Jehovah het my besluite geseën
Soos vertel deur Samuel B. Friend
IN JULIE 1952 het ek elke Saterdagaand op ’n gewilde country-western-vertoning in Little Rock, Arkansas, gesing. Die drie uur lange vertoning was nie net ’n treffer by die gehoor nie, maar ook by die duisende wat oor die 50 000-watt-radiostasie KLRA daarna geluister het. Dit was voordat televisie in daardie suidelike deel van die Verenigde State in gebruik geneem is.
’n Talentsoeker vir die platemaatskappy MGM (Metro-Goldwyn-Mayer) het my een aand na afloop van ’n uitvoering genader. “Ek wil hê jy moet vir ons sing”, het hy gesê. En daar en dan het hy my ’n aanloklike opnamekontrak aangebied. Hy het gesê dat hy al ’n paar weke na die vertoning gekyk het en dat ek syns insiens ’n toekoms in die platebedryf gehad het.
Toe ek vir hom sê dat ek nie belangstel nie, was hy geskok. Ek het verduidelik dat ek slegs aan die vertoning deelgeneem het om my en my vrou in die voltydse bediening te onderhou en dat ek nie verder by die musiekbedryf betrokke wou raak nie.
Later daardie jaar is televisie in Arkansas—daar in Little Rock—ingebring. Die programbestuurder het my gevra om die seremoniemeester vir die eerste program, ’n variété-musiekvertoning, te wees. Ek was verheug en het die aanbod gretig aanvaar, en ek het verduidelik dat ek ’n deeltydse werk by die stasie sou waardeer. Hy het gesê dat hy my na die openingsprogram sou laat weet.
Die openingsprogram was ’n groot sukses. Ek het begaafde kunstenaars voorgestel en self ’n aantal liedjies gesing. Agterna het ek gevra of ek daardie deeltydse werk kon kry. “Nee, ek wil jou nie deeltyds hê nie”, het hy gesê. “Ek wil jou voltyds hê.” Aangesien hy nie wou toegee wat die voltydse betrekking betref het nie, moes ek ’n besluit neem. Om een van die eerstes op die eerste TV-stasie in Arkansas te wees, was ’n aanloklike vooruitsig. Maar dit kon werklik nie vergelyk met diens aan ons hemelse Vader, Jehovah God, in die voltydse pionierbediening nie! Ek het dus die aanbod van die hand gewys.
Toe ek na die vertoning met my vrou Jean gepraat het, was sy dit heeltemal eens met my. Weet jy wat was in die posbus toe ons daardie aand terugkeer huis toe? Dit was ’n uitnodiging om as kringopsiener te dien en gemeentes van Jehovah se volk te besoek om hulle geestelik te versterk. Ek het waarlik gevoel dat Jehovah my besluit geseën het.
’n Ander besluit
Dit was nie die eerste sodanige besluit was ek moes neem nie. Na ek my hoërskoolloopbaan in Mount Ida, Arkansas, voltooi het, het ek en my broer Fred by ’n westelike musiekgroep aangesluit wat die Texas Rangers genoem is. Ek het feitlik drie jaar lank gedurende die laat dertigerjare saam met die groep in talle suidelike state rondgereis. Ons orkes het aanloklike aanbiedinge van borge tot by Chicago ontvang. Ons het die eerste prys by staatswedstryde in Mississippi en Arkansas gewen, en in ’n staatswedstryd in Arkansas het ek die eerste prys vir die beste manlike sanger gewen. Ek het derhalwe ’n belowende loopbaan gehad.
Maar ek was verdeeld. In die twintigerjare, toe ek ’n kind was, het verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap met ons gesin in aanraking gekom. Trouens, wanneer hulle ons omgewing ’n paar kilometer wes van Hot Springs, Arkansas, besoek het, het reisende bedienaars (wat pelgrims genoem is) by ons tuisgegaan. As gesin het ons dit geniet om na hulle te luister en het gewoonlik aanvaar wat hulle geleer het.
Ek het dus grootgeword met ’n basiese kennis van Bybelwaarheid. En ek het selfs met my vriende gepraat oor die dinge wat hierdie reisende bedienaars gesê het en wat ons tuis in Die Wagtoring gelees het. Floyd Garrett was een van hierdie jeugvriende. Ons het in die middel-dertigerjare saam skoolgegaan. Floyd het ag geslaan op die dinge wat ek vir hom vertel het en hy het hom later aan God toegewy en die voltydse bediening in 1940 betree. Vandag dien hy as ’n reisende opsiener.
