Bybelboek nommer 53—2 Thessalonicense
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Korinthe
Geskrif voltooi: ca. 51 G.J.
1. Wat dui aan wanneer en waar die brief geskryf is, en wat het aanleiding gegee tot die tweede brief aan die Thessalonicense?
DIE apostel Paulus se tweede brief aan die Thessalonicense het kort op die eerste gevolg. Ons weet dat dit kort na die eerste brief geskryf is, en ook van dieselfde stad Korinthe af, omdat dieselfde broers, Silvanus en Timotheüs, weer saam met Paulus die gemeente in Thessalonika groet. Hulle was almal reisende dienaars van die vroeë Christengemeente, en daar is geen verslag dat al drie weer saam was ná hierdie samewerking in Korinthe nie (2 Thess. 1:1; Hand. 18:5, 18). Die onderwerp en aard van die bespreking dui aan dat Paulus hom genoodsaak gevoel het om die gemeente onverwyld reg te help in verband met ’n dwaling waarin hulle verval het.
2. Wat bewys dat Tweede Thessalonicense eg is?
2 Die brief se egtheid staan net so vas soos die egtheid van Eerste Thessalonicense. Dit word ook aangehaal deur Ireneus (tweede eeu G.J.) en ander vroeë skrywers, waaronder Justinus Martyr (ook van die tweede eeu), wat blykbaar na 2 Thessalonicense 2:3 verwys wanneer hy oor “die mens van sonde” skryf. Dit verskyn in dieselfde vroeë katalogusse as Eerste Thessalonicense. Hoewel dit nie vandag in die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46) voorkom nie, het dit feitlik vir seker verskyn op die eerste twee van sewe blaaie wat ná Eerste Thessalonicense ontbreek.
3, 4. (a) Watter probleem het in die gemeente in Thessalonika ontstaan? (b) Wanneer en waar is die brief geskryf, en wat het Paulus daardeur probeer bereik?
3 Wat was die doel van hierdie brief? Uit die raad wat Paulus die Thessalonicense gegee het, kom ons agter dat sommige in die gemeente beweer het dat die teenwoordigheid van die Here ophande is, dat hierdie bespiegelaars hulle teorie aktief verkondig het en dat hulle ’n aansienlike opskudding in die gemeente veroorsaak het. Dit wil voorkom of sommige dit selfs as ’n ekskuus gebruik het om nie te werk en so in hulle eie onderhoud te voorsien nie (2 Thess. 3:11). In sy eerste brief het Paulus melding gemaak van die teenwoordigheid van die Here, en toe hierdie bespiegelaars die voorlesing van die brief gehoor het, was hulle ongetwyfeld gou om Paulus se woorde te verdraai en betekenisse daaraan te heg wat nooit bedoel was nie. Dit is ook moontlik dat hulle uit ’n brief wat verkeerdelik aan Paulus toegeskryf is die gevolgtrekking gemaak het dat “die dag van Jehovah hier is”.—2:1, 2, NW.
4 Dit lyk of Paulus van hierdie toestand in kennis gestel is, waarskynlik deur die persoon wat sy eerste brief aan die gemeente besorg het. Hy sou dus baie gretig wees om die denke van sy broers vir wie hy so lief was reg te stel. In die jaar 51 G.J. stuur Paulus dus, in samewerking met sy twee metgeselle, vanaf Korinthe ’n brief aan die gemeente in Thessalonika. Nie net stel Paulus die verkeerde beskouing oor Christus se teenwoordigheid reg nie, maar hy gee ook hartlike aanmoediging om vas te staan in die waarheid.
INHOUD VAN TWEEDE THESSALONICENSE
5. Waarvoor dank Paulus en sy metgeselle God, watter versekering gee hulle en wat bid hulle?
5 Die openbaring van die Here Jesus (1:1-12). Paulus en sy metgeselle dank God vir die voortreflike groei van die Thessalonicense se geloof en hulle liefde teenoor mekaar. Hulle volharding en geloof onder vervolginge is ’n bewys van God se regverdige oordeel dat hulle die Koninkryk waardig geag word. God sal verdrukking vergeld aan dié wat die gemeente verdruk, en hy sal verligting gee vir dié wat ly. Dit sal wees “in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele . . . wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges” (1:7, 10). Paulus en sy metgeselle bid altyd vir die Thessalonicense, dat God hulle Sy roeping waardig mag ag en dat die naam van die Here Jesus in hulle en hulle in eendrag met hom verheerlik mag word.
