Is jou jong kind besig om ‘tot redding te groei’?
ALLE Christenouers wil hulle kinders tot ryp Christenvolwassenes sien groei. Ongelukkig gebeur dit nie altyd nie. Dit is geensins outomaties dat die kind van ’n Christenouer self ’n Christen sal wees wanneer hy opgroei nie. Waarom is dit die geval?
Petrus se woorde verstrek een rede: “Vorm as pasgebore babas ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat jy deur middel daarvan tot redding mag groei” (1 Petrus 2:2, 3, NW). Die vermaning om ‘’n verlange te vorm’ dui daarop dat ons kinders nie van nature ’n verlange na geestelike dinge sal hê nie. Ons moet moontlik so ’n verlange in hulle vorm of ontwikkel. Maar soos die teks ook toon, is redding daarby betrokke. Net soos kinders moet leer om van gesonde kos te hou as hulle tot gesonde volwassenes wil groei, moet hulle leer om geestelike voedsel te geniet as hulle ‘tot redding wil groei’.
Ouers—het julle kinders wat nog nie tieners is nie? Het julle program vir die grootmaak van kinders en vir dissipline tot dusver welslae behaal? Dan is dit goed. Maar dinge kan gedurende die tienderjare verander. Trouens, hoewel die probleme van adolessensie soms oordryf word, waarsku ervare ouers dat jy gedurende daardie tydperk angstige tye kan verwag. Kan jy jou nou daarvoor voorberei terwyl jou kind nog jonk is? Ja, daar is definitiewe stappe wat jy kan doen. Daar is iets wat ons hulle byvoorbeeld moet help om te ontwikkel.
’n Intieme verhouding met Jehovah
Jong Samuel, wie se geboorte ’n antwoord was op die gebed van Hanna, sy moeder, “het groot geword by die HERE” (1 Samuel 2:20, 21). Wat ’n wonderlike opvoeding! Onthou ook dat ouers by een geleentheid hulle kindertjies na Jesus gebring het. Die dissipels het hulle eers bestraf, maar “toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.” Jesus het dit goedgekeur dat die ouers hulle kinders na hom toe bring. Hy het sy arms om die kinders geslaan en hulle geseën.—Markus 10:13-16.
Kan ouers vandag hulle kinders help om ‘by Jehovah groot te word’ en hulle na Jesus Christus toe bring, en hulle sodoende help om ’n verhouding met Jehovah en Jesus te ontwikkel? Hulle kan, maar dit verg tyd. Jesus was bereid om tyd met ander mense se kinders deur te bring en dus kan ons seer seker tyd met ons eie deurbring. Indien moontlik, moet ons soos Timotheüs se moeder van kleins af begin (2 Timotheüs 3:15). Ons moet van Jehovah en Jesus as ware persone praat en ons kindertjies leer om party van hulle wonderlike skeppingswerke te waardeer. Wanneer ons hulle na die park, die dieretuin of die platteland neem, kan ons hulle help om Jehovah se hand in die wonders om hulle te sien. Deur middel van ons gesprekke kan ons ’n begeerte by hulle aanwakker om te doen wat reg is omdat dit Jehovah God en Jesus Christus behaag. (Vergelyk Deuteronomium 6:7.) Moet dit nie uitstel nie. Die tydjie dat ons kinders klein is, is gans te kort. Hulle word gou groot en daarom is tyd wat saam met hulle deurgebring word kosbaar.—Mattheüs 19:13-15.
Die vernaamste manier waarop ons ons kinders die waarheid leer en hulle help om ’n verhouding met Jehovah te verkry, is natuurlik deur middel van ’n gesinsbybelstudie. Daar is egter iets wat dit baie suksesvol sal maak.
Maak dit aangenaam
’n Moeder wat wil hê dat haar kind gesonde kos moet geniet, dwing nie groot hoeveelhede daarvan in sy keel af nie. Sy sal dit eerder smaakvol voorberei en hom aanspoor om ’n bietjie op ’n slag te eet en geleidelik ’n smaak daarvoor te ontwikkel. Iets soortgelyks is vir geestelike voedsel nodig. Hetsy jy ’n studieprogram begin of jou program ietwat wil verander omdat jou kind verveeld raak, die vereiste is dieselfde. Probeer die program interessant maak.
Met jong kinders hoef jy nie by ’n formele vraag-en-antwoordmetode te hou nie, en jy hoef ook nie elke studie ’n uur lank te maak nie. Pas die studie by jou kind aan. Vertel hom verhale oor Bybelfigure. Laat hom Bybeltonele teken. Laat die kinders Bybelgebeure en -dramas uitbeeld. Gee hulle huiswerk om voor te berei. Maak dit lewendig en wissel die materiaal af. Jy wil hê dat jou kind ‘’n verlange moet vorm’ na die woord, en daarom moet jy dit so smaaklik moontlik vir hom maak.—1 Petrus 2:2, 3, vgl. NW.