Wel, terwyl ek saam met die orkes rondgereis het, het my vader vir my geskryf van die toesprake wat die reisende broers by ons plaashuis gehou het. Terwyl ons laat in 1938 in Jackson, Mississippi, was, is ek genooi om te luister na ’n opname van die lesing “Vul die aarde”, wat die President van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, by ’n byeenkoms in Londen, Engeland, gehou het. Dit het waarlik die sprankie belangstelling wat jare lank sluimerend gelê het weer aangewakker. Ek het geweet dat ek ’n besluit moes neem. Die daaropvolgende jaar het ek my aan die orkes onttrek en teruggegaan Arkansas toe.
Geestelike vooruitgang
Musiek, sowel as visvang en jag, het nou tweede plek in my lewe ingeneem. Geestelike dinge het sinvoller geword toe ek die Koninkryk eerste begin soek het (Mattheüs 6:33). Jehovah het vir my werklik geword, en ek het ’n vurige begeerte gehad om hom te dien. Ek het my aan Jehovah toegewy en is op 27 November 1939 in ’n koue spruit in Arkansas gedoop. My moeder is kort daarna gedoop.
Ek het ’n 11 jaar oue motor vir R100 gekoop, en in November 1940, op die ouderdom van 23 jaar, het ek die voltydse pionierdiens op die platteland in Arkansas betree. Wat ’n vreugdevolle dag was dit tog! My lewensweg was duidelik, en ek het gevoel dat Jehovah my ondersteun, en dit is wat werklik getel het.
Dit was destyds nie maklik om sagmoedige persone op die platteland om Hot Springs te soek nie. ’n Mens moes ver ry op grondpaaie, driwwe deursteek en langs stowwerige waspore loop om afgesonderde huise te bereik. Ek het Bybellektuur geruil vir vrugte, groente, hoenders, eiers, ingelegde goedere, ensovoorts. Ek koester nog steeds daardie ondervindinge.
Moeilikhede gedurende oorlogsjare
Toe die Verenigde State in 1941 tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het, was daar wydverspreide teenkanting teen Jehovah se Getuies weens hulle neutrale standpunt (Jesaja 2:4). Groepe is dwarsdeur die land gevorm om hulle te molesteer en duisende jong Getuies is in die tronk gesit. Hoewel ek ’n 4-D-klassifikasie as ’n bedienaar ontvang het, het ek kwaai teenkanting ondervind, en is onder andere met die dood gedreig.
’n Man het sy geweer op my gerig en beveel: “Trap van my eiendom voor ek jou skiet!” Hy het besef dat ek ’n Getuie is toe ek sy huis genader het. Ek het natuurlik sonder aarseling spore gemaak. Dan was daar die man met wie ek die Bybel bestudeer het en wat my gewaarsku het dat hy gehoor het dat iemand wat oos van die dorp woon van plan is om my dood te maak wanneer ek by sy huis besoek aflê.
’n Paar maande later het ’n huisvrou my ingenooi terwyl ek in daardie omgewing was, en ek het ’n plaat van ’n Bybellesing deur broer Rutherford begin speel. Terwyl die plaat gespeel het, het die man ingekom, tussen my en die deur gaan staan en sy mes uitgehaal. Hy het gevra wat ek daar doen, maar wou my nie ’n kans gee om te verduidelik nie. “Sal jy die vlag salueer of in die leër veg?” het hy gevra terwyl hy my met sy mes gedreig het. Ek het dadelik my vriend se waarskuwing onthou en gewonder hoe om te antwoord.
“Hoe sou jy voel”, het ek die man met die mes gevra, “as iemand jou daarvan sou beskuldig dat jy Nazisme voorstaan?” Ek het verontwaardig voortgegaan: “Ek ondersteun Hitler net so min soos jy. Al wat ek wil doen, is om mense te help om die Bybel te verstaan.” Die antwoord het die man op die een of ander manier gepaai en ek kon veilig wegkom. Op pad daarvandaan het ek Jehovah gedank vir sy beskerming en dat hy my die regte woorde laat spreek het.
