HOOFSTUK TIEN
Vra jy elke dag: “Waar is Jehovah?”
1, 2. (a) Wat was die geestelike toestand van die Jode van Jeremia se dag? (b) Hoe moes die Judeërs eintlik op hulle toestand gereageer het?
JEREMIA was in trane. Hy was hartseer oor die huidige toestand van sy volksgenote en ook oor wat God hom oor hulle toekoms laat voorspel het. Hy het gewens dat sy kop soos ’n waterbron en sy oë soos ’n fontein was sodat hy sonder ophou kon huil. Jeremia het rede gehad om oor die toestand van die nasie bedroef te wees. (Jer. 9:1-3; lees Jeremia 8:20, 21.) Die Jode het God se wet bly verwerp en het Jehovah se stem nie gehoorsaam nie, en daarom sou rampspoed oor hulle kom.—Jer. 6:19; 9:13.
2 Die mense van Juda, wat daarvan gehou het om die ‘alles is in orde’-refrein van hulle godsdiensleiers te hoor, het egter nie opreg belanggestel in wat Jehovah van hulle gedrag dink nie (Jer. 5:31; 6:14). Hulle was soos pasiënte wat ’n dokter soek wat gerusstellende dinge sal sê, maar ernstige simptome sal ignoreer. As jy ernstig siek was, sou jy dan nie ’n akkurate diagnose wou hê sodat jy betyds behandel kan word nie? Wat hulle geestelikheid betref, moes die Jode in Jeremia se dag eintlik ’n eerlike beoordeling van hulle geestelike toestand gesoek het. Hulle moes gevra het: “Waar is Jehovah?”—Jer. 2:6, 8.
3. (a) Hoe kon die Jode die vraag: “Waar is Jehovah?” beantwoord het? (b) Wat was een manier waarop die Jode Jehovah kon gesoek het?
3 As die Jode sou vra: “Waar is Jehovah?” sou dit beteken het dat hulle goddelike leiding sou soek wanneer hulle besluite, groot sowel as klein, moes neem. Gedurende daardie tyd het die Jode dit nie gedoen nie. Maar ná die verwoesting van Jerusalem en hulle terugkeer uit Babilon moes hulle ‘Jehovah soek’. Dan sou hulle hom kon vind en sy weë leer ken. (Lees Jeremia 29:13, 14.) Hoe kon hulle dit doen? Een manier was deur God in opregte gebed te nader en sy leiding te vra. Dit was koning Dawid se gesindheid. Hy het God gevra: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie” (Ps. 25:4). Let op die uitnodiging wat die Hoorder van die gebed in die tiende jaar van koning Sedekia deur Jeremia gerig het. “Roep my aan en ek sal jou antwoord en jou geredelik groot en onbegryplike dinge vertel wat jy nie geweet het nie” (Jer. 33:3). As die koning en die afvallige nasie God sou aanroep, sou Hy “onbegryplike” dinge aan hulle kon openbaar, die verwoesting van Jerusalem en die herstel daarvan ná 70 jaar.
4, 5. Op watter ander maniere kon God se volk Jehovah gesoek het?
4 Nog ’n manier waarop die Jode Jehovah kon gesoek het, was deur die geskiedenis te bestudeer en te kyk hoe hy met sy volk gehandel het. Sodoende sou hulle kon onthou het wat God se goedkeuring weggedra het en wat sy toorn meegebring het. Hulle het Moses se geskrifte en ’n aantal geïnspireerde geskiedkundige verslae sowel as die annale van die konings van Israel en Juda gehad. Deur hieroor te peins en na God se ware profete te luister, kon die Jode in Jeremia se dag die antwoord verstaan het op die vraag: “Waar is Jehovah?”
5 ’n Derde manier waarop daardie Jode Jehovah kon gesoek het, was deur uit hulle persoonlike ondervindinge en dié van ander te leer. Dit beteken nie dat hulle alles uit dure ondervinding moes leer nie, maar hulle kon daarby baat gevind het om te dink aan wat hulle self in die verlede gedoen het en hoe Jehovah hulle optrede beskou het. As hulle opmerksaam was, sou hulle verstaan het hoe God hulle gedrag beskou het.—Spr. 17:10.