Die resultate is die moeite werd, want dit is van lange duur. As jou kind geestelike dinge geniet wanneer hy jonk is, kan dit hom help om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou wat dwarsdeur sy lewe sal voortduur. “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Maar daar is iets anders wat jou kind sal help om liefde vir geestelike dinge te ontwikkel. Wat is dit?
’n Gelukkige, gebalanseerde gesin
Ja, net soos ’n plant die beste groei wanneer die grond vrugbaar en die atmosfeer net reg is, sal ’n kind in ’n gelukkige gesinsatmosfeer geestelik floreer. Maar so ’n atmosfeer kan alleen geskep word as gesinslede tyd saam deurbring. Ouers, maak julle seker dat julle gesin tyd saam deurbring en met mekaar praat? Het julle ’n gesinsbeleid ten opsigte van TV-kykery? ontspanning? die keuse van musiek? gesinstudie? ander geestelike bedrywighede? Watter soort atmosfeer heers in die gesin gedurende aandetes? In talle huise is aandete die beste tyd vir die gesin om saam te wees. Dit bied die geleentheid om die dag se gebeure te bespreek, ’n bietjie humor te deel en sommer net te gesels. Dit kan almal tot voordeel strek.
Onthou ook dat hoewel kinders geestelike bedrywighede nodig het en hulle verantwoordelikhede in die huis moet nakom hulle ook speeltyd moet hê. Charles R. Foster het in sy boek Psychology for Life Today gesê: “Die besef van hoe belangrik ontspanning in die lewe van hulle kinders is, moet ouers beweeg om toe te sien dat die kinders hierdie ondervindinge geniet. . . . Namate hulle ouer word en ontwikkel, moet kinders die verband tussen hierdie bedrywighede en gesinsuitgawes asook huislike verantwoordelikhede besef. As hulle hierdie verband begryp en ontspanning nie as ’n ontvlugting van huislike pligte en verantwoordelikhede gebruik nie, sal dit ’n gelukkiger atmosfeer in die huis tot gevolg hê.”
Ouers wat hulle kind help om ’n gebalanseerde gesindheid teenoor ontspanning, werk en geestelike sake te ontwikkel, dra grootliks by tot sy genieting van geestelike dinge en sy gehegtheid aan Jehovah. (Vergelyk 2 Timotheüs 3:4b; Titus 3:3.) Sulke vooruitgang sal hulle groot vreugde verskaf. En daar is iets anders wat hulle kan begin doen om hulle kind se waardering vir geestelike dinge van kleins af op te bou.
Help hom om nuttige doelwitte te stel
Wyse koning Salomo het goeie raad oor die grootmaak van kinders gegee toe hy gesê het: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). “Volgens die eis van sy weg” kan wees volgens sy vermoë of, waarskynliker, volgens die lewenswyse, die weg, die lewensdoelwit wat jy wil hê hy vir homself moet kies. Een van die belangrikste maniere waarop ’n ouer tot sy kind se geluk en geestelikheid kan bydra, is dus om hom te help om sinvolle doelwitte te stel. Hierdie doelwitte moet nuttig en realisties wees. Hulle moet ook binne ’n redelike tydperk bereik kan word. Wanneer party doelwitte dan bereik word, sal dit die kind aanspoor om ander, hoër doelwitte te stel.
’n Algemene fout is om te wag dat ’n kind sy eie lewensdoelwitte stel. ’n Kind se ondervinding is te beperk. As ouers hom nie help om doelwitte te stel nie, sal iemand anders dit doen—moontlik die kinders op skool of die skoolvoorligters. Christenouers kan die kind help om doelwitte te stel wat met sy waardering vir geestelike dinge strook. Jong kinders kan hulle dit ten doel stel om hulle vir die Teokratiese Bedieningskool te bekwaam. Goeie doelwitte in die velddiens wat een na die ander bereik kan word, is om ’n handbiljet by die deur aan te bied, ’n tydskrifaanbieding te doen en om dan ’n eenvoudige prekie te lewer. Studiedoelwitte kan gestel word. Kinders kan die volgorde van Bybelboeke geleidelik leer en sekere sleuteltekste memoriseer. Loopbaandoelwitte moet vroeg bespreek word. Terwyl skoolvoorligters een soort loopbaan sal voorstaan, kan Christenouers doelwitte beklemtoon wat die kind se toenemende belangstelling in sy diens aan Jehovah sal bevredig, soos die pionierdiens, Bethel- en sendingdiens.
