.”
19 Daar het weer verdeeldheid onder die Jode ontstaan+ as gevolg van hierdie woorde. 20 Baie van hulle het gesê: “Hy het ’n demoon en is mal. Hoekom luister julle na hom?” 21 Ander het gesê: “Dit is nie die woorde van ’n man wat ’n demoon het nie. ’n Demoon kan tog nie blindes se oë open nie, of hoe?”
22 In daardie tyd het die Toewydingsfees in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter, 23 en Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop.+ 24 Toe het die Jode hom omring en vir hom begin sê: “Hoe lank gaan u ons* in spanning hou? As u die Christus is, sê dit dan reguit vir ons.” 25 Jesus het hulle geantwoord: “Ek het vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die werke wat ek in die naam van my Vader doen, getuig oor my.+ 26 Maar julle glo nie, omdat julle nie my skape is nie.+ 27 My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my.+ 28 Ek gee hulle die ewige lewe,+ en hulle sal beslis nooit vernietig word nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.+ 29 Wat my Vader my gegee het, is groter as alle ander dinge, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.+ 30 Ek en die Vader is een.”*+
31 Toe het die Jode weer klippe opgetel om hom dood te gooi. 32 Jesus het vir hulle gesê: “Ek het julle heelwat goeie werke laat sien wat van die Vader af kom. Oor watter van daardie werke wil julle my doodgooi?” 33 Die Jode het hom geantwoord: “Ons wil jou nie doodgooi omdat jy ’n goeie werk gedoen het nie, maar omdat jy laster,+ want jy maak jouself ’n god, al is jy net ’n mens.” 34 Toe het Jesus vir hulle gesê: “Staan daar nie in julle Wet geskryf: ‘Ek het gesê: “Julle is gode”’*+ nie? 35 ’n Skrifgedeelte is nooit verkeerd nie. As mense teen wie die woord van God gerig is, dan ‘gode’+ genoem word, 36 hoe kan julle vir my wat deur die Vader geheilig en in die wêreld ingestuur is, sê dat ek laster omdat ek gesê het: ‘Ek is God se Seun’?+ 37 As ek nie die werke van my Vader doen nie, moet my dan nie glo nie. 38 Maar as ek dit wel doen, glo dan die werke,+ al glo julle my nie, sodat julle kan leer en kan aanhou glo dat die Vader in eenheid met my is, en ek in eenheid met die Vader.”+ 39 Daarom het hulle hom weer gevange probeer neem, maar hy het van hulle af weggekom.
40 Toe het hy weer na die oorkant van die Jordaanrivier gegaan, na die plek waar Johannes mense aan die begin gedoop het,+ en hy het daar gebly. 41 En baie mense het na hom toe gekom en begin sê: “Johannes het nou wel nie ’n enkele wonderwerk* gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, was waar.”+ 42 En baie het daar geloof in hom gestel.