Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die Derde en Vierde Boek van Psalms
IN ’N gebed tot God vra die psalmis: “Sal u liefderyke goedhartigheid in die graf bekend gemaak word, u getrouheid in die plek van vernietiging?” (Psalm 88:11). Die antwoord is natuurlik nee. Sonder die lewe kan ons Jehovah nie loof nie. Om Jehovah te loof, is ’n goeie rede vir ons om aan te hou lewe; en die feit dat ons lewe, is ’n goeie rede om Jehovah te loof.
Die Derde en Vierde Boek van Psalms, wat bestaan uit Psalm 73 tot 106, gee ons baie redes om die Skepper te loof en sy naam te verheerlik. As ons oor hierdie psalms peins, behoort dit ons waardering vir “die woord van God” te vergroot en ons te beweeg om ons lofbetuigings aan hom te vermeerder en te verbeter (Hebreërs 4:12). Laat ons eers met opregte belangstelling na die Derde Boek van Psalms kyk.
“DIT IS VIR MY GOED OM NADER AAN GOD TE KOM”
Die eerste 11 psalms van die derde versameling is deur Asaf of lede van die huis van Asaf geskryf. Die eerste lied verduidelik wat Asaf gehelp het om nie deur verkeerde denke mislei te word nie. Hy het tot die regte slotsom gekom. “Wat my betref”, sing hy, “dit is vir my goed om nader aan God te kom” (Psalm 73:28). ’n Klaaglied oor die vernietiging van Jerusalem volg in Psalm 74. Psalm 75, 76 en 77 beeld Jehovah uit as die regverdige Regter, die Redder van die sagmoediges en die Hoorder van gebed. Psalm 78 hersien Israel se verlede van die tyd van Moses af tot en met die tyd van Dawid. Die 79ste Psalm betreur die vernietiging van die tempel. Dan volg ’n gebed vir die herstel van God se volk. Psalm 81 is ’n vermaning om Jehovah te gehoorsaam. Psalm 82 en 83 is gebede vir die voltrekking van goddelike oordeel aan verdorwe regters en God se vyande onderskeidelik.
“My siel het vurig verlang en ook gesmag na die voorhowe van Jehovah”, sê ’n lied van die seuns van Korag (Psalm 84:2). Psalm 85 is ’n versoek om God se seën op dié wat uit ballingskap teruggekeer het. Hierdie psalm beklemtoon dat geestelike seëninge baie waardevoller is as materiële seëninge. In Psalm 86 vra Dawid God om hom te bewaar en te onderrig. Psalm 87, ’n lied oor Sion en diegene wat daar gebore is, word gevolg deur ’n gebed tot Jehovah in Psalm 88. Jehovah se liefderyke goedhartigheid soos gesien kan word in die Dawidiese verbond, word beklemtoon in Psalm 89, wat deur Etan geskryf is, moontlik een van die vier wyse manne in die dae van Salomo.—1 Konings 4:31.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
73:9—In watter sin het die goddeloses ‘hulle mond in die hemel gestel en wandel hulle tong rond op die aarde’? Aangesien die goddeloses geen agting het vir enigiemand in die hemel of op die aarde nie, aarsel hulle nie om God met hulle mond te laster nie. Hulle belaster ook mense met hulle tong.
74:13, 14—Wanneer het Jehovah ‘die koppe van die seemonsters in die waters verbreek en die koppe van die Leviatan verbrysel’? “Farao, koning van Egipte”, word “die groot seemonster wat in sy Nylkanale uitgestrek lê”, genoem (Esegiël 29:3). Leviatan verteenwoordig moontlik “die magtiges van Farao” (Psalm 74:14, voetnoot in NW). Die verbryseling van hulle koppe verwys waarskynlik na die verpletterende nederlaag wat Farao en sy leër toegedien is toe Jehovah die Israeliete uit Egiptiese slawerny verlos het.
75:4, 5, 10—Wat beteken die term “horing”? Die horings van ’n dier is ’n kragtige wapen. Die term “horing” dui dus in figuurlike sin op krag, of sterkte. Jehovah lig die horings van sy volk op, sodat hulle verhef word, terwyl hy ‘die horings van die goddeloses afkap’. Ons word gewaarsku om ‘nie ons horing in die hoogte te verhef nie’, in die sin dat ons nie ’n trotse of verwaande gesindheid moet ontwikkel nie. Aangesien Jehovah die verheffing doen, moet aanstellings in verantwoordelike posisies in die gemeente beskou word as toewysings wat van hom af kom.—Psalm 75:7.
76:10—Hoe kan “die woede van die mens” Jehovah prys? Wanneer God mense toelaat om ons die skyf van hulle woede te maak omdat ons sy knegte is, kan dit ’n positiewe afloop hê. Enige teëspoed wat ons verduur, kan ons op die een of ander manier dissiplineer. Jehovah laat lyding net toe tot die mate waarin dit sulke opleiding voorsien (1 Petrus 5:10). ‘Met die res van die woede van die mens omgord God hom.’ Gestel ons lyding het ons dood tot gevolg. Dit kan Jehovah ook verheerlik, want dié wat ons getroue volharding sien, begin God dalk ook loof.