By ’n ander geleentheid het ek opgemerk dat iets skort terwyl ek vir ’n man ’n opname van ’n Bybellesing gespeel het. Sy gesig het verstrak en hy het bleek geword. Maar hy het aangehou luister. Toe die opname klaar was, het ek ongeërg gevra of hy daarvan gehou het. Hy het nagedink en geantwoord: “Ek het aanvanklik gedink dit is Jehovah se Getuies, en ek wou jou doodmaak.” Ek het hom daarvoor geprys dat hy na ’n saak luister voor hy oordeel, ’n gedrukte prekie by hom gelaat en vertrek. Ek wou hê dat hy moes weet wie ek is, maar eers nadat ek weg is.
’n Nuwe gemeente is gestig in Bonnerdale waar ek grootgeword het. Nadat ek twee jaar lank as die gemeentekneg gedien en die groep tot 17 verkondigers sien groei het, het die reisende opsiener my gevra om na Hot Springs te verhuis en as gemeenteopsiener te dien. Ek het dit in 1942 gedoen. Omgang met die ryp, ouer broers aldaar het my baie gehelp in my geestelike vooruitgang.
Gedurende daardie dae het Jehovah op soveel maniere in my behoeftes voorsien. Ek het eenkeer nie R10 gehad om my motorlisensie te hernieu nie. Ek het tot Jehovah daaroor gebid en in die bediening uitgegaan. Daardie oggend het ek ’n ongevraagde bydrae van presies R10 ontvang!
Betheldiens
In 1944 is ek as ’n spesiale pionier in Joliet, Illinois, aangestel. Terwyl ek daar was, het daar ’n artikel in die Voorligter (nou Ons Koninkryksbediening) oor Betheldiens in Brooklyn, New York, verskyn. Ek het besluit om aansoek te doen en is aanvaar.
Toe ek in Maart 1945 by Bethel aangekom het, was daar slegs sowat 230 gesinslede in die wêreldhoofkwartier in Brooklyn vergeleke met meer as 2 500 vandag! Ek het vyf jaar lank in verskillende plekke gewerk, die Diensafdeling inkluis. Toe het broer Knorr, die President van die Genootskap, my eendag na sy kantoor laat roep.
“Jy is gekies om die Genootskap se radiostasie WBBR te beheer”, het hy gesê. Ek kon dit nie glo nie.
“Ek weet nie hoe om ’n radiostasie te beheer nie”, het ek gesê.
“Jy het vir een gespeel, het jy nie?” het hy gevra.
“Maar dis anders as om een te beheer”, het ek beswaar gemaak.
Broer Knorr het my aangespoor om die toewysing te aanvaar, en ek het ingestem om my bes te doen. Dit was ’n groot uitdaging, maar ook ’n vreugde en ’n voorreg. Meer as 90 lede van die Bethelgesin sou elke week op die verskillende programme verskyn. Die nuwe rooster sou bestaan uit sowat 65 persent platemusiek, waaronder ’n weeklikse program van 15 minute van my sang. Die res van die tyd is gewy aan Bybellesings, Bybelstudies, die beantwoording van Bybelvrae en ander metodes om Bybelinligting aan te bied, asook nuusuitsendings en inligting oor openbare veiligheid.
Ek het my vader gedoop
Toe ek in die somer van 1950 met vakansie van Bethel was, het ek die unieke vreugde gesmaak om my eie vader te doop! Hy het die Genootskap se publikasies 27 jaar lank gelees, maar dit het baie jare geduur voordat hy ten volle kon aanvaar dat Jehovah ’n organisasie gebruik waardeur Hy sy waarhede versprei (Mattheüs 24:45-47). Vader was eens op ’n tyd selfs ’n ateïs. Waarom was dit die geval?
Wel, toe my dertienjarige broer Jim gesterf het, het die predikant hom in sy preek reguit hel toe gestuur omdat die seun nie tot ’n kerk behoort het nie. Dit het Vader verbyster. Hy het geredeneer: ‘Waarom sal ek ’n god aanbid wat ’n folteraar is?’ Hy het gedink dat wat die predikant gesê het in die Bybel is. Hy het derhalwe ’n ateïs geword. Maar sy geloof in God is herstel toe hy in sy eerste bespreking met ’n Bybelstudent (Jehovah se Getuie) uit die Bybel daarvan oortuig is dat die hel nie ’n plek van foltering is nie, maar die mensdom se gemeenskaplike graf.