6. Hoe kan Job se voorbeeld jou aanmoedig?
6 Maar kom ons pas dit op ons dag toe. Vra jy gereeld: “Waar is Jehovah?” wanneer jy besluite neem en kies watter weg jy sal inslaan? Party voel dalk dat hulle nie so nougeset was soos hulle moes gewees het nie. As dit in sekere mate met jou die geval is, moet jy nie mismoedig wees nie. Selfs die getroue aartsvader Job het in hierdie opsig gesukkel. Toe hy onder druk was, het hy net aan homself gedink. Elihu moes hom herinner aan die algemene neiging van die mensdom: “Niemand [het] gesê nie: ‘Waar is God, my Grootse Maker?’” (Job 35:10). Elihu het Job aangespoor: “Gee ag op die wonderlike werke van God” (Job 37:14). Job moes Jehovah se magtige werke in die skepping om hom en in God se handelinge met mense waarneem. As gevolg van sy eie ondervinding het Job Jehovah se weë begin verstaan. Nadat hy sy beproewing deurgemaak het en gesien het hoe Jehovah die saak hanteer, het Job gesê: “Ek [het] gepraat, maar sonder om begrip te hê van dinge wat vir my te wonderbaar is, wat ek nie weet nie. Van hoorsê het ek van u gehoor, maar nou sien my eie oog u.”—Job 42:3, 5.
7. Wat sal ons vervolgens bespreek, soos uitgebeeld word op bladsy 116?
7 Wat Jeremia betref, die profeet het Jehovah bly soek en het hom gevind. In teenstelling met sy landgenote het Jeremia, gedurende die dekades van sy getroue diens, bly vra: “Waar is Jehovah?” In die res van hierdie hoofstuk sal ons uit Jeremia se voorbeeld sien hoe ons Jehovah kan soek en hom deur middel van gebed, studie en persoonlike ondervindinge kan vind.—1 Kron. 28:9.
Wat beteken dit om te vra: “Waar is Jehovah?” Op watter maniere kon die Jode van Jeremia se dag dit gevra het?
JEREMIA HET HOM IN GEBED TOT JEHOVAH GEWEND
8. Onder watter omstandighede het Jeremia God in gebed genader?
8 Gedurende die jare dat Jeremia as God se woordvoerder onder die nasie Juda gedien het, het hy Jehovah deur middel van hartgrondige gebede gesoek. Hy het hom tot God gewend vir onderskraging wanneer hy ongewilde boodskappe moes verkondig, wanneer hy gevoel het dat hy nie kon voortgaan nie en wanneer hy vrae gehad het oor waarom sekere dinge plaasgevind het. God het hom geantwoord en hom leiding gegee oor wat om te doen. Kyk na ’n paar voorbeelde.
9. (a) Hoe het Jeremia hom in Jeremia 15:15, 16 uitgedruk, en hoe het Jehovah gereageer? (b) Waarom dink jy is dit belangrik om jou gevoelens in gebed uit te druk?
9 Eenkeer, toe Jeremia ’n veroordelende boodskap moes bekend maak, het hy gevoel dat almal ’n vloek oor hom uitspreek. Die profeet het God dus gevra om aan hom te dink. Kyk na sy gebed, wat in Jeremia 15:15, 16 opgeteken staan, waarin hy sê hoe hy oor God se antwoord gevoel het. (Lees.) In hierdie gebed het Jeremia uiting gegee aan sy benoudheid. Maar toe hy God se woorde gevind en dit as ’t ware in sy mond gesit het, het hy vreugdevol geword! Jehovah het hom gehelp om die voorreg te waardeer om die goddelike naam te dra en ’n goddelike boodskap te verkondig. Jeremia kon duidelik sien waar Jehovah was in hierdie saak. Watter les bevat dit vir ons?
10. Hoe het God gereageer toe die profeet gesê het dat hy nie meer in Jehovah se naam sou spreek nie?
10 By ’n ander geleentheid het Jeremia, nadat die priester Pasgur, die seun van Immer, hom geslaan het, gesê dat hy nie meer in Jehovah se naam sou spreek nie. Hoe het God op Jeremia se gebed gereageer? (Lees Jeremia 20:8, 9.) Die Bybel sê nie vir ons dat God geantwoord het deur uit die hemel met Jeremia te praat nie. Maar God se woord het soos ’n brandende vuur geword wat in sy gebeente opgesluit was, en hy kon nie anders as om dit bekend te maak nie. Ja, deur hom eerlik teenoor God uit te druk en hom deur sy kennis van God se wil te laat beweeg, is Jeremia aangespoor om voort te gaan om Sy wil te doen.
11, 12. Hoe het Jeremia ’n antwoord gekry op sy vraag oor die skynbare sukses van die goddeloses?