78:24, 25; voetnoot in NW.—Waarom word manna “die graan van die hemel” en “die brood van engele” genoem? Nie een van hierdie uitdrukkings beteken dat manna die voedsel van engele was nie. Dit was “die graan van die hemel” in die sin dat dit uit die hemel gekom het (Psalm 105:40). Aangesien engele, of “magtiges”, in die hemel woon, beteken die uitdrukking “die brood van engele” moontlik maar net dat dit voorsien is deur God, wat in die hemel woon (Psalm 11:4). Jehovah het moontlik ook die engele gebruik om die manna vir die Israeliete te voorsien.
82:1, 6—Wie word “gode” en “seuns van die Allerhoogste” genoem? Albei uitdrukkings verwys na menseregters in Israel. Dit is gepas, aangesien hulle as God se woordvoerders en verteenwoordigers moes dien.—Johannes 10:33-36.
83:2—Waarna verwys die ‘opheffing van die hoof’? Die gebaar toon gereedheid om mag uit te oefen of tot optrede oor te gaan, gewoonlik om teë te staan, te veg of te onderdruk.
Lesse vir ons:
73:2-5, 18-20, 25, 28. Ons moenie afgunstig raak op die voorspoed van die goddeloses en hulle goddelose weë aanneem nie. Die goddeloses is op glibberige grond. Hulle sal sekerlik ‘in puin val’. Wat meer is, aangesien goddeloosheid nie tydens onvolmaakte menseheerskappy verwyder kan word nie, sal ons pogings om dit uit die weg te ruim, tevergeefs wees. Soos Asaf, sal ons verstandig wees as ons goddeloosheid verduur deur “nader aan God te kom” en behae te skep in ’n hegte verhouding met Hom.
73:3, 6, 8, 27. Ons moet waak teen grootpratery, hoogmoed, spottery en kullery. Ons moet dit doen selfs al lyk dit of sulke karaktertrekke voordelig is.
73:15-17. Wanneer ons verward is oor iets, moet ons dit nie openbaar maak nie. Om “so iets” te vertel, sal ander net ontmoedig. Ons moet in stilte nadink oor wat ons kwel en dit oplos terwyl ons met medegelowiges omgaan.—Spreuke 18:1.
73:21-24. Om ‘verbitterd van hart’ te word weens die skynbare voorspoed van die goddeloses, word vergelyk met die reaksie van redelose diere. Hierdie reaksie is impulsief, bloot op die sinne gegrond. Ons moet eerder deur Jehovah se raad gelei word, met die volle vertroue dat hy ‘ons regterhand sal vat’ en ons sal ondersteun. Daarbenewens sal Jehovah ons “tot heerlikheid voer”, dit wil sê in ’n hegte verhouding met hom bring.
77:6. Ten einde opregte belangstelling in geestelike waarhede te toon en dit sorgvuldig te ondersoek, moet ons tyd opsysit vir studie en bepeinsing. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons in ons lewe plek maak vir ’n bietjie afsondering!
79:9. Jehovah luister na ons gebede, veral wanneer ons bid vir die heiliging van sy naam.
81:13, 16. As ons na Jehovah se stem luister en in sy weë wandel, bring dit ryk seëninge mee.—Spreuke 10:22.
82:2, 5. Onregte laat “die fondamente van die aarde” wankel. Onregverdige dade versteur die stabiliteit van die mensegemeenskap.
84:1-4, 10-12. Die psalmiste se waardering vir Jehovah se plek van aanbidding en hulle tevredenheid met hulle diensvoorregte is vir ons ’n goeie voorbeeld.
86:5. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah “vergewensgesind” is! Hy is op die uitkyk na enigiets wat hom ’n grondslag sal gee om barmhartigheid aan ’n berouvolle oortreder te betoon.
87:5, 6. Sal diegene wat lewe in die aardse Paradys ontvang, ooit die name weet van dié wat tot hemelse lewe opgewek is? Hierdie verse toon dat daar so ’n moontlikheid bestaan.
88:13, 14. As ons nie onmiddellik ’n antwoord op ons gebede oor ’n sekere probleem kry nie, kan dit beteken dat Jehovah wil hê dat ons die opregtheid van ons toegewydheid aan hom moet bewys.
“DANK HOM, LOOF SY NAAM”
Kyk na die verskeie redes om Jehovah te verheerlik wat in die vierde versameling psalms na vore kom. In Psalm 90 vergelyk Moses die bestaan van “die Koning van die ewigheid” met die kortstondige lewe van die mens (1 Timoteus 1:17). In Psalm 91:2 verwys Moses na Jehovah as ‘sy toevlug en sy vesting’—sy Bron van veiligheid. Die volgende paar psalms noem God se pragtige eienskappe, verhewe denke en wonderlike werke. Drie psalms begin met die uitdrukking “Jehovah het koning geword” (Psalm 93:1; 97:1; 99:1). Die psalmis praat van Jehovah as ons Maker en nooi ons om ‘hom te dank, sy naam te loof’.—Psalm 100:4.