6. Wat moet vóór die dag van Jehovah kom, en hoe?
6 Afval sal vóór Jesus se teenwoordigheid kom (2:1-12). Die broers moenie verskrik word deur ’n boodskap dat die dag van Jehovah al aangebreek het nie. “Want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.” Hulle weet wat hom nou “teëhou”, maar die verborgenheid van hierdie ongeregtigheid is al aan die werk. Wanneer hierdie hindernis uit die weg geruim word, “dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] tot niet sal maak”. Die ongeregtige se teenwoordigheid is volgens die werking van Satan met kragtige dade en verleiding, en God stuur die krag van die dwaling aan dié wat nie die liefde tot die waarheid aangeneem het nie, sodat hulle die leuen kan glo.—2:3, 6, 8.
7. Hoe kan die broers vasstaan en beskerming teen die Bose vind?
7 Staan vas in die geloof (2:13–3:18). Paulus vervolg: “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.” Met hierdie doel is die goeie nuus aan hulle verkondig. Die broers moet derhalwe vasstaan en hulle hou aan die voorskrifte wat hulle geleer is, sodat Jesus Christus en die Vader, wat hulle liefdevol ’n ewige troos en hoop gegee het, hulle kan “versterk in alle goeie woorde en werke” (2:13, 17). Paulus vra om hulle gebede, “dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word” (3:1). Die Here, wat getrou is, sal hulle versterk en bewaar van die Bose, en dit is Paulus se bede dat die Here sal aanhou om hulle harte te rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus.
8. Watter kragtige vermaning word gegee, en waarin het Paulus en sy groep die voorbeeld gestel?
8 Nou volg daar ’n kragtige vermaning: “Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie” (3:6). Die apostel herinner hulle aan die voorbeeld wat sy sendinggroep gestel het, hoe hulle nag en dag gearbei het om die gemeente nie tot las te wees nie, sodat hulle die bevel kon gee: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Maar nou hoor hulle dat sekere onordelikes nie werk nie maar bemoeisiek is. Hierdie mense moet hulle eie voedsel gaan verdien.—2 Thess. 3:10; 1 Thess. 4:11.
9. Wat sê Paulus oor die doen van die goeie en die beskaming van ongehoorsames, en hoe sluit hy sy brief af?
9 Die broers moenie moeg word om goed te doen nie. Maar as iemand onder hulle nie aan Paulus se brief gehoorsaam is nie, moet die gemeente hom beskaamd maak deur hom te teken en nie langer met hom om te gaan nie, terwyl hulle hom terselfdertyd as ’n broer vermaan. Dit is Paulus se bede dat die Here van die vrede hulle altyd mag “vrede gee op allerlei wyse”, en hy sluit sy brief af met groete in sy eie handskrif.—2 Thess. 3:16.
WAAROM NUTTIG
10. Wat is van die basiese leerstellings en beginsels wat in Tweede Thessalonicense behandel word?
10 Hierdie kort, geïnspireerde brief aan die Thessalonicense roer ’n wye spektrum Christelike waarheid aan, wat alles nuttig is om te oordink. Beskou die volgende basiese leerstellings en beginsels wat behandel word: Jehovah is die God van redding, en hy maak heilig deur gees en geloof in die waarheid (2:13, NW); die Christen moet verdrukking getrou verduur om die Koninkryk van God waardig geag te word (1:4, 5); Christene sal met die Here Jesus Christus verenig word by sy teenwoordigheid (2:1, NW); Jehovah sal regverdige oordeel voltrek aan almal wat die goeie nuus ongehoorsaam is (1:5-8); die geroepenes sal verheerlik word in eendrag met Christus Jesus, ooreenkomstig God se onverdiende goedheid (1:12, NW); hulle word geroep deur die verkondiging van die goeie nuus (2:14); geloof is ’n essensiële vereiste (1:3, 4, 10, 11; 2:13; 3:2); dit is gepas dat ’n mens werk om in jou eie onderhoud in die bediening te voorsien; as iemand nie werk nie, kan hy lui word en hom begin bemoei met dinge wat hom nie aangaan nie (3:8-12); die liefde van God hou met volharding verband (3:5, NW). Wat ’n skat van opbouende inligting in een kort, geïnspireerde brief!
11. Watter belangrike inligting en versekering word in verband met die Koninkryk verskaf?
11 In hierdie brief het Paulus blyk gegee van sy diepe besorgdheid oor die geestelike welsyn van sy broers in Thessalonika en oor die eenheid en voorspoed van die gemeente. Hy help hulle reg met betrekking tot die tyd van die dag van Jehovah, want hy toon dat “die mens van sonde” eers moet verskyn en dat hy “in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is”. Diegene wat egter ‘die koninkryk van God waardig geag word’, kan die absolute sekerheid hê dat die Here Jesus op die bestemde tyd vanuit die hemel geopenbaar sal word en wraak sal uitoefen in vuur en vlam “wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag”.—2:3, 4; 1:5, 10.