11 Jeremia het ’n kwellende vraag gehad toe hy die sukses van die goddeloses sien. (Lees Jeremia 12:1, 3.) Hoewel die profeet glad nie Jehovah se regverdigheid bevraagteken het nie, het hy ’n antwoord op sy “klag” gesoek. Sy openhartigheid het duidelik getoon dat hy ’n hegte verhouding met God gehad het, baie soos dié van ’n kind met sy geliefde vader. Jeremia kon net nie verstaan waarom baie Jode voorspoedig is, al is hulle goddeloos nie. Het Jeremia ’n bevredigende antwoord gekry? Jehovah het hom verseker dat Hy die goddeloses sal wegruk (Jer. 12:14). Toe Jeremia gesien het hoe die sake afgeloop het waaroor hy tot God gebid het, het sy vertroue in goddelike geregtigheid ongetwyfeld toegeneem. Gevolglik het Jeremia hom sekerlik al hoe meer in gebed tot God gewend en sy gevoelens teenoor sy Vader uitgespreek.
12 Teen die einde van Sedekia se heerskappy, terwyl die Babiloniërs Jerusalem beleër het, het Jeremia na Jehovah verwys as iemand “wie se oë oop is oor al die weë van die mensekinders, om aan elkeen te gee volgens sy weë en volgens die vrug van sy handelinge” (Jer. 32:19). Jeremia kon sien wat Jehovah se standpunt ten opsigte van geregtigheid is, dat God inderdaad let op wat elkeen doen en dat hy die opregte gebede van sy knegte hoor. En hulle sou dus al hoe meer bewyse sien dat Hy “aan elkeen . . . gee volgens sy weë en volgens die vrug van sy handelinge”.
13. Waarom het jy die vertroue dat God se wil volbring gaan word?
13 Ons voel dalk nie dat ons enigsins twyfel aan God se geregtigheid en die wysheid van hoe hy sy wil volbring en nog sal volbring nie. Ons kan nietemin daarby baat vind om na te dink oor wat Jeremia deurgemaak het en in ons gebede te sê hoe ons in ons hart voel. As ons ons so uitdruk, kan dit ons vertroue in Jehovah versterk, dat sy wil beslis volbring gaan word. Al verstaan ons nie nou ten volle waarom dinge op ’n sekere manier ontwikkel nie of waarom God se wil teen die huidige tempo ontvou nie, kan ons in gebed tot hom ons vertroue uitspreek dat hy heeltemal in beheer is. Sy wil sal geskied op die manier en teen die tempo wat hy weet die beste is. Dit is seker; ons het geen rede om daaraan te twyfel nie. Ons sal aanhou vra: “Waar is Jehovah?” in die sin dat ons biddend sal probeer om sy wil te verstaan en bewyse van die vervulling daarvan te sien.—Job 36:5-7, 26.
Watter versekering kry jy uit Jeremia se ondervindinge toe hy Jehovah in gebed gesoek het?
JEREMIA HET SY HART MET KENNIS GEVOED
14. Hoe weet ons dat Jeremia die geskiedenis van God se volk nagevors het?
14 Jeremia het goed geweet dat ‘kennis van Jehovah’ nodig is wanneer dit kom by die vraag: “Waar is Jehovah?” (Jer. 9:24). Hy het sekerlik die geskiedenis van God se volk bestudeer toe hy die boeke saamgestel het wat nou as 1 en 2 Konings bekend staan. Hy het spesifiek “die kroniekboek van Salomo”, “die kroniekboek van die konings van Israel” en “die kroniekboek van die konings van Juda” genoem (1 Kon. 11:41; 14:19; 15:7). Hy het dus verstaan hoe Jehovah verskillende situasies hanteer het. Jeremia kon sien wat Jehovah behaag het en hoe Hy mense se besluite beskou het. Hy kon ook geïnspireerde geskrifte raadpleeg wat destyds beskikbaar was, soos dié deur Moses, Josua, Samuel, Dawid en Salomo. Hy het ongetwyfeld ’n goeie kennis gehad van die vroeëre profete sowel as sy tydgenote. Hoe het Jeremia by sy persoonlike studie baat gevind?