My huwelik
In 1952 het ek voor ’n ander besluit te staan gekom. Ek en Jean Mylton, ’n ywerige pionier, het besluit om te trou. Iemand het Jean gevra wat haar toekomsplanne is, en sy het verduidelik dat ons in Little Rock, Arkansas, pionierdiens gaan doen, aangesien daar destyds geen voorsiening was om vrouens Bethel toe te bring nie. “Hoe kan julle daarheen gaan as julle geen materiële besittings het nie?” het die persoon gevra.
Ons het inderdaad nie veel geld gehad nie, aangesien ek 12 jaar en Jean 7 jaar in die voltydse diens was. Hierdie persoon het aan die hand gedoen dat ons albei ses maande lank voltyds werk om “’n motor te koop en sowat [R1 200] te spaar”. Toe Jean my daaroor vra, het ek gesê: “Hoe weet ons dat ons dit nie kan doen nie—ons het nog nie probeer nie. As ons moet, kan ons later ophou en voltyds werk, maar laat ons eers probeer.”
Tot ons verbasing het ons ’n motor en presies R1 200 as trougeskenke ontvang. Jehovah het geweet dat ons dit nodig gehad het, en hy het dit voorsien omdat ons besluit het om in die voltydse werk te bly (Maleagi 3:10). Ons het ’n paar maande pionierdiens gedoen, en toe is ek genooi om in 1953 kringwerk te begin doen. Die daaropvolgende jaar is ons na die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi. Na ons graduering het Jean my twee jaar lank in die streekwerk vergesel.
Buitelandse diens en terug Bethel toe
In 1957 het ons in Pasco, Washington, gedien toe die posbode ’n spoedbrief van Die Presidentskantoor aflewer. Ek het my van die velddiensvergadering met die broers verskoon en ek en Jean het na ’n ander vertrek gegaan en die brief oopgemaak. Ons is genooi om na Mexiko te gaan en ek is gevra om as takopsiener te dien. Ek was geskok! Ons het nie Spaans geken nie en ons het feitlik niks van takwerk geweet nie. Maar ons vertroue was in Jehovah, en ons het dit beslis nodig gehad. Die veld was groot en het baie organisasie geverg, maar die plaaslike broers was gewillig en Jehovah het die werk geseën.
Na ons ’n aantal jare in Mexiko gedien het, het ek weer eens die voorreg ontvang om die Gileadskool in New York by te woon. Na my graduering het ek en Jean ’n nuwe toewysing in die kringwerk in Guatemala ontvang. Jean het gesondheidsprobleme ondervind en daarom het ons later na die Verenigde State teruggekeer waar ek steeds as reisende bedienaar gedien het. Ek het ook etlike jare lank die twee weke lange klasse van die Koninkryksbedieningskool vir ouere manne onderrig. Eindelik het ons teruggekeer om Betheldiens in Brooklyn te hervat, en ons is sedertdien in hierdie uiters geseënde plek.
Ek is nou 69 jaar oud en het in die afgelope 45 jaar talle onverdiende voorregte in die voltydse diens geniet. Ek kan getuig dat Jehovah goed en sy seëninge ryk is. Jean, my getroue eggenote gedurende die afgelope 34 jaar, was ’n besonder groot seën vir my. Ek weet dat Jehovah die kleintjies sowel as die grotes kan seën, en ek het my seëninge as ’n kleintjie waardeer (Psalm 115:13). Dit is my voorneme en begeerte om aan te hou om ons groot en liefdevolle God Jehovah te dien in watter opsig hy ook al aan wys, tot eer en lof van hom.
[Lokteks op bladsy 25]
“Hoe sou jy voel”, het ek die man met die mes gevra, “as iemand jou daarvan sou beskuldig dat jy Nazisme voorstaan?”
[Prent op bladsy 23]
Regs is Sam Friend, vroeg in sy musiekloopbaan
[Prent op bladsy 24]
Die Wagtoring word in 1942 in Hot Springs, Arkansas, op die straat aangebied
[Prent op bladsy 26]
Sam Friend en sy vrou Jean vandag