Hoe moet ’n heerser wat Jehovah vrees, sy sake bestuur? Psalm 101, wat deur koning Dawid geskryf is, voorsien die antwoord. Die volgende psalm sê vir ons dat Jehovah “hom beslis [sal] wend tot die gebed van dié wat alles ontneem is en hulle gebed nie [sal] verag nie” (Psalm 102:17). Die 103de Psalm vestig die aandag op Jehovah se liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid. Die psalmis verwys na alles wat God op die aarde voortgebring het en roep uit: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak” (Psalm 104:24). Die laaste twee liedere van die Vierde Boek loof Jehovah vir sy wonderlike werke.—Psalm 105:2, 5; 106:7, 22.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
91:1, 2—Wat is “die skuilplek van die Allerhoogste”, en hoe kan ons daar “woon”? Dit is ’n figuurlike plek van geestelike veiligheid—’n toestand van beskerming teen geestelike skade. Hierdie skuilplek is verborge omdat diegene wat nie op God vertrou nie, nie daarvan weet nie. Ons woon by Jehovah deur op hom as ons toevlug en vesting te vertrou, deur hom as die Soewereine Heerser van die heelal te loof en deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Ons voel veilig in geestelike sin omdat ons weet dat Jehovah altyd gereed is om ons te help.—Psalm 90:1.
92:12—Hoe “bloei [die regverdige] soos ’n palmboom”? Die palmboom is bekend vir sy vrugbaarheid. ’n Regverdige persoon is soos ’n palmboom in die sin dat hy regskape is in Jehovah se oë en aanhou om “goeie vrugte” voort te bring, wat goeie werke insluit.—Matteus 7:17-20.
Lesse vir ons:
90:7, 8, 13, 14. Wanneer ons ons skuldig maak aan oortredings, skaad dit altyd ons verhouding met die ware God. En verborge sondes kan nie vir hom weggesteek word nie. Maar as ons ware berou toon en ons verkeerde weg verlaat, sal Jehovah ons in sy guns herstel en ‘ons met sy liefderyke goedhartigheid versadig’.
90:10, 12. Aangesien die lewe kort is, moet ons ‘ons dae tel’. Hoe? Deur “’n wyse hart [te] bekom”, of deur wysheid aan die dag te lê sodat ons oorblywende dae nie verkwis word nie, maar gebruik word op ’n wyse wat Jehovah behaag. Dit vereis dat ons geestelike prioriteite stel en ons tyd verstandig gebruik.—Efesiërs 5:15, 16; Filippense 1:10.
90:17. Dit is gepas om te bid dat Jehovah “die werk van ons hande stewig [bevestig]” en ons pogings in die bediening seën.
92:14, 15. Bejaardes wat ywerige studente van God se Woord is en gereeld met Jehovah se volk omgaan, bly “vet en vars”—geestelik sterk—en is waardevolle lede van die gemeente.
94:19. Wat die oorsaak van ons “verontrustende gedagtes” ook al is, as ons die “vertroostinge” in die Bybel lees en daaroor peins, sal dit ons bemoedig.
95:7, 8. As ons na skriftuurlike raad luister, daarop ag slaan en dit geredelik gehoorsaam, sal dit verhoed dat ons harte verhard raak.—Hebreërs 3:7, 8.
106:36, 37. Hierdie verse verbind die aanbidding van afgode met offerandes aan die demone. Dit toon dat iemand wat afgode gebruik, onder demooninvloed kan kom. Die Bybel vermaan ons: “Bewaar julle van afgode.”—1 Johannes 5:21.
“Loof Jah!”
Die laaste drie psalms van die Vierde Boek van Psalms sluit af met die vermaning: “Loof Jah!” Die laaste psalm begin ook daarmee (Psalm 104:35; 105:45; 106:1, 48). Trouens, die uitdrukking “Loof Jah!” kom dikwels in die Vierde Boek van Psalms voor.
Ons het beslis rede om Jehovah te loof. Psalm 73 tot 106 het ons baie stof tot nadenke gegee en ons harte gevul met dankbaarheid vir ons hemelse Vader. Word ons nie beweeg om ‘Jah te loof’ met al ons krag wanneer ons dink aan alles wat hy reeds vir ons gedoen het en wat hy nog in die toekoms vir ons gaan doen nie?
[Prent op bladsy 10]
Soos Asaf, kan ons goddeloosheid verduur deur “nader aan God te kom”
[Prent op bladsy 11]
Farao se nederlaag by die Rooi See
[Prent op bladsy 11]
Weet jy waarom manna “die brood van magtiges” genoem word?
[Prent op bladsy 13]
Wat help om ons “verontrustende gedagtes” te verdryf?