15. Hoe het Jeremia moontlik by sy navorsing oor Elia se profesie baat gevind?
15 Jeremia het die verslag oor Isebel, die goddelose vrou van koning Agab van Samaria, opgeteken. Sy verslag het Elia se verklaring ingesluit dat honde Isebel op die stuk grond van Jisreël sou opeet (1 Kon. 21:23). En jy weet dat Isebel, in ooreenstemming met wat Jeremia opgeteken het, sowat 18 jaar later by ’n venster uitgegooi is, deur Jehu se perd vertrap is en deur honde opgeëet is (2 Kon. 9:31-37). Navorsing oor Elia se profesie en die vervulling daarvan, selfs die besonderhede daarvan, het sekerlik Jeremia se geloof in God se woord versterk. Ja, sy volharding as ’n profeet was te danke aan geloof wat deur sy studie van Jehovah se vroeëre handelinge opgebou is.
16, 17. Waarom dink jy kon Jeremia daarin volhard om die goddelose konings van sy dag te waarsku?
16 Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. Wat dink jy het Jeremia in staat gestel om—ondanks vervolging—aan te hou om goddelose konings soos Jojakim en Sedekia te waarsku? ’n Belangrike rede was dat Jehovah Jeremia “’n versterkte stad en ’n ysterpilaar en kopermure” teenoor die konings van Juda gemaak het (Jer. 1:18, 19). Maar ons moenie die feit oor die hoof sien dat Jeremia deeglike navorsing oor die heerskappye van die vroeëre konings van Juda en Israel gedoen het nie. Hy het die feit opgeteken dat Manasse “altare vir die hele leër van die hemel gebou [het] in twee voorhowe van die huis van Jehovah”, sy eie seun in die vuur geoffer het en vreeslik baie onskuldige bloed vergiet het. (2 Kon. 21:1-7, 16; lees Jeremia 15:4.) Maar Jeremia moes geweet het dat Jehovah, toe Manasse hom verneder het en tot Hom bly bid het, “sy dringende versoek aangehoor het” en die koning tot sy posisie herstel het.—Lees 2 Kronieke 33:12, 13.
17 Jeremia het nie Jehovah se barmhartigheid teenoor Manasse in sy geskrifte genoem nie. Maar Manasse het gesterf net sowat 15 jaar voordat Jeremia sy profetiese loopbaan begin het. Die profeet moes dus gehoor het wat gebeur het toe die koning oor sy vroeëre goddeloosheid berou getoon het. Navorsing oor Manasse se vreeslike optrede en die afloop daarvan het Jeremia ongetwyfeld gehelp om te sien hoe belangrik dit is om konings, soos Sedekia, aan te spoor om Jehovah se barmhartigheid en liefdevolle goedhartigheid te soek. Selfs ’n koning wat berug was vir afgodediens en bloedvergieting, kon berou toon en vergewe word. Gestel jy was in Jeremia se situasie; sou die gebeure in verband met Manasse jou aangespoor het en rede gegee het om gedurende die heerskappye van ander slegte konings te volhard?
HY HET UIT ONDERVINDING GELEER
18. Wat kon Jeremia uit Uria se voorbeeld leer, en waarom sê jy so?
18 Gedurende sy loopbaan as profeet het Jeremia beslis geleer deur te sien hoe sy tydgenote in sekere situasies opgetree het. Een van hulle was die profeet Uria, wat gedurende die heerskappy van Jojakim teen Jerusalem en Juda geprofeteer het. Maar uit vrees vir koning Jojakim het Uria na Egipte gevlug. Daarop het die koning manne gestuur om hom uit Egipte terug te bring, en toe het hy Uria laat doodmaak (Jer. 26:20-23). Dink jy dat Jeremia ’n les uit die ondervinding van Uria geleer het? Die feit dat Jeremia aangehou het om die Jode oor hulle naderende rampspoed te waarsku—en dit selfs in die tempelgebied gedoen het—bewys dat hy ’n les hieruit moes geleer het. Jeremia het moedig gebly, en Jehovah het hom nie verlaat nie. God het Ahikam, die seun van Safan, sekerlik beweeg om die lewe van die moedige Jeremia te beskerm.—Jer. 26:24.
