Die eerste boek van Samuel
9 Daar was ’n man van Benjamin met die naam Kis,+ die seun van Abiʹël, die seun van Seror, die seun van Begoʹrat, die seun van Afiʹag, ’n Benjaminiet+ en ’n baie ryk man. 2 Hy het ’n seun gehad met die naam Saul,+ wat jonk en aantreklik was – niemand onder die Israeliete was aantrekliker as hy nie – en hy was van sy skouers af langer as al die ander mense.
3 Toe die donkies* van Saul se pa, Kis, weggeraak het, het hy vir sy seun Saul gesê: “Neem asseblief een van die dienaars saam met jou, en gaan soek die donkies.” 4 Hulle het deur die bergstreek van Eʹfraim en deur die Saliʹsa-streek gegaan, maar hulle het nie die donkies gevind nie. Hulle het deur die Saʹälim-streek gereis, maar hulle was ook nie daar nie. Hulle het deur die hele land van die Benjaminiete gegaan, maar hulle het hulle nie gevind nie.
5 Hulle het in die Suf-streek gekom, en Saul het vir sy dienaar gesê: “Kom ons gaan terug, anders sal my pa meer bekommerd wees oor ons as oor die donkies.”+ 6 Maar die dienaar het geantwoord: “Daar is ’n man van God in hierdie stad, ’n gerespekteerde man. Alles wat hy sê, word altyd waar.+ Kom ons gaan soontoe. Miskien kan hy vir ons sê waarheen ons moet gaan.” 7 Toe het Saul vir sy dienaar gesê: “As ons gaan, wat sal ons vir die man neem? Daar is nie brood in ons sakke nie. Daar is niks om as ’n geskenk vir die man van die ware God te neem nie. Wat het ons?” 8 Toe het die dienaar Saul geantwoord: “Kyk! Hier is ’n kwart sikkel* silwer in my hand. Ek sal dit vir die man van die ware God gee, en hy sal vir ons sê waarheen om te gaan.” 9 (In vroeër tye in Israel sou ’n man die volgende sê wanneer hy God se leiding wou vra:* “Kom, laat ons na die siener toe gaan.”+ Want in vroeër tye is ’n profeet ’n siener genoem.) 10 Toe het Saul vir sy dienaar gesê: “Goed so. Kom ons gaan.” Toe het hulle na die stad gegaan waar die man van die ware God was.
11 Terwyl hulle met die opdraand na die stad opgegaan het, het hulle meisies gesien wat uitgaan om water te skep. Hulle het vir hulle gevra: “Is die siener+ hier?” 12 Hulle het geantwoord: “Ja, hy is. Hy is net voor julle. Maak gou, want hy het vandag na die stad gekom omdat die volk vandag ’n offerande+ op die offerhoogte bring.+ 13 As julle in die stad kom, sal julle hom vind voordat hy na die offerhoogte opgaan om te eet. Die volk sal nie eet voordat hy kom nie, want hy moet die offerande eers seën. Dan mag die genooides eet. As julle nou dadelik opgaan, sal julle hom vind.” 14 Daarom het hulle na die stad opgegaan. Toe hulle in die stad kom, het Samuel uitgekom om hulle te ontmoet en om na die offerhoogte op te gaan.
15 Die dag voordat Saul gekom het, het Jehovah vir Samuel gesê: 16 “Môre omtrent hierdie tyd sal ek ’n man uit die land van Benjamin+ na jou toe stuur. Jy moet hom as leier oor my volk Israel salf,+ en hy sal my volk uit die hand van die Filistyne red. Want ek het gesien hoe my volk swaarkry, en ek het hulle hulpgeroep gehoor.”+ 17 Toe Samuel vir Saul sien, het Jehovah vir hom gesê: “Hier is die man van wie ek vir jou gesê het: ‘Hy sal oor my volk regeer.’”*+
18 Toe het Saul na Samuel toe gegaan in die poort en gesê: “Sê tog asseblief vir my waar die huis van die siener is.” 19 Samuel het vir Saul gesê: “Ek is die siener. Gaan voor my op na die offerhoogte, en julle sal vandag saam met my eet.+ Môreoggend kan julle weer op pad wees, en ek sal vir jou alles vertel wat jy wil weet.* 20 Moenie bekommerd wees oor die donkies wat al drie dae vermis word nie,+ want hulle is gevind. En aan wie behoort al die waardevolle dinge van Israel? Behoort dit nie aan jou en aan die hele huis van jou pa nie?”+ 21 Toe het Saul geantwoord: “Ek is ’n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel,+ en my familie is die onbelangrikste van al die families van die stam van Benjamin. Hoekom het u dan so iets vir my gesê?”
22 Toe het Samuel vir Saul en sy dienaar na die eetsaal gebring en hulle ’n plek aan die hoof van die genooides gegee. Daar was ongeveer 30 manne daar. 23 Samuel het vir die kok gesê: “Bring die stuk vleis wat ek vir jou gegee het en wat ek gesê het jy eenkant moet sit.” 24 Toe het die kok die boud voor Saul gesit. En Samuel het gesê: “Hierdie stuk vleis is vir jou eenkant gehou. Eet, want hulle het dit spesiaal vir hierdie geleentheid vir jou eenkant gesit. Want ek het vir hulle gesê: ‘Ek het gaste genooi.’” Saul het toe op daardie dag saam met Samuel geëet. 25 Toe het hulle van die offerhoogte+ af na die stad gegaan, waar Samuel verder op die plat dak van die huis met Saul gepraat het. 26 Die volgende oggend het hulle vroeg opgestaan, en toe dit lig begin word het, het Samuel vir Saul geroep, wat op die dak was, en gesê: “Maak jou gereed, sodat ek jou kan afsien.” Daarom het Saul hom gereedgemaak, en albei het buitentoe gegaan. 27 Terwyl hulle met die afdraand na die buitewyke van die stad geloop het, het Samuel vir Saul gesê: “Sê vir die dienaar+ om voor ons uit te gaan.” Toe het hy vooruitgegaan, en Samuel het verder gesê: “Maar jy moet bly staan, sodat ek jou die woord van God kan vertel.”