Ouers wil ook hê dat hulle kind ’n verantwoordelikheisbesef moet ontwikkel. Hulle kan hom help om sy gewete op grond van Bybelbeginsels op te lei. Namate hy ontwikkel, kan hulle vir hom sê dat hulle op hom staatmaak om die regte ding te doen. In sekere strewes kan hulle hom beperkte vryheid gee, en as die kind ’n fout begaan, kan hulle hom help om daaruit te leer in plaas van hom skerp te kritiseer. ’n Reputasie vir betroubaarheid is ’n prestasie waarop kinders trots sal wees en dit sal hulle help om ‘tot redding te groei’.
Namate die kind groei, is die ouers op die uitkyk na veranderinge en is wakker om opleiding en dissipline by nuwe situasies aan te pas. Hulle is heeltemal eerlik en openhartig teenoor hom. Hulle vertel hom hoe hulle oor sy dade en veranderinge voel. Hulle hoop dat hulle eerlikheid en openhartigheid hom sal help om vryelik met hulle te kommunikeer—hy sal nie ’n vreemdeling in die huis word nie.
Jong Dawid het ’n verlange na geestelike dinge aangekweek. Die psalms wat hy geskryf het, openbaar ’n diepe waardering vir Jehovah se liefde (Psalm 23:1-6). Hierdie vertroue in Jehovah het hom goed te pas gekom toe hy te staan gekom het voor ’n wilde beer, ’n leeu en uiteindelik die Filistynse reus Goliat wat die hele Israelitiese leër met skrik vervul het. Stel jou voor hoe trots Isai, Dawid se vader, op Dawid se geloof moes gewees het! Dawid het ’n hegte verhouding met Jehovah aangekweek wat dwarsdeur sy lewe geduur het (1 Samuel 17:32-37, 45-50; Psalm 19:10, 11, 15; 15:1, 2; 24:3, 4). Ons kinders kan—met ons hulp—’n soortgelyke verhouding bou en ons net so trots maak. Maar ons kan dit nie op ons eie doen nie.
Bid om hulp
Toe Manoag gehoor het dat hy ’n vader gaan word, het hy leiding gevra oor hoe om die kind groot te maak en op te lei. Jehovah het sy gebed verhoor (Rigters 13:8, 12, 24). Ouers moet vandag ook nie versuim om tot Jehovah te bid oor hulle kinders en hom te smeek om wysheid in hulle pogings om hulle op die weg na die lewe te lei nie. Samuel, ’n profeet van Jehovah, het gemeen dat hy “teen die HERE sou sondig” as hy sou versuim om ten behoewe van Jehovah se volk te bid. (1 Samuel 12:23; vergelyk Spreuke 1:24, 25.) Ons moet dieselfde verantwoordelikheidsbesef teenoor ons kinders hê. Ons wil hê dat hulle ’n geestelike gesindheid moet ontwikkel. Gereelde gebed om hulp is noodsaaklik.
Moenie tou opgooi nie
Is enigeen van hierdie dinge maklik? Natuurlik nie. Dit is lonend maar nie maklik nie. Wanneer ons kind ’n tienderjarigeword, sal probleme en krisisse gewis opduik. Moenie paniekbevange raak wanneer hulle ontstaan nie. Hanteer hulle een vir een en moenie wonderwerke verwag nie. Wees ferm, maar moenie te heftig reageer nie; moenie snydende opmerkings maak nie, maar hanteer die probleem geduldig. As ons op hierdie manier bedaard bly, gaan die krisis gewoonlik oor en kan ons weer eens na aan ons kind wees.
Alle Godvresende ouers wil die beste vir hulle kinders hê. Ons wil hê dat hulle ‘heilige dinge moet waardeer’ en ’n verlange na die woord van God moet vorm sodat hulle daardeur ‘tot redding kan groei’. Soms sien Christenouers weliswaar, ondanks groot inspanning, dat hulle kinders groot word en dan die waarheid verwerp. Ywerige werk aan ons kant sal nietemin die kanse verminder dat dit gebeur. Met Jehovah se hulp sal ons hard werk om ons kinders volgens die weg vir hulle op te lei. Mag dit ons beloning wees om hulle dwarsdeur hulle lewens in die weg van die waarheid te sien volhard.—Hebreërs 12:16, NW; 1 Petrus 2:2; Spreuke 22:6.
[Lokteks op bladsy 28]
Jesus was bereid om tyd met ander mense se kinders deur te bring. Ons kan seer seker tyd met ons eie deurbring
[Lokteks op bladsy 29]
As jy wil hê dat jou kind ‘’n verlange na die woord moet vorm’, moet jy dit so smaaklik moontlik vir hom maak