19. Wat kon Jeremia leer uit die feit dat Jehovah aangehou het om profete na Sy volk te stuur?
19 Jeremia het ook uit sy eie ondervinding geleer deurdat Jehovah hom gebruik het om Sy volk te waarsku. In die vierde jaar van koning Jojakim het Jehovah vir Jeremia gesê om al die woorde neer te skryf wat Hy van Josia se dag af tot op daardie stadium gespreek het. Wat was die rede vir hierdie goddelike bevel? Dit was om mense aan te spoor om op te hou om te doen wat sleg is en vergewe te word. (Lees Jeremia 36:1-3.) Jeremia, wat vroeg opgestaan het om waarskuwende boodskappe van God oor te dra, het selfs by die volk gepleit om hulle verfoeilike gebruike te laat staan (Jer. 44:4). Is dit nie duidelik dat Jeremia weens sy eie ondervinding moes besef het dat God die profete uit medelye met Sy volk gestuur het nie? En sou dit nie ook in Jeremia medelye gewek het nie? (2 Kron. 36:15). Jy kan dus verstaan dat Jeremia, toe hy Jerusalem se vernietiging oorleef het, kon sê: “Dit is die dade van liefderyke goedhartigheid van Jehovah dat ons nie aan ons einde gekom het nie, want sy barmhartighede sal beslis nie tot ’n einde kom nie. Hulle is elke oggend nuut.”—Klaagl. 3:22, 23.
Watter uitwerking het dit sekerlik op Jeremia gehad om oor God se vroeëre handelinge navorsing te doen en na te dink oor wat hy en ander ondervind het? Wat kan ons hieruit leer?
VRA JY ELKE DAG: “WAAR IS JEHOVAH?”
20. Hoe kan jy Jeremia navolg deur Jehovah te soek?
20 Maak jy, in die besluite waarvoor jy elke dag te staan kom, ’n punt daarvan om te probeer uitvind wat God se wil is, om te vra: “Waar is Jehovah?” (Jer. 2:6-8). Anders as die Jode in sy dag het Jeremia altyd op die Almagtige vertrou om hom te help onderskei watter weg hy moet inslaan. Dit is ongetwyfeld verstandig van ons om Jeremia na te volg deur elke dag Jehovah se beskouing te soek wanneer ons ’n besluit moet neem.
21. Watter soort gebed kan jou met betrekking tot jou bediening help, soos wanneer iemand onbeskof is?
21 Dit hoef nie ’n besluit oor ’n groot kwessie of ’n keerpunt in jou lewe te wees nie. Byvoorbeeld, wat van die besluit om in velddiens uit te gaan op die dag wat jy beplan het? Miskien word jy wakker en sien jy dat die lug betrokke is, wat dalk nie baie aangenaam lyk nie. Die gebied vir daardie dag se huis-tot-huis-getuieniswerk is moontlik al oor en oor gedek. Jy onthou dalk dat party van die mense jou met geveinsde beleefdheid of selfs onbeskof weggewys het. Kan jy reeds so vroeg in die dag in gebed vra: “Waar is Jehovah?” As jy dit doen, kan dit jou help om te dink aan die pragtige boodskap wat jy sal bekend maak en om tot ’n dieper besef te kom dat dit God se wil is dat jy hierdie boodskap verkondig. Dan sal jy dalk voel hoe die woord van Jehovah vir jou ’n bron van blydskap en vreugde word, soos dit vir Jeremia was (Jer. 15:16, 20). As jy later in jou bediening iemand ontmoet wat baie onbeskof is of jou selfs dreig, kan jy weer jou gevoelens in gebed tot God uitspreek. Sal jy? Moenie vergeet dat hy heilige gees kan voorsien sodat jy gepas kan reageer nie, en jou begeerte om God se boodskap te verkondig, sal negatiewe gevoelens oorwin.—Luk. 12:11, 12.
22. Waarom kan sommige gebede verhinder word?
22 Dit is goed om daarvan bewus te wees dat sommige gebede verhinder kan word. (Lees Klaagliedere 3:44.) Jehovah het nie na die gebede van die opstandige Jode geluister nie omdat hulle ‘hulle oor van hom afgewend het’ en aangehou het om wetteloosheid te beoefen (Spr. 28:9). Die les was sekerlik vir Jeremia duidelik, soos dit ook vir ons moet wees: As iemand nie in ooreenstemming met sy of haar gebede optree nie, sal dit God teleurstel en kan dit daartoe lei dat Hy ophou om na die gebede te luister. Dit is beslis iets wat ons ten alle koste moet vermy.
23, 24. (a) Wat is noodsaaklik as ons wil uitvind wat Jehovah se wil is? (b) Hoe kan jy groter voordeel uit jou persoonlike studie trek?
