Die eerste boek van Konings
21 Ná hierdie dinge het die volgende gebeur: Nabot, die Jisreëliet, het ’n wingerd gehad in Jisʹreël+ langs die paleis van koning Agab van Samariʹa. 2 Agab het vir Nabot gesê: “Gee my jou wingerd sodat ek ’n groentetuin daarvan kan maak, want dit is naby my huis. Dan sal ek vir jou ’n beter wingerd in die plek daarvan gee. Of as jy wil, sal ek vir jou die waarde daarvan in geld gee.” 3 Maar Nabot het vir Agab gesê: “Omdat ek weet hoe Jehovah daaroor voel, sal ek nie eers daaraan dink om die erfdeel van my voorvaders vir u te gee nie.”+ 4 Toe het Agab in sy huis ingegaan, en hy was ontsteld en mismoedig omdat Nabot, die Jisreëliet, gesê het: “Ek sal nie die erfdeel van my voorvaders vir u gee nie.” Toe het hy op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur en geweier om te eet.
5 Sy vrou Iseʹbel+ het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Hoekom is jy so hartseer dat jy nie wil eet nie?” 6 Hy het geantwoord: “Omdat ek vir Nabot, die Jisreëliet, gesê het: ‘Verkoop jou wingerd aan my. Of as jy wil, sal ek vir jou ’n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: ‘Ek sal nie my wingerd vir u gee nie.’” 7 Sy vrou Iseʹbel het vir hom gesê: “Is jy nie koning oor Israel nie? Staan op, eet en laat jou hart vrolik wees. Ek sal vir jou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, gee.”+ 8 Toe het sy briewe in Agab se naam geskryf en dit met sy seël verseël+ en dit aan die ouermanne+ en die heersers gestuur wat in Nabot se stad gewoon het. 9 Sy het in die briewe geskryf: “Kondig ’n vas aan, en laat Nabot voor die volk sit. 10 En laat twee slegte manne voor hom sit en teen hom getuig+ en sê: ‘Jy het God en die koning vervloek!’+ Bring hom dan uit en gooi hom met klippe dood.”+
11 Toe het die manne van sy stad, die ouermanne en die heersers wat in sy stad gewoon het, presies gedoen wat geskryf was in die briewe wat Iseʹbel aan hulle gestuur het. 12 Hulle het ’n vas aangekondig en Nabot voor die volk laat sit. 13 Toe het twee van die slegte manne ingegaan en voor hom gaan sit en voor die volk teen Nabot getuig en gesê: “Nabot het God en die koning vervloek!”+ Daarna het hulle hom na die buitewyke van die stad geneem en hom met klippe doodgegooi.+ 14 Hulle het toe vir Iseʹbel ’n boodskap gestuur en gesê: “Nabot is met klippe doodgegooi.”+
15 Toe Iseʹbel hoor dat Nabot met klippe doodgegooi is, het sy vir Agab gesê: “Staan op, gaan vat die wingerd van Nabot, die Jisreëliet,+ wat hy geweier het om aan jou te verkoop, want Nabot lewe nie meer nie. Hy is dood.” 16 Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy opgestaan om die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, vir hom te vat.
17 Maar Jehovah het vir Eliʹa,+ die Tisbiet, gesê: 18 “Staan op en gaan na Agab, die koning van Israel, wat in Samariʹa is.+ Hy is in die wingerd van Nabot, want hy het daarheen gegaan om dit in besit te neem. 19 Jy moet vir hom sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Het jy ’n man vermoor+ en sy eiendom geneem?”’+ Dan moet jy vir hom sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Op die plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal die honde jou bloed oplek.”’”+
20 Agab het vir Eliʹa gesê: “My vyand,+ jy het my toe gekry!” Hy het geantwoord: “Ek het u gekry. God het gesê: ‘Omdat jy vasbeslote is om te doen wat sleg is in die oë van Jehovah,+ 21 sal ek rampspoed oor jou bring, en ek sal jou uitroei en elkeen wat manlik* is van die huis van Agab uitwis,+ insluitende die hulpeloses en die swakkes in Israel.+ 22 En ek sal jou huis maak soos die huis van Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, en soos die huis van Baäsa,+ die seun van Ahiʹa, want jy het my baie kwaad gemaak en jy het Israel laat sondig.’ 23 En Jehovah het oor Iseʹbel gesê: ‘Die honde sal Iseʹbel opeet op die stuk grond in Jisʹreël.+ 24 Enigiemand van die huis van Agab wat in die stad sterf, sal deur die honde opgeëet word, en enigiemand wat in die veld sterf, sal deur die voëls van die hemel opgeëet word.+ 25 Daar was nog nooit iemand wat so vasbeslote was om te doen wat sleg is in die oë van Jehovah soos Agab nie,+ en hy is aangehits deur sy vrou Iseʹbel.+ 26 Hy het afskuwelik opgetree deur die walglike afgode* te aanbid, net soos al die Amoriete gedoen het wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het.’”+
27 Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en saklinne gedra. En hy het begin vas en in saklinne gaan lê en ook terneergedruk rondgeloop. 28 Jehovah het toe vir Eliʹa, die Tisbiet, gesê: 29 “Het jy gesien hoe Agab homself ter wille van my verneder het?+ Omdat hy homself voor my verneder het, sal ek die rampspoed nie in sy leeftyd bring nie. Ek sal die rampspoed oor sy huis in die tyd van sy seun bring.”+