23 Ons moenie net opreg vir Jehovah se leiding bid nie, maar moet ook aanhou om ons persoonlike studie te doen, wat ’n belangrike manier is om uit te vind wat Jehovah se wil is. Hierin het ons ’n voordeel bo Jeremia. Ons het die volledige Bybel. Soos Jeremia, wat deeglike navorsing gedoen het om sy geïnspireerde geskiedkundige verslag saam te stel, kan jy goddelike leiding in die Woord van God soek terwyl jy vra: “Waar is Jehovah?” Deur te probeer uitvind wat sy wil is, stel jy vertroue in hom, en jy sal “beslis word soos ’n boom wat by die water geplant is, wat sy wortels reg by die waterloop uitstoot”.—Lees Jeremia 17:5-8.
24 Wanneer jy die Heilige Skrif lees en daaroor peins, moet jy probeer onderskei wat Jehovah wil hê jy in verskillende situasies moet doen. Jy kan op die uitkyk wees vir beginsels wat jy wil onthou en in jou lewe wil toepas. Terwyl jy geskiedkundige verslae, goddelike bevele en beginsels asook wyse spreuke in God se Woord lees, kan jy dink aan hoe hierdie Skrifgedeeltes jou daaglikse besluite moet beïnvloed. In antwoord op jou vraag: “Waar is Jehovah?” kan hy deur middel van sy geskrewe Woord aan jou openbaar hoe om selfs uiters moeilike situasies waarvoor jy dalk te staan kom, te hanteer. In die Bybel kan jy selfs die “onbegryplike dinge [sien] wat jy nie geweet” of vroeër verstaan het nie!—Jer. 33:3.
25, 26. Waarom kan ons by ondervindinge baat vind?
25 Daarbenewens kan jy oor ondervindinge nadink, jou eie en dié van ander. Byvoorbeeld, jy sal dalk sien dat party ophou om op Jehovah te vertrou, soos in die geval van Uria (2 Tim. 4:10). Jy kan uit hulle handelswyse leer en dieselfde rampspoedige gevolge vermy. Dink dikwels aan Jehovah se liefderyke goedhartigheid teenoor jou terwyl jy in gedagte hou dat Jeremia ook God se barmhartighede en medelye waardeer het. Ongeag hoe desperaat jou situasie is, jy moenie dink dat die Allerhoogste nie vir jou omgee nie. Hy gee om, net soos hy vir Jeremia omgegee het.
26 Wanneer jy peins oor hoe Jehovah vandag met mense handel, sal jy besef dat hy elke dag op verskeie maniere leiding voorsien. Aki, ’n jong suster in Japan, het gevoel dat sy onwaardig is om ’n Christen te wees. Terwyl sy eendag saam met die kringopsiener se vrou velddiens gedoen het, het Aki gesê: “Ek voel asof Jehovah my enige oomblik uit sy mond gaan spoeg, maar ek klou aan sy lippe vas en vra hom om my nog ’n bietjie tyd te gee.” Die kringopsiener se vrou het haar in die oë gekyk en gesê: “Ek het nog nooit gedink dat jy ’n Christen is wat lou is nie!” Later het Aki diep oor daardie gerusstellende kommentaar nagedink. Daar was in werklikheid nooit enige aanduiding dat Jehovah haar ooit as lou beskou het nie. Toe het Aki tot Jehovah gebid: “Stuur my waar u wil. Ek sal doen wat u ook al wil hê ek moet doen.” Omstreeks hierdie tyd het sy ’n ander land besoek waar daar ’n klein Japannese groep was wat iemand nodig gehad het wat die taal praat en wat daar kon bly om saam met hulle te dien. Aki is in daardie land gebore, wat dit vir haar maklik gemaak het om soontoe te trek en te help. Maar waar sou sy woon? ’n Suster wie se dogter kort tevore verhuis het, het haar ’n kamer aangebied. “Alles het net soos die stukkies van ’n legkaart inmekaar begin pas; Jehovah het vir my die weg geopen”, het Aki gesê.
27. Waarom moet jy aangespoor word deur die vraag: “Waar is Jehovah?”
27 Baie broers en susters kan vertel van gevalle waar hulle gevoel het dat God hulle persoonlik lei, miskien terwyl hulle die Bybel gelees het of persoonlike studie gedoen het. Jy het dalk ook al soortgelyke ondervindinge gehad. Dit moet jou verhouding met Jehovah versterk en jou beweeg om selfs meer dikwels en vuriger tot hom te bid. Vertrou dat Jehovah ons sy weg sal wys terwyl ons elke dag bly vra: “Waar is Jehovah?”—Jes. 30:21.
Hoe kan jy ’n antwoord vind op die vraag: “Waar is Jehovah?” Hoe kan jy sy